Annake de Villiers (1975-2012)

  • 0

Dis 22:05 nm en op hierdie oomblik is haar Facebook wall onder konstruksie – 'n muur van herinnering word gebou:

"Maak mooi musiek vir ons Meester, Annake"

"ag my ou pellie - my memories van al ons fun sal nooit vergaan"

"Sy was 'n stunning violis, toevallig vanoggend na haar CD, u-turn geluister, vanaand brand ek 'n kers vir haar!"

Op Nuus24 debatteer mense oor die aanvanklike fout met die weergee van haar ouderdom (25 in plaas van 36 jaar) in die doodsberig.

Maar toe ek en Annake agt jaar oud was, vroeg-April 1984 in Bloemfontein, het daar nog nie sosiale media bestaan nie. Ek het haar ontmoet in die Trap der Jeugd-orkes, die heel eerste orkes vir beginner-musikante. Ons het albei viool gespeel, maar ons het nie naby mekaar gesit nie. Sy was taamlik voor by die eerste viole, ek taamlik agter as tweede viool. So sou dit bly, dwarsdeur die jare met al hulle verskillende orkeste. Wat wás die name van al die orkeste van Bloemfontein se Musicon? Ek onthou nie die name van die orkeste nie, maar wel mense wat dirigeer het of betrokke was: ontslape Hans Vonk, Herr Geist.

Ek en Annake het nie tydens repetisies naby aan mekaar gesit nie, maar pouses is die viole gebêre en het die sosiale media van my laerskooljare ontvou: kinders wat op mure sit en met mekaar gesels. Ek het Annake de Villiers leer ken as kind.

Ek onthou ander vriende met al hul verskillende instrumente, al die skooldemonstrasies op al die orkestoere. Trompetspeel op 'n tuinslang, dieselfde meisie wat leier van die tromboonseksie was wat altyd vertel het dié is nou die mees ingewikkelde instrument om te bemeester, nog iemand wat kraakvars-Bloemfontein-Afrikaans kon besig en voor Bishops in die Kaap in Engels moes praat (die enigste woord wat haar kon byval vir doeltreffende tweetaligheid was die woord "piano").

En ek onthou vir Annake, altyd vir Annake met haar viool. Leier van die orkes, stylvol en waardig, foutloos aan die speel. Pouse aan die grappies maak met letterlik die hele orkes se mans wat aan haar voete swymel. Kunswedstryde, later jare solo-optredes, altyd Annake met haar viool.

Op universiteit, op 'n kamp in ons eerste jaar, een aand langs 'n harde houttafel, onverwagse openhartigheid – gesprekke oor al die jare wat ons mekaar geken het en nooit geken het nie. Baksteenmuur agter ons rûe, tot diepnag.

In die Engels-derdejaarklas was ons saam verveeld met Chaucer (education wasted on the youth) en veral met die moedige poging van die dosent om 'n module Middelengels met dialoog en al as pseudoskyfieaanbieding te verfilm.

Maar die dinge wat ek waarlik oor Annake de Villiers wil sê, gaan ek nie in 'n huldeblyk skryf nie. Nie op 'n publieke plek, waar almal se woorde mekaar vertrap nie. Dit sal amper heiligskennis wees om te praat oor 'n mens wat nou nie meer kan terugpraat nie. Om te vertel van mense wat kosbaar vir háár was – twee van hulle, as ek net vinnig dink, leef nie meer nie, een oorlede nou pas in Maart, hoor ek een aand nadat ek 'n Woordfeesitem bygewoon het.

Ek gaan vanaand oor Annake de Villiers kan skryf wat mens gewoonlik in 'n huldeblyk kan skryf: haar SAMRU-pryse, haar UNISA-benoemings, haar musieksukses, haar internasionale optredes, haar CD's – alles in elk geval te lese op haar persoonlike webwerf.

Maar oplaas en ten slotte gaan ek nie 'n meer persoonlike huldeblyk oor Annake de Villiers kan skryf as wat reeds hier bo staan nie. Om dieselfde rede waarom 'n mens nie regte vlees-en-bloed-mense net so in 'n storie kan gebruik nie, want hulle is nie karakters, gefatsoeneer deur 'n skrywer se vingers nie. Annake was 'n regte mens. Die afgelope paar jaar, toe ons ver van mekaar gebly het, het ek haar min gesien, per e-pos opgevang, via vriende gehoor hoe dit met haar gaan (en nie gehoor hoe dit met haar gaan nie). Vanmiddag, toe my kollega Bibi Slippers my in die kantoor van haar dood inlig, alomteenwoordige Nuus24 se oortjie altyd oop op 'n monitor iewers in die kantoor, het my foon kort daarna begin lui – ou vriende, eens op 'n tyd almal saam in 'n bondel vergeelde foto's.

Lank gelede was ek en Annake nader aan mekaar. So naby dat ek glad nie vanaand oor haar kan skryf nie. En terwyl ek nog 'n "rus in vrede" iewers op 'n muur lees, besef ek dat ek glad nie vanaand oor Annake wóú skryf of wíl skryf nie. Nie op hierdie plek, oor hierdie tema, om hierdie rede nie.

Teen die muur van die Hoërskool Sentraal in Bloemfontein se skoolsaal hang 'n foto van Zola Budd, kaalvoet en in aksie op die atletiekbaan. 'n Paar meter verder hang daar nog 'n foto: Annake de Villiers, nou 'n stil violis teen 'n muur.

LitNet-blogger oor Annake
Coenie de Villiers oor Annake
Lize Beekman oor Annake
Annake oor Annake

 

(Annake de Villiers: 19 Junie 1975-24 April 2012)

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top