Toe was die grootste letterkundige, die filosoof, digter en dramaturg Adam Small se 75ste verjaarsdag op 21 Desember 2011 nie eers genoem op 7de Laan nie. Want 7de Laan het ’n enklave vir kunstenaars geword ... solank hulle net wit is! Net hulle mag as hulselwers in die realiteit van Hillside verskyn. Ek praat nie hier van die huishoudelike name nie.
My wortels is protesteater! Ek kom uit ’n era waar as jy nie betrokke was of geskryf het nie, was jy ’n nul op ’n kontrak. Niemand het jou as kunstenaar respekteer of kop toe gevat nie.
Ek is in die bedryf bekend daarvoor dat ek, Anthony “Speedo” Wilson jare gelede – 1981 om presies te wees – vir ’n wit vervaardiger gesê het: “Fok jou! Ek is witter as jy. Jy lyk soos ’n China! Jy kan vir MY BAAS sê nadat hy vir my en James Winkler rolle aangebied het in die televisiereeks Brood vir my broers.” So kwaad soos wat hy was, het hy net langsaan gaan smous by Bushies wat gewillig was om vir die boere baas te sê op national TV. Daar was nie ’n manier hoe ek en James ons slegte verlede sou speel nie. Ons Baas was immers die Here!
Noudat die land bevry is KAN ons ons slegte verlede speel. Op daai tydstip egter het ons besluit om dit nooit te doen nie. Maak nie saak wat die roepfooi was nie. Ons het in later jare ten duurste daarvoor betaal want die vorige bevoordeeldes het lang geheues. Ek het hierdie voorstel op 01/11/2011 aan die 7de Laan-vervaardigers gestuur:
Hallo Danie
Ek wil graag hierdie voorstel aan jou as die vervaardiger van 7de Laan voorhou en ek hoop dat jy dit gunstig sal oorweeg.
Adam Small, die grootse dramaturg wat die land al ooit opgelewer het, word op 21 Desember vanjaar 75 jaar oud. My voorstel is dat ek en my gemeenskapsteatergroep, op die stel van 7de Laan vir julle die onderstaande twee gedigte sing en opvoer.
1. “O waar is Moses”
2. “Ko’ laat ons sing”
“O waar is Moses” word gesing soos getoonset deur Robert Pearce. Na die groep gesing het neurie hulle die lied en ek dra oor die kitaar en fluitspel “Ko´ laat ons sing” voor.
Die groep:
1. Anthony Wilson – voordrag/sang
2. Timothy Johnson – kitaar/sang
3. Susan Holworthy – fluit/sang
4. Benjamin Lawrence – sang
5. Sholize Baker – sang
Die kort uittreksel sal kenners herinner aan Jakob se preek uit Kanna hy ko´ hystoe,die grootste drama ooit in Afrikaans geskryf. André P Brink het laasgenoemde self gesê as deel van sy resensie van Joanie Galant-hulle nog een van Adam Small se grotes.
Danie, as jy hiervoor ja sou sê, kan niemand meer sê julle gee net om vir die wit Afrikaanse kunstenaar nie. Adam Small verdien al die akkolades reeds lank gelede en dit is NOU BELANGRIKER as ooit noudat sy stem stil geraak het.
Daar is op die afgelope simposium op UWK besluit dat Adam Small te groot is vir die Hertzogprys – die enigste toekenning wat hierdie vermaarde kunstenaar ontwyk. Dat hy nog nie hiermee bekroon is nie is ’n skreiende skande. Wat ook al die rede is sal net die vorige bedeling of bewakers van die Taal weet. Niemand hoef selfs te weet dat die voorstel via my sy opwagting by jou gemaak het nie.
Adam Small se bydrae tot die kader van Afrikaans en die kunste in Suid-Afrika sal gelukkig al die mense oorleef en altyd vinger wys na die verontagsaming.
Tot vandag het ek nie eers erkenning van my voorstel ontvang nie. Ek is liewers deur ’n kunstenaar aangevat en uitgetrap omdat ek kwansuis so arrogant was om vir Danie Odendaal op sy turf aan te vat. Ek is geroskam met hierdie woorde en ek haal aan:
“Speedo, om vir Danie te noem dat ‘as hy dit of dat doen, sal die land om nooit weer beskuldig van net wit kunstenaars gebruik/bevorder ens ..." is nie die manier om sy aandag te trek nie my vriend. Hy sal onmiddelik jou voorstel nie eers lees nie. Vind ’n ander manier om dit te doen.”
Die korrespondensie WAS tussen my en die kunstenaar – die vervaardigers van 7de Laan het tot nou toe, nooit die skermutseling betree nie. Of hulle daarvan weet, sal net die BAIE BEGAAFDE kunstenaar weet!
Dalk dink die vervaardigers ek wou met my groep met ’n slenter op 7de Laan verskyn. Dit weet net die begaafde kunstenaar.
Die pale het NOU geskuif en die vyand is nie meer so duidelik geteken soos in die ou dae nie. Hy is slinkser!
’n Kunstenaar wat net strewe om die waarheid van ’n teks uit te beeld word ’n kommoditeit! Kuns MOET die lewe namaak en die lewe MOET kuns word!
Ek sal baklei tot die bittereinde! Kunstenaars is gevaarlike mense en die klomp wat dit nou nog nie besef nie loop met toe oë. Die pen IS magtiger as die swaard. Dit is waarom ons tot vandag nog steeds dramas van ’n dooie Engelsman lees, bestudeer, daaroor eksamen skryf, movies kyk van sy produksies of van produksies wat op sy werk geskoei is. En raai wat ...? Hy’t in die 16de eeu geleef!
As prof Adam Small nie eers ’n vermelding op 7de Laan werd is nie, maar Ollie Viljoen word oor twee episodes opgebou – dan wil ek soos Willem Wikklespies in sy drama Hamlet sê: “Something is rotten in the state of Denmark!”
Anthony “Speedo” Wilson I

