100-bedonderd

  • 2

Die week in woorde

As kind was ek mal daaroor om op Oujaarsdag na East Coast Radio (“The home of the hits!”) se top 100 countdown te luister. Dit was altyd vreeslik opwindend om deur die loop van die dag (hulle het die besigheid vreeslik uitgerek) na al die liedjies te luister wat daardie jaar gewild was, en veral om te sien watter die top 10 gehaal het en watter nommertjie vir die gegewe jaar koning kraai.

Hierdie jaar, so entjie voor Oujaarsdag, het Leserskring en RSG (“Dis die een!”) die lys van die 100 gewildste gedigte in Afrikaans bekendgemaak. Poësieliefhebbers kon hul gunsteling-gedigte benoem, en uit die 1 300 gedigte wat benoem is, is die lys van die 100 gewildstes saamgestel. Al die gedigte verskyn nou op die webwerf www.gewildstegedigte.co.za en die publiek kan verder stem vir hul top 10 uit die 100 finaliste, en klankopnames van die gedigte maak.

Die inisiatief het reeds ’n klomp kommentaar ontlok, van die opinies van digters, literatore en uitgewers wat in By gepubliseer is, tot die kwaai briewe van lesers wat op dié opinies reageer (ek kon ongelukkig nie skakels na die briewe aanlyn vind nie), tot die reaksionêre Facebook-groep, aangedryf deur Lewies Botha, wat wil probeer om die 100 gewildste gedigte wat ná 1980 gepubliseer is, te identifiseer. Daar is ook ’n lewendige gesprek op Versindaba, met Andries Bezuidenhout wat voorstelle maak (tong natuurlik stewig in die kies) vir bloemlesings soos Lekker stoutgat gedigte, Gedigte wat stamp (vir die braai), en (my persoonlike gunsteling) Skud jou digter – dié sou ek bepaald koop.

 

Al val die lys van gewildste gedigte nie heeltemal in my smaak nie, is ek is bly dat dit gesprek oor digkuns aanmoedig en dat die webwerf die geleentheid skep om klankopnames van gedigte te maak en te hoor. Wat vir my jammer is, is dat die gesprek tot dusver lyk of dit die kloof tussen digters en poësielesers net nog groter maak. Een leser beskryf die hedendaagse digter as “’n koue, kritiese, vyandige randfiguur”. Met “kritiese” en “randfiguur” het ek nie eintlik ’n probleem nie, maar ek wonder oor die “koue” en “vyandige”. Is dit regtig so? En indien wel, is dit ’n probleem om as koud en vyandig ervaar te word?

Dit is vrae waaroor ek nog ’n bietjie sal moet nadink … kom kyk volgende week of ek al aan antwoorde gedink het.

 

Gedigte op LitNet

Klik hier vir alle nuwe poësie op LitNet.

Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet's free weekly newsletter.


   

  • 2

Kommentaar

  • sarie van heerden

    Wens ek het geld gehad om alle boeke te kon bekostig.   Plaas asseblief van die gedigte.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top