Nuwe stemme 5 – saamgestel deur Heilna du Plooy en Loftus Marais

  • 1

Boektitel: Nuwe stemme 5
Samestellers: L Marais, Heilna Du Plooy
Uitgewer: NB-Uitgewers
ISBN: 9780624058861

Hier aan die stertkant van die jaar wil ek ook my stuiwer in die armbeurs gooi oor Tafelberg se publikasie Nuwe stemme 5, saamgestel deur Heilna du Plooy en Loftus Marais. Dit is terselfdertyd ’n geleentheid om ’n bietjie bestek op te neem van die Nuwe stemme-projek wat in 1997 begin het en duidelik ’n belangrike funksie vervul binne die landskap van die Afrikaanse poësie. Nuwe stemme het deur die jare ’n ruimte geword waarbinne skrywerstalent geïdentifiseer kan word en waarvandaan dit kan ontwikkel tot selfstandige publikasie.

Volgens die uitgewer Riana Barnard was Nuwe stemme die idee van Charles Fryer en Petra Müller. Die eerste uitgawe het in 1997 verskyn en is versorg deur Anastasia de Vries en George Weideman. Hierna verskyn die volgende Nuwe stemme-bundels met tussenposes van drie tot vier jaar en word dit telkens saamgestel deur ’n ouer en ’n jonger persoon, iets waaruit interessante sinergieë ontstaan. Uit die verantwoording van die eerste bundel blyk dit dat die motivering vir hierdie onderneming was om digters wat nog nie genoeg gedigte het om ’n bundel te publiseer nie, die geleentheid te gee om hulleself te laat hoor binne die “meerstemmige koor” van ’n bundel. ’n Belangrike ontwikkeling was die besluit van Antjie Krog en Alfred Schaffer wat Nuwe stemme 3 versorg het om werkswinkels te hou waarin deelnemers gehelp kon word om hulle gedigte verder te slyp en verfyn. Die formaat van die bundel het oor die loop van jare relatief konstant gebly. Vanaf Nuwe stemme 1 is die gedigte gerangskik per digter; dit is slegs in Nuwe stemme 4 wat daar besluit is op ’n tematiese indeling, iets wat gesorg het vir samehangende leeservaring.

Indien ’n mens belangstel in syfers en vergelykings is dit interessant om te sien hoe die aantal inskrywings oor die jare gewissel het. Vir Nuwe stemme 1 was daar 70 voorleggings, vir Nuwe stemme 2 van 2001 moes Petra Müller en Nèlleke de Jager 200 digters se insendings lees, vir Nuwe stemme 3 van 2005 het Antjie Krog en Alfred Schaffer 4000 gedigte gelees, vir Nuwe stemme 4 van 2010 het Danie Marais en Ronel de Goede 250 insendings van sewe gedigte elk “van reg oor die wêreld ontvang” en vir Nuwe stemme 5 was daar 170 inskrywings. Of ’n mens uit hierdie getalle sinvolle afleidings kan maak oor die belangstelling van nuwe digters of die lewenskragtigheid van die Afrikaanse poësie is moeilik om te sê. Loftus Marais sê in sy inleiding tot Nuwe stemme 5 dat hy nie dink ’n keur soos hierdie is “noodwendig veelseggend oor die toekoms van die Afrikaanse poësie nie”.

Dat daar oor die jare ook die verwagting ontstaan het dat hierdie digters iets nuuts moes bring, is duidelik uit Krog en Schaffer se inleiding tot Nuwe stemme 3: “Maar die soeke na ‘nuwe’ stemme vereis nog meer: die digters moet ‘nuut’ klink”. Hierdie idee van vernuwing word later deur Danie Marais en Ronel de Goede in Nuwe stemme 4 ter diskussie gestel wanneer hulle vra of die ideaal van vernuwing nie die “literêre ekwivalent [is] van die problematiese idee van vooruitgang nie”. Ten spyte van hulle tydige vernaming bly lesers (en ek sluit myself daarby in) tog maar vra wat die vernuwende bydrae is wat ’n Nuwe stemme-digter maak.

Vir voornemende deelnemers aan die volgende Nuwe stemme-bundel mag dit dalk raadsaam om kennis te neem van die foute wat samestellers oor die jare by aspirant-digters geïdentifiseer het. Deurlopend is daar die klagte dat die grootste gros van digters wat hulle werk inskryf nie poësie lees nie. “Om in te skryf vir ’n bloemlesing soos dié sonder om vertroud te wees met die stand van die eietydse digkuns, is om te glo jy kan sinvol bydra tot ’n gesprek wat jy hoegenaamd nie gevolg het nie,” skryf Danie Marais en Ronel de Goede in die inleiding tot Nuwe stemme 4. Daar is ook ander swakhede. Marais en De Goede verwys na die “ongemotiveerde eindrym, afgesaagde beelde, ongetemperde sentimentaliteit, registerverwarrings en nawelstaardery”, terwyl Loftus Marais se lysie die volgende insluit: “oerpoëtiese woorde (“nimmer”, “draal” en “smart”), ’n eindelose hoeveelheid uitroeptekens, ’n eenvoudige metafisika (“siele” en “U goedheid”), rymdwang, verkleinwoordjie op verkleinwoordjie, gedigte as selfterapie en nie as ’n vorm van kommunikasie nie, die alewige gebruik van (on)(vers)taan(bare) hakies om ’n kru veelduidigheid te skep, en so aan”.

Die sukses van die Nuwe stemme-projek kan uiteindelik gemeet word aan die aantal digters wat oor die jare wel hulle eie bundels gepubliseer het. Gaan ’n mens die lys na, blyk dit dat daar ’n substansiële aantal digters is wat ná publikasie in Nuwe stemme een of meer bundels gepubliseer het: Martjie Bosman, Susan Smith, Sarina Dönges, Gilbert Gibson, Melt Myburgh, Bernard Odendaal, Hans Pienaar, Jo Prins, Ilse van Staden, Jelleke Wieringa, Ronelda Kamfer, Danie Marais, Loftus Marais, Jasper van Zyl en Fourie Botha. Ander Nuwe stemme-debutante het opgang gemaak in ander genres: Tom Dreyer, Kirby van der Merwe, Pieter Strauss, Toast Coetzer, Tertius Kapp en Erns Grundling.

*

Agtien digters se werk word verteenwoordig in Nuwe stemme 5. Dit is duidelik dat die werkswinkels en onderlinge diskussie wat daar plaasgevind het ’n positiewe uitwerking op die uiteindelike produkte gehad het. Die verse is netjies afgewerk, maar tog is daar min wat radikaal nuut is en wat klink op ’n manier wat ons nog nooit vantevore gehoor het nie. Die nuwe stemme is dus beheersd, eerder as uitdagend en provokatief.

Gerhard Bothma se bedrieglik eenvoudige verse vorm die inleiding en het ’n byna ou-wêreldse klank. Sy taalgevoeligheid blyk uit die wyse waarop hy die woord “verbolge” (kwaad, woedend of verontwaardig, maar ook gebruik om’n onstuimige see te beskryf) as rigtingwyser gebruik in sy gedig “Die Verleier” wat handel oor ’n oënskynlik gemoedelike figuur wie se teenwoordigheid met die verloop van die gedig al hoe meer dreigend word. Dieselfde vermoë om ’n bepaalde sfeer te skep, sien ’n mens in “Kinders by die dorpsdam” (wat herinner aan Nijhoff se gedig “De wolken”), “Lig en water”en “Overberg” met die mooi slotwoorde “’n valk se skadu / volg hom oor die afgrond”.

Sterk aanwesig in GP Terblanche se verse is die gevoel van losgeslaan wees van die vaderland, miskien te eksplisiet bevestig in gedigtitels soos “Swerwer” en “Boer in ballingskap” en te voorspelbaar verbeeld. Tog is laasgenoemde gedig ’n sterk ritmiese verwoording van die gemis aan die vaderland, waarin Afrikaanse digters soos Ingrid Jonker (“die someraande in gordonsbaai”) en Opperman (“namakwaland se helder lenterok”) vaagweg opklink. Die gevoel van gemis en ontgogeling klink ook op in “Kaapse herinnering” waarin die moederstad uitgebeeld word as “’n versonke karkas” met “maaiers in die oë” (ook ’n beeld wat Opperman in ’n ander verband gebruik het) en “Hooglied” wat eindig met die beeld van die geliefde “oopgeskulp / teen die rotse van ’n ander land”.

Hendrik van Niekerk se verse werp ’n wrang blik op die menslike bestaan. Daar word gesinspeel op ’n distopiese wêreld waarin “kweekhuisgasse” besig is om die planeet te vergiftig (“Sondagaand”) en waar die gevaar bestaan dat sy woorde geen sin en waarde sal hê nie (“Van julle droom van drake”). Die bewustelik-argelose klank van die verse is nie heeltemal nuut nie (Gert Vlok Nel klink mee in ’n reël soos “unprovoked en woes”) en die gekruide taal (“fok met kak probeer rym”) is mak in vergelyking met wat daar al in Afrikaanse gedigte gesê is. Sy sterkste bydrae is die gedig “Jakkalsfontein” wat oënskynlik ’n eenvoudige anekdote is, maar tog meerwaarde kry deur die goed-geplaaste verwysings na die slang en die lam.

Joan-Mari Barendse se verse put hulle krag uit ’n afstandelike blik op die wêreld. “Môre op Noeleen” vang die oppervlakkige formules waarmee daar gereageer word op diep psigologiese nood netjies vas. Die vers “gedigte word geskryf” suggereer dat dit ’n luukse is om poësie te skryf: dit word gedoen in goed-toegeruste kantore, asketiese solderkamers of tydens reise met ’n rugsak. Hierteenoor staan die vraag of gedigte sou kon ontstaan in omstandighede van wanhopige armoede waar daar in vullisblikke gekrap word vir kos, ’n bed gevind word tussen die wortels van ’n boom en ’n lewe gemaak moet word uit ou koerante en kartonne. “America’s next top poet” vra die vraag of ’n digter net soos ’n supermodel afgerig kan word.

Onderliggend aan Wicus Luwes se ritmies-beheerste verse is ’n gedempte gevoel van wanhoop oor die geroetineerde gang van die lewe (vgl “’n beknopte lewe”). “Die nagvel” sinspeel op ’n liggaamlike en psigiese toestand wat ’n mens vasvang binne ’n situasie wat jy eintlik wil ontvlug (dit “versterk jou patriotisme / vir die land waarvan jy vlug”) terwyl die gedig “kerswas op ’n tafeldoek” die gebrek aan kommunikasie en onbegrip tussen mense teken deur middel van ’n patroonmatige opbou van stellings en ontkennings (“hy met my gepraat asof hy my ken / maar hy het nie”).

In Oloff de Wet se bydrae is dit die gedig “hortend” wat uitstaan vanweë die wyse waarop dit die idee van afgebroke spraak en onderbroke ritme uitbeeld deur woorde in die middel van ’n enjambement op te breek, maar uiteindelik weer bind deur die beeld van ’n sirkel wat konkreet gemaak word wanneer die einde van die gedig oorloop in sy begin. Visueel en ouditief skep dié gedig ’n soort gesinkopeerde ritme wat die inhoud van die gedig (die uitmekaarval van samehangende dinge, die onvermoë om disparate elemente tot ’n samehang te bind) illustreer.

Jaco Barnard-Naudé is een van die digters wat buite die kring van die self tree in ’n sterk vers soos “Gesoek: Rosa Luxemburg”, een van die min "politieke" gedigte in die bundel. Die ontdekking dat dit moontlik nie haar lyk is wat in haar graf begrawe is nie, word gebruik om ’n vraagteken te skryf oor die idee dat ideologie deesdae “ter ruste” gelê is en om die “dooie revolusie” in herinnering te roep. Barnard-Naudé volg in enkele van sy ander gedigte (“Las meninas o La familia de Felipe IV"Velásquez) in die bekende spoor van digters wat in gesprek tree met skilders en hulle skilderye deur die proses van waarneming aan die orde te stel.

Die nege gedigte van Desmond Painter wat in die bundel opgeneem is, staan uit vanweë die verskeidenheid van onderwerpe, style en registers wat daarin aan bod kom. Dit strek vanaf ’n herskrywing en herkontekstualisering van die Turkse digter Ziya Osman Saba se gedig “Aanvaarding” via die kabaretagtige “Miss Jesus” tot by die eksperimentele “Vier Facebook Status Updates” waarin die kontemporêre verwysing gebalanseer word deur die gebruik van byna ouderwetse idiome. Ook opvallend van sy bydrae is die gedigte waarin sukkelende liefdesverhoudings op indirekte wyse uitgebeeld word (“Sondagmiddag” en “Jy het Griekeland gehaat”, laasgenoemde met die mooi beeld van die rondloperhonde wat kerm en byt “om ons bed se enkels”) en kort verse wat gebou is rondom ’n bepaalde woordspeling (“Doodloopstraat”).

Alhoewel daar net drie gedigte van Neil Cochrane in die bundel opgeneem is, het ’n mens ook hier die gevoel dat jy met ’n sterk stem te doen het. In “Die epistemologie van K” word daar direk en indirek kommentaar gelewer op die verskynsel van kanker deur te beskryf hoedat die spreker se kennis van wat die letter K alles inhou stadig toeneem tot by ’n besef van wat die afloop van die siekte vir die menslike liggaam inhou in die slotstrofe. As akademikus is Cochrane bekend vir sy belangstelling in queer teorie en in “Lyfvaart: ’n pastiche” boots hy die styl en beelde van die digters Loftus Marais, Marius Crous, Joan Hambidge en Johann de Lange besonder effektief na, net soos wat Opperman dit met sy tydgenote gedoen het in “Met apologie”.

Carina van der Walt se gedigte fokus op die kunste en lewer kommentaar op die kontekste, hersirkulering, verbruik en misbruik van kunswerke (soos wat Hambidge ook dikwels doen). Die eerste gedig lewer kommentaar op die verwerking van Da Vinci se Mona Lisa deur die populêre kultuur (vgl die verwysing na Dan Brown in die titel), kunstenaars soos Marcel Duchamp met sy “readymades” en die onsensitiewe “orgie van aanskouing” waaraan sy daagliks blootgestel word in die kunsmuseum. Die gedig “volledig volmaakte oneetbare kersies” roep Gerrit Kouwenaar se sublieme gedig waarin die maan beskryf word as ’n “volledig volmaakte oneetbare perzik” op om die sensuele herinneringe losgemaak deur ’n kunswerk waarin kersies “kitscherig onder sand en skulp / vasgeskilder is” na vore te bring. Kouwenaar se beeld word vlugtig geleen eerder as wat daar met hom in gesprek getree word.

Fanie Viljoen wat reeds bekend is as baie suksesvolle jeugboekskrywer lewer ’n interessante bydrae tot die bundel met ’n viertal gedigte. In die gedig “dekonstruksie” lys hy al die eienskappe van ’n goed-gekonstrueerde en komplekse gedig (vol versteekte boodskappe en verwysings) voordat hy besluit om nié so ’n gedig te skryf nie en sy eie gedig te laat “self-destruct”. Dit kontrasteer met die nogal siniese, verwytende gedig “jy wou mos” gerig aan ’n kloosterling wat eindig met die reëls: “mag die ontwykende geluk / jou eendag hier kom kry”.

Van Gisela Ulyatt is daar twee verse waarin daar veral sprake is van effektiewe beelding. Die eerste handel oor ’n konstabel wat ’n wrede nagmaal meemaak wanneer hy “vergruisde liggame / in ’n pan van vlekvrye staal” moet opruim by motorongelukke (“Nagskof”). Die tweede beskryf ’n moment van epifanie (gesuggereer deur die motto uit Virginia Woolf se To the lighthouse) waarin die spreker ’n laaste skildery maak wat ook ’n spieël is (“hierdie spieël geskep uit ’n kleurlose palet / van vreemde heksagone”).

Vreemd genoeg is daar relatief min liefdesverse in die bundel. In hierdie opsig lewer Ihette Jacobs ’n interessante bydrae met haar verse wat delikate verwoordings van erotiese vervulling en verlange. “Sterrekykers” met sy beelde van donker water en veraf sterre het ’n melankoliese klank, terwyl “The-sound-of-silence” die frustrasies van alleenheid op die maat van Simon & Garfundel beskryf. Versteek in die oënskynlik heilsame vers “appelboer” is daar verskillende seksuele beelde.

In Alwyn Roux se bydrae vind ’n mens ’n nuwe en intrigerende klank, veral in die gedigte “’n Vreemdeling se graf” en “Teken”. Eersgenoemde maak gebruik van lang versreëls wat neig in die rigting van prosa, maar tog ’n interne spanning behou deur die gebruik van klank en ritme. Dié gedig gee uiting aan ’n begeerte om fisiek verenig te wees met iemand wat reeds dood en begrawe is, maar eintlik ook nooit bestaan het nie (“Wonder of dié dag my iets gaan leer van jou afsterwe, / jy wat nog nie eens gedagte of gedigte was nie”). Dié verse teken ’n vreemde droom-wêreld wat beskryf word met eenvoudige, evokatiewe woorde en beelde. Roux is een van die sterk stemme wat hier na vore tree.

Hilda Smits dryf eweneens die spanning tussen poësie en prosa op die spits in haar verse. Alhoewel haar verse plek-plek herinner aan die verhale in Breytenbach se Katastofes, is die liriese onderbou daarvan egter onmiskenbaar. Dit word geskep deur die vloeiende trant, die inkanterende herhalings en die sterk beelde (soos “die nag se honger kakebeen kraak oop” en “jy sing vanuit die diep long van ’n tweede graf)” wat meewerk om ’n eiesoortige klank te skep. Die wêreld wat hier opgeroep word, is eweneens een van ontheemding en bevreemding (daar word vanuit Londen en Amsterdam geskryf vir ’n geliefde broer en ’n pa, gedink oor ’n ouma en die angs van Primo Levi).

Adriaan Coetzee se viertal verse het ’n sterk Suid-Afrikaanse geur. “Instrumentalis” bestaan uit ’n reeks opdragte aan die self en ander wat daarin slaag om ’n hele bestaan op te roep. Ingrid Jonker se “Die kind” klink in die agtergrond van “laat die kind kom”, maar die suggesties in verband met Afrikaans binne ’n nuwe konteks word nie deurgevoer nie. Dit gebeur wel in die wrang gedig “om ’n digter te dood” wat beskryf hoedat ’n digter vasgebind moet word aan die speke van die ossewawiel nadat hy dit teen die hoogste mynhoop opgerol het: Die gedig eindig met die woorde: “en as hy iets te drinke vra / dan doop ons die spons in sy taal”. Hierdie surrealistiese klein gedig sê op indirekte wyse veel oor die posisie van die digter in die samelewing en lewer ook kommentaar op Afrikaans.

Izak du Plessis roep ’n geborge, landelike lewe op in sy gedigte, maar gee tog daaraan ’n wrang inhoud. In “Alzheimer” word “die groot vergeet” van oupa Jaap vergelyk met hanslammers wat met die grootpad wegdwaal wanneer die hek oopgelos word. “Die moeitelose selfmoord van dominee de Waal” openbaar ook ’n gevoel vir die gruwelike: daar word gesuggereer dat die verveling van ’n geroetineerde, kleinburgerlike bestaan ’n gemaklike vorm van selfmoord is.

Pieter Odendaal het reeds heelwat aandag getrek met “die eerste steen”, die vers wat hy geskryf het as huldeblyk aan Adam Small. Teenoor die geheimsinnigheid van byvoorbeeld Alwyn Roux se verse staan die toeganklikheid van Odendaal se gedigte met hulle sterk ritmiese inslag en maklik-verstaanbare beelde. Sy ervaring as podiumdigter blyk uit sy aanvoeling vir die impak wat ’n slotreël kan maak, soos in “Meiose” (“die wegdraai van jou gesig / soos die laaste reël van ’n gedig”). “Ballade” is een van die min gedigte in die bundel wat verwys na Suid-Afrika se “swaar geskiedenis”; terselfdertyd teken dit ook die ruimte binne die gedig asof dit iets uit ’n eietydse comic kompleet met die digter as superhero met bonatuurlike kragte is.

*

Die geheel-indruk wat ’n mens ten slotte van hierdie bundel het, is van netjiese afronding waarin daar hier en daar flitse van ware poëtiese inspirasie deurskyn. As ’n geheel gesien is daar nie sprake van die radikale soort vernuwing waarna Krog en Schaffer indertyd verwys het in die inleiding tot Nuwe stemme 3 nie. Tematies gesproke word daar aangesluit by bekende temas soos verhoudings, seksuele begeerte, die kunste, jeugervarings, die ouers, ontheemding, die landelike verlede, die sleur van die daaglikse lewe, vervlakking in die kontemporêre wêreld en ekologiese bedreiging. Vreemd genoeg is daar slegs enkele gedigte wat reflekteer oor die maak van poësie en min wat erns maak met die politieke gebeure van ons tyd. Tegnies gesproke kan ’n mens sommige gedigte plaas teen die agtergrond van die onlangse debatte oor hermetiese geslotenheid versus toeganklikheid en die liriese versus die narratiewe in die poësie, met sommige van die digters wat neig in die een of die ander rigting. Meestal word daar nog getas in die rigting van ’n onmiskenbaar eie stem.

Wat wel vasstaan, is dat die Nuwe stemme-projek ’n belangrike een bly in die identifisering en ontwikkeling van nuwe digterlike stemme in Afrikaans. Hiervoor moet ’n mens die uitgewer dankbaar wees: daar is waarskynlik min literêre sisteme in die wêreld waarin daar met soveel toewyding omgegaan word met poëtiese talent en daar soveel moeite gedoen word om dit te ontwikkel. Al spreek die poësie tot die enkeles eerder as die duisendtalle, bly dit ’n belangrike barometer van ’n gemeenskap se geesteslewe. “Alles van waarde is weerloos”, het die Nederlandse digter Lucebert gesê. Daarom bly ondernemings soos hierdie belangrik.

 


 

Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet’s free weekly newsletter.

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top