2022
Miranda:
O wonder!
How many goodly creatures are there here!
How beauteous mankind is! O brave new world,
That has such people in’t.
– William Shakespeare, The Tempest, Act V, Scene I, ll. 203–206
Agt miljard mense
oorleef in ons dapper nuwe wêreld
in 2022
Hoeveel mense
waarvan ek nooit geweet het nie
vermoordes drenkelinge kankerlyers
het gesterf in 2022 tesame met
bekendes beroemdes berugtes
soos die vraag of die boom ’n geluid maak
as dit val in die bos maar niemand hoor dit nie
beteken nooit geweet ooit geleef?
Hoeveel goeie mense het oorleef
in 2022
in ons dapper oorbevolkte nuwe wêreld
al gaan ek van hulle nooit hoor nie.
Die dapperste digters
het die p-woord openlik
op die vrye vers losgelaat
in 2022
waar die f-woord reeds tuis was
het die gebruik van die p-woord
(aanpasbaar genderneutraal)
’n nuwe plofbare insetsel geword
Pie op ’n PC
die potente vloeistof
met vodka gemeng
sou Poetin kon vergiftig
eer hy nóg opponente vergiftig
Stede en dorpe in Oekraïne
waarvan ek nog nooit gehoor het nie
het hulle nooit bestaan
was hulle op ’n landkaart
nou platgebom
mense sonder name
adresse wat wys na niks
Poetin sê die inval in Oekraïne
is hulle skuld
kyk wat het julle my laat doen
Poetin jy is nog ’n p-woord
In ’n wêreld wat óns laat wonder
hoeveel mense kan ons bewonder
Miranda
Die koningin lê in formalien
die prins uit motbolle gevis
ruik nog na naftalien
duisende vars blomme die bloemiste juig
lelie-der-dale haar gunsteling
en die roubeklaers in ’n slingerende tou
skuifel al vir dae vorentoe soos krale
wat aanskuif en wonder intussen hoe
bly haar liggaam so lank vars in die kis
aan die voorkant van die tou gaan hulle snuif
straks is daar ’n klankie of nie
dit bly ’n staaltjie vir die nageslag
dalk is die kis leeg
dalk is dit ’n yskas
met sy pomp
onder die katafalk
die onderdane skuifel vorentoe
in ’n tou soos ’n mierespoor langs die Teems-oewer
volg steeds hul instink om die koningin te gaan voer –
koningin is dood lank lewe die koning –
in 2022
in Iran loof aanbidders steeds
’n skepper wat homself nie vertrou
dat sy skepsels hande tuis kan hou
Hy’t die man eerste gemaak
toe van ’n mooier maat voorsien
om by mekaar te p-as en toe beveel
dat sy onder klede toegemaak bly
asof Hy sy fout nie wou onthul
Mahsa Amini dood op 22
dalk was sy te jonk en mooi
die sedepolisie vind haar hijab
onvanpas, dit staan in die Skrif
langsaan jy mag nie doodslaan nie
Die wêreld is nie nuut of dapper
in twintig-twee-en-twintig nie
Miranda.