Die week in woorde
Dis (nog) nie ’n publieke vakansiedag nie, maar vandag is belangrik, want dis Antjie Krog se verjaarsdag. (Dis ook toevallig more my verjaarsdag … maar dis net van belang vir diegene wat onder groot druk verkeer om vir my besonderse presente op te tower. Hulle weet wie hulle is.)
Antjie Krog is ’n Afrikaanse wonderwerker, maar ek dink almal weet dit. ’n Meer interessante en leersame oefening sou wees om te vra wat dit is wat haar van die massas onderskei.
Vergelyk byvoorbeeld hierdie fragment uit haar gedig “ode vir ’n ander lewe” met die daaropvolgende “gedig” wat ek skaamteloos van die internet af gesteel het:
Uit “ode vir ’n ander lewe”
…
ek wil ’n ander ruimte hê
wat ek nie met jou hoef te deel nie
ek wil in plekke wees waar ek na jou verlang
en nie verlange met vertroudheid bly verwar nie
ek wil jou mond mis
ek wil jou oë terughê
ek wil jou in my kop hê nie in my bed nie
met geliefde tale wil ek jou oproep
en volbrag in jou tereg kom…
En hier is “Birthday Appreciation” vanaf die webwerf poemsource.com:
Birthday Appreciation
Each year your birthday reminds me
That I really want to say
I’m very glad I know you;
I think of you each day.
I hope you enjoy your birthday,
All the pleasures it has in store,
And because I appreciate you,
I hope you have many more!
Mense vra gereeld vir my hoe mens onderskei tussen goeie en swak gedigte en dan weet ek nie altyd hoe om te antwoord nie. Wie is ek in elk geval om te sê? Maar die vraag kort tog ’n antwoord, en vandag gaan ek Antjie so bietjie misbruik om dit te probeer beantwoord.
Wanneer ek met die vraag oor goeie vs slegte gedigte gekonfronteer word, dink ek altyd eerste aan Emily Dickinson se bekende uitlating: "If I read a book [and] it makes my whole body so cold no fire ever can warm me I know that is poetry. If I feel physically as if the top of my head were taken off, I know that is poetry. These are the only ways I know it." Antjie Krog se gedig hier bo haal altyd die bokant van my kop af. It never gets old. Elke keer as ek hierdie gedig lees, gaan daar alarms af waar my traankliere hoort. Maar waarom is dit, terwyl ek totaal onaangeraak bly deur die verjaarsdagversie – tensy irritasie as regverdige reaksie tel?
Eerstens omdat die tweede versie morsdood is, terwyl Antjie s’n propvol drif is. Die verjaarsdagversie is (om aan te haal uit die verantwoording tot Nuwe Stemme 3*) “doodgelê met rym”. Nog Krog oor rym: “Indien rym gebruik word, moet die digter bewus wees van hoe daar vandag in Afrikaans gerym en veral vir dekades nié meer gerym word nie.” Die doodgerymde gedig is een van die mees algemene opdrifsels in die PoësieNet-inboks en die eerste teken van minder goeie woordkuns. As jy dus graag ’n goeie gedig wil skryf, vermy die rymery, tensy jy binne-in ’n verjaardagkaartjie skryf. Van binne-in gepraat: gaan lees weer die Krog-fragment hier bo en kyk hoe baie spel is daar met klank binne-in die reëls. ’n Gedig kan klankryk en opwindend op die oor wees sonder die gedwonge rym aan die einde van reëls. Do try this at home.
Die tweede kenmerk wat ek wil uitlig in die Krog-gedig teenoor die ander een, is dat Antjie se vers vol onverwagse dinge is. Dinge wat jou twee keer laat lees, weer laat dink, laat terugkom na die woorde. In plaas van harte en siele en trane en doodreguit cliché-liefde, lees mens diep-diep liefde hier tussen die reëls. Mens verwag nie dat die spreker wens die geliefde was nie daar nie, maar die verlange waarna daar hier verlang word, kom soveel sterker oor as enige liefde wat kwansuis “deur are bruis” (soos dit gereeld in minder goeie verse maak). En dan daardie laaste reël wat ek hier aangehaal het, die een waarin sy die woorde “volbrag” en “tereg” gebruik, wat jou geheel en al tot stilstand bring … Daar gebeur niks van hierdie aard in die verjaarsdagversie nie. Alles is dodelik voorspelbaar en vervelig. Mens weet wat kom voor jy nog gelees het, want jy’t ál die sentimente al ’n duisend maal gehoor.
Dus ... twee goed wat jou dalk kan help om jou minder goeie gedig ’n make-over te gee: raak ontslae van die rym, en probeer dink hoe dit meer ongewoon en onvoorspelbaar kan wees. As jy dit nie ter wille van my wil doen nie, doen dit vir Antjie: dis net een maal in ’n leeftyd dat ’n groot gees soos sy 60 word. Mag sy lank en gelukkig voortleef en aanhou om ons koppe oop te blaas.
Spesiaal vir Antjie se verjaarsdag
- Raak wys oor haar skryfwerk – lees wat sê die kenners op LitNet Akademies.
Gaan kyk sommer ook na hierdie oulike artikel op Poets.org met interessante feite oor verjaarsdag-poësie, en skakels na beter verjaarsdagverse as die een wat ek hier bo aanhaal.
Hier is twee voorbeelde:
A Happy Birthday
Ted KooserThis evening, I sat by an open window
and read till the light was gone and the book
was no more than a part of the darkness.
I could easily have switched on a lamp,
but I wanted to ride this day down into night,
to sit alone and smooth the unreadable page
with the pale gray ghost of my hand.
On His Seventy-fifth Birthday
Walter Savage Landor
I strove with none; for none was worth my strife,
Nature I loved, and next to Nature, Art;
I warmed both hands before the fire of life,
It sinks, and I am ready to depart.
Goed gaan tot volgende week, wanneer ek ouer en hopelik ook heelwat wyser is.
(*Die verantwoording is geskryf deur Antjie Krog en Alfred Schaffer.)
Gedigte op LitNet
Klik hier vir alle nuwe poësie op LitNet.