Foto’s: Clifford Roberts
Elke nou en dan vang ’n mens se oog iets merkwaardig in ’n aanlyn skrywe, tydskrif of televisie-insetsel, iets wat jou interesseer en wat jy vir ’n vlietende oomblik wens jy kon bywoon, meemaak of ervaar. Venesië en die tweejaarlikse Venesiese Kunsbiënnale is een van daardie geleenthede wat die afgelope paar jaar in my agterkop ’n graag-wil-doen-ding geword het, maar met ’n sekerheid dat dit nooit sou gebeur nie, want geld om halfpad om die wêreld te vlieg om kuns te gaan kyk, sou daar nooit wees nie.
Maar soos my een vriend sê: “Gooi jou wense uit in die heelal in en jy sal verbaas wees wat terugkom.” My wens word toe heel onverwags waar: ’n vriend nooi ons saam Italië toe vir drie weke, waar hy na vriende se gastehuis in Gualdo gaan omsien terwyl hulle met vakansie is.
En so tussen vlugte bespreek, geld afknyp en beplan, kom ’n besoek aan Venesië ter sprake en die legkaart word voltooi: ons kan ook die biënnale gaan sien.
Met die besoeke aan kerke, katedrale en klein piazzas en koffie by straatkafees bly ons gesels oor die legendariese kunsbyeenkoms, vanjaar getiteld The Encyclopedic Palace, onder kuratorskap van Massimiliano Gioni. Hy het die titel gekies om hulde te bring aan die Italiaans-Amerikaanse kunstenaar Marino Auriti, wat in 1955 ’n patent aanhangig gemaak het van die Palazzo Enciclopedico (Die Ensiklopedie-Paleis), ’n denkbeeldige museum waar al die wêreld se kennis gestoor kan word. Sy plan het natuurlik nooit werklikheid geword nie, maar die droom van universele, allesomvattende kennis steek gereeld oor die jare sy kop uit.
Gioni sê die Venesiese Biënnale is al sedert 1895 een van die glorierykste kulturele gebeurtenisse in die wêreld, met bykans 400 000 besoekers en meer as 88 lande wat uitstal – 10 hiervan vanjaar vir die eerste maal: Angola, Bahamas, Koninkryk van Bahrain, die Republiek van die Ivoorkus, Kosovo, Kuweit, Maldives, Paraguay, Tuvalu en Holy See / Heilige Stoel Santa Sede.
Die Biënnale het sedert sy ontstaan bykans 110 jaar gelede baie uitgebrei en word vanjaar vir die 55ste maal gehou. In 1930 het nuwe feeste as deel daarvan bygekom, waaronder musiek-, teater- en bioskoopfeeste - die Venesiese filmfees in 1932 was die wêreld se heel eerste filmfees. In 1980 het die argitektuur-afdeling bygekom en in 1999 het dans sy debuut by die Biënnale gemaak.
Merkwaardige feite is dat die Tweede Wêreldoorlog die uitstalling vir ses jaar onderbreek het, dat abstrakte ekspressionisme in 1950’s ingebring is en dat die verkoop van kuns in 1968 gestaak is. Ook dat die 51ste Biënnale in 2005 die eerste vroulike kurators, Maria de Corral en Rosa Martinez, gehad het en dat China vir die eerste maal in daardie jaar deelgeneem het. Argentinië was in 1901 die eerste Latyns-Amerikaanse nasie wat aan die Biënnale deelgeneem het.
Die Biënnale word by hoofsaaklik twee plekke op die hoofeiland van Venesië gehou: Giardini en Arsenale, al twee haltes op die waterbus-roete. Die oppervlakte van Arsenale alleen is ongeveer die grootte van die V & A Waterfront in Kaapstad, met een saal na die ander vol kuns. Jou kaartjie bied toegang na albei plekke, oor twee dae. Ons pak die Arsenale een eerste aan, want dis waar Suid-Afrika ’n paviljoen (uitstalruimte) het.
Giardini huisves 30 permanente paviljoene en lande wat nie ’n paviljoen daar besit nie, stal regoor die stad in elke denkbare ruimte uit. Die uitstallings word met baniere teen horingou geboue langs die groot kanaal adverteer.
Die uitstallings wissel van ’n klein kunswerkie, skaars groter as ’n notaboek, van ’n vroutjie wat sit, tot video-installasies waar 20 mense op poewe ontspan en kyk na die reuse-beelde van die rysvelde van China, na die haglike omstandighede waarin trekarbeiders woon.
Brenton Maart, kurator van die Suid-Afrikaanse paviljoen, het op 19 April vanjaar in die Mail & Guardian geskryf dat daar ’n duidelik hoorbare sug van verligting onder die kunsgemeenskap is omdat Suid-Afrika vanjaar na die Biënnale kon gaan – kop omhoog, omdat die land se deelname veral in 2011 ’n beroerde affêre was.
Hy skryf voorts: “Vir jare is Suid-Afrika weens apartheid uitgesluit en keer toe in 1993 terug na die Biënnale. In 1995 was die kurator Malcolm Payne, voor dinge vir ’n paar jaar stilgestaan het, tot 2011, toe die Johannesburgse kunshandelaar Monna Mokoena die kontrak bekom het om die land daar te verteenwoordig. Maar gerugte van ondeursigtigheid oor finansies en die proses van deelname dompel die hele aangeleentheid in kontroversie en laat sekeres in die kunsgemeenskap baie boos. Die kwessie word in die parlement bespreek en lei daartoe dat die minister van kuns en kultuur, Paul Mashatile, die National Arts Festival (NAF) aanstel om die land se uitstalling te bestuur. Dit lei toe die spul na my, skrywer en kurator, wat al vir etlike jare op die fees se kunskomitee dien.”
En so – bewus van al die woelinge, maar deur eie keuse apaties oor rassetwis, gerugte van vervalste tenders en fakture – slaan ek hoendervleis uit toe ek boaan die trappe van die Sale D’Armie staan waar Suid-Afrika, Argentinië, die Emirate en Holy See / Santa Sede uitstal; regs draai en die woorde van die Suid-Afrikaanse uitstalling, getiteld “Imaginary Fact – Contemporary South African Art and the Archive”, lees. Ek het gelees die begroting vir die uitstalling was R10 miljoen, dieselfde as in 2011. Maart het in die onderhoud in Mail & Guardian geskryf dat hy ’n “doelbewuste besluit geneem het om met ’n groot groep uit te stal, omdat dit deel van ons terugkoms na die Biënnale is”.
Die Suid-Afrikaanse kunstenaars wat deel is van die Biënnale, is Joanne Bloch, Wim Botha, David Koloane, Donna Kukama, Philip Miller, Gerhard en Maja Marx, Sam Nhlengethwa, Zanele Muholi, Johannes Phokela, Cameron Platter, Andrew Putter, Athi-Patra Ruga, Penny Siopsis, James Webb, Sue Williamson en Nelisiwe Xaba.
Ek onthou hoe sosiale platforms destyds gegons het nadat die eerste name van Suid-Afrika se deelnemende kunstenaars bekend gemaak is en daar geen swart vroulike kunstenaars verteenwoordig was nie. Maart het egter verduidelik dat name bekendgemaak is soos wat kunstenaars die uitnodiging om deelname aanvaar het.
Dis toe interessant dat die eerste ding wat jy by die Suid-Afrikaanse paviljoen sien, ’n reuse wit muur met swart-wit foto’s van Zanele Muholi se Faces and Phases-projek is, ’n deurlopende fotografiese projek waarin sy swart lesbiërs afneem. Sy het verlede jaar in haar beskrywing van haar uitstalling by die Stevenson-galery in Johannesburg geskryf dat haar foto’s ’n kyk gee in die lewens van swart lesbiërs en transmans met wie sy op haar reis as aktivis te doen gekry het. Sy het onder meer genoem dat te midde van al die uitdagings wat haar gemeenskap daagliks te bowe moet kom, sy hierdie reis aangepak het om ’n swart homoseksuele sigbaarheid te skep.
“Faces and Phases is oor ons geskiedenisse en die stryd wat ons moet stry. ‘Faces’ druk die mens uit en ‘Phases’ versinnebeeld die oorgang van een stadium van seksualiteit of geslagsuitdrukking na die ander.” Sy spog met verskeie toekennings en is vroeër vanjaar deur die Carnegie Museum of Art, Pittsburgh, Pennsilvanië, vereer, en ontvang op 11 Desember die Prins Claus-toekenning in Amsterdam.
Soos ek deur die uitstalling stap, onthou ek grepe uit die onderhoud waarin Maart gesê het dat die apartheid-argief as ’n wit argief gesien word. “Om nou na daardie argiewe te kyk, gee ons die kans om te lees wat voorheen oorgesien is, om die swart, die vroulike perspektief ook te sien.”
As jy verby Muholi se foto’s loop, is Wim Botha se beelde volgende aan die beurt. Hy het boeke – een van die beste vorme van argivering – gebruik om sy borsbeelde, Portrait I en Portrait III, Untitled en Generic Self-Portrait as an Exile uit te kerf; een daarvan het houtvlerke, en die ander skedelagtige beelde is spookagtig met hul leë oogkaste. In Study for the Epic Mundane hang twee beelde aan staaldraadjies uit die dak, ’n verskeidenheid boeke waaronder bybels, woordeboeke en staalpenne gebruik is om die twee dansende figure te skep. Een man neem foto’s op sy digitale kamera en ek wonder onwillekeurig vir wie hy dit gaan wys en of hy dieselfde trots in sy hart het as ek by die aanskoue daarvan.
Party van die uitstallings is meer direk as ander: die getuienis van die Waarheid-en-Versoeningskommissie wat die tema vorm van David Koloane se olie-pastel-tekeninge, getiteld The Journey, en die films van Gerhard Marx, Maja Marx en Philip Miller. Sam Nhlengethwa se fotolitografiese werke bied ’n kykie in die 1950’s en 1960’s met trekarbeid en die lot van mynwerkers as tema.
Ek verpoos by ’n magdom geraamde dompasse, ’n sigbare herinnering aan die tagtigs – mensig ... is dit net 30 jaar gelede? – voor ek by Penny Siopis se 2011-film Communion verbystap. Communion vertel hoe ’n Ierse non, suster Aidan, in ’n 1952-optog in die Oos-Kaap vermoor is. Siopis laat die non as’t ware haar eie dood deur middel van beeldmateriaal aan die kyker verduidelik. Die beelde van die video volg jou oral waar jy gaan; die woorde laat jou nekhare orent staan en hou jou bewus van daardie lastige skaduwees van apartheid wat steeds oor ons skouers loer. Die non was ook ’n mediese dokter, Elsie Quinlan, ’n geliefde vrou, wat op die verkeerde tyd op die verkeerde plek was. Daar is destyds baie gespekuleer oor wie vir haar moord verantwoordelik was, omdat sy deur ’n groep doodgemaak is en daar dele van haar liggaam weg was en vermoedelik opgeëet is. Die beelde speel oor die klanke van ’n Afrika-wiegeliedjie.
Ek stem saam met die voormalige ambassadeur, Sheila Camerer, wat op 12 Augustus in “Thoughtleader” op die Mail & Guardian se webwerf geskryf het die “paviljoen en die uitstalling haar trots gemaak het om ’n Suid-Afrikaner in Venesië te wees”. En ja, die kritiek wat haar skrywe ontlok het, en voorstelle dat die Biënnale se geld eerder aan huise, sanitasie en opvoeding spandeer moet word, is deels geldig. Maar ons kan nie vir altyd ons kunstenaars en hul talent onder die maatemmer versteek nie. Gebruik eerder al die geld wat maandeliks so blatant deur politici vermors word, en stoot dít in huise, sanitasie en opvoeding in.
Ons land het in 20 jaar só ver gekom, en op pad deur die ander uitstalruimtes, wat in reusagtige, antieke rooi baksteengeboue gehuisves word, voel ek vryer as ooit tevore. Vry omdat ons soveel potensiaal het, soveel vermag het en nog tot soveel in staat is hier aan die suidpunt van Afrika.
Dis selde dat mens die kans kry om Afrika se kuns op een plek te sien, en boonop is vanjaar net vyf Afrika-lande by die Biënnale verteenwoordig: Suid-Afrika, Egipte, die Demokratiese Republiek van Kongo, Angola en Kenia. Angola is vir die eerste maal daar.
Binne-in die bunkeragtige paviljoen van Latyns-Amerika, het die Boliviaanse kunstenaar Sonia Falcone in haar uitstalling, Fields of Color, ’n vloer bedek met rye en rye klei-terrine-bakke met spitse van fyngemaalde speserye. Die wind kan die hele uitstalling binne minute vernietig, maar dis juis die verganklikheid – tesame met die hemelse reuk van onder meer komyn, neutmuskaat en kaneel – wat jou in jou geestesoog na eksotiese markte wegvoer. Dit was juis Sonia se gedagte agter die installasie, maar ook om hulde te bring aan die dae toe Venesië die sentrum vir die speseryhandel was.
Soos ons stap, ervaar en kyk, verander my ideologieë: ek het begin glo Suid-Afrika se geskiedenis van kolonialisme, onderdrukking en rasseklassifikasie is uniek, dat ek as wit vrou in my veertigs ’n onwillige simbool van onderdrukking geword het. Maar dié tema word deur baie ander lande se kunstenaars geëggo, en die kleur en geslag van die onderdrukker word irrelevant. Die kulture, regerings, leefstyle van lande van alle uithoeke van die wêreld is deurspek met klassisme, rassisme, seksisme en die stilmaak van stemme wat daarteen sou wou betoog.
Ons staan by die Libanese paviljoen stil en kyk in die donkerte na die video van ’n jong man wat stadig ’n ou film oprol. Die uitstalling, The letter to a refusing pilot deur Akram Zaatari, beskryf hoe, in die somer van 1982, ’n Israeli-loods geweier het om ’n skool in Saidi met sy vliegtuig te bombardeer. Hy het opdragte verontagsaam toe hy besef dis ’n skool en het die bom in die see gaan stort. Zaatari het as jong seun verskeie weergawes van die storie gehoor, omdat sy pa die skooldirekteur was. Dekades nadat hy matrikuleer het, vind hy uit dit was nooit net gerugte nie, dit het regtig gebeur. Die loods het vir 20 jaar stilgebly, maar tien jaar gelede besluit om die verhaal te vertel. Die uitstalling versinnebeeld die twee mans se korrespondensie oor ’n onmoontlike grens wat steeds deur oorlog geteister word.
Ons is flou toe ons teen middagete buite langs die water gaan sit om iets te eet. Die uitstallings is vol, die kafeteria bars uit sy nate, en mense sit gebukkend hul gidse en bestudeer. Toe ons rustig raak, hoor ons musiek speel – vreemd vir die absolute stilte van die res van die uitstalling. Toe ons om die draai kom, sien ons ’n wit boot, SS Hangover, met ’n blaasorkes op. Die boot vaar stadig van die een kant van die kaai na die ander, sy weerkaatsing in die donker seewater en die klanke van die musiek wat teen die pilare weergalm. Ons sit vir ’n halfuur daar en kyk hoe die boot om en om vaar, die blaasorkes net elke nou en dan asem skep voor hulle weer inval. Die droewige klanke talm oor die donker water, die wit seiltjie wapper liggies in die wind, die son brand genadeloos op die “bemanning” neer. Dis die werk van Ragnar Kjartansson, wat sy uitstalling ’n klank-beeldhouwerk noem, en die ses musikante en hul blaasinstrumente vorm deel van die werk. Hulle speel ’n stukkie musiek deur Kjartan Sveinsson, spesiaal vir die Biënnale geskryf.
Ons haal die watertaxi na Arsenale Nord en stap deur die eietydse werke van Azerbaijan se Love me, Love me not, Chinese onafhanklike kuns in Voice of the Unseen en kuns uit Andorra voor ons laatmiddag huiswaarts keer.
Dis vroeg die volgende oggend toe ons onder die reuse-bome toustaan by Giardini vir dag twee van ons verkenningstog deur die kunste.
Die Griekse mitologiese figure Zeus en Danaë was die inspirasie by die Russiese paviljoen in Danaë, deur die kunstenaar Vadim Zakharov. Die kamers van die 1914-gebou van die Russiese argitek Alexei Shchusev (wat tien jaar later Lenin se mausoleum in Moskou ontwerp het) moes effens aangepas word vir die “uitstalling” met verskeie vlakke, waar ’n man op die boonste vloer munte in ’n skag invoer wat dan letterlik op die grondvloer op omstanders neerreën.
Die ervaring is vir vroue alleenlik – omdat die grondvlak volgens Vadim ’n veilige baarmoeder versinnebeeld – en die blonde meisie by die deur gee vriendelik ’n dik plastieksambreel aan my met die woorde: “Kyk hoeveel munte jy kan optel en op die hoop in die middel kan gooi. Maar hou een munt vir jou.” Die klatergoud-muntstuk is inderwaarheid een danaë. (Ek dra myne sedertdien in my handsak saam en loer gereeld daarna om die wonder van die Biënnale vir ’n oomblik te herleef.) Op die tweede vloer sit ’n man op ’n balk en grondboontjies eet en laat val die doppe op die vloer. ’n Herhalende, monotone proses wat later vervelig voorkom.
Ons ervaar kuns in al sy vorme: klankdigte, pikdonker kamers; ons sien ons eie silhoeëtte in kamers uit glas gebou; stap oor stapels klippe uit soliede brons gegiet; verdwyn in feetjiewêrelde met drogbeelde en lig; en kyk video’s oor straatkuns en graffiti in Venezuela.
Kreupelhout in die Belgiese paviljoen sal my nog lank bybly. In die halfskemer vertrek lê ’n reuse-boom waarvan sommige takke verbind is. Die werk is ’n vennootskap tussen die kunswerk van Berlinda De Bruyckere en woorde van die Suid-Afrikaanse skrywer JM Coetzee. De Bruyckere gebruik was, hout, wol, perdehaar en -vel vir haar werke en was só beïndruk met Coetzee se passievolle skryfwerk dat sy hom gevra het om as kurator vir die paviljoen op te tree.
Die boom is ’n metafoor vir die woord kreupel, wat polities verkeerd is – ’n woord of gedagte wat ons probeer begrawe of agter hekke toesluit. “Die kreupelhoutboom groei uit ons toegegooide verlede in ons skoon hedendaagse; druk sy knopperige vingers en lote deur die hekke waaragter ons dit probeer verberg,” skryf Coetzee by die uitstalling.
Daar is iets só hartseer aan die reuse-boom wat daar in die reghoekige vertrek gevange gehou word, sy fut uit, dat dit ver by die kunstenaar en kurator se boodskap verby praat.
Ons laaste stop vir die dag is die Britse paviljoen, waar jy begroet word met ’n skildery van ’n reuse-roofvoël wat ’n opgefrommelde Land Rover in sy klou vashou. Die indrukwekkende kunswerk van Sarah Tynan, getiteld A good day for cyclists bring bewustheid oor die kuikendief (hen harrier), ’n skaars roofvoël wat in Brittanje voorkom en gereeld gejag word en nou uitwissing in die gesig staar.
Ons kyk ’n video oor roofvoëls in die vlug, die film só stadig gestel dat jy elke veer se beweging op ’n spierwit sneeu-uil se lyf kan sien, voor jy sien hoe twee Land Rovers deur meganiese kake tot blikvierkante gedruk word. Nog ’n deurlopende tema by die Biënnale vanjaar: hoe die mens die natuur, sy omgewing – en ook homself – vernietig. Hoe ons kake alles opvreet en uitspoeg.
Op pad na die deur by die Britse paviljoen word ons vriendelik gevra: “Do you fancy a cuppa?” en ’n gawe jong man druk twee koppies tee in ons hande. Ons ontspan met ons lafenis en kyk hoe oorbluf mense is deur die aanbod, hoeveel mense skrikkerig die tee neem, bang hulle word deel van een of ander uitstalling, en dan later ontspan as hulle sien daar is geen bybedoelings nie.
Dis byna 15 uur se kuns later toe ons die waterbus haal terug hotel toe. Ons koppe is oopgeblaas, ons harte vol, en mens wil jou verbeel jy verstaan die idee van ’n denkbeeldige museum waar al die wêreld se kennis gestoor kan word, want jou brein voel skielik heel gewillig daartoe.
• Die 55ste Biënnale loop op 24 November ten einde. Loer by www.labiënnale.org vir meer inligting en maak veral ’n draai by die Suid-Afrikaanse paviljoen. Kaartjies kos 25 euro elk en is geldig vir twee dae om al twee uitstalruimtes, Arsenale (Campo Tana) en Giardini, deeglik te kan geniet. Daar is afslag vir gesinne en jong kinders.


Kommentaar
Dankie vir die uitgebreide verslag, Maryke Roberts! Ons kan nie genoeg trots wees op ons kunstenaars se prestasies nie. Wim Botha se boekebeelde is werklik aangrypend. Ek het dit in Den Haag ontdek by 'n groepstentoonstelling van 32 Suid-Afrikaanse kunstenaars in Museum Beelden aan Zee. Zanele Muholi se foto's in hierdie reeks ontwrig voortdurend die kunskyker se perspektief, omdat "gender" dikwels visueel verkeerd ingeskat word. In Arnhem het ek die mooiste foto's van Muholi gesien van jong manne en toe op die beskrywing gelees dis eintlik jong vroue. Mens kan nie glo dat 'n foto jou so kan bedreig nie. My eie Muholi beskou en nie noodwendig as lesbiese kuns nie. Dis gewoon fassinerend hoe mense hulle self in die lewe uitdruk mbt hulle seksuele ingesteldheid en in verhouding tot kuns. Zanele Muholi verdien werklik die Prins Claus-toekenning.