29 Maart 2018

  • 4

Gus Scheepers vleg tussen die horde straatstalletjies in die gewilde toeriste-inkopieparadys Pratunumpark in Bangkok deur. Die warm, bedompige hitte van Bangkok is byna ondraaglik. Die geure van die menigte kosstalletjies is genoeg om enige vreemdeling se maag in in trurat te gooi. Hoenderporsies, krokodilvleis, calamari, garnale, hoenderpote en vis word op sosatiestokkies aangebied.

By die klerestalletjies is toeriste besig om verwoed vir die beste prys te beding. Prysarbitrasie vind op ’n sakrekenaar plaas. Eers skud die voornemende koper verontwaardig sy kop vir die voorgestelde prys en druk ’n nuwe prys op die sakrekenaar in. Dan is dit die straatverkoper se beurt om sy kop in ongeloof agteroor te dop en sy oë te rol. Eienaardig dat dié nieverbale geding dikwels oor vyf rand gaan. Uiteindelik klink die finale stem van die straatverkoper, “good for me, good for you”, en die transaksie word beklink.

Maar Gus weet hy is net besig om uit te stel. Dit is nie waarom hy vanaand hier is nie. Hy sleep homself loodvoetig verder. Sy bestemming is net om die volgende hoek.

Hy staan onseker voor die ingang van die Indra Regent Hotel. Sy hart klop vinniger, sy asemhaling vlak in sy keel vasgevang. Dit lyk anders as twintig jaar gelede. Herkenning van voorwerpe registreer onwillig. Hy herken die twee drogbeelde van monsters wat steeds die ingang na die hotel bewaak. Hy stap die sewe trappe versigtig op en loer na binne. Ontvangs, as hy reg onthou, is links, en regs sal daar duur klerewinkels en ’n juwelierswarewinkel wees.

Vir ’n oomblik is sy gedagtes meer verward as sy hart. Links het die rye ontvangstoonbanke plek gemaak vir ’n Starbucks en die duur winkels is summier met ’n McDonald’s vervang. Hy draai om, en wil vlug, want niks is meer soos wat dit was nie.

Dan sien hy die spiraaltrappe na die mezzaninevloer. Aan die bopunt van die trappe is daar die bekende, en hy skep moed. Twee reuse-olifanttande bewaak steeds die ingang na die mezzanine. Hy stap vasberade die trappe op. Hy moet dit doen. Hy moet dit agter die rug kry. Die seer moet wyk.

Die dameskroeg en hotel se eetsaal sal aan die linkerkant wees. Hy streel liggies oor die ivoor. Daar was ’n foto van haar op die trap, by die wit ivoor. Sy was geklee in ’n swart langbroek en ’n Chinese bloese, met haar blonde hare netjies, losweg in ’n bolla gedraai. Hy vee vererg ’n loslopende traan af en draai links.

Maar daar is nie meer ’n eetsaal of dameskroeg nie. Net klerewinkels! Teleurstelling druk die klammigheid in sy oë uit en dit rol vrylik teen sy wange af.

Hy haas die trappe af; wil uit. Dan is dit maar so. By die uitgang dwing die aantekening in sy notaboek hom terug. Hy stap na die hyser en sien die koperplaatjie: ontvangs is op die vierde vloer. Hy neem die hyser, vol verwagting. Daar is slegs een ontvangstoonbank en ’n jong dame wat verveeld voor haar uitstaar. Gus probeer verduidelik dat hy op soek is na die eetsaal en dameskroeg. Sy beduie traag na iets agter sy rug. ’n Enkele kroegtoonbank. Daar is ses tafeltjies met drie gemakstoele per tafel, nie ’n siel in sig nie, net ’n sestigjarige man agter die toonbank wat ’n glas blink vryf.

Hy gaan sit met sy kop tussen sy hande, vryf mismoedig sy vingers deur sy hare. Twaalf duisend kilometer, die afstand tussen die Republiek en Bangkok, is al wat nog dieselfde is as twintig jaar gelede. En natuurlik die vyf ure tydverskil.

’n Onverwags vriendelike stem ruk hom terug. “Kan ek u help?”

“Nee, want hier is nie meer ’n dameskroeg waar ek ’n Kalua-koffie kan bestel nie.”

Die man ontplooi in ’n glimlag. “Dit was baie lank gelede.”

“Twintig jaar gelede,” antwoord Gus.

Die ou man se plooie kreukel terug in ’n frons. “Was jy twintig jaar gelede hier?” vra hy verbaas.

Gus knik.

“Ek werk al vir dertig jaar by die hotel. Ek was nog altyd in beheer van die kroeg.”

“Dan weet jy van die Kalua-koffie wat julle altyd gemaak het. Die jong meisies het dit met styl gedoen. Die Kalua aan die brand gesteek en dan met swier in ’n vlammeboog in die koppie gegooi.”

Herinnering vonkel in die kroegman se oë. Hy onthou. Die dameskroeg was elke aand volgepak. Jy moes ’n tafel bespreek het, anders was die kanse skraal dat jy sitplek sou kry.

Hy staar na die plafon. “Dit was ’n lang tyd gelede. Die Indra was bekend as ’n kuierplek vir toeriste. Ons het die beste Tai-disse bedien.” Soos Gus verlang ook hy na dit wat was, sonder om uit te sien na wat is en wat sal wees.

Gus besef die nota in sy boekie gaan vir ewig sonder ’n regmerkie daarnaas staan.

“Kan ek vir jou ’n Kalua maak?” kom die onverwagse uitnodiging.

Gus kyk vraend na die man. “Soos in die ou dae?”

“Nee, nie met die vuurboog nie, maar dit sal lekker wees,” belowe hy met sy ontplooide glimlag.

“Twee, asseblief.”

“Verwag jy iemand?” vra hy.

Gus skud net sy kop ontkennend, sonder om te antwoord.

Na ’n ruk plaas die man twee stomende koppies Kalua-koffie op die tafel. Gus is dankbaar vir eensame alleenheid. Niemand anders, behalwe hy, in sy oomblik van herinnering nie.

Hy skep drie lepels bruinsuiker, roer die dik room. Die room verkleur die swart koffie stelselmatig. Mag vannag berusting bring. Mag die room sy swart hart verkleur.

Hy lig sy beker en knik vir sy ongesiene gas, neem ’n teug, gemeng met die souterige smaak van trane wat vrylik vloei.

Hy raak weer van die kroegman se teenwoordigheid bewus eers toe sy stem sag tot hom deurdring.

“Wil jy gesels?” Hy gaan sit sonder uitnodiging. Kroegmanne het seker al elke verhaal te vertelle gehoor.

Gus beduie na die onaangeraakte beker. “Dit was die laaste keer dat ek haar werklik gelukkig gesien het. Ons was op vakansie, met julle nuwe jaar, die 13de April. Songkran noem julle die fees?”

Hy knik bevestigend.

“Ons het die aand teruggekom, besmeer met meel, van kop tot tone. Met julle fees gooi julle almal mos met water en strooi dan meel oor hulle uit. Sy was so gelukkig. Die Tai-seuns kon nie hulle hande van haar blonde hare afhou nie. Hulle wou die hele tyd weet of dit natuurlike hare is.”

Gus bly vir ’n oomblik stil terwyl hy in sy gedagtes rondkrap. “Die aand het ons hier, by die hotel, ’n drankie gedrink. Sy wou so graag ook ’n Kalua gehad het. Ek kon haar glinsterende oë nie weerstaan nie, en het onwillig ingestem. Sy was so gelukkig.”

Die man se jare lange ervaring agter ’n kroegtoonbank het hom geleer om te luister, sonder onderbreking.

“Sewentien maande later het ek haar begrawe,” sê Gus en haal diep asem.

Die lang stilswye dwing die kroegman om te vra: “Ongeluk, siekte?”

Gus skud sy kop. “Nee.”

Die kroegman se skouers sak. “Ek verstaan.”

Gus neem die laaste sluk. Die koffie het al koud geword. “Kan jy vir my die rekening bring, asseblief.”

Die kroegman se oë is vol trane toe hy die rekening voor Gus neersit.

“Ek is so jammer,” sê hy en plaas sy hand op Gus se skouer.

Gus haal ’n 500-baht-noot uit sy sak. Hy kyk verwonderd na die rekening. Een Kalua- koffie 350 baht. Die tweede Kalua “met komplimente van die Indra Regent Hotel”.

Gus wil iets sê, maar die man plaas net sy vinger liggies voor sy mond, grawe die korrekte kleingeld uit sy sak en weier om ’n fooitjie te aanvaar.

Gus kies die agterstrate terug hotel toe. Hy is nie lus vir die gedruis van mense nie.

So is die lewe. Dit sal jou in ’n warrelwind optel en ’n paar meter verder, vol stof en gekneus, neersmyt. Jy sal opstaan en aangaan totdat hy jou weer vat en diep onder die sneeu begrawe, totdat jou hart en jou hele wese gevries is. Maar op ’n dag sal hy jou weer in die son neerplak, jou hart laat ontdooi. Net sodra jy dink jy het die lewe onder die knie, sal hy jou iewers, flenters, in die veld strooi. Die miskruiers sal jou stukkie vir stukkie in ’n bolletjie rol en weer in ’n hopie bymekaarmaak sodat jy weer waarde kan toevoeg.

Presies twee minute voor twaalf gaan sit Gus agter die klein tafeltjie in sy enkelbed-hotelkamer. Hy haal sy verslete notaboekie uit. Hy slaan die boekie in die middel oop. My “Bucket List”. Daar is tien items. Die linkerkantste bladsy is gemerk “Vir my”. Die regterkantste bladsy heet “Vir hulle”. Vyf aantekening op elke bladsy.

Die “Vir hulle”-lys is amper afgehandel. Slegs twee items wat nog oop is. “Verf seun se huis binne en buite” en “Help suster om haar nuwe blyplek in te rig”. “Vir my” het slegs een item oor.

Sy foon se alarm lui skril. Twaalfuur. Hy trek die laaste oorblywende item netjies dood. ‘Vier An, my geliefde kind, se verjaarsdag met ’n Kalua, op die plek waar sy die laaste keer werklik gelukkig was.”

Hy maak die notaboekie toe. Sy sou vandag 34 jaar oud gewees het.

  • 4

Kommentaar

  • Natasha le Grange

    Uitstekende roerende verhaal so uit 'n mens se hart. Die verhaal laat 'n mens dink en waardeer wat jy het in die lewe, want alles kan binne 'n oogwink verander.

  • So 'n ongelooflike spesiale storie. So mooi geskryf ... ek mis jou ook An, maar jy en ouma kuier lekker in die hemel ... Kannie wag vir die wêreld om Gus en sy verhale te leer ken nie! Well done xxx

  • Melanie du Toit

    Storie wat sal vassteek in jou hart vir 'n lang tyd. Jy stap saam met Gus. Jy beleef saam met hom die pyn en finale afskeid. Jy verlang na jou eie en reflekteer in dankbaarheid dat jy nog tyd het om spesiale oomblikke te deel. 'n Wenner.

  • Vir die bevoorregtes om hierdie storie met insae te kan lees, vertroetel ons die herinnering saam. Aan my aangestuur wat ook op 'n manier so my hart bewoon.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top