In hierdie rubriek skryf advokaat Gustaf Pienaar oor hofsake wat hierdie betrokke week in die nuus was. Die jaartal maak nie saak nie. Hierdie almanak is ’n tydmasjien wat heen en weer deur die regsgeskiedenis wip.

Soms kry ’n mens in ’n enkele bundel van die Suid-Afrikaanse Hofverslae ’n hele reeks hofuitsprake wat nogal lekker leesstof verskaf. Een so ’n bundel is volume 4 van 1960. Daarin verskyn hofuitsprake wat rofweg so tussen Junie en September 1960 gelewer is. Kom ons kyk na ’n paar van hulle.
Daar is eerstens R v Van der Mescht [1], ’n uitspraak van die destydse Witwatersrandse Hooggeregshof.
Maar eers moet ek iets verduidelik. Volgens die Middeleeuse kanonieke (kerklike) reg was ’n mens strafregtelik aanspreeklik vir ál die gevolge van enige onwettige bedrywigheid waarmee hy hom besig hou. Dié onverbiddelike reël – bekend as die versari in re illicita-leerstuk – is gehandhaaf, selfs al het (of kon) die dader nie die gevolge van sy onwettige daad voorsien nie.
In die Van der Mescht-saak het die beskuldigde onwettig goudamalgaam in ’n woonhuis gesmelt, en ’n paar mense het gesterf as gevolg van giftige gasse wat tydens die smeltproses vrygestel is. Die hof het beslis dat omdat die beskuldigde met ’n onwettige daad besig was, hy om daardie rede ook skuldig was aan strafbare manslag. Dit was ’n uitspraak wat baie kritiek uitgelok het, en ook later deur die Appèlhof omvergewerp is, want dit het ingedruis teen ’n grondbeginsel van ons reg dat skuld ’n vereiste vir strafregtelike aanspreeklikheid is. (Die Appèlhof het oplaas in 1965 in S v Bernardus[2] die uitgediende versari-leerstuk finaal uit ons reg geweer.)
’n Tweede interessante uitspraak in die 1960(4)-bundel van die Suid-Afrikaanse Hofverslae is R v Pratt[3], die man wat in April 1960 probeer het om dr Verwoerd by die Randse Skou om die lewe te bring. (Terloops, ek was pas 11 jaar oud en was daardie dag saam met my ouers by die skou. Die gebeurde rondom dr Verwoerd op daardie dag is vir altyd in my geheue ingegrif; hoe anders?) Regter Rumpff – ’n latere hoofregter – het beslis dat David Pratt geestelik versteurd was en daarom nie vir sy daad verhoor kon word nie. Dit is interessant dat ook Dimitri Tsafendas, wat dr Verwoerd op 6 September 1966 in die Parlement om die lewe gebring het, nie vir sy daad verhoor is nie vanweë sy geestesongesteldheid.
R v Nhleko[4] is ’n Appèlhofuitspraak van September 1960 waarin ’n man aan moord skuldig bevind is ondanks die feit dat die liggaam van die vermoorde nooit gevind is nie. Dit gebeur nogal nie dikwels in ons reg nie.
En dan is daar R v Pitje[5], ’n Appèlhofuitspraak van 26 September 1960 – vanjaar 52 jaar gelede. Mnr Pitje was ’n swart ingeskrewe prokureursklerk (deesdae bekend as ’n kandidaatprokureur) wat in die Johannesburgse Landdroshof skuldig bevind is weens minagting van die hof en tot ’n boete van vyf pond (tien rand) of vyf dae gevangenisstraf gevonnis is.
Pitje moes ene Stefaans Niekerk in ’n strafsaak verdedig. Voor die regbank was daar twee tafels: een vir blanke en een vir nieblanke prokureurs. Toe die saak begin, het mnr Pitje by die tafel vir blanke prokureurs gaan sit. Die landdros het hom beleefd versoek om oor te skuif na die tafel vir swart prokureurs. Mnr Pitje het geweier en wou by die landdros weet waarom hy dan by ’n ander tafel moes gaan sit. Die landdros het geantwoord dat dit sy hof was en as hy wou hê dat mnr Pitje by die spesifieke tafel moes gaan sit, hy nie daaroor moes redekawel nie. Toe mnr Pitje verder geprotesteer het, het die landdros hom weens minagting gevonnis. Dié vorm van minagting se Latynse "bynaam", as ek dit so kan noem, is in facie curiae – letterlik minagting "in die aangesig van die hof".
Mnr Pitje het teen die bevel geappelleer, maar het nie by Hoofregter Steyn en vier ander appèlregters enige simpatie gekry nie. Die Appèlhof het beslis dat ’n landdros – en dit geld ook ’n regter – in beheer van sy hof is en daardie hofverrigtinge wat nie spesifiek deur een of ander wet gereël word nie, is grotendeels in sy diskresie. Die landdros se bevel sou net aangeval kon word as dit sou neerkom op ’n ongelyke behandeling van mnr Pitje – en dit, het die Appèlhof beslis, was nie die geval nie. Hy sou sy werk net so goed by die een tafel as by die ander kon doen.
Bowendien was daar getuienis dat mnr Pitje vooraf geweet het van die sitplekreëling in dié besondere hof, omdat een van die twee vennote van die firma waar hy klerk was, net mooi tien dae vantevore in dieselfde hof ook in Stefaans Niekerk se saak oor dieselfde aangeleentheid met die landdros in ’n argument betrokke was. Die vennoot het hom toe aan die saak onttrek en dit aan sy klerk oorhandig – klaarblyklik met die doel om dié vorm van diskriminasie op die spits te dryf.
En die naam van mnr Pitje se regsfirma? Wel, ek moet bely ek het vergeet dat hulle eens as vennote saam gepraktiseer het: mnre Oliver Tambo en Nelson Mandela.
Só het die regspraak in Suid-Afrika in die winter en lente van 1960 gelyk.

