Verskillende opsies:
- Ongebonde deel van die breër samelewing soos tans, waar enige regering Afrikaner-toekoms, -kultuur, -taal en -leefswys sal kan manipuleer na wens.
- Volkome onafhanklikheid binne ’n afgebakende territoriale entiteit, hetsy Volkstaat of kantons of albei.
- Selfbeskikking binne die NSA-raamwerk. Hier kan die strukture alleenlik op die basis van self-besturend en nie self-regering plaasvind, aangesien die land se konstitusie steeds ’n finale seggenskap sal hê om te bepaal tot watter mate sodanige selfbeskikking mag plaasvind al dan nie. Hier sal Afrikaner-Selfbemagtigtende maatreëls toegepas moet word, en nie veel ondersteuning van die staat verwag nie, dws private kapitaal is daarvoor benodig. Hier het ons verskeie opsies:
- 3:1 Self-besturende gebiede soos Orania, ’n daadwerklike kanton, hetsy landelik soos Orania, of voorstedelik in munisipale gebiede waar Afrikaners getalryk is, of albei.
- 3:2 ’n Sentrale Afrikanerraad waarin alle Afrikanerbelange verteenwoordig word, en na my persoonlike mening, verteenwoordiging in die Raad van
Tradisionele Leiers bekom om sodoende aan staats-finansiering te kan kwalifiseer. 3:1 hierbo kan hierin ook saamgevat word. - 3:3 Enige ander opsies waaraan ek nie aan gedink het nie, wat lesers miskien hier vir my sal kan byvoeg.
----
1. Ongebondenheid binne die NSA opset, hou in die gevaar tot assimilasie, nie binne die raamwerk van die swart tale of kulture nie, maar eerder na die Engelse minderheid. Waar geskiedkundig, wêreldwyd minderhede deur die meerderheid verswelg word, sal dit hier in SA weens die neiging van swartes om ook Engels te wil word, die teendeel wees.
2. Die gebied-onafhanklikheid-opsie (Volkstaat/Kantons): ’n Volkstaat sou ideaal wees indien dit reggekry kan word om ’n groot genoeg deel van die land daarvoor uitgekerf te kry. Soos die Gypsies van Europa dun versprei is, ’n minderheid tussen getalryke ander kulture, so ook is dit die geval met Afrikaners in SA. In uitsonderlike gevalle kry ons wel voorstede in munisipale gebiede wat oorwegend Afrikaner-inwoning het, maar steeds daarin met ’n uitermate groot persentasie andere ook opgeskeep sit. Vir die einste rede, soos die Gypsies nooit ’n onafhanklike volkstaat sal kan bekom nie, so ook die geval met Afrikaners.
Al sou die ANC of enige daaropvolgende regering goedgesinde instemmig vir ’n Afrikanervaderland wees, sou hulle self nie by magte wees om dit daadwerklik in werking te kan stel nie vir die volgende redes:
– Enige 100 vk-km (10 x 10 km) waarin enige Afrikaner hom bevind, is hy ’n minderheid. Om meerderheidsbesetting te kan bekom, verg dit die verskuiwing van andere, indien vrywillig bekom ten koste van onbekostigbare uitkoop, of indien onwillige afgedwingde verskuiwing ten koste van verbreking van Internasionale Reg rakende gedwonge politieke verskuiwings, en die woede van die internasionale gemeenskap op die hals te kry. Soos kennelik, die massa sal ANC stem of selfs vir ’n alternatiewe regering, maar wanneer belange in die gedrang kom, tree hulle met geweld op soos die geval met stakings, veral onlangs gesien in Marikana en trokdrywers, met simpatie van ander unies nie direk daarin betrokke wat ook dreig om in opstand te kom. Geen regering hoe welwillend ookal, selfs die DA indien dit die regering word, gaan hom bereid verklaar vir Afrikaner-tuisland, veral met die vooruitsig om die volgende verkiesing te verloor nie.
– Om gevestigde Afrikaners te kry om te verhuis, gaan ook ’n onbegonne taak wees. Hierdie Afrikaners sal moet eiendom en eie besigheidsbelange teen ’n appel en ei sal moet verkoop, van werk bedank en van die grond af op weer van vooraf begin met ’n onsekere toekoms in die vooruitsig. Toe die Voortrekkers getrek het, het hulle buitendien so te sê niks gehad nie, behalwe hulle lewendehawe wat hulle saamgeneem het, dus het hulle nie veel te verloor gehad nie. Met die moderne Afrikaner is die situasie heel anders, soortgelyk aan die welvarende Kaapse Skiereiland Afrikaners wat nie saam met die Voortrekkers getrek het nie. Vandag se Afrikaners is nog nie tot so ’n mate verarm (nieteenstaande regstellende aksie) soos ons voorvaderlike Voortrekkers nie om te kan sê hy het nie veel om te verloor sou hy besluit om na die volkstaat te verhuis nie.
– Daar is selfs nie een Afrikanerbeweging, en hierby sluit ek die gekkegrens bewegings in, wat kan bepaal waar sodanige volkstaat haalbaar kan geskied nie. By die gekkegrens bly dit by wensdenkery, maar wensdenkery sal nooit ’n werklikheid van word nie.
– Onafhanklike politieke Kantons (soos Andorra; Lichtenstein en Monaco) sou ’n moontlike alternatief wees, maar wat dit in die SA-opset onprakties en onuitvoerbaar gaan maak is oa:
(a) Dat hulle nie selfonderhoudende ekonomiese eenhede ooit sal kan uitmaak nie. Lewensmiddele soos voedsel; brandstof; elektrisiteit; en water sal vanaf die NSA aangekoop moet word, ironies genoeg, voedsel van NSA Afrikaner plaasboere.
(b) Daar is geen moontlike voorsiening vir Afrikaanse plaasboere in die kanton bestel nie, so die boere bly NSA burgers.
(c) Dis onmoontlik vir genoegsame werkverskaffing binne die kanton vir almal, die meerderheid sal buite die kanton (in die NSA) werk moet soek.
(d) Mobiliteit tussen kantons beweeg deur NSA-grondgebied met die daaropvolgende grenstolhekke, in en uit elke kanton.
(e) Uitvoerbelasting sal deur die NSA gehef word op produkte na die kanton wat sodanige produkte baie duurder maak as in die NSA. Dubbele belasting en daaglikse grenstolhekgelde vir burgers wat in die NSA werk, gaan die geldlas vir hulle onbegonne groter maak. Beide Kanton-belasting en werknemersbelasting in die NSA te betaal. Ek voorsien kort na sodanige kanton stigting, eerder ’n uitvloeisel van Afrikaners.
(f) Om vakansie enige plek in die NSA te gaan hou, sal ’n paspoort en miskien ook ’n visa per persoon benodig, asook ’n grens-oorstygingsfooi, ’n duur storie vir ’n gesin.
(g) Indien die NSA-regering aggressief teenoor die kanton wil optree, is al wat hy hoef te doen is die grens verseël, water- en elektrisiteit-toevoer afsny. Inwoners sal nie by hulle werk in die NSA kan uitkom nie. Dis presies wat Israel aan Gaza tans doen. Dink aan die gepaardgaande ekonomiese ontbering vir die inwoners. Pleks van ’n onafhanklike entiteit, het dit ’n tronk, ’n ghetto word, net soos die geval met Gaza.
(h) Al is die kanton onafhanklik, is dit in der waarheid nie, want om te kan oorlewe, sal dit na die NSA pype moet dans. Is sodanige onafhanklikheid werklik vir die Afrikaner die moeite werd, ek glo nie so nie, selfs nie eers vir die gekkegrenser nie.
Ek gaan tot hiertoe volstaan. Enigiemand wat 1 en 2 hierbo genoem met my wil debatteer of bespreek, is welkom om dit te doen. Daarna gaan ek oor na Nr 3, nl “Selfbeskikking binne die raamwerk van die NSA”.
Jaco Fourie


Kommentaar
Bravo Jaco! Dis ’n begin; 'n stappie weg van gods water oor gods akker laat loop.
Ek wou nog byvoeg, Jaco: Sien jy nou watse PT (ou army-uitdrukking vir baie BAIE moeite) dit behels om dinge leefbaar te maak? Is dit nou duidelik vir jou dat die beste werkbare oplossing was outonome state soos Swaziland en Lesotho tans?
Beste Jan
Dankie vir jou positiewe response. Ek hoop jy sal in die bespreking ook positief sal kan deelneem.
Jaco Fourie
Jaco
Ek sien uit na jou Nr 3
Thomas
Jan
Ek weet nie waar jy in my skrywe hierbo gelees het dat ’n outonome Afrikaner volkstaat die beste WERKBARE oplossing is nie. Moet asseblief nie vir my sê dat jy soos KdeK ook meer in my skrywes lees as wat ek geskryf het, deur tussen die lyne te lees waar daar geen skrif is nie. Inteendeel, ek argumenteer hierbo juis dat outonome Afrikaner volksstate NIE WERKBAAR is nie.
Jy het nou die geleentheid om my die teenstelling te bewys, maar asseblief nie enige gekibbel oor woordelike vertolkings nie, daaraan gaan ek nie steur nie. Aan die essensie van die argument wel.
Jaco Fourie
Nee Jaco, dit is wat EK sê, ek het dit nêrens in jou skrywes gelees nie. Om Afrika se probleme op te los is demokrasie die antwoord. Met ander woorde, al 2038 volkere moet hulle eie regerings kry. Dit sal ’n tydjie neem en is vir seker op die oomblik nie ons verantwoordelikheid nie. ’n Begin sal wees om dit hier in te stel – Swaziland en Lesotho is reeds onafhanklik so ons moet nog net dieselfde bewerkstellig vir die Zoeloes, Xhosas, Sotho's, Venda's, Pedi's ens.