9 September: Die volgende baba was ‘n glipsie (maar dis nie wat jy dink nie)

  • 0

In hierdie rubriek skryf advokaat Gustaf Pienaar oor hofsake wat hierdie betrokke week in die nuus was. Die jaartal maak nie saak nie. Hierdie almanak is ’n tydmasjien wat heen en weer deur die regsgeskiedenis wip.

Op 9 September 1982 het ’n sekere mev E in die Addington-hospitaal in Durban by wyse van ’n keisersnee geboorte geskenk aan ’n gesonde baba. As gevolg van ’n glipsie was sy 363 dae later – dit wil sê op 7 September 1983 – wéér in dieselfde hospitaal en seker in dieselfde teater – wéér vir ’n keisersnee om geboorte te gee aan ’n pragtige dogtertjie.

Dit was mnr en mev E se vierde kind, maar die glipsie was nie die egpaar s’n nie. Dit het só gebeur. Voor die geboorte van hulle derde baba het hulle ’n kontrak met die destydse Natalse Provinsiale Administrasie gesluit ingevolge waarvan mev E ná die bevalling van haar derde kind sommer daar en dan deur die dokters gesteriliseer sou word, sodat sy nie verdere kinders sou hê nie. Die operasie is op haar uitgevoer soos ooreengekom, maar dit was nie suksesvol nie, met die gevolg dat sy weer swanger geword het.

Aangesien mnr en mev E in gemeenskap van goed getroud is, het mnr E daarna ’n aksie om skadevergoeding, gegrond op kontrakbreuk, teen die Natalse Provinsiale Administrasie ingestel. Hy het ’n bedrag van R622,79 geëis vir die koste van die tweede poging om sy vrou te steriliseer na geboorte van die vierde kind. Daarbenewens het hy ook algemene skadevergoeding vir sy vrou geëis vir die ongemak, pyn en lyding en verlies aan lewensgenietinge wat sy ervaar het as gevolg van die ongewenste swangerskap en die geboorte van die vierde kind. Ook het hy ’n bedrag van R22 000 geëis vir die toekomstige onderhoud van die vierde dogtertjie vanaf die datum van haar geboorte af totdat sy die ouderdom van 18 sou bereik.

Mnr E se eis was die eerste van sy soort wat voor ’n Suid-Afrikaanse hof gedien het. Dit was regter Thirion se taak om die saak te verhoor en uiteindelik ’n baanbrekeruitspraak te lewer.[1] Die regter het die verskillende morele, etiese en regsvrae wat uit mnr E se eis voortgespruit het, deeglik ondersoek.

Een van die verwere wat die Natalse Provinsiale Administrasie geopper het, was dat dit nie in die openbare belang was dat ’n hof skadevergoeding vir kontrakbreuk van hierdie aard behoort toe te staan nie. In dié verband is daar veral swaar geleun op die posisie in die Amerikaanse reg, waar sommige howe al geweier het om skadevergoeding toe te staan waar vrouens swanger geraak het nadat hulle onsuksesvol gesteriliseer is. In ’n bekende saak van die hooggeregshof van New York, Weintraub v Braun,[2] het die regters vanweë openbare beleidsoorwegings geweier om te aanvaar dat die geboorte van ’n ongewenste – maar andersins gesonde en normale – kind skade vir die kind se ouers ingehou het. Hulle was van mening dat só ’n beslissing onversoenbaar is met die moderne sienswyse dat die geboorte van ’n normale en gesonde kind een van die lewe se kosbaarste geskenke is. Volgens die New Yorkse regters was dit onaanvaarbaar dat ’n dokter, wat weliswaar nalatig was, verplig moes word om te betaal vir die vreugde en plesier wat die ouers kry uit ’n normale en gesonde kind – al is dit ’n kind wat hulle nie wou gehad het nie. Hulle was van mening dat deur ’n dokter te verplig om te betaal, die hof van hom ’n soort "surrogaat-ouer" maak deurdat hy opgesaal word met die verantwoordelikheid om ’n kind te onderhou terwyl dit in beginsel die plig van die kind se ouers is om hom te onderhou. Die regters het ook gesê dat dit moreel verkeerd sou wees as ’n normale, gesonde lewe die basis kon vorm van ’n geldelike eis.

Nou ja, regter Thirion het in die saak van mnr E teen die Administrateur van Natal al hierdie standpunte baie noukeurig ondersoek en beslis dat dit grotendeels op emosionele gronde berus, maar uiteindelik die punt mis. Niemand ontken die belangrikheid van die gesin vir die gemeenskap nie, maar ’n gesin wat só beplan is dat sy behoeftes nie groter is as sy vermoë om homself te onderhou nie is, volgens die regter, ’n baie meer stabiele gesin as daardie gesinne wat vanweë hulle grootte baie hoër eise stel as die beskikbare middele om dit te versorg.

Een van die argumente wat ten gunste van die Administrateur van Natal aangebied is, is dat mnr en mev E hul skade kon beperk deur die vierde dogtertjie te laat aanneem. Op hierdie argument het die regter geantwoord dat om die egpaar te laat kies om óf die kind op hul eie koste te onderhou óf haar te laat aanneem, hulle voor ’n baie moeilike keuse plaas wat hulle juis wou vermy het toe hulle besluit het om mev E te laat steriliseer. Geen hof, het regter Thirion beslis, sou van ouers verg om hulle skade te beperk deur die kind te laat aanneem nie.

Die regter het uiteindelik tot die gevolgtrekking gekom dat al die argumente waarom die hof uit openbare beleidsoorwegings moes weier om mnr en mev E te vergoed, onoortuigend was. Gevolglik het hy beslis dat mnr en mev E vergoed moet word. Die regter het die Administrateur van Natal beveel om aan mnr E die bedrag van R622 te betaal vir die tweede sterilisasie-operasie wat sy vrou moes ondergaan. Daarbenewens is die Administrateur ook gelas om ’n bedrag van R22 500 aan mnr E te betaal vir die toekomstige onderhoud en versorging van die dogtertjie. Destyds was dit ’n aansienlike bedrag.

Aangesien mnr E se eis teen die Administrateur van Natal gebaseer was op kontrakbreuk, was die regter egter nie bereid om aan mev E skadevergoeding vir haar pyn en lyding met die geboorte van die kind en haar verlies aan lewensgenietinge toe te staan nie. Dáárdie eis moes mnr E liefs op deliktuele gronde ingestel het, wat hy nie in die besondere geval gedoen het nie. Nou ja, dit is ’n taamlik regstegniese onderskeid waarmee ek u nie nou wil vermoei nie.

En daarmee sterkte aan al die dokters, tandartse, prokureurs, advokate, rekenmeesters – noem maar op – wat van dag tot dag pasiënte en kliënte moet behandel of adviseer. Hoop julle versekering is in orde, want uiteindelik bly ons almal feilbare mense.


[1]  Edouard v Administrator, Natal 1989(2) AY 368 (D+CLD)

[2]  Na App Div (2nd Dept) (12/30/1983) 10 FLR 1193

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top