Wenkbrou deur Deborah Steinmair

  • 1

Boektitel: Wenkbrou
Skrywer: Deborah Steinmair
Uitgewer: NB Uitgewers
ISBN: 9780798157759

Alhoewel Marike se Laaste Dans (2010) Deborah Steinmair se ongetwyfelde talent en vertellersflair ten toon gestel het, het sy eers met haar eiesoortige kruisbestuiwings in die beslis-niegenre-roman Poppekas (2012) die tonge behoorlik los gehad. Mens kon skaars asem skep toe was Steinmair se briljante bekendstelling van Agatha, Jesse en die “rowwejack” Claude in Die Neus (ook 2012!) op die rakke.

Met Die Neus het die nimlike Steinmair behoorlik haar stempel op die Suid-Afrikaanse speurverhaal afgedruk – ouens soos Deon Meyer en Chris Karsten het dalk die sterkste houvas op die misdaadfiksie-mark, met Karin Brynard kort op hul hakke, maar die bogenoemde kan, met respek gesê, eenvoudig nie kers vashou by Steinmair as dit by onverskrokke onkonvensionaliteit, soepelheid van taal en speelse vertelling kom nie. Snydend, satiries, eiesoortig, kreatief, vindingryk, met ‘n voorliefde vir die onkonvensionele ... Steinmair het ‘n neus vir stories en ‘n flair vir die fantastiese.

Die Neus het ons nie net aan die hoofkarakters wat weer in Wenkbrou verskyn, voorgestel nie, maar ‘n bepaalde narratiewe bloudruk daargestel: daar is ‘n raaisel wat opgelos moet word, ‘n witwarm stryd wat tussen die goeie en bose woed, elke karakter wat sy eie geheime het om te bewaar, terwyl orde en geregtigheid uiteindelik moet seëvier (almal genre-staatmakers). Die belangrikste element was dalk net Steinmair se metatekstuele spel met die leser: met die lees van Die Neus (en ook Poppekas) was die leser verseker daarvan dat die skrywer hom toelaat om deel te neem aan ‘n soort spel waar hy die rol van die speurder moet vertolk. Wat die leser dan in die afwesigheid van die enigste konvensionele realisme of genre-“veiligheid” dan te doen staan, is om die narratiewe kodes en brokkies speelse intertekstuele verwysings te ontsyfer om ‘n bepaalde betekenis aan die teks te verleen.

Ek wil vervolgens met hierdie kort bespreking van Wenkbrou die oorbruggende punt stel dat dit eensklaps lyk asof Steinmair eenvoudig ‘n “tweede Neus” vir lesers bied. Ek dink nie dis hier die geval tot die mate waarin ‘n mens dalk sou dink as jy die roman een keer vinnig lees nie. Ek wil eerder spekuleer dat Steinmair hierdie keer baie slim en baie subtiel met indringende sosiopolitieke kwessies van die huidige bestel omgaan en die leser uiteindelik dwing om met nuwe oë na die naakte waarheid van wat in die land aan die gang is, te kyk.

Soos met Die Neus is die (on)heilige alliansie Aga, Jesse en Claude weer op ‘n letterlike en figuurlike reis om ‘n misdaad met familietentakels op te los (die vorige keer was dit ‘n ondersoek na Aga se familieherkoms; dié keer het dit met Jesse se familie en toekoms te make). Ons word reeds op die heel eerste bladsy daarvan verwittig dat wenkbroue barometers is van gemoedswisseling, die “ware verklappers van emosie. Kundiges reken nou hulle is belangriker in die herkenning van leuens as oë.” Maar net so vinnig word daar na Mr Bean se wenkbroue as narratiewe sleutel/interteks verwys. Steinmair is beslis nie van plan om haar romans van hul koddige sjarme en eklektiese aanslag te stroop nie.

Wanneer Jesse hoor dat die hoof van die Susters, Moeder Motle, se kleinseun vermoedelik vermis en vermoor is, reis sy en Aga na die Oos-Vrystaat, waar hulle die Amish-agtige sekte Die Volgelinge, Die Herder en nonne teëkom. Hier word Jesse ingelig dat sy as Keneuoe bekend staan en dalk net die volgende leier sal moet wees. Gelukkig het Aga en Jesse die hulp van Claude, nou netjieser en met korter hare, en die wit sangoma, Stasi Soldatos.

Die verhouding tussen Aga en Jesse word dié maal weer eens met ywer en deernis beskryf, en op hul eie manier is die twee formidabel in dit wat hulle aanpak. Stasi Soldatos is eenvoudig verruklik om oor te lees weens Steinmair se gawe vir ongewone karaktereienskappe wat in een karakter saamgesnoer word. Die bobbejaan, Kain, wat minagting op terloopse wyse uitstraal, se interaksie met Stasi is van die mees amusante uitbeeldings in ‘n boek vol varshede.

Die roman beweeg teen ‘n baie flinke pas, met episodiese, pikareske dimensies en uiters kort, pakkende hoofstukke, elk met sy eie hofie. Verskeie intertekste, veral die Bybel, suggereer dat daar deurgaans van die leser verwag word óf om gebeure in te vul en te vergroot óf om die oppervlak van die teks as die bodem te sien. Die hiperbewustheid van die skrywerstem as die regisseur van ‘n tipe “poppekas” of spel met die leser is onmiskenbaar.

Daar word geensins hier aanspraak gemaak op ‘n tipe realisme in die tradisionele sin van die woord nie. Alles is opsetlik oordryf, word mee die spot gedryf. Die eindproduk is iets tussen magiese realisme en sosiale kommentaar, maar allesbehalwe tradisionele fiksie.

Die platteland staan teenoor die stad as ruimte; so word inisiasiesterftes uitgelig, asook die manipulasie en weerhouding van inligting; WikiLeaks, Nkandla. ’n Lansie word ook vir Helen Zille, Patricia de Lille en Mamphela Ramphele gebreek.

Ander resensente swaai Steinmair lof toe vir haar spel met lesers (Joan Hambidge) en besonderse aanvoeling vir taalgebruik en oorspronklike beskrywings (Christi van der Westhuizen en Erika de Beer).

Hoewel ek saamstem met die bogenoemde (se) sienings, en met die manier waarop Steinmair randfigure gebruik om ‘n tipe kontradiskoers te bied (Van der Westhuizen) wat kwessies soos die patriargie en die misbruik van vrouens en kinders, asook die misbruik van mag deur die staat, kan uitlig, is my uitgangspunt dat Steinmair se eiesoortigheid twee byna teenstrydige of paradoksale impulse inhou: op narratiewe vlak word lesers altyd gedwing om buite die teks self na ander tekste uit te reik, weens die feit dat die teks self ‘n netwerk van verwysings is; maar verder geneem, blyk dit dat die konstante verwysing na wat buite die teks staan, dalk ‘n erkenning is van die belang daarvan om die werklikheid van die land se sosiopolitieke kwessies in die gesig te staar.

Dit sal dalk die wenkbroue laat lig om te sê dat Steinmair op haar eiesoortige manier die kollig hervestig op die werklike gruwels wat daagliks op ons strate en in ons huise afspeel. Maar deur die fokus in haar raaiselromans deurgaans op die oppervlak te hou, en deur die leser self te noop om na die realiteit en die “real” terug te keer ná sy haar lyf speurder gehou het in die selfbewuste wêreld van die skrywer, is dit dalk net presies wat Steinmair regkry. Toeganklikheid is toe nie ten koste van kompleksiteit voorgehou nie, en Steinmair pendel dalk net haar eie vorm van betrokke literatuur. Wie sou kon raai?!

 


 

Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet’s free weekly newsletter.

  • 1

Kommentaar

  • Deborah Steinmair is 'n wonderlike skrywer wat deurgaans leesgenot bied.

    As jy haar werk nog nie ken nie, is dit tyd om nader kennis te maak. Sy skryf die mooiste sinne.

    Marieke se laaste dans is eintlik 'n lang gedig in prosa. Maar dan speel Steinmair ook lekker met allerlei taalregisters en maniere van praat. In Wenkbrou wissel die teks vanaf die Volgeline se ouderwetse, Bybelse praatstyl, na die ongepoetste wit sangoma se idiolek, na die mechanic se dude-taal.

    As iemand wat ook vir 'n Groot Organisasie werk, het ek my vrek gelag vir Poppekas se uitbeelding van wat korporasies deesdae van hul werknemers verwag: robotagtige doeltreffendheid.

    Proe gerus 'n bietjie aan haar werk, en kyk of jy nie ingekatrol word nie.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top