67 woorde vir Mandela-dag 2017: inskrywings 1

  • 0

Hier verskyn die inskrywings wat vir die Mandela-dag skryfkompetisie ontvang is.

Inhoud

Christelle van Rooyen-Wessels Toni Matthee
Antoinette Lourens Juanita Lewis
Corlietha Swart Dawie Theron
Sonja Brown Hendie Grobbelaar
Sidney Gilroy Etresia Lombard
Alma Swart Annalene Kinghorn
Gerda-Marié van Rooyen Elsabe de Beer
Annatjie Verhoef Gerda Niemann
Dennis Shaw Madré van Tonder
Henrick Kruger Simon Riekert
Riaan le Roux P Fourie
Ferreira Stumke Marita Appelgrein
Cobie Roelvert Erna Maré
Trisa Hugo Marlena Bruwer
Riana Barnard Matthee Michèle Meyer
Antoinette Venter Wynand van Beek
Petra van Vuuren Louis Conradie
Louise Viljoen Christo Viljoen
Karel Frederik Bruwer JMT Labuschagne
Christo Meyer Adele van Zyl
Aletta Murray Elza Smal
Johan van der Merwe Marthé McLoud
Magriet Hugo Martie Swanepoel
Dirk Taljard Noddy Schutte
Willie Nel Caren Kearley
Hannes Visser Ray de Wee
Douwlina du Plessis Marian Klerck
Michiel Potgieter Albert Heenop
Marita du Preez Nicolette Fouldien
John Mobbs Susanne Pike
Josi Swart Evanthe Schurink
Zalman S Davis Jo-Mari Bosman
Maretha van der Westhuysen Carla Coetzee
Toy White Ellen Hancke
Marinda van Niekerk Ronelle Meyer
Estelle Nagel Marnus Kok
Bets de Bruyn Andrew Sutton
Marinus Uys Barend Johannes Venter
Lianda van der Merwe Eunice Strydom

 

 

Christelle van Rooyen-Wessels

Ondergronds

Dit was skemer toe die man in die systraatjie afgestap kom.

Hy het by die voorhekkie van die huisie tot stilstand gekom en om hom gekyk, versigtig vir bespiedende oë. Toe slaan hy sy jas se kraag op en trek sy hoed laer oor sy oë.

Hy het die hekkie oopgestoot. Met elke tree nader aan die deur, het hy méér meneer Modise en minder Mandela geword.


 

Toni Matthee

Word wakker met ’n dankie in jou hart, wees dankbaar vir wat jy het.

Gee wat jy kan en nie net Mandela-dag nie, en leer ook om te ontvang.

Wees positief, leef en leer daagliks, vergeef en vergeet die verlede; nie meer jy nie.

Leef in die nou. Sê saans dankie en haal diep asem. Môre gee altyd nog ’n kans waar jy ’n verskil kan maak.


 

Antoinette Lourens

67 was a significant number for Nelson Mandela.

Have you ever wondered what your own special number on earth is, and what it resembles?

The number "6"  is reflected in my birthday, but being the number associated with the devil, as a Christian I can't make it my favourite number, and is obliged to choose the number "7" - the number of Christians.

7 = Serve Him daily!


 

Juanita Lewis

Tyd om te stem

Die ry beweeg ’n paar tree vorentoe. Sy voel hoe haar hartklop versnel. Daar is nog net vier mense voor haar in die ry.

Sy neem ’n diep asemteug. Wie sou ooit kon dink dat sy hierdie voorreg sou hê?

Weer beweeg die ry vorentoe. Sy druk haar identiteitsdokument eerbiedig teen haar bors. Sy gaan haar land se geskiedenis herskryf.

Sy gaan vir die eerste keer stem.


 

Corlietha Swart

Vergelding(?)

"Meneer Kotzé? Oud-skoolhoof, Hoërskool Helpmekaar? Reg vir u breinoperasie? Ek is dr Jan Smit, u chirurg en u narkotiseur, dr James Fortuin."

"Hoe weet ...?"

"Onthou u 1990? Die stinkbom in Skeinat? Janneman en Jamie op wie se stêre u twee rottangs gebreek het? Hulle wat nooit iets in die lewe sou bereik nie omdat hul IK's 'onder kamertemperatuur' was? Lê vir my rústig terug ... Gereed, James?"

"Lánkal, ja ..." 


 

Dawie Theron

Bloedskenk, komberse uitdeel, broodjies maak, ouetehuis besoek, sny buurman se gras, speel met diere by die SPCA ... kom aan, doen dit! Dit is Mandela-dag, dit neem net 67 minute op 18 Julie!

Pa word voor seun geskiet, vrou brand dood in huis, dogter verkrag deur kapers, seun aangerand by skool … Dit is die res van die jaar in Suid-Afrika.

27 jaar hiervoor gesit of waarvoor gesit?


 

Sonja Brown

Jabu se keel brand.

Hy kan nie meer hardloop nie, en voel hoe die buiteband oor sy skouers gedruk word. Die gesteelde selfoon is steeds in sy broeksak.

Sy oë is toe, maar hy kan die petrol ruik. Ook die swael van die vuurhoutjies.

Die vel skilfer eerste van sy wange af. “Mamma, ek kry koud,” prewel hy en val vooroor, sy tik-honger vir ewig stil.


 

Hendie Grobbelaar

Die telefoon lui vir die soveelste maal in oom Daan se strandhuiskombuisie.

Hy spring rats op vir ’n tagtigjarige.

Sedert sy vrou se dood bel familie en vriende onophoudelik.

Sy stem kom hees van emosie uit die kombuis. "Dankie liewe Martha, ek het veilig gery. Totsiens my ou aia."

Trane loop toe hy terugkom en verduidelik sy bejaarde bediende op die plaas is baie bekommerd oor hom.


 

Sidney Gilroy

Paulina

Die bult treiter Paulina vandag. Veral haar voete dra swaar aan die goiingsak waaruit verfrommelde koeldrankblikke, plastiese houers en weggooisakke peul.

Die stortingsterrein is dertien kilometer verder.

Verby haar snel motors sonder ophou; die snelweg murmureer asof hy leef.

Ingedagte swaai Paulina die sak oor haar ander skouer; van die inhoud tuimel uit, beland voor die verkeer.

Iemand toet.

Sy snak na haar asem.

’n Motor stop.


 

Etresia Lombard

The misunderstanding

Tears sting at the back of my eye: my best selection of books …gone.

I surfed the internet and came up with four likely establishments.

No library; many books, but not mine …

Third time lucky! Sixteen of my books neatly packed and priced. I hastily took my last fifty rand out of my worn-out purse and buy them all back.

I forgave, but now I cannot forget too …


 

Alma Swart

Ouma is ’n omgeewoord

Die spierwit ogies teen die swart vel kyk op na my geïrriteerde gesig. "Antie, ek het nie ’n ma nie," sê hy in Afrikaans, "ek is honger".

My hart is nou nie meer myne nie.

“Kom, Ouma se kind, dat ons jou kan skoon en warm kry.”

Hy tree vinnig vorentoe, sy hand in myne.

“Gee ’n broodjie ook, asseblief ... vir Ouma se kind.”


 

Annalene Kinghorn

So het jou dice geval

Die aantal letters in jou naam het jou toekoms bepaal.

Jou jare van dien het ons minute geword.

En dit moontlik gemaak vir ’n wêreld om te streef na vrede en geregtigheid. ’n Plek sonder armoede.

Jy was net 44 toe die 666 jou beetkry, maar nie eers dit kon jou stuit.

Toe jy gaan, was dit volbring. Al wat oorbly, is die 7 letters – MANDELA.


 

Gerda-Marié van Rooyen

Iemand klop aan die voordeur. Ek loop slof-slof die gang af, draai die deurknop en swaai die houtdeur oop. Daar is niemand nie. Op die trap wag ’n nota onder ’n spoelklip. Die nota lees "Doen dit. Hou op wag." Die kriptiese boodskap laat my oë flikker en tref my gewete. Ek sluit die deur agter my en loop oor die straat om vrede te gaan maak.


 

Elsabe de Beer

Liewe meneer Mandela

Ons het nie geweet nie. Ons het net geweet van die terroris wat tronk toe is omdat hy baie mense wou doodmaak.

Toe jy vrygelaat is, was ons bang oor wat sou gebeur. Ons sou swaarkry onder jou.

Maar toe kom jy uit met ’n glimlag op jou gesig en omhels almal: wit, swart, gekleurd.

Jy was verantwoordelik vir ’n reënboognasie. Baie dankie, President!


 

Annatjie Verhoef

Die val

Sy’s kwaad. Hoekom het die straatveërs nie die sloot se blare uitgevee nie? Sy het daarin getrap! Haar eerste oumensval! Alles is seer!

Sy oë verstaan. Uit sy vodde blink sy hartseertrane. Hy help haar nie op nie, maar sy oë hou haar gevange. Hulle gee haar bene moed en haar hande vergeet die pyn.

Sy blik laat haar opstaan. Sy weet: Hy het vir haar gesterf.


 

Gerda Niemann

Die Selfdoodmoord

“Dis ver af ondertoe. Hoe sê hulle? Moenie afkyk nie. Jane, hoor jy my?”

“Ruan, hou net op! Ek is nou hier, reg vir spring.”

“Is jy regtig reg?”

“Om weg te kom van jou af? Altyd. Dis my kans.”

“Komaan, Jane, jy weet jy is lief vir my. Hoekom spring? Nogal sonder toue?”

“Wat sê jy, Ruan? Laaste soen?”

“Nee, Jane, los my!”

“Drie. Twee. Een.”


 

Dennis Shaw

Fade to black

The table is set for two, one serviette folded in a wine glass, the other beside the open bottle. A red rose in a small carafe bows graciously to the tiny blue candle flame. On the mantelpiece lies a pair of pearl earrings. The flame succumbs to swirls of smoke. She sleeps on the fire-side cushions, empty glass in hand, as the hearth embers fade to black.


 

Madré van Tonder

Ek wonder oor jou 27 jaar op Robbeneiland, meneer Mandela. Het jy regtig vas geglo dat jy eendag ’n paar kilometer verder in Kaapstad die parlementsitting sou open? Het jy toe al geweet dat jy ’n ikoon van vryheid en vrede gaan word? Jy het nog so baie gehad om ons te leer, meneer Mandela. Maar jy was oud. En ons nog te jonk om te verstaan.


 

Henrick Kruger

Lukas

Lukas was n plaaswerker.

Woensdae is hy na die buurplaas om God se woord te hoor. Lukas het opgehou om te gaan; hulle lag daar, het hy gesê.

Hy het baie siek geword. As hy verbykom, het ek n broodjie in sy hand gestop.

Lukas is dood, gewens ek kon groet ...

Dan verskyn hy in ’n droom: Hy stap al laggend weg en waai vir my!


 

Simon Riekert

Mandela

Ek het gesukkel om jou te aanvaar, jy die "groot terroris". Jy en jou makkers moes ek doodskiet in ’n onwettige oorlog wat vandag nog in my kop wil maai.

Met min tyd, en takt het jy kom breek en opbou aan dit wat na 27 jaar in jou nerf ingeëts was.

Maar helaas, tyd se sekel het jou kom oes lank voor ons land oesgereed is.


 

Riaan le Roux

Groenskrif

Tussen fyn struikies vertoef ’n vrou versigtig, en ontsyfer die lewende skrif. Adelina het in die renosterveld opgegroei en weet almal sal armer wees daarsonder: "Ons is deel van ons omgewing, saam blom ons beter."

Sy wil mense met delikate veldverhale inspireer, en hulle help om goeie spore te los. ’n Einde bring aan indons en omdolwe.

Madiba-maand herinner dat ’n dapper pimpernel verhoudingsvernielers kan laat val.


 

P Fourie

A random act of kindness?

With the coming of winter, he constantly thought about people who were less warmly dressed than he was. He took out one of his four jackets and put it in his car. After work he stopped at the supermarket, where the car guards always made him feel both irritated and guilty. He gave the jacket to the nearest guard, who looked at him uncomprehendingly, and then smiled.


 

Ferreira Stumke

Meneer die bokser

Gebukkend en oorbluf het jy telkemale jou hande weer gelig.

Gespuug en geslaan, maar met ystervuiste jouself weer opgehelp. Soos jy losgebreek het van daai kettings om jou voete, het jy met jou regtervuis in die lug, al laggende en vry, in die straat af gewals.

Die juk van ’n nasie op jou skouers gedra, sodat ons hand aan hand saam kan loop en vry kan wees.


 

Marita Appelgrein

Eolusharp

Die westewind warrel die stof deur haar stywe vlegseltjie.

Sy staan alleen en wonder waar Oupa is.

Almal huil en gooi blomme in ’n groot gat.

“Wawwies, hoor hoe erg raas die wind. Oupa sê altyd dit klink soos ’n harp, maar ek hoor nie nou die harp nie ... die wind is baie hartseer!”

“Ek hoor dit glad nie ...”

“Dit is omdat jy nie rêrig is nie!”


 

Cobie Roelvert

Teenaan die grens

Sy sal alles opmekaar pak en blomme daarop sit. Sodat sy sal onthou: álles is deel van die storie.

Eers die gevoude kombers. Bo-op, die geel rok. Die swart woltjalie lê bonkig. Sy sprei dit oop sodat die waaier-patroon die geel wys. Dan die koerant met die storie van Oupa, treinkondukteur, wat iemand se lewe gered het. Laaste, die blou Japannese lap.

Nie ’n blom in sig nie.


 

Erna Maré

Liewe Madiba, lekker verjaar. Ons mis jou. Jou Zeldina leer ons 67 minute op ’n keer om almal oor onsself te kom. Die hoop beskaam nie. Koos Kombuis is moerig verby, en vertel die reënboognasiekonsep is skadelik vir ons almal. Ons land is gebreek, die ANC verwond, kouend aan homself. Ons kan nie vergewe of vergeet nie. Jy moes liewer vir ewig bly.

Liefdegroete, jou nie-reënboog Suid-Afrika


 

Trisa Hugo

Bloedmenshart

Die klipkors om my seepsteenhart het jy laat krummel tot ’n bietjie stof. Met my vingerpunt vee ek dit bymekaar en roer dit om en om. Sê nou dit word eendag nodig om dit weer aanmekaar te gom? Onverwags op ’n dag het ek besef my seepsteenhart pomp oplaas, so glad en blink, weer bloed.

Nou kan ek dankbaar luister na die klip-klop, klip-klop, van my bloedmenshart.


 

Marlena Bruwer

Sou ...

jy vir ’n oomblik weer hier kon wees, Madiba, wat op aarde sou jou siening wees? Ek verbeel my jou sagte ween oor brande en oorstromings, hongersnood en moord, rassehaat en kindermishandeling, dronkenskap en hoerery.

Sit jy jou vergeefse pleidooie voort daar waar jy nou ook nie behoort?

En laat jy jou hoof in deemoed sak as jy uitvind jy klop weereens aan ’n dooie poort?


 

Riana Barnard Matthee

Ai Madiba, ek is so naar vir die woorde apartheid en rassisme. Jy het lank geboet vir jou sienswyse, maar hier en nou boet niemand nie. Ons veroordeel en beskuldig net. Meeste van ons het nie eers deel gehad in die apartheidsbesluit nie, maar ons almal lei onder die ongeneeslike siekte met die vreeslikste newe-effekte denkbaar. Wou maar net bietjie skinder, vergiffenis kom net nie.


 

Michèle Meyer

Vers 67

Madiba wat nie meer hier woon nie, ons herdenk u naam. Die ryk waarvoor u gely het wankel wild.

Laat ons vandag vir mekaar ons dag se brood gee en mekaar se skulde vergeef net soos Ntate dié vergeef het wat teen hom en miljoene gesondig het.

Laat ons die versoeking van verdeeldheid weerstaan en verlossing vind van die bose.

Vir ewig en ewig onthou ons.

Amen.


 

Antoinette Venter

Vergifnis

1994

“Judas! Jy en jou liberale gespuis is volksmoordenaars!” Hoor Mara oom Dirk skree voordat sy vuis teen Ma se voorkop knal.

Ure later vind hulle Mara in die spens tussen hordes opgegaarde blikkieskos. Oom Dirk se bloed drup taai op haar standerd ses geskiedenisboek.

1998

Die verbeteringskool se hek knars agter haar rug. Miskien kan sy ook eendag soos Ma se held Madiba die onregte vergewe.


 

Wynand van Beek

Met min woorde

Hy het bewend daar gestaan. Betraand, bleek, verwese ... met ’n pistool teen sy kop. Hy het haar met pleitende donker oë aangestaar. Voor hom het ’n onvoltooide manuskrip verstrooi oor die vloer gelê. Sy skryftafel en stoel onderstebo en sy koffiebeker in stukke. Op een van die skerwe het die woord Skrywerstroos gestaan. Sy het net gesê: "Woorde verdien tog méér as dit, dit wil geskryf word."


 

Petra van Vuuren

Liefdesfeetjie

Die liefde kom diep op 65. Hulle was albei getroud. Sy gee vir hom ’n denkbeeldige feetjie.

Hy voel die feetjie hou hom dop – druk selfs haar voetjies agter sy rug in. Hy knik skelm vir haar!

Toe kom die vrese: half skaam om voor haar uit te trek. Hy's bang hy lê haar dood!

Wakker lê laat hom ’n afskeidsbesluit neem.

Ouderdomsliefde is dalk ’n hartseer feëverhaal!


 

Louis Conradie

Op soek na ’n bekende

Die ou foto bewe in haar hande. “Wie’s die man?” vra sy.

“Mamma, dis Pa,” reageer sy met deernis, “dis julle troue ...”

Sy kyk op. Oë ontmoet.

Wie is jy? wonder sy. Hoe weet jy? Was jy daar?

Sy kyk af, soekend na ’n bekende.

Bruilofgaste roep om herkenning.

Oë ontmoet. ’n Stralende bruid breek deur vergeet!

“Ek sien,” sê sy sag, “jy was tóg daar.”


 

Louise Viljoen

Post-koloniale Afrika

Mama Afrika, donker kontinent, baar hom wydsbeen bo-op ’n miershoop en eet die nageboorte. Hy verstik aan vrank vrugwater. Die stank van kolonialisme steel sy asem. Sy dros gewond, haar rinkelende armbande vol bloed. Sy offer sy lyk aan die son. ’n Boom groei uit sy kopbeen. Sy wortels delf goud. Dit reën uit sy takke op sy mense. Afrikane kom dut in sy skadu. Afrika herrys.


 

Christo Viljoen

Mandela en die laatkomstudente

Ek en Hana daag betyds op vir ’n dinee vir buitelandse studente by die Kasteel in 1994. Geen student is sigbaar nie. Dan kom hy binne: Nelson Mandela, vergesel van ’n lyfwag. Hy groet hartlik. Ons maak kleinpraatjies.

Die studente arriveer ’n halfuur laat. Hy groet elkeen.

Ek maak verskoning vir hulle laatkom. “Nee wat, ek’s bly; as hulle betyds was, het ons nie so lekker gesels nie”.


 

Karel Frederik Bruwer

Johannesburg, plek waar drome kom om te leef. Of sterf, hang af of die goue geluksgodin jou wil seën of vloek. So dink Michiel terwyl hy na sy 67ste oudisie ry; 66 het gekom en gegaan, sonder enige sukses. Die bergie by die robot steek sy hand uit na Michiel se vuil wit motor: ’n wit wa van oorvloed. Die Goudstad is ’n harde plek, dink Michiel.


 

JMT Labuschagne

Doodgery

Pieter verdwaal op ’n reënerige nag in ’n township en ry oor ’n hondjie. Hy stop, klim uit en stap na die pap lykie. Versigtig tel hy die bebloede lyfie op en lui die klokkie by die huis.

’n Vrou maak oop.

Pieter wil nog verduidelik en jammer sê, maar sy huil-gil:

“My kind!”

Dan sien hy vir die eerste keer die vyfjarige kind in sy arms.


 

Christo Meyer

"Wat het jy vir jou 67 minute op Mandela-dag gedoen?" vra Kevin.

"Niks besonders nie," antwoord Libby.

"Toe, moenie skaam wees nie. Uit daarmee."

"As jy dan regtig wil weet: Ek het deur die buurt geloop en 67 verwaarloosde katte na die Dierebeskerming geneem."

Sy gesig helder op.

"Dis ’n pragtige gebaar. Ek is trots op jou. Maar wag ’n bietjie – jy is dan allergies vir katte."


 

Adele van Zyl

Nuwehoop-skoffel

Jan kyk na sy vrou se roetbesmeerde gesig. Traanspore loop opnuut ’n skoner paadjie oor haar wange.

“Kom, vroutjie. In sak en as gaan ons nie bly sit nie.”

“Ons hele lewe het in vlamme opgegaan, Jan.”

“Nee, Lien. Ons aardse besittings, nie ons lewe nie.”

In die gemeenskapsaal begroet ’n reënboog van glimlagte hulle.

“Oom en tannie is net betyds. Kom! Ons gaan nou die ‘Madiba-shuffle’ dans.”


 

Aletta Murray

Tydloos sy spoor. Nié net in die reënboogland, maar ook wêreldwyd, ’n roering oor sy derde oog, wat geskiedenisdrome omkeer – maar nié as ’n despoot!

My eerbied – my gees gestring – saam om ’n wierooktafel om halleluja te sing. Die onmoontlike van ouds, in geleenthede met vars uitdagings, te blý omskep.

Ons geboorteland ’n inspirerende gebed – sonder knellende kettings – waar generasies deur kuns en woord ‘ver’ kan kyk …


 

Elza Smal

Die verslonste ouman stap traag van motor tot motor. Ruite word vinnig toegedraai. Ek hoor ’n jongman se skerp koue stem: "Loop voetsek. Gaan vra vir Mandela geld."

Die ouman draai om en stap kromskouer weg.

Hy skrik toe ek skielik aan sy skouer vat. "God seën," sê hy sag en glimlag skaam.

"Meneer, vandag is ek jou Mandela," sê ek en klim terug in my motor.


 

Johan van der Merwe

Reënboogfeniks uit die ashoop

Sy lig die vlag statig, wyl skote wild en wyd weerklink. ’n Diep dreunsang hang binne die rookwolk van smeulende taxi-tyres. Wyl haar oë brand, kreun haar greep onlosmaaklik om die houtpaal waaraan sy haar hele lewe vaspen. Ritmies beweeg haar bobene vurig vooruit as momentum haar oorneem om diskoerse te breek. Haar tyd het gekom, haar tyd is nou, waarin sy die reënboogland opnuut aanskou.


 

Marthé McLoud

Kroniek

’n Man het uit die suide verrys, eers so klein soos ’n gebalde vuis, maar hy het gegroei en die hele aarde gevul en sy naam was Versoening. Op sy voorkop was vergifnis uitgekerf en in sy hande was ’n oliekruik. Hy het die volk geseën en hulle voete gewas en hulle onderrig. Toe het hulle die merke van Robbeneiland in sy handpalms gesien en naasteliefde verstaan.


 

Magriet Hugo

Die handelsreisiger

Deksels, dink Faan toe sy Kewer met rook uit die enjin tot stilstand kom. Gelukkig is Groot Koos se plaas net om die draai.

Hy wag nou al vir twee weke vir die onderdeel. Groot Koos se dogter Truida is mooi en sy kook lekker.

Faan ry met die nou, bekende plaaspad op. In sy sak is die mooiste ring wat hy met sy kommissie kon bekostig.


 

Martie Swanepoel

Leeg

Die malgas-paar het ’n paar seisoene kom broei. Maar die wyfie se blougrys spikkel-eiers het telkens in die nes gevrot. Toe bly die mannetjie weg. Die oggend, nadat Erik uiteindelik weg is, het Lana sit en kyk hoe die wyfie die ou eierdoppe pik-pik in die ou guano-nes. Oor die see van malgasse het sy die leë skoppelmaai voor haar duinhuis alleen hoor tjier-tjier in die wind.


 

Dirk Taljard

Land van een duisend heuwels*

Die kontrakteur het gesê sodra sy alles op die lys het, sal hy bou.

Francina spaar al jare om haar droom ’n werklikheid te maak – ’n badkamertjie ín haar Mamelodi-pondok teen die kaal heuwel in Endstraat. Sy koop al jare dan en wan iets: ’n paar bakstene, dakbalke, sinkplate, wasbak, krane, teëls, vensterraam, deur…

Vanoggend sug Francina by die wasbak. Die kontrakteur wil R24 000 vir die bouwerk hê.

*“After climbing a great hill, one only finds that there are many more hills to climb.” – Nelson Mandela


 

Noddy Schutte

Kentering van ’n vergete soldaat

Ek kon die skare hoor skreeu: "Ons wil vir Barabbas hê! Laat Barabbas vry!"

Angstig en natgesweet word ek wakker met die beeld van Mandela op die televisiestel, waar hy uitstap uit die gevangenis in die Paarl. Jubelend volg die skare: “Madiba, amandla.”

Gister nog was hy die rooi gevaar.

Ek is deel van die vergete soldate en daarvoor sê ek: “Jammer my Madiba”.


 

Willie Nel

67 minute

Dit is lekker om in die bed te klim om te rus na ’n besige dag!

Jis, ons het darem ’n lelike motorongeluk gehad vanoggend. So skuins na die parade.

Ek hoop die baba wat ons moes afvoer terwyl ons die ouers bevry, weens die ernstige graad van sy wonde, leef nog. Dalk is dit goeie nuus dat ek nog niks gehoor het nie.

67 minute se harde werk ...


 

Caren Kearley

67 Madiba-trane

Toegevou in ’n hemelse wand, staar Madiba na sy Afrika-siel in sy betraande hand. Baälsprofete wat sy reënboognasie ontneem van beloftes met bloed-sweet geëts oor klip en sand. Hier voor voet van Tafelberg breek ons die brood; drink ons die wyn, want rondom hierdie altaar lê ’n land en volk in ongekende pyn. Terwyl sy woorde eggo in die suidooster: “It always seems impossible until it’s done.”


 

Hannes Visser

Kas

Alex trek die baadjie aan. In die spieël lyk die wynrooidas, liggestreepte hemp en donker pak banaal. Eric sou nóóit toelaat dat hy so wangeklee iewers heen gaan nie.

Anderkant die deur, ’n gebiedende stem: “Jy moet roer, Magdaleen is al in die troukar op pad kerk toe.”

Hy draai om. “Ek maak net my kas toe, Pa,” en draai dan ferm die sleutel in die kasdeur.


 

Ray de Wee

Terrorisdokter

Hy lig sy kop. Hy wou dood speel. Maar die soldaatjie sou weet. Hy kyk in die loop van die R1. Is dit die einde?

Klik.

Die soldaatjie aarsel. Vroetel met sy R1. Hy hardloop. Sonder om terug te kyk.

Dokter Anders na noodgevalle.

Hy hardloop.

Dan ... Hy ken daardie gesig. Dis hy ...

Die pa staan op. "Help dok," se hy hees. "Hulle sê jy's al een."


 

Douwlina du Plessis

Die Mandela-gees

Annah het by Wynand in sy klein huisie gewerk. Wynand het potensiaal in Annah gesien en daarom het hy betaal dat Annah verder leer. Sy het swanger geword en Kenny gebaar. Grootoog sjokoladeseuntjie. Wynand en Kenny was onafskeidbaar. Toe kry Annah goeie werk in Pretoria. Hulle is daarheen. Wynand is opgeneem vir depressie.

Laatnagoproep: "Kenny gaan doodgaan. Hy eet nie. Sal Oupa sy kind vat?"

"Asseblief!"


 

Marian Klerck

Ontnugtering

Die jaar was 1984 en die kind pas agtien. “Bring die naweek ’n mooi rokkie saam”, laat weet haar ma.

Die voordeurklokkie lui skril, die kind in haar mooi rokkie maak oop. “Goeiemiddag, ek is jou ma.” Die kind verstar; bang kleef aan haar soos ’n nuwe bra – onbekend en ongemaklik. “My ma is in die kombuis, tannie, ek gaan roep haar gou.”

Haar ma is weg.


 

Michiel Potgieter

Die pa-skool

Ek was nie in die pa-skool gewees nie. Het geen diploma of sertifikaat om te wys dat ek vir die taak toegerus is nie.

My liewe pa het ook maar net vir Oupa as model gehad en dié was maar ’n kwasterige ou man gewees.

Jammer, seuns, dat ek nie vir julle iets stewiger kon deurgee nie. Ek sien mos hoe julle worstel met jul eie kroos.


 

Albert Heenop

’n Sondagmiddag in 1990

Dit was ’n snikhete Sondagmiddag. Maande van Klein Karoo-klippekou het voorgelê. In Basies sou ons leer dril en superfiks word. Na Vasbyt moes wapenvaardighede aangeleer word. Uiteindelik sou weke van konvensionele oorlogvoering en seksieleiding in die Swartberg die offisierskursus afsluit; sou ons kon veg. Daardie middag het alles egter verander; 3 000 infanterieskoolrekrute sou op TV sien hoe Nelson Mandela, na 27 jaar se klippekap, sy vryheidswandeling voltooi ...


 

Marita du Preez

Sy was ’n dogtertjie van vier toe hulle mekaar ontmoet het. Mishandel stap hierdie pad al ver saam met haar.

Haar dogtertjiewees heeltyd aangetas, aangegaap, aangestaar. Betas. Beloer. Bekyk. Begluur. Sy was gebreek. Verlore. Verdrietig. Alleen. Die stiefdogter. Die wegstekeling. Bemors. Gelos.

Vandag is sy ’n wenner, en weet hy: As sy jou in jou oë kyk, en sy glimlag mooi ... moet jy bang wees. Baie bang.


 

Nicolette Fouldien

Die sopkombuis

Sy roer lusteloos die waterige sopkonkoksie in die groot pot. Dis alles wat sy uit haar skamele koskas bymekaar kon skraap. Die fondse is uitgeput. Hoe sê sy vir die honderdtal honger kinders en bejaardes daar sal nie môre kos wees nie? Sy skep ’n lepelvol in die eerste houer en hoor die sente klinkel. 67 sent. Die hopie geld groei met elke skep en so ook haar glimlag.


 

John Mobbs

Temba se Ma

Temba het drie dae laas geëet.

Sy ma pluk mfino.

Temba staan op die winkelstoep om mieliemeel te koop. Die worsrolletjieverkoper plaas ’n worsrolletjie op die stoep en stap weg. Temba se honger maag knaag weer. Sy hand skiet onwillekeurig na die worsrolletjie.

Skielik hoor hy sy ma se dreunende eggo: "Dis nie joune nie."

Vinnig trek sy hand terug. ’n Hond kom en vreet dit op.

*mfino – veldspinasie


 

Susanne Pike

Die huishulp

Johanna Makoena krinkvoet bult uit na Iris six-o-three. Sy char Dinsdae en Vrydae. Twaalf jaar al.

Die vrou sug. Vroegoggend-afspraak. Johanna is laat.

Johanna smile oor Mevrou. Mevrou dink poems uit. Sy gaan publish. Sy sien vir Margaret, die "sleep-in" van five-nine-five. Sy kruis om van Mevrou te vertel ...

"Sal ú die naasbestaandes laat weet?"

Die vrou skrik.

Ag, Here, ek ken nie eens haar van nie ...!


 

Josi Swart

Vonk se vuur

Sinkdakhuisie se vuurvonk draai en word deur ’n windvaart weggewaai. Word geneem oor berg en dal en vind ’n vashaakplek effe skraal. Hier word Vonk tot vuur gedryf en word verwoesting gou versprei. Vinnig kom ou Seewind keer en leer Vonk om sy vuur te beheer. Nou kan Vonk help vure maak, van kaggelvuur, herwinningsbrand, tot braaivleisvuur. Vir hom is die lekkerste die stories by sy kampvuur.


 

Evanthe Schurink

Kwaad oorwin deur goed

Jy het onwelkom in die wêreld aangekom. Toegedraai in koerantpapier is jy weggegooi tussen bierbottels en slaai. In jou donkerste nag het die son skielik geskyn. Jou hemelse Vader het jou kom haal. In een nag van jou geboorte, jou dood, is kwaad oorwin deur Sy liefde so groot. Die volgende dag het die koerante vertel van ’n wrede wêreld, ’n pasgebore baba op ’n ashoop gevind.


 

Zalman S Davis

Wit buurt

Die jaar is 1961. Iewers in ’n wit buurt buite Johannesburg. Die nag is koud. Bibberend. Jou konvooi stop buite ’n siersteenhuis. Dis stil. Die deur gaan oop. Jy word na binne genooi.

“I need a place to sleep,” is jou versoek.

Die man kyk jou in die oë.

“I’ll sleep on the camp stretcher I have in the closet.”

“No. I will.”

Jy’s Nelson Rolihlahla Mandela.


 

Jo-Mari Bosman

Om loos te wees

Sy wil die pille sluk en net ’n einde maak aan als.

Daar is niks meer oor nie.

Werkloos, manloos, kinderloos, hopeloos, waardeloos ... ’n Lewe gevul met loosheid.

Is dit nou hoe dinge moet eindig, met ’n -loos agteraan als?

-loos beteken tog die afwesigheid van iets of iemand ... ’n verraderlike, veragtelike agtervoegsel wat meedoënloos vernietig, verniel.

Sy hoor ’n sagte stem fluister: "Maar wat van 'vreesloos'?"


 

Maretha van der Westhuysen

Oom Mandela

Die oom se naam is Mandela. Almal praat van hom, maar nie voor ons kinders nie. Ek luister stilletjies af.

Hulle sê hy kom uit die tronk. Gaan president word. Ons moet kos en gewere bymekaarmaak. Daar kom oorlog.

Ek is bang.

Hoekom wil die oom oorlog maak? Hy sal mos bly wees om uit die tronk te kom. Op die koerantfoto lyk hy dan so vriendelik.


 

Carla Coetzee

Hy tel die langlewemelk op en skuif sy bril reg, sy lyf ’n vraagteken. Hy staar na die rak met kitskoffie maar tel ’n pakkie rooibostee op. “Kan ek help?” “My vrou is gister oorlede. Sy’t altyd tee gedrink en vir my koffie gemaak. Na 50 jaar weet ek nie of ek net koffie gedrink het omdat sy dit gemaak het en of ek tee verkies nie.”


 

Toy White

Die salonheld en die middeljarige maagd

Sy het haar naaktheid voor die spieël bestuif met “You’re the fire”. Sy besluit om braloos te gaan, gehul in chiffon: ’n visioen in wit. Haar hare het sy effens wild gekam; haar lippe met sorg rooi gekleur.

Toe wag sy met ’n glas konjak en ’n gekokerde sigaret vir “halfagt” en “’n sportmodel Merc”.

Teen laataand met die bottel half leeg en die asbakkie half vol gewag,


 

Ellen Hancke

Lewenslank is langer as lank

Die groenswart boek met die bekende gesig daarop het op die koffietafel gelê.

Ek het braaknaar die geldweb om my bekyk.

Landgoedwynbottels en my matte gesig het verwronge in die kroegspieël gecollage.

Kettings het donderend in my koptronk gesleep.

Branders digby die paleisvoorstoep wou my besitlik terughou.

Wegkom, moes ek ...

Drie dekades was l-e-w-e-n-s-f-r-i-e-k-e-n-l-a-n-k.

My “long walk to freedom” het begin.

En sou nog 19 jaar duur.


 

Marinda van Niekerk

Die sestienjarige seun kry die naam Dalibhunga na sy inisiasie van seun-wees na man-wees. Die kenteken van die man wat ons later leer ken – grondlegger van die nasie, sameroeper van dialoog. Ons Madiba. Sy pa noem hom Rolihlahla, die moeilikheidmaker, in isiXhosa. Vir Suid-Afrikaners word hy meer en meer ’n Christus-ikoon: vredemaker, versoener.

Tata, dit was maklik om jou lief te kry. Die reënboognasie mis jou.


 

Ronelle Meyer

Ironie

Ons het vroegoggend begin klim, maar dit is amper skemer toe die einde in sig is. Die laaste paar meter is baie moeilik.

Een van die jonger mans is reeds bo-op die kruin. “Pasop! Jy is baie na aan die afgrond!”  skree ek vir hom.

Hy kyk net na my, skud sy kop. ”Sy het my nie lief nie!” Gee ’n tree na vore en spring.


 

Estelle Nagel

1990

Hy loop sukkelrig. Nie meer so vining toe soos hy ’n jong man was nie, ’n vegter in die kryt, in die howe, in die strate van Soweto. Die son is skerp in sy oë en sy oë het swak geword. Buite wag daar mense, mense met oop arms, sy familie, vreemdes. Hy weet nie waarheen hy gaan nie, maar hy bly loop. Die pad is lank.


 

Marnus Kok

Sy land

Die Somaliër se winkel is gister geplunder. Verlede maand is by sy huis ingebreek.

Hy is bang om met ’n taxi te ry. Bang dat hy gevra word om in Zulu tot tien te tel.

Vanoggend het sy pa gebel en gevra of hy aanpas in die nuwe land.

“Dit gaan goed. Ons kind word amper gebore. Op sy geboortesertifikaat sal staan hy is van hierdie land.”


 

Bets de Bruyn

Pa

Hy wag die laaste jare om. Soms blits die humeur, maar verwelk, hulpeloos.

Toe hy reeds die donker eensame pad loop, smeek hy: “Moet my nie wegvat nie.”

Die laaste nag worstel hy tot die doodsengel sy spierwit vlerke oor hom toevou.

Met die klein kissie in my hande onthou ek die beessterk man met ’n ysterwil.

Die granietsteentjie teen die muur is wat oorbly: Hier rus ...


 

Andrew Sutton

Tussen die jare

Ek gaan soos ’n tipiese skrywer doodgaan en dis ’n goeie ding, want ek is ’n skrywer. Ek dink so. Ek sal op dertig depressie en ’n siekte ontwikkel en doodgaan. My laaste brief sal alles aan my ma los. óf.      Ek sal op 97 doodgaan. Na 29 maande sal ek my stryd teen kanker verloor. Kan ek meer skryf in 67 maande of meer in 67 jaar?


 

Marinus Uys

Pad na Sutherland

Soos mens die pad vat na Sutherland, met die winter se wit kombers en die belofte van kaggelvuur en skaaptjoppies, is daar ’n plek om te stop langs die grootpad. Dit herinner mens aan gekookte eiers, frikkadelle en kondensmelkkoffie uit ’n fles. Net daar, ’n kruis met plastiekblomme. Sommer so in die middel van niks. Ek wonder of die mense gereeld die kruis kom versorg?


 

Barend Johannes Venter

01:07

In hierdie tyd (haar laaste tyd op aarde) ly sy nie. Sy is vreedsaam. Stilte. Al wat hoorbaar is, is die ”tik-tik-tik” van haar hartmonitor.

Sy voorkop is deurtrek met plooie. Tik-tik-tik.

“Jou vrou stuur groete, Dokter,” sê sy skielik aan hom. En so adem sy haar laaste asem uit. Dood...stil.

Die man se oë rek geskok. Hoe het sy dit geweet?

Tyd van dood: 01:07.


 

Lianda van der Merwe

My ma

Sy loop Checkers toe, leë sakke vol inkopiedrome onder die arm. Die kassieres ken haar:

Magogo is ’n humanis, nie ’n verloopte leftie nie.

Tuis blaai die wind die duiwe om op die dak. Daar’s mielies. Niemand kom kuier nie, al is die yskas knarsvol gasvryheid.

Sy gaan slaap vroeg en bid toe-oë, sodat God haar sien. Onbreekbaar broos. Sy slaap die weerlose slaap van ’n kind.


 

Eunice Strydom

Madiba-winter

“Askies, Mevrou, ek soek ’n broodjie.”

Apologeties.

Pleitend.

Sy vererg haar onmiddellik, kyk skuldig na die vernielde gesig. FAS-kind. Huislose weggooikind-man. Sy gaan nou eet en wyn drink. Spandabelrig daarvoor betaal. Dis karoo-koud. Hy het geen kos nie.

Verstarde gesigte draai afkeurend weg toe mense die restaurant instap.

“Hy is honger. Asseblief. Maak vir hom iets.”

Nooi die seun.

“Sit hier Denvor, dat jy genoeg kos kry."

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top