Die Breytenbach Sentrum op Wellington bied vanaf Junie vanjaar ’n sesmaande-kursus aan in die skryf van kort prosa of drama. Hierdie kursus word aangebied deur die bekroonde skrywer Rachelle Greeff, en kos R1 000 per maand.
Hierdie kursus is toeganklik vir aspirant-skrywers en –dramaturge wat nie in die Boland woonagtig is nie. Alhoewel kursusgangers op ’n maandelikse basis by die sentrum byeenkom om aan hul skryfwerk te skaaf, sal die kursus grotendeels deur middel van e-pos-wisseling geskied. Hierdie intensiewe kursus, waarin die skrywers aan ten minste drie kortverhale of een volwaardige toneelstuk sal werk, word aangevul deur besoeke aan verskeie teaters, asook praatjies deur skrywers, uitgewers, dramaturge en akteurs.
Rachelle Greeff, wat in verskillende genres werksaam is, is die ideale aanbieder vir hierdie kursus. Deur die jare het sy verskeie literêre pryse en benoemings vir haar kortverhale ontvang. Haar debuuttoneelstuk, Die Naaimasjien, is eweneens wyd aangeprys en bekroon. Met Sandra Prinsloo in die hoofrol trek dit na vyf jaar steeds vol sale. Haar jongste toneelstuk, Rondomskrik, het op die pasafgelope Absa KKNK gedebuteer en is met ses Kannas benoem.
Haar werk as verslaggewer en joernalis by koerante en tydskrifte strek oor 34 jaar. Dit sluit in die gereelde skryf van toneel- en dansresensies, rubrieke en diepte-onderhoude met skrywers. Sy was ook vir ses jaar die boekeredakteur van Rapport.
Sy het etlike publikasies vir opvoedkundige uitgewers saamgestel, en sy keur manuskripte vir uitgewers. Die laaste paar jaar werk sy saam met nuwelingskrywers om hulle en hul manuskripte vir die boekebedryf voor te berei.
Die Breytenbach Sentrum bied voorts, met die ondersteuning van die LW Hiemstra Trust en die ATKV, beurse aan voornemende skrywers wat uit histories benadeelde gemeenskappe kom en nie vir die inskrywingsfooie kan betaal nie. Die bekende digter Diana Ferrus, bied reeds vir die afgelope twee jaar met groot sukses werkswinkels in die digkuns hier aan vir vroue uit hierdie gemeenskappe.
Kontak die Breytenbach Sentrum by 021-8732786, www.breytenbachsentrum.co.za of e-pos info@breytenbachsentrum.co.za vir die volledige inligtingstuk.
Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet’s free weekly newsletter.


Kommentaar
Ek wil graag weet of 'n dramakursus weer in 2016 aangebied word. Of, of daar enige inligting is oor soortgelyke kursusse vir 2016.
Anna Kemp
Hallo Anna, ek stel voor dat jy die Breytenbachsentrum kontak in verband met hul skryfkursusse vir volgende jaar: http://www.breytenbachsentrum.co.za/Breytenbach_Sentrum/Tuisblad/Tuisblad.html. Groete, Naomi Meyer