In hierdie rubriek skryf advokaat Gustaf Pienaar oor hofsake wat hierdie betrokke week in die nuus was. Die jaartal maak nie saak nie. Hierdie almanak is ’n tydmasjien wat heen en weer deur die regsgeskiedenis wip.
Die Engelse het 'n spreuk wat lui: "Possession is 90% of the law"; en hoe waar dié spreuk is, blyk uit vandeesweek se verhaal.
Mnr en mev Ross van Port Elizabeth se huwelik was diep in die moeilikheid en mev Ross het uit die gemeenskaplike woonhuis getrek. Sy het net die noodsaaklikste persoonlike besittings met haar saamgeneem. Mnr Ross het in die huis agtergebly. Terwyl hy vir 'n naweek Durban toe is, het mev Ross - sonder sy medewete - in die gemeenskaplike woonhuis ingegaan en 'n hele paar items daaruit verwyder, onder meer 'n hoëtroustel en 140 kompakskywe. Wat sy ook opgelaai het, was 'n rekenaar, 'n mikrogolfoond, 'n antieke lessenaar, 'n paar warmhou-skinkborde, vier koper-springbokkies, 'n gasbraai met bybehore en enkele ander kombuistoebehore.
Toe mnr Ross na die naweek in Durban terugkeer en hy ontdek dat mev Ross hierdie items uit die woonhuis verwyder het, het hy dadelik sy prokureur gaan raadpleeg en is toe ingelig dat hy 'n “mandament van spolie” teen mev Ross moet instel.
Die mandament van spolie is 'n besitsremedie wat uit die Romeins-Hollandse Reg in die Suid-Afrikaanse Reg opgeneem is. Dit is 'n remedie wat die besitsverhouding tussen 'n persoon en wêreldsgoed – die reg noem dit “sake” - beskerm. Die persoon wat van hierdie remedie gebruik wil maak, hoef nie die eienaar van ‘n saak te wees nie; dit moes slegs in sy vrye en ongestoorde besit gewees het. Die mandament van spolie is dus 'n tussentydse remedie wat verligting van 'n tydelike aard - naamlik besitsherstel - verskaf. Wanneer die hof moet oordeel of daar 'n besitsversteuring was, stel die hof nie belang in wie die eienaar van die saak is nie; al wat tel, is wie in besit daarvan was. Die dispuut oor eiendomsreg kan later volg. Die mandament van spolie is dus 'n vinnige remedie om iemand se besit van 'n saak te herstel.
Mnr en mev Ross se saak het voor regter Erasmus in Port Elizabeth gedien en die regter moes besluit of mnr Ross wel van die mandament van spolie gebruik kon maak in die lig daarvan dat hy en mev Ross nog wettig getroud was. Sy het ook in haar beëdigde verklaring aangevoer dat die items wat sy geneem het, haar eie persoonlike eiendom was. Boonop was die hoëtroustel, mikrogolfoond, antieke lessenaar en sekere kombuistoerusting geskenke van mnr Ross aan haar. Die 140 kompakskywe is weliswaar deur mnr Ross betaal, maar sy het dit loop uitsoek. Die rekenaar, het sy aangevoer, het mnr Ross vir haar dogter uit 'n vorige huwelik gekoop om haar met haar studie te help.
Regter Erasmus het beslis1 dat, in beginsel, die mandament van spolie ook beskikbaar is tussen mense wat met mekaar getroud is. Daar was dus geen rede waarom mnr Ross nie die hof kon nader met sy aansoek om 'n bevel dat hy in besit van die eiendom wat mev Ross verwyder het, geplaas word nie. Die regter het beslis dat die mandament van spolie 'n remedie is om die openbare orde te beskerm en te verhoed dat mense die reg in eie hande neem, soos wat mev Ross gemaak het. Al wat mnr Ross moes bewys, is dat hy in vreedsame en onversteurde besit van die eiendom was en dat daardie besit op 'n onregmatige manier versteur is. Mev Ross is gevolglik beveel om die items wat sy verwyder het, mooitjies terug te neem na die gemeenskaplike woonhuis en ook om mnr Ross se regskoste te betaal.
1Ross v Ross 1994(1) SA 865 (SE)
Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet’s free weekly newsletter.

