Die manier waarop die befaamde Afrikaanse skrywer André P Brink dood is, is dalk gepas. In die tuig by wyse van spreke: ná ’n voorlesing uit eie werk in die buiteland en in ’n vliegtuig. Altyd op weg.
Wanneer Brink se plek in die Afrikaanse letterkunde bepaal word, kan hy ook nie bloot as skrywer van bellettristiese prosatekste beoordeel word nie. Brink was ’n formidabele teoretikus, kritikus, vertaler en seker een van die belangrikste kanoniseerders in die Afrikaans letterkunde; selfs dalk belangriker as die twee grotes: NP Van Wyk Louw en DJ Opperman, omdat Brink in sy rol as jare lange resensent van Rapport ál die genres weekliks geresenseer het. As opvolger van Opperman het Brink twee uitgawes van Groot verseboek as samesteller versorg en hom daarmee ook as die grootste eietydse kanoniseerder van die Afrikaanse poësie gevestig.
Maar dit is eintlik as romanskrywer dat Brink internasionale erkenning gekry het. Selde is daar eenstemmigheid oor watter boek sy beste sou wees, en soms word daar onomwonde gesê (en na my gevoel ten onregte) dat géén enkele Brink-boek werklik afgerond en goed is nie. ’n Kollega het op ’n keer smalend verwys na Brink “wat steeds die mees-belowende” skrywer in Afrikaans sou wees. Miskien moet sy werk anders beoordeel word. Die vurige Spaanse kunstenaar Pablo Picasso het in die suide van Frankryk, tot in sy negentigerjare, met ’n ongekende skeppende drif kunswerke as bolwerke geskep teen die groot vergeet. Nie altyd afgerond nie, maar telkens bejubeling van skeppende lewensdrif. En telkens op die voorposte van vernuwing.
Want die deurbreking van grense en die nuwe, maar ook die herbekyk van die oue met nuwe oë, was kenmerke gewees van hierdie groot letterkundige en skrywer. Deur sy hele loopbaan was Brink op die voorposte. Saam met Breyten Breytenbach en Jan Rabie raak hy vroeg gedrenk in die eksistensiële filosofie en ervaar hy in die na-oorlogse Parys die skipbreuk van sekerhede, die besef van ’n bestaan wat deur absurditeit bedreig word en saam met ander vernuwers – soos die Nederlandse Vyftigers - die noodsaak van ’n nuwe, eksperimentele manier van skryf.
Na ’n tradisionele begin volg die eksperimentele werke (waaronder Lobola vir die lewe (1962), Die ambassadeur (1964), Orgie (1965) en Miskien nooit (1967), een en almal romans wat die nate versit het en waarsonder die hele beweging van Sestig ondenkbaar is. Dit was veral Brink wat die teoretiese onderbou verskaf het vir die eksperimentele werk van hierdie vernuwende beweging. Naas Van Wyk Louw se Vernuwing in die prosa (1961) was Brink se Aspekte van die nuwe prosa (1967) en Aspekte van die nuwe drama (1974) sleutelwerke om die hele vernuwing van Sestig te kontekstualiseer en te begryp.
Later is dit weer Brink wat die Afrikaanse prosa, wat soms veryl het in eksperimentele werke, weer terugdwing na die werklikheid waarin dit geanker staan. Sy eis om betrokkenheid en ’n fokus op “die vasteland waarop ons boer” het verskillende heftige polemieke (veral met Etienne Leroux) tot gevolg gehad. Self het hy die daad by die woord gevoeg en ’n reeks romans die lig laat sien waarin hy die heersende politieke situasie onder die loep geneem en dikwels fel gekritiseer het.
Van die bestes is ’n Oomblik in die wind (1975), ’n Droë wit seisoen (1979) en Houd-den-Bek (1982). Van die werke is verfilm en het Brink internasionaal bekend gemaak. Om hom bloot te beskuldig van (politieke) opportunisme is kortsigtig. Die navorsing wat ten grondslag lê van byvoorbeeld Houd-den-Bek is verbluffend en getuig van ’n gewetensvolle skrywer.
’n Moontlike volgende fase sou genoem kon word die postmodernistiese fase. Werke wat hier uitstaan, is Inteendeel (1993), Duiwelskloof (1998) en Bidsprinkaan (2005).
Wanneer Brink se oeuvre onder die loep geneem word, blyk dit dat sy werk gekenmerk word deur herhalende motiewe en temas (seks as kommunikasie op ’n metafisiese vlak en as metafoor vir bevryding; die ingeperktheid van vrou en slaaf; die noodsaak om te rebelleer as jy aan ’n saak glo – selfs al het dit die dood tot gevolg; die obsessie met geskiedenis as deterministiese mag, maar daarteenoor ook die wete dat elke daad geskiedenis máák; en ten slotte die aanwesigheid van die verlede. Ander herhalende aspekte kom ook telkens voor: die geneigdheid om in ietwat weke romantiek (en selfs sentimentalisme) te verval; karikaturale voorstellings van karakters en gebeure; ’n toenemende humoristiese inslag wat by tye nogal burlesk kan wees. Daar is egter min aspekte wat sy werk só kenmerk as sy tipiese – en herhaaldelik voorkomende – vrouefiguur. Dit gee hy self toe in sy outobiografiese werk Miskien nooit,bl 13 en noem haar heel eerlik “my besondere beeld van ’die meisie’; stellig my Anima”.
Die bekende uitgewer JJ (Koos) Human het by die bekendstelling van André P Brink se roman Inteendeel (1993) gesê dat Brink ’n onderskatte en miskende figuur in sy eie Afrikaanse literêre gemeenskap is. Wanneer die Afrikaanse kritici hul moes verweer omdat hulle Brink nooit genoegsaam erken het nie, was die argument, volgens Human, dikwels dat Brink in die buiteland “opgevysel word om politieke redes”. Human sê onomwonde dat dit bloot ’n rookskerm is om politieke bevooroordeeldheid te verberg. “Die bewering dat Brink net om politieke redes in die buiteland geprys word, is volkome onwaar. Brink het op die internasionale verhoog gegroei omdat die gehalte van sy werk erken is.” Vanselfsprekend het Human destyds ook die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns onder korrel geneem, omdat Brink in daardie stadium nog nie die Hertzogprys verower het nie. Daarop sou ek graag reageer.
’n Verkenning van resensies en artikels van veral die jare sewentig en tagtig bring aan die lig dat Human se aanklag net gedeeltelik waar is. Afrikaanse literatore, selfs van die destydse “konserwatiewe Afrikaanse universiteite”, is dikwels uiters positief oor (aspekte van) bekende Brink-romans, maar reageer soms ook sterk afwysend. By geen geleentheid kon ek bewyse vind dat romans afgekeur word primêr op grond van politieke oorwegings nie; van sy skerpste politieke tekste word dikwels die beste ontvang.
Ten einde vas te stel of die implisiete verwyt aan die adres van die Akademie waargemaak kan word, sal vasgestel moet word teen watter boeke Brink se beste romans (Lobola vir die lewe, 1962; Die ambassadeur,1964; Kennis van die aand (1973), ’n Oomblik in die wind,1975; ’n Droë wit seisoen, 1979 en Houd-den-Bek 1982) meegeding het. In die geval van Brink kan ek egter nie saamstem met die volgende bewering van JP Smuts (2005:6) nie: “Brink [is] nie verbygegaan [...] in die sin dat swakker werke as syne bekroon is nie. Die Akademietoekennings vir prosa in die jare waarin Brink se boeke om hierdie prestige-prys meegeding het was: 1964: Sewe dae by die Silbersteins (Etienne Leroux), 1967: Geen toekenning, 1976: Kroniek van Perdepoort (Anna M Louw), 1979: Magersfontein, o Magersfontein! Etienne Leroux), 1982: Hennie Aucamp vir al sy prosawerk en 1984: Kêrel van die Pêrel (Henriette Grové).Oor die twee toekennings aan Leroux kan daar min gekibbel word omdat dit hier gaan om van sy beste werke. JC Steyn skryf dat Beeld op 7 Mei 1967 berig dat hy gesaghebbend verneem het dat Henriette Grové vir Jaarringe die Hertzogprys vir prosa sou kry(Beukes, 1992:207). Weens die vorige jaar se herrie rondom die Hertzogprys (wat deur die keurkomitee aan Uys Krige toegeken is, maar deur die Akademieraad geweier is) wou die Akademieraad nie weer dat daar omstredenheid oor die Hertzogprys ontstaan nie, skryf Steyn. Die lede van die letterkundige kommissie kon egter nie met mekaar oor die keuse saamstem nie. (Elize) Botha en (TT) Cloete was glo ten gunste van die prys aan Grové, maar (Gerrit) Dekker het nie saamgestem nie.”
Dalk is dit die rede waarom daar in dié jaar geen toekenning was nie. Terugskouend is dit duidelik dat daar minstens twee ander belangrike(r) aanspraakmakers om die prys was: Leroux se Een vir Azazel (1964) en Brink se Die ambassadeur (1964). In die lig van die polemiek rondom die toekenning van die Hertzogrys aan Sewe dae by die Silbersteins was die letterkundekommissie waarskynlik huiwerig om Leroux se ewe omstrede opvolgroman te bekroon. Hul argument sou ook kon gewees het dat Een vir Azazel te min selfstandigheid het. Die feit dat Brink se boek egter nie ’n sterk mededinger was nie, is literêr moeilik verantwoordbaar. In daardie stadium was Brink een van die toonaangewende Sestigers en was Die ambassadeur een van die sterkste eksperimentele romans van dié literêre groepering. Dit kon saam met Lobola vir die lewe selfs ’n oeuvretoekenning regverdig het.
Oor die toekenning van die Hertzogprys aan Kroniek van Perdepoort, een van Anna M Louw se beste werke, kan min fout gevind word. ’n Droë wit seisoen (1979) het die prys verdien eerder as dat oorgegaan is na ’n oeuvretoekenning aan (die weliswaar verdienstelike) Hennie Aucamp. Maar dit is veral Brink se voortreflike roman Houd-den-Bek (1982) (kyk Beukes 1998:317–8) wat in 1984 beslis die prys verdien het bo Henriette Grové met haar haas-vergete werk, Die kêrel van die Pêrel. Dat politiek ’n rol gespeel het in die geval van Brink kan kwalik ontken word. Dit is egter wel vreemd dat Peter McDonald (2009:263) in sy boek The Literature Police. Apartheid Censorship and its Cultural Consequences oor Brink beweer dat “The Hertzog always eluded him.” Dit in 2009 nadat Brink reeds die Hertzogprys twee keer verower het!
Toe Brink uiteindelik wél die Hertzogprys ontvang (vir Die jogger in 2000, maar veral met Donkermaan in 2001), breek daar ’n herrie los omdat die letterkundekommissie nou aan ’n skuldkompleks sou ly (kyk Kapp 2009:225). Onder die hoof “Word die skuld aan Brink nou betaal?” (Rapport, 7 Oktober 2001) berig Hanlie Stander oor “’n hewige debat” wat sou gewoed het na die omstrede toekenning van die Hertzogprys vir prosa aan Brink se Donkermaan. Volgens hierdie berig bestempel WD Burger dié roman as “’n doodgewone liefdesverhaal wat nie eers baie effektief is nie … Ek kry die gevoel dat die Akademie skuldig voel oor die jare wat hulle nie vir Brink erkenning gegee het nie – in die jare sestig, sewentig, tagtig.” Stander haal ook vir Madelein van Biljon aan wat onomwonde sê dat hierdie toekenning die status van die Hertzogprys verlaag. Selfs Brink se kollega, Joan Hambidge, is lou in haar lof wanneer sy Donkermaan bestempel as “’n lekker boek”.
In ’n vroeëre berig wat in Boekewêreld verskyn het (Smith 2001) keur Willie Burger, Philip John en Andries Visagie almal die toekenning aan die Brink-roman af. Burger herhaal sy aanklag oor die skuld wat aan Brink betaal moes word en vra (soos Madelein van Biljon eerder) waarom Brink nie liefs vir sy hele oeuvre bekroon is nie. Visagie is die skerpste in sy kritiek en noem die toekenning ondubbelsinnig “bedroewend”.
Dit is nie die eerste keer dat Brink in hewige openbare polemieke betrokke was nie. In die jare sestig was daar ’n besliste moontlikheid dat sy roman Lobola vir die lewe in die ban gedoen sou kon word, veral as gevolg van die “onsedelikheid” wat daarin voorgekom het (Galloway 1990:29). Veral Van Wyk Louw se hantering van hierdie teks in Standpunte, waarin hy gewag gemaak het van die tematiese vernuwing deur Brink (Barnard 1998:223), het voorkom dat daar ’n klag teen dié werk gelê is. By verskeie geleenthede het Brink prominent in die media gefigureer, soos tydens sy gerugmakende toespraak tydens die Sestigerberaad in 1973 waarin hy vir ’n groter Afrikagerigtheid gepleit het, sy derde egskeiding en die bekendmaking van die talle Krugerrande in sy besit. Toe is die verwyt gemaak dat hy profiteer van apartheid en die slagoffers daarvan. Later (in 198X, 8 Julie 1986 http://digitalcollections.library.cmu.edu/awweb/awarchive?type=file&item=691101) maak hy in ’n openbare brief ’n striemende aanval op die destydse eerste minister, PW Botha.
In Suid-Afrika word daar nog te dikwels op naïewe wyse implisiet veronderstel dat alle resensente dieselfde literatuursiening huldig. Daarom word (soos in die debat rondom die Donkermaan-bekroning) eerder vasgekyk teen verskillende evaluerings van die betrokke teks terwyl op wetenskaplike wyse veel eerder gefokus moet word op die onderliggende literatuursienings op grond waarvan verskillend geoordeel is. Wat ter diskussie gebring word in openbare debatte, is telkemale ook die verskillende (subjektiewe) lesings van ’n teks, sonder dat die onderliggende literatuursienings en metodologiese veronderstellings krities beoordeel word. Selde had ons meer kritici; dikwels (ongelukkig in die verlede) meer literatuurwetenskaplikes. Dit is daarom jammer dat die kans nie deur koerante (en selfs tydskrifte) aangegryp is om – na aanleiding van die polemiek oor die Hertzogprystoekenning aan Donkermaan – ’n openbare debat te begin rondom spesifiek hierdie teks nie. Uit die afwysende uitsprake blyk egter duidelik dat hierdie roman van Brink gelees is as ’n liefdesverhaal(tjie) en dat die kontekstuele ingebedheid daarvan (byvoorbeeld die intertekstuele gesprek met ander literêre diskoerse) geen aandag gekry het nie.
Brink is bekroon omdat sy roman kontekstueel belangrik geag is weens die gesprek met onder andere Etienne Leroux en JM Coetzee, veral oor die politieke situasie in Suid-Afrika en die nut van “writing in a time of cholera”. Maar dat die Brink-roman beter was as die voortreflike romans Op soek na generaal Mannetjies Mentz (Christoffel Coetzee), Die swye van Mario Salviati (Etienne van Heerden), Draaijakkals (George Weideman) en nog twee tekste van Ingrid Winterbach (kyk ook Smuts 2005:7), sou ek nooit wou beweer nie.1 Terugskouend kan dit wees dat ’n kontekstuele oorbeklemtoning (en skuldgevoelens by keurders) tóg ’n rol by hierdie bekroning gespeel het. En dalk die besef dat Brink dit vroeër deeglik verdien het. Maar het baie van hierdie oorwegings nie maar ook gegeld by die onlangse toekenning van die Hertzogprys aan Adam Small nie? Toe die skuld volgens baie mense vereffen is – teen die reglement van die Hertzogprys én byna anachronisties. Opvallend hoe min besware daar toe was van die kant van literatore.
Wel sou ek graag die bekroning agteraf wou motiveer.
Soos Leroux se knolskrywer is Brink se hoofkarakter in Donkermaan, Ruben Olivier, in ’n bestaanskrisis gewikkel wat van persoonlike én universeler aard is en ’n vergelyking met Etienne Leroux se 18-44 feitlik afdwing. Ruben staan op die vooraand van bejaardheid (Leroux se mnr Y darem net van middeljarigeheid), verkeer in ’n psigiese krisis (wat ook direk verband hou met die vier vroue in sy lewe), probeer naarstig om sy eie persoonlike geskiedenis te integreer met die omringende politieke werklikheid én skryf al sy ervaringe neer. Laasgenoemde is oplaas die roman wat ons opneem om te lees, net soos 18-44 die roman is wat mnr Y vir sy vier Marias skryf.
Resensente maak gewag van die drie vroue in sy lewe (bv Van der Merwe 2000:13), maar dit is in werklikheid vier vroue, wat merkwaardige ooreenkomste vertoon met die Leroux-karakters. Ruben se vrou word deurgaans beskryf in terme van (noordelike) koudheid en intellektualiteit en is nes Leroux se Walkure ontrou aan haar man. Binne die Jungiaanse vierdeling van psigiese eienskappe verteenwoordig sy die denke. Magrieta, aardmoeder by uitstek, verteenwoordig die warm suide, die gevoel. Sy is die eintlike huismoeder en staan daarom ook teenoor Riana en verraai laasgenoemde oplaas deur Ruben te vertel van haar ongetrouheid (bl 322). Mej X verpersoonlik die eietydse Westerse jeug en is kennelik die intuïsie wat in Ruben se 66ste jaar weer lewend word. Antjie van Bengale is die slavin uit die ooste en verpersoonlik die sensasie.
Op die spoor van Leroux verpersoonlik die vier vrouens ook die (Suid-Afrikaanse) geskiedenis: Antjie van Bengale verteenwoordig die koloniale geskiedenis waarin wrede onderdrukking aan die orde van die dag was. Magrieta versinnebeeld die bruin ervaring van die apartheidsjare, ’n persoonlike ervaring by uitstek. Riana, daarteenoor, verteenwoordig veral die blanke se afstandelike belewenis van laasgenoemde tydperk, en Tessa is (soos Leroux se mej X) die simbool van die eietydse jeug.
Die parallel met Leroux is nie net ’n intertekstuele huldebetoning nie; veel meer stempel dit Ruben se vertelling as ’n poging tot psigiese intergrasie: hy moet die vroue integreer en sy plek in hul geskiedenis bepaal, maar ook sy eie plek binne die Suid-Afrikaanse geskiedenis. Dit kan hy bereik net deur al skrywende tot insig te geraak.
Resensente het verskillende verklarings vir sentrale aspekte van hierdie werk gehad. Deur die intertekstuele verwysing na JM Coetzee se Disgrace kom begeerte en die hele kwessie van verlies of prysgawe natuurlik sterk na vore. Brink se roman is inderwaarheid ’n antwoord op sy jare lange kollega, JM Coetzee, se werk. Waar Coetzee se roman ’n illustrasie van die aflegging van begeerte is, daar suggereer Brink dat juis die durende aard van begeerte die hoop (en daarom ook die lewe) intakt hou. Beide boeke het te make met die prysgawe van mag, maar handel ook oor kinders wat emigreer en vertel van die verlies van persoonlike ruimte en veiligheid in die eietydse Suid-Afrika.
Vir Ampie Coetzee (2000:119) gaan Brink se roman in die eerste plek om liggaamlike begeerte, hoewel hy ook die afwesigheidsbeginsel te berde bring. Botha (2000:11) verwys veral na die intertekstuele gesprek met JM Coetzee, maar wys daarop dat begeerte by Brink veel positiewer hanteer word. Venter (2000:15) gaan dieper op die afwesigheidsbeginsel in en bring dit (tereg) met heersende taal- en literatuuropvattings in verband. In sy resensie sinjaleer hy “’n oop plek”: “Waarom Ruben so hopeloos verlief raak op Tessa sal ons miskien nooit weet nie.” Voorts beskou Venter die verskyning van Antjie van Bengale as ’n gerieflike kunsgreep. Op beide vrae/bedenkinge sou afdoende antwoorde verskaf kon word. Die eerste hou verband met die Jungiaanse onderbou van hierdie werk; die tweede met die filosofiese voorveronderstellings.
Jung het reeds ter sprake gekom in die vergelyking met 18-44. Tog is die fiksasie op Tessa in Jungiaanse terme duidelik ook die herkenning van en strewe na die anima. Op ’n byna té meganistiese wyse word sy afgeskilder as die tipiese anima wat ’n kombinasie is van maagd en hoer.2 Selfs in die Brink-galery van begeerlike en onafhanklike vroue neem Tessa Butler ’n spesiale plek in. Indien Jolande Jacobi (1973) ter hand geneem word, kan bepaal word in watter mate Tessa ooreenstem met die anima. Belangrik is dat sy beweer (bl 119) dat ’n tipiese intellektuele tipe soos Ruben se “soul-image” sentimenteel sal wees en dat sy anima daarom besonder instinktief sal wees. ’n Mens sou byna al vier vrouens kon sien as vergestaltings van die anima met sy (haar?) vier aspekte (vgl ook Johl 1985:9).
Die basiese filosofiese probleemstelling van hierdie roman wentel om die semiotiese relasie tussen teken en betekende. Die Derridiaanse veronderstelling dat taal iets teenwoordig stel wat in feite afwesig is en waarvan net spore oor is, word ook dus betrek: ook ’n roman vertel altyd van iets wat verby (dus afwesig) is. Skrywers soos DA Kooiman het al by geleentheid opgemerk dat die feit dat daar stories vertel word, ’n belangrike paradoks blootlê: die aanwesigheid van die afwesige. Die hoofbestanddeel op storievlak van hierdie Brink-roman is die seksuele begeerte na Tessa. Maar begeerte kan heel bly slegs as dit in balans bly met onvervuldheid. Antjie is die afwesige wat as spook aanwesig is en soos Riana deur die herinnering (“re-membering”, bl 108) aanwesig gestel word. Op treffende wyse val die twee betekenisse saam tydens Antjie se begrafnis: haar beendere word ter ruste gelê, maar sy vind ook rus omdat haar storie onthou en vertel (dus: “re-membered”) word.
Om hierdie paradoks wentel die roman: die teenswoordige word deur die afwesige en onbereikbare gedefinieer of gekonstitueer, eweas daarstelling of voltrekking (in die hede) die begeerde uitstel. Hiermee sê Brink nie net iets fundamenteels oor skrywerskap nie, hy beweer eintlik dat die optekening van die verlede die hede en die toekoms reliëf gee. So definieer die dood die lewe, die verlede die hede en die toekoms; afwesigheid aanwesigheid; lig, donkerte (donkermaan!). Vanselfsprekend word so ook ’n belangrike perspektief op die blanke se dilemma in die eietydse Suid-Afrika gegee. Coetzee impliseer dat ’n bestaan hier net in terme van opoffering en totale prysgawe kan geskied – ook van alle Westerse erfenis: selfs literatuur en kuns. Brink is hoopvoller. Hoop is ’n toekomsverwagting, ’n uitreik na iets wat afwesig is, maar nog in vervulling moet tree. Terwyl dit nog onvervuld is, is daar derhalwe hoop. By implikasie: solank die hoop bly bestaan, is daar nog ’n sinvolle bestaan moontlik vir Ruben (en dalk by implikasie die blanke). Só sou voortgegaan kon word. Hierdie roman is ’n intertekstuele gesprek met die hele Brink-oeuvre (vgl ook Venter 2000) en word sodoende ook ’n belangrike teoretiese besinning oor sy skrywerskap.3
Die Akademie het Brink vier keer bekroon: met die Eugène Marais-prys in 1967, die Gustav Preller-pys in 1994 en twee Hertzog-pryse: in 2000 en 2001. Nooit onverdiend nie.
HP van Coller
Voorsitter: Letterkundekommissie van die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns
Bibliografie
Barnard, R. 1998. Kanoniseringsprosesse in die Afrikaanse literatuursisteem: die rol van NP van Wyk Louw.Ongepubliseerde PhD-proefskrif, Universiteit van die Oranje-Vrystaat.
Beukes, WD (red). 1992. Boekewêreld. Die Nasionale Pers in die uitgewersbedryf tot 1990. Kaapstad: Nasionale Boekhandel.
Botha, Elize. 2000. ’n “Brink-tweeling” vir die gretige herleser. Beeld, 25 September, bl 11.
Brink, André P. 2008. Groot verseboek. Kaapstad: Tafelberg.
Coetzee, Ampie. 2001. Die spook van begeerte. De Kat, 16(5):119–20.
Coetzee, John. 2000. Disgrace. Londen: Vintage.
Galloway, F. 1990. Breyten Breytenbach as openbare figuur. Pretoria: HAUM.
Johl, Johann. 1985. ’n Leroux ABC. Pretoria: HAUM Literêr.
Kapp, Pieter. 2009. Draer van ’n droom. Kaapstad: Hemel en See
Leroux, Etienne. 1967. 18-44. Kaapstad: Human en Rousseau.
McDonald, Peter D. 2009. The Literature Police. Apartheid Censorship and its Cultural Consequences. Oxford: Oxford University Press.
Smith, Francois. 2001. Afrikaanse boek beleef tans windstilte. Boekewêreld, 26 Junie, bl 3.
Smuts, JP. 2005. Die Akademie se letterkundepryse. Tydskrif vir Geesteswetenskappe. 45(1):1–14.
Stadler, Hanlie. 2001. Word die skuld aan Brink nou betaal?. Heftige literêre debat oor sy Hertzog-prys. Rapport, 7 Oktober 2001, ble 7–10.
Van Coller, HP. 2002. Die gesprek in Donkermaan (André P Brink). Stilet, XIV(2):17–37.
—. 2002. Eenders en anders: die diskursiewe netwerk in Donkermaan van André P Brink. Stilet,14(1):50–71.
—. 2010. ’n Kritiese blik op enkele van die literêre pryse van Die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns. Tydskrif vir geesteswetenskappe, 50(4): 484-501.
Van der Merwe, Chris. 2000. Brink laat sy karakters deur taalgebruik lewe. Die Burger, 20 September, bl 13.
Venter, LS. 2000. Dié Brink-roman slaag nie heeltemal nie. Rapport, 5 November, bl 15.
1 Smuts (2005:7) verwys ook na Eben Venter se Ek stamel ek sterwe, maar hierdie boek het reeds in 1996 verskyn en was op tafel gedurende ’n vorige ronde.
2 Op bl 95 van die roman word die sletterige Tessa as ’n madonna bestempel.
3 Hierdie stuk is gedeeltelik gebaseer op drie artikels van my wat in die bibliografie gelys word.


Kommentaar
Dit is as gevolg van mense soos Hennie van Coller wat oor mense soos Andre P Brink kan skryf met soveel wysheid, insig en passie vir die Wetenskap van die Afrikaanse Taal, dat Afrikaans as Moedertaal nie sal uitsterf nie! Ek kan nie, maar julle kan.
Baie dankie
M du Plessis (PhD)