Aantekeninge ivm Oscar Pistorius se borgtogaansoek

  • 4

Die oë van die wêreld sal Dinsdag en Woensdag gerig wees op die Streekhof in Pretoria wanneer Oscar Pistorius se aansoek om op borgtog vrygelaat te word – hangende sy verhoor op ’n aanklag van moord met voorbedagte rade – aangehoor sal word. Gustaf Pienaar bespreek ’n paar van die "regswedlope" wat nou vir Oscar Pistorius voorlê.

Die omstandighede waaronder ’n beskuldigde in ons reg op borgtog vrygelaat mag word, word noukeurig deur die Strafproseswet gereël. Artikel 60(1) bepaal dat ’n persoon wat weens ’n beweerde oortreding in hegtenis gehou word te enigertyd voor sy skuldigbevinding geregtig is om op borgtog vrygelaat te word indien die hof tevrede is dat dit "in belang van geregtigheid" is. Dié artikel eggo ’n byna enersluidende bepaling in die Grondwet. Die Handves van Regte plaas ook ’n hoë premie op die vryheid van die indiwidu en sy reg "om nie op ’n wrede, onmenslike of vernederende wyse behandel te word nie", asook sy reg op ’n billike verhoor.

Daar is egter ’n paar belangrike beperkings in die Strafproseswet. ’n Hof móét borgtog weier as die Staat kan bewys dat die beskuldigde ná sy vrylating waarskynlik die openbare veiligheid of dié van ’n bepaalde persoon in gevaar sal stel; dat hy sy verhoor mag probeer ontduik deur, byvoorbeeld landuit te vlug; dat hy met getuies mag heul of hul mag dreig of getuienis mag vernietig, en dies meer.

Die feit dat Oscar Pistorius spesifiek van moord "met voorbedagte rade" aangekla word, het interessante implikasies vir sy voorgenome borgtogaansoek. "Moord met voorbedagte rade" is een van ’n rits vry ernstige misdrywe wat in Bylae 6 tot die Strafproseswet vermeld word. Artikel 60(11)(a) bepaal dat as ’n persoon van ’n Bylae 6-misdryf aangekla word, hy in aanhouding móét bly tensy hy kan bewys dat daar "buitengewone omstandighede" bestaan wat "in belang van geregtigheid" sy vrylating op borgtog veroorloof.

Normaalweg rus die las of onus op die staat om te bewys dat die vrylating van ’n verhoorafwagtende beskuldigde op borgtog deur die hof geweier moet word. By ’n aanklag van "moord met voorbedagte rade" is daar egter ’n ommeswaai in die onus: dit rus in so ’n geval op die beskuldigde. Hy moet dus "buitengewone omstandighede" bewys wat sy vrylating op borgtog sal regverdig. Die beskuldigde se enigste "troos" is dat die bewyslas waarvan hy hom kwyt dieselfde is as in ’n siviele geding: hy moet sy saak slegs op ’n oorwig van waarskynlikhede bewys. In die latere strafsaak teen hom het die Staat egter ’n "hoër", "strenger" bewyslas: skuldig bo redelike twyfel.

Wat beteken "moord met voorbedagte rade"? (Terloops: ingevolge die Strafregwysigingswet van 1997 is die voorgeskrewe straf by skuldigbevinding aan dié vorm van moord lewenslange gevangenisstraf). Dié begrip word nóg in die Strafproseswet nóg in die gemenereg omskryf. Wat daaronder verstaan moet word, is al ’n paar keer deur ons howe ondersoek. Die feite in, byvoorbeeld, S v Raath [2009(2) SACR, 46 (C)] was kortliks die volgende: R en sy vrou was reeds 19 jaar getroud.

Daar was drie kinders. Die huwelik was ongelukkig en ’n egskeiding was aan’t kom. R het ’n lang geskiedenis van gewelddadige optrede teen sy vrou gehad. Hy het alkohol misbruik, by geleentheid twee TV-stelle verwoes, haar met die dood gedreig, en sy kinders by hul rusies betrek. Mev R het oplaas ’n beskermingsbevel teen R verkry en hy het ’n tyd lank uit die huis getrek. Twee maande later was hy terug en die rusies het hervat. Op ’n aand in Mei 2004 het bure oorkant die straat ’n video vir ’n jeuggroep van hul kerk vertoon. Mev R en twee van hul kinders het dit bygewoon. Mnr R het iewers gaan drink en na sy tuiskoms ongeduldig geraak oor sy gesin se afwesigheid. Hy het sy seun, S, gebel en dié het op mev R se versoek gaan kyk of hy sy vader kon kalmeer. R het oplaas vir S gedwing om sy kluis oop te sluit en sy rewolwer vir hom te gee. Die jeugdige S het tevergeefs by sy pa gepleit om nie die vuurwapen te gebruik nie. R het hom met die wapen teen die kop geslaan en toe na die buurhuis gestorm. Mev R het uitgekom om vas te stel wat aan die gang is, waarna R haar op ’n kort afstand doodgeskiet het.

R is skuldig bevind aan moord "met voorbedagte rade". S se pogings om sy pa te laat afsien van sy voorneme om met die rewolwer na die buurhuis te storm, het ’n vername rol gespeel.

Op appèl na ’n volbank (drie regters, dus) van die Hooggeregshof in Kaapstad is dié skuldigbevinding egter ter syde gestel en vervang met ’n skuldigbevinding aan "gewone" moord. R se vonnis van lewenslange gevangenisstraf is vervang met ’n vonnis van 22 jaar agter tralies.

In die hof se uitspraak wys regter Bozalek daarop dat die "moord met voorbedagte rade" onderskei moet word van "moord in die hitte van die oomblik". Eersgenoemde dui immers op beplanning, en hoe langer die tydsverloop tussen die vorming van ’n voorneme om te moor en die uitvoering van die plan, hoe sterker is die aanduiding dat dit dus met voorbedagte rade was. Die omstandighede van elke moord moet derhalwe noukeurig deur die hof oorweeg word.

Dit is begryplik dat die staat om taktiese redes in Oscar Pistorius se geval begin met ’n aanklag van moord met voorbedagte rade. Sou hul met "gewone" moord (soos onder meer in Bylae 5 bedoel word) begin, sal dit bitter moeilik wees om later as’t ware die dwarslat na moord “met voorbedagte rade" (Bylae 6) óp te skuif. Met Dinsdag se borgtogaansoek sal die staat se klagstaat egter voldoende besonderhede moet bevat om ’n aanklag van moord met voorbedagte rade te motiveer. ’n Mens kan met redelike sekerheid voorspel dat Oscar se regspan hul aanval sal toespits op die "voorbedagte rade"-element in die klagstaat. Dit is onvermydelik dat getuienis in so ’n geval aangebied sal word oor presies wat in daardie oggend in die Pistorius-woning gebeur het.

As Oscar self geroep sou word om te getuig, moet die hof hom waarsku dat sy getuienis – wat kruisverhoor deur die staat mag insluit – in sy latere verhoor teen hom gebruik mag word. Hoewel ons howe al beslis het dat ’n borgtogaansoek nie beskou moet word as ’n "kleedrepetisie" vir die werklike verhoor nie, vorm die rekord van daardie verrigtinge deel van die uiteindelike rekord in die strafverhoor. Dinsdag en Woensdag se verrigtinge kan dus verreikende implikasies vir Oscar inhou.

Sou Oscar se regspan daarin slaag om, op ’n oorwig van waarskynlikhede, die hof te oortuig dat daar prima facie nie voldoende getuienis is vir ’n aanklag van moord met voorbedagte rade nie, behoort dit sy vrylating op borgtog te vergemaklik. Al sou die staat met "voorbedagte rade" volhard, behoort die afwesigheid van prima facie-getuienis om so ’n aanklag te staaf, in sigself te geld as ’n "buitengewone omstandigheid" wat borgtog vir Oscar kan regverdig. (Wát ’n "buitengewone omstandigheid" is, word immers nie in die wet omskryf nie. Ons howe het al beslis dat dit ’n beskuldigde vry staan om énige omstandigheid wat hy meen in sy guns kan tel, voor die hof te plaas.) Word dit aanvaar, hoef Oscar slegs bykomend te bewys dat dit in belang van geregtigheid is dat hy op borgtog vrygelaat sal word (Bylae 5). In so ’n geval mag faktore soos sy geestestoestand, sy bekende gebrek, sy bereidwilligheid om sy paspoort in te dien en om nie na sy woonhuis terug te keer nie (van sy bure mag immers staatsgetuies wees), in sy guns te tel.

Indien Oscar onskuldig pleit, kan ’n mens slegs maar spekuleer oor sy moontlike verwere. Een moontlikheid is ’n pleit dat hy ten tye van die voorval tydelik ontoerekeningsvatbaar was. ’n Persoon wat ontoerekeningsvatbaar is – al is dit slegs tydelik – pleeg nie ’n misdryf nie. So ’n toestand kan byvoorbeeld intree as die beskuldigde se buitensporige inname van drank sleg kombineer met een of ander fisiese toestand soos epilepsie of die gelyktydige inname van medikasie of ander chemiese middels. (Vgl in dié verband my Regsalmanak-artikel van 31 Oktober 2012: "Hierdie brandewyn het die man nie dronk laat word nie, maar wel kranksinnig.") Die vraag is of Oscar Pistorius rasioneel opgetree het na die voorval en of die optrede te rym is met tydelike ontoerekeningsvatbaarheid.

’n Ander moontlikheid is ’n pleit dat hy volkome beheer oor sy sinne verloor het as gevolg van "uitlokking", "provokasie". ’n Voorbeeld is die bekende verskynsel van straatwoede. Soos ek die akademiese diskoers hieroor begryp, word so ’n ekstreme reaksie op uitlokking egter tans nog nie as ’n strafuitsluitingsgrond erken nie; dit is hoogstens ’n grond vir vonnisversagting.

Dan is daar die "inbreker"-weergawe wat vroeg in die Pistorius-sage sy kop uitgesteek het. Hiervolgens sou Oscar vir Reeva as ’n inbreker aangesien het. Ons reg erken noodweer, of "selfverdediging", as ’n regverdigingsgrond: as jou lewe so ernstig deur byvoorbeeld ’n inbreker bedreig word dat jy hom suksesvol kan afweer slegs deur hom (opsetlik) te dood, behoort jy normaalweg nie aan moord skuldig bevind te word nie. Oorskry jou afweerhandeling egter die grense van noodweer, kan jy dan wel skuldig wees aan moord (moontlik met versagtende omstandighede), of strafbare manslag, wat die nalatige doodmaak van ’n medemens is.

Maar wat van iemand wat bona fide, redelikerwys, méén dat hy aangeval word? Wel, ons reg erken ook die bestaan van sogenaamde "putatiewe" of "gewaande" noodweer. In so ’n geval kan die beskuldigde nie op ’n regverdigingsgrond aanspraak maak nie: objektief gesien was daar immers geen bedreiging vir sy lewe nie en is sy optrede wederregtelik. Maar wederregtelikheid is nie die enigste vereiste vir aanspreeklikheid nie. Die staat moet ook sy skuld (in die vorm van opset of nalatigheid) bewys. Dit mag oplaas vasstaan dat die beskuldigde se dwaling (dat hy aangeval word) só geloofwaardig, só redelik was dat dit skuld uitsluit. Dit sal egter afhang van die betroubaarheid van sy getuienis en die objektiewe getuienis op die toneel.

’n Slotgedagte: oor die naweek het die owerheid moeite gedoen om skeptici te oortuig dat Oscar nie "voorkeurbehandeling" ontvang deurdat hy by ’n polisiestasie pleks van ’n gevangenis aangehou word nie. Die ANC-Vroueliga het nou ook op daardie "bandwagon" geklim. Hopelik sal Oscar se "sterstatus" oplaas nie téén hom tel deurdat daar – uit vrees dat daar geskimp mag word dat hy "voorkeurbehandeling" ontvang – juis strénger as normaalweg met hom omgegaan sal word nie. Sy posisie is immers reeds benard genoeg.

Bron
Van der Merwe, S (red), Du Toit: Commentary on the Criminal Procedure Act, Jutastat e-publikasies, soos op datum tot 28 Desember 2012.


Lees rubrieke van Gustaf Pienaar op LitNet.

Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet’s free weekly newsletter.

  • 4

Kommentaar

  • Dankie tog vir iemand wat die saak verduidelik. Almal het mos maar hul eie sienings en gevolgtrekkings. Dit is 'n nugter objektiewe tegnies verduideliking wat Oscar in die gesig staar. Ek het my eie opinie van die tragiese voorval wat ek maar in die pers gelees het, maar gaan dit vir myself hou. Ek glo gewoonlik 'n saak het drie kante, myne, joune en die waarheid. Ek voel erg jammer vir albei families/agtergeblewenes en mag hulle berusting vind. Dit sal egter 'n lang tyd vat vir aanvaarding, vergifnis en berusting. 

  • Word die Pistorius-saak deur Media24 geborg? Die regter wil weet hoekom Botha nie Afrikaans praat nie en hulle lees nou al selfs Sarie in die hof as deel van die bewyslas. Indien jy ooit moord pleeg, kan jy maar net hoop vir so 'n potsierlike ondersoekspan.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top