Audi alteram partem (en die storie van 'n laerskoolkind)

  • 0

In hierdie rubriek skryf advokaat Gustaf Pienaar oor hofsake wat hierdie betrokke week in die nuus was. Die jaartal maak nie saak nie. Hierdie almanak is ’n tydmasjien wat heen en weer deur die regsgeskiedenis wip.

Vandeesweek iets oor die administratiefreg.

Daar is 'n klomp regsreëls wat die organisasie, bevoegdhede en optredes van die staatadministrasie reël. Die administratiefreg het veral ook te make met die verhouding tussen die staat en die onderdaan. Dit is 'n ongelyke verhouding: aan die een kant het jy die magtige staatsadministrasie en aan die ander die staatsonderdaan – mense soos ek en jy – op wie se regte en belange die magtige staatsadministrasie soms inbreuk maak. Artikel 33 van die Grondwet bepaal dat elke onderdaan die reg het op administratiewe optrede teen hom wat wettig is, redelik is, en volgens 'n regverdige prosedure geskied. Die betrokke artikel bepaal ook dat enigiemand wie se regte nadelig geraak word deur 'n administratiewe optrede – met ander woorde optrede deur 'n staatsorgaan – die reg het om skriftelike redes vir daardie optrede aan te vra.

Maar nog lank voordat hierdie billikheidsreëls in die Grondwet opgeneem is, het ons howe al beslis dat die optrede van die staat teenoor die burger aan sekere vereistes moet voldoen. So kan geen staatsorgaan byvoorbeeld teen 'n burger optree as daardie optrede nie deur een of ander wet gemagtig word nie.

'n Ander vereiste is dat die sogenaamde reëls van natuurlike geregtigheid nagekom moet word in enige administratiewe optrede. Wat beteken dié "reëls van natuurlike geregtigheid?" Dit word saamgevat in die Latynse spreuk audi alteram partem. Letterlik beteken hierdie reël: "Hoor die ander party se kant of saak." Dit beteken dat geen administratiewe besluit geneem kan word teen, byvoorbeeld, 'n burger of onderdaan alvorens sy saak nie gehoor is en daar behoorlik aan aandag gegee is nie.

Kom ons bespreek dié beginsels aan die hand van 'n baie eenvoudige voorbeeld uit ons hofverslae. 'n Skoolseun, Jannie van der Merwe, was teen September 1995 reeds vyf jaar lank 'n leerling van die Theo Wassenaar Laerskool in Johannesburg. Jannie was nie 'n engeltjie nie en in daardie – goeie? – ou dae van lyfstraf het die onderwysers dit ook van tyd tot tyd nodig geag om die roede teen hom in te lê. Met sy skoolwerk was daar egter nie fout nie.

Op 'n oggend in die lente van 1955 het Jannie en 'n prefek met die naam Sarie Reinecke 'n onderonsie gehad wat Jannie se hele skoolloopbaan lateraan beïnvloed het. Dit was in die dae van die staat se skoolvoedingsprogram en Sarie het as prefek toesig gehou oor die uitdeel van vrugte aan die leerlinge. Wat presies gebeur het, is nie seker nie. Jannie het gesê dat 'n ander kind hom teen Sarie gestamp het en dat sy hom toe met 'n bos sleutels oor die kop geslaan het. Uit weerwraak het Jannie haar toe met die plathand deur die gesig geklap. Sarie se weergawe was effens anders: sy het vertel dat Jannie voor in die ry ingedruk het en toe sy hom betig het, het hy haar in die gesig en maag geslaan. Hoe dit ook al sy, Jannie is na die hoof se kantoor gestuur, waar hy 'n deftige loesing gekry het.

Die volgende dag het sy pa 'n briefie vir die hoof gestuur: "Geliewe kennis te neem dat Jannie van der Merwe nie aanwesig sal wees nie, en ek versoek u nietemin om hom wel aanwesig te merk daar sy afwesigheid te danke is aan u persoonlik. Hy word deur my vergesel na die distriksgeneesheer, asook my advokaat, aangaande die onwettige, ernstige, en onregverdige loesing wat deur u persoonlik aan hom ongenadiglik toegedien is."

Die hoof was nie links nie en skryf toe vir die pa terug: "U word hiermee in kennis gestel dat u seun Jan van der Merwe uit die skool geskors word, weens onbehoorlike gedrag. Hy het 'n skooldogter verskeie houe in die gesig en op die maag toegedien met die vuis."

Ingevolge die destydse onderwyswetgewing hét 'n skoolhoof die bevoegdheid gehad om onder bepaalde omstandighede 'n leerling uit die skool te skors – veral waar die leerling hom aan onbehoorlike gedrag skuldig gemaak het. Daar was dus 'n sogenaamde magtigende wet vir die skoolhoof se optrede. Nogtans het die hoof in hierdie besondere geval nie daarmee weggekom nie. Jannie se pa het sy skorsing uit die skool hof toe gevat en die saak het uiteindelik in die appèlhof in Bloemfontein gedraai. Appèlregter Schreiner1 se uitspraak van 12 November 1956 is 'n duidelike illustrasie van die toepassing van die reëls van die natuurlike geregtigheid in die administratiefreg, wat ek heel aan die begin verduidelik het.

Die appèlregter was tevrede dat die hoof nie behoorlik opgetree het deur vir Jan van der Merwe uit die skool te skors sonder om sy kant van die saak te hoor nie. Die hoof het dus nie die audi alteram partem-reël toegepas wat sê "Hoor eers die ander kant van die saak voordat jy optree” nie.

Hierdie eensydige administratiewe optrede deur die skoolhoof sonder om eers Jan van der Merwe en sy pa se kant van die saak aan te hoor, is dus deur die appèlhof tersyde gestel en Jannie was geregtig om weer sy plek tussen sy skoolmaatjies by die Theo Wassenaar Laerskool in te neem.

1 Van Wyk, NO and Another v Van der Merwe 1957(1) SA 181 (A)



 

Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet’s free weekly newsletter.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top