Vir Stemme, LitNet se dialoogprojek saam met die Suidoosterfees, NATi en die ATKV, is tien dramaturge genader om kort dialoë te skryf. Twintig akteurs is gevra om daarin te speel en tien regisseurs het elkeen ’n stuk afgerond.
In Marita van der Vyver se dialoog Andersom vertolk June van Merch en Jurgen McEwan die rolle. Francois Toerien was in die regisseurstoel.
Andersom
MA is ’n middeljarige vrou. SEUN is ’n mooi jong man. Die res is in die teks.
Ma: Geluk, Seun. Ek kan nie glo jy’s vandag dertig nie.
Seun: Ek struggle nog meer om dit te glo.
Ma: Ek wens ek kon jou vasdruk.
Seun: Ma. Jy weet hierdie birthday visits is nie contact visits nie.
Ma: Ek wens nogtans …
Seun: Hei, Ma, Rule Number One, onthou?
Ma: “Ons gaan nie huil nie.” Dis moeilik.
Seun: Jy’t self die reëls opgemaak. Rule Number Two?
Ma: “Ons gaan mekaar laat lag.” Niemand kon my ooit so laat lag soos jy nie.
Seun: Dis oor jy my vertel het dis die beste manier om girls te impress. Ek het op jou geoefen. As my ma lag vir die joke, kan dit dalk werk op ’n girl.
Ma: As ek dink aan als wat ek gemis het van ek weggegaan het … Oukei, vertel my wat jy die afgelope jaar gedoen het.
Seun: Ek’s steeds ’n struggling painter. Sorry, ek weet jy wou hê ek moes teen dié tyd wêreldberoemd wees. Maar dis nie hoe real life werk nie.
Ma: Met jou talent sál jy dit maak. Een of ander tyd.
Seun: Maybe is ek nie so talentvol soos jy dink nie, Ma.
Ma: Natuurlik is jy! Ek het mos jou paintings van skooldae af gesien.
Seun: Maybe was ek net nog ’n precocious kid wat nie met real life kan cope nie. Maybe was dít … Ma, kyk na my: Miskien was dít waarom ek ’n exit gesoek het.
Ma: Nee, liefste, jy’t als wat jy nodig het om ’n sukses van jou lewe te maak! Seun? Waarom antwoord jy nie?
Seun: Ek kan nie meer hierdie speletjie speel nie, Ma.
Ma: Dis nie ’n speletjie nie!
Seun: Maar jy’t nie weggegaan nie, Ma. Ek is die een wat weggegaan het.
Ma: Jy’t gekiés om weg te gaan.
Seun: Rule Number Three: “No reproaches.”.
Ma: Ek reproach nie, ek probeer net verstáán. Ek probeer steeds verstaan hoe ’n agtienjarige seun … met jou soort talent … net kan kiés om nie meer hier te wees nie.
Seun: So elke jaar op my verjaardag moet ek vir jou ’n storie spin oor my fantastiese lewe. Dis ’n imaginary life, Ma. ’n Imaginative lie.
Ma: Dis al wat ek het.
Seun: Nee. Jy’t nog ’n hele lewe om te leef.
Ma: Sonder my enigste kind?
Seun: Ma. Ek’s verskriklik jammer ek het gekies om dood te gaan.
Ma: Nee! Reël Nommer Vier: “Ons noem nie daai woord nie.”
Seun: Ek sê mos ek wil nie meer saamspeel nie. Ek het van ’n gebou afgespring, Ma. Ek is dood en jy lewe nog.
Ma: Maar dit moes andersom gewees het!
Seun: Jy moes van ’n gebou afgespring het?
Ma: Nee, jy weet wat ek bedoel. Ma’s is nie veronderstel om hulle kinders te oorleef nie. Asseblief, Seun?
Seun: Ma...
Ma: Jirre, jy kan nie dit ook nog van my wegvat nie!
(Lang stilte.)
Seun: Oukei, Ma. Het ek jou al van Benji vertel? Dis die hond wat ons by die SPCA gaan uitsoek het. Emma noem hom ’n UCO. Unidentified Canine Object. Maar sy’s mal oor hom.
Ma: Emma?
Seun: Sy’s ook ’n struggling artist. Sy sê sy gaan my nooit los nie omdat ek haar laat lag. Ek dink jy sou van haar gehou het. As jy nog hier was.
***
Stemme is supported by the National Arts Council.
Stemme is ’n Nuwe Skryfwerk-projek van LitNet en word ondersteun deur die LW Hiemstra Trust.
Al die monoloë is op hierdie blad beskikbaar: