Die jaarlikse byeenkoms op 16 Februarie was ’n regte vreugdefees met Bibi Slippers aan die woord en musiek deur Jannie du Toit en Susan Mouton. Dit was gereël deur die Prisma Leeskring met Erika Theron aan die spits.
In haar sonneblomgeel rok en stewels met ’n hanger van klein gekleurde vliegtuigies was Bibi alles wat mens kon verwag het, en baie, baie meer. Deur haar wonderlike woorde oor die toorkrag (en praktiese nut) van poësie in die 21ste eeu kon mens jou onvoorwaardelik oopstel vir die waarde daarvan mits jy tyd maak om gereeld poësie te lees.
Bibi het begin en afgesluit met gedigte van Mary Oliver, die Amerikaanse digteres wat onlangs oorlede is, en daar tussenin ses merkers vir poësielesers uitgewys en verse gelees om dit te illustreer.
- Lees poësie, want dis mooi.
- Dit bring kalmte en troos in moeilike tye.
- Poësie het die vermoë om die kompleksiteit van die lewe te verwoord.
- Deur poësie leer mens om aandag te gee en te konsentreer te midde van ’n aanslag op jou sintuie.
- Poësie is ’n bewys dat daar nog klein enklawes buite kapitalisme is: dit maak nie geld nie en is dus bevrydend vir digters wat nie die mark in gedagte hoef te hou nie.
- Poësie herinner ons aan die uitdrukkingsvermoë van taal en dat ons moeite moet doen om die regte woorde te vind vir wat ons wil sê.
Die immergroen sanger Jannie du Toit was die gaskunstenaar, ondersteun deur die tjellis Susan Mouton. Hulle het aan die byeenkoms 'n besondere balans tussen die reeds-vertroude en die prikkelend-nuwe geskenk. Jannie en Bibi het albei op 'n unieke manier die gehoor van byna 200 in die palm van hul hand gehou.
Van dié meesleurende ervaring het iemand gesê: “Ek self is 100 maal ryker as wat ek op my ou trant was.”
’n Groot stapel boeke, geskenk deur NB-Uitgewers, is uitgedeel voordat daar lank en lekker oor tee en koek gekuier is.
Kommentaar
Stromende reën het niemand gekeer om die geleentheid by te woon nie! 'n Wonderlike manier om 'n Saterdagoggend deur te bring. Volgende jaar Februarie maak die leeskringe van Pretoria weer so.