Antwoord vir Thys (Pta) op sy kommentaar van 4, 5 en 6 deser

  • 2

Dagsê Thys

Ek het jou reaksie Donderdag gesien toe ek vroeër die dag die blad oopgemaak het.  Die aand toe ek wou reageer is dit egter weg maar ek kon darem die strekking onthou, die dat ek gesê het jy klink vir my warm onder die kraag.  Ek was nogal jammer jou brief was (en is nog steeds [Webvoet?]) weg; daar is nog 'n paar dinge waarop ek graag sou wou reageer.  Terloops, dit is hoekom ek verkies om briewe hier te plaas eerder as om die kommentaarhokkie onderaan 'n brief te gebruik; jy weet nooit of die persoon dit gaan lees as jy so 2 of 3 dae na plasing reageer nie (want daar is nie meer advies dat kommentaar gelewer is nie) en, soos met jou gebeur het, weet mens nie of dit gaan verdwyn nie.

Eventwil, is jy oukei swaer?  Op een plek vertel jy van jóú probleme met evolusie en op 'n ander plek sê jy my paragraaf oor parasiete is lagwekkend?  Dit mag so wees, maar dan moet jy darem sê hoekom.  Het jy 'n verklaring vir die feit dat 'n parasiet gashere betrek wat miljoene jare uitmekaar op die evolusietydlyn sit?  As jy wel het, kan ek nie verstaan dat die ontstaan van verskillende rasse vir jou 'n probleem is nie want in vergelyking met die ontstaan van parasiete is dit triviaal.

Laat ek vir jou 'n storie vertel, 'n gelykenis kan jy maar sê.  Ek het 'n kar gehad waarvan die spoedbeheermeganisme half bonatuurlik was.  Ek stel hom op so 142 km/h en hierdie spoed handhaaf hy van die Transvaal tot in die Kaap.  Dit was nie asof hy eers spoed verloor of wen wanneer ek 'n opdraande of afdraande teëkom nie; dis asof hy geweet het hier kom 'n op- of afdraande en dié betree hy dan met net die regte kragtoevoer om nie 'n krieseltjie spoed te verloor of te wen nie. 

As ek iemand wat homself as 'n kenner uitgee sou vra hoe dit werk kon hy my enigiets vertel; dit kon 'n klomp twak wees om óf van my ontslae te raak, óf om sy onkunde te verdoesel.  Ek en hy kon vir ure 'n debat daaroor voer en, wat ons ookal vir mekaar te sê sou hê, doen niks aan die motor se vermoë nie; hy kan nog steeds 'n konstante spoed handhaaf al het ek en die kenner nie die vaagste benul hoe dit werk nie.  Maar nie een van ons val die motor se vermoë aan nie; elkeen dink net dat die ander een se verduidelikings nie water hou nie.

Nou werk dit so:  As ek 'n gemis in die kenner se verduideliking sien, kan hy my op die fout in my redenasie wys of my reghelp deur bewyse voor te lê.  Wat hy NIE kan doen nie is om kwaad te word en/of my beskuldig dat ek nie meganika of hidroulika verstaan nie want dan systap hy die kwessie; erken, in effek, dat hy twak praat.  As hy 'n gemis in mý verduideliking sien kan hy wel sê hy vind dit belaglik en vertel hoekom.  Wat hy NIE kan doen nie is om kwaad te word en/of my beskuldig dat ek nie meganika of hidroulika verstaan nie want dan systap hy die kwessie, erken, in effek, dat hy self nie 'n idee het nie.  Jy volg die strekking, nè?

Jy lees ook nie eintlik met begrip nie.  Nêrens het ek gepraat van die halfpadmerk van fossiele nie.  Tot vervelens toe is al vertel dat die goed wel bestaan en of dit nou so is of nie is nie ter sake nie; ek het gevra wat is die halfpadmerk van 'n proses soos metamorfose, jy weet, eier – wurm – papie – mot – eier – wurm ens.  Jy skyn ook nie te begryp het wat ek met donker massa en donker energie probeer sê het nie, naamlik dat astrofisici, noem dit maar gedragspatrone, agtergekom het wat hulle nie met huidige fisika kan verklaar nie en nou noem hulle dit solank 'donker'.  Niks verkeerd daarmee nie; ek is vol vertroue dat hulle dit nog sal uitpluis.  Ek sê maar net daar is nog baie onbekende dinge.

Nog iets wat jy NIE kan doen nie, Thys, is om aan te neem dat jy mense tereggewys het, en dan nog die vermetelheid te hê dat jy jouself die luukse gun om ongeduldig te raak oor hulle nie na jou wil luister nie bid jou aan.  Dit kan jy slegs doen as jy die hele evolusieleer in pag het en dis iets wat nie eers Darwin of Dawkins op aanspraak kon / kan maak nie.

En nee, my regte naam is nie Herman nie en ek weet ook nie wat jy met 'DB' bedoel nie, 'Die Beeld'?  Indien wel, ek lees nie eintlik 'liberale' (in aanhalings want eintlik is die koerant maar saam-met-die-stroom, verkramp dus) koerante nie en kuier nie op sulke webwerwe nie.  Vir jou inligting, ook nie creationism.com of wat ookal nie.

Groetnis

Jan Rap

  • 2

Kommentaar

  • Thys Human (PTA)

    Jan Rap, dit spyt my om jou te moet meedeel dat ek sukkel om jou logika EN jou "feite" te verstaan. Ek bedoel dit nie kwaadwillig nie – dis net hoe ek dit ervaar.

    Ek het bv. nog nooit in enige evolusiewerk iets teegekom oor die "halfpadmerk" in die proses wat jy nou uitspel nie. Jy sal meer moet verduidelik wat jy daarmee bedoel. Dit lyk nie vir my soos ’n "probleem" nie.

    My eie vrae oor sake soos ras, is ook nie probleme nie. Ek dink net dat navorsing en ontledings oor die saak nog nie behoorlik gedoen is nie – en die mense is bietjie lugtig om te wil erken dat daar wel rasse en radikale verskille tussen rasse bestaan – bedoelende rasse in die mensdom.

    Jou opmerkings oor donker massa en -energie is ook vaag en moeilik verstaanbaar. Jy skep die indruk dat die fisici dronkgeslaan is deur die verskynsels, maar dan slaan ek die dinge na in Steven Weinberg se onlangse werk Cosmology en ek sien daar word druk navorsing gedoen oor die presiese eienskappe van hierdie dinge en daar word vordering gemaak. Ek kan jou egter nie sommer hier ’n verduideliking gee van wat dit is en waar dit vandaan kom nie want ek is nie ’n wetenskaplike nie, maar het jy al probeer om op Wiki hieroor na te slaan – en dan bronne wat aangehaal word verder te probeer uitpluis. Daar is dikwels verwysings na artikels wat op die internet toeganklik is – helaas nie almal nie. Maar dit is seker dat die dinge doodnatuurlike verskynsels is in die heelal wat wel mettertyd vollediger ontleed sal word. 

    En ek dink nie dis nodig om die ganse "evolusieleer" in pag te hê om kommentaar oor dinge te lewer nie. Mense soos Dawkins en Coyne (en by uitstek die joernalis Daniel Dennett) het ook nie ALLE kennis van alles nie – dit is eenvoudig te omvangryk. Maar hulle kan dik en gesaghebbende boeke skryf oor die saak! Ek leer graag by mense wat lyk asof hulle weet waarvan hulle praat (en behoorlike bronne kan gee) – en dan probeer ek dit maar op plekke soos hierdie (en die webblaaie van die media soos DB (Die Burger!) oordra. Maar as jy nie meer wil weet en verstaan nie, moet jy nie vrae stel nie. 

    Sterkte.

    (terloops, kyk bietjie verder af op die LitNet-blad. Onderaan is daar iets soos SêNet-briewe en as jy daar klik kis daar ’n argief. Die dinge waarna ons so soek is daar beskikbaar).

  • Jan Rap (en sommer al die ander debatteerders): As julle jul briewe en kommentare en goed weer wil vind, maak soos ek: kliek bloot op die URL bo-aan hierdie bladsy, maak ’n kopie van hom en hou hom in ’n tekslêer. Bv. hierdie brief se URL is:

    https://www.litnet.co.za/Article/antwoord-vir-thys-pta-op-sy-kommentaar-van-4-5-en-6-deser

    Selfs al sien jy nie meer die brief in die lys van briewe nie is hy nog steeds beskikbaar; jy moet net weet waar.

    Ek het vir ’n slag nie veel verdere kommentaar nie, want ek verstaan nie Jan Rap se vrae heeltemal nie. Meer spesifiek, ek weet nie wat jou probleem is met parasiete en die feit dat hul nie na verwant is aan hul gashere nie, en ek verstaan ook nie die vraag oor metamorfose nie. Dit wil sê ek kan nie lekker uitwerk wat dit is wat jy wil weet nie.

    Dus laat ek dit dan maar eers daar.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top