Brandstigting

  • 0

In hierdie rubriek skryf advokaat Gustaf Pienaar oor hofsake wat hierdie betrokke week in die nuus was. Die jaartal maak nie saak nie. Hierdie almanak is ’n tydmasjien wat heen en weer deur die regsgeskiedenis wip.

 

'n Sekere mnr Van Zyl was in 1980 'n bouer in die omgewing van Welkom in die Vrystaat. Hy was besig met die bou van 'n woonhuis toe 'n sekere mnr Claase hom nader en hom R45 000 aanbied vir die huis wat nog in aanbou was. In vandag se geldwaarde sou die huis mnr Claase aansienlik meer gekos het – ek sou skat ver meer as R1 miljoen.

Die partye het ooreengekom dat Claase in Mei 1980 sy intrek in die nuwe huis sou neem. Om een of ander rede het Van Zyl nie die woonhuis betyds voltooi nie en in September 1980 – dit wil sê meer as vier maande ná die bestemde tyd – het hy die ooreenkoms met Claase gekanselleer, oënskynlik bloot omdat die huis toe nog nie voltooi was nie.

Claase wou egter nie die kansellasie aanvaar nie, en het die standpunt ingeneem dat Van Zyl verplig was om die huis aan hom oor te dra. Op advies van sy prokureur het Claase op 1 November 1980 in die huis ingetrek, klaarblyklik erg teen die sin van die bouer. Van Zyl het toe probeer om 'n uitsettingsbevel teen Claase te kry, maar dit het misluk. Uiteindelik het Claase 17 maande lank in die woonhuis gebly sonder om enige geld aan Van Zyl te betaal.

'n Mens kan jou voorstel dat die verhoudinge tussen die bouer en die koper erg versuur het, tot so 'n mate dat Van Zyl in Januarie 1982 teenoor verskeie persone genoem het dat hy die huis wou afbrand. Onthou nou: dit was steeds Van Zyl se eiendom; dit was nog nie aan Claase oorgedra nie. Van Zyl het selfs drie mense genader om te hoor of hulle nie die huis teen vergoeding aan die brand sou steek nie. Hy het selfs vir die mense gedemonstreer hoe 'n dakteël maklik verwyder kan word sodat 'n ontvlambare mengsel van paraffien en petrol deur die dak gegooi kan word om die huis aan die brand te steek.

In Maart 1982 is Claase na Johannesburg verplaas en terwyl hy en sy gesin vir 'n naweek na die Goudstad was om 'n nuwe woonplek te soek, het die huis waaroor die partye so getwis het, afgebrand.

Van Zyl is daarna in die streekhof te Welkom weens brandstigting, kwaadwillige saakbeskadiging, sameswering om brand te stig, ens ens aangekla. Hy is op die meeste van die aanklagte skuldig bevind en tot 'n hele paar jaar tronkstraf gevonnis. Hy het teen die skuldigbevinding en tronkstraf geappelleer en die saak het uiteindelik voor regter Malherbe in Bloemfontein gedien.1

Van Zyl se eerste verweer was dat 'n mens nie in ons gemenereg aan brandstigting skuldig bevind kon word as jy jou eie eiendom aan die brand gesteek het nie. Dit is nogal 'n interessante verweer en het heelwat debat in die hof uitgelok. Die advokate en die regter het diep gaan delf in die geskrifte van die ou Nederlandse skrywers wat oor ons gemenereg geskryf het. So het Johannes van der Linden byvoorbeeld brandstigting beskryf as 'n misdaad wat plaasvind wanneer 'n mens met die opsetlike oogmerk om iemand ánders te benadeel "bij gebouwen, of andere onroerende goederen vuur gelegd heeft". Hoe ernstig die misdryf van brandstigting is, sê Van der Linden, sal afhang van die omvang van die gevaar, byvoorbeeld "wanneer eene geheele Stad of Gemeente daardoor gevaar lieb van aftebranden".

Van verdere belang is ook die oogmerk van die brandstigter. Verswarende omstandighede sou byvoorbeeld wees "wanneer de brandstigting gedaan is met een oogmerk om te rooven en te moorden". En dan voeg Van der Linden by: "[D]e straffe van opzettelijke brandstigters is in ons land de dood." Nou het mnr Van Zyl se advokaat onder meer op grond van hierdie uitspraak van Van der Linden aangevoer dat sy kliënt nie aan brandstigting van sy eie eiendom skuldig bevind kon word nie, want sy oogmerk sou nie gewees het om iemand anders as homself te benadeel nie.

Regter Malherbe het uiteindelik hierdie verweer verwerp en beslis dat, in ons reg, iemand wel aan die gemeenregtelike misdaad van brandstigting van jou eie eiendom skuldig bevind kan word.

Die hof het daarna gekyk na Van Zyl se verdere verweer dat die Staat nie bo redelike twyfel bewys het dat die betrokke huis inderdaad as gevolg van brandstigting afgebrand het nie. Die Staat se saak het op omstandigheidsgetuienis berus. Regter Malherbe het beslis dat daar geen getuienis aangebied is omtrent die oorsaak, of waarskynlike oorsaak, van die brand nie. Die hof het bevind dat die redelike moontlikheid dat die brand spontaan kon ontstaan het as gevolg van 'n elektriese kortsluiting of 'n weerligstraal, glad nie uitgeskakel was nie. Alhoewel daar 'n sterk suspisie bestaan het dat Van Zyl vir die brand verantwoordelik was, óf self óf deur gebruik te maak van ander persone, was die hof van mening dat daar nie oortuigende getuienis was dat hy skuldig was aan die gemeenregtelike misdaad van brandstigting nie.

Die hof het, daarteenoor, egter bevind dat Van Zyl wel skuldig was aan sameswering om brandstigting te pleeg, onder meer omdat hy by verskeie geleenthede met minstens drie persone gepraat het oor die afbrand van die huis; dat hy hulle gevra het of hulle bereid sou wees om dit teen vergoeding te doen; dat hy verduidelik het hoe dit gedoen kon word; en dat hy selfs planne en foto's van die huis aan een van die persone oorhandig het. Op die verskillende aanklagte van sameswering om brandstigting te pleeg het die hof hom tot 'n boete van R2 000 of een jaar gevangenisstraf gevonnis.

Jy mag dink dat R2 000 maar 'n pasellaboete was, maar in vandag se geld is dit goed meer as kleingeld ...

1 Staat v S van Zyl 1987(1) 497(OPA)

 


 

Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet’s free weekly newsletter.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top