Hammond het helder lens op Orania gerig

  • 1

Dit is Desember 2013.

Ek en ’n vriend, Karl Kemp, het vir ’n week op die hoek van Smaragstraat en Pêrellaan gebly, oorkant die Orania Volkskool. Ons het met heelwat van die mense gepraat wat in Michael Hammond en Retief se fotoboek verskyn.

Die boek sal meer waardeer word deur iemand wat Orania al besoek het. Hoe sou mens andersins, byvoorbeeld, verstaan hoekom die mense op hul motorfietse afgeneem is?

Enigeen wat al ’n paar dae in Orania se woonbuurt deurgebring het, sal hom verkyk aan die mense wat soos klokslag op hul motorfietse, poegies en quad bikes deur die breë sementstrate ry. Niemand ry met ’n valhelm nie. Dis ou tannies op help-my­trap­fietse. Oorgewig vrouens saam met hul kleuters op Vukas. Laaities op Chinese 125­speedbikes. Ooms op dreunende cruisers. Jong manne op scramblers. Amper sonder uitsondering ontbreek die uitlaatpype se knaldempers. Die andersins rustige omgewing word met reëlmaat gevul deur die lawaai van ’n motorfiets.

Dit móét in die boek wees.

Ek het verskillende aanbiedings van Hammond se foto’s en Retief se byskrifte gesien voor ek die boek onder oë gehad het.

Wel, voor ek enigiets gesien het, het ek met Carel Boshoff gepraat toe hy in Stellenbosch was tydens die Woordfees. Hy was redelik positief oor die boek.

My eie eerste waarneming was by die KKNK vanjaar. In ’n weggesteekte hoekie tussen ’n klomp ander kunswerke is daar ’n stuk of twintig van die foto’s teen die muur opgehang. Hammond het dit self gedoen.

Die foto’s is nie wat ek verwag het nie – hoofsaaklik weens Boshoff se reaksie.

Ek het gevoel die uitstalling is ongebalanseerd en beeld Orania nie uit soos ek dit (in die geheel) ervaar het nie. Dit was gefokus op die gatkant van die dorp.

Daarna sien ek die vyf foto’s wat Rapport vroeg in April publiseer . Dit was tragies in ooreenstemming met wat ek beskou as ’n hoepelkrom-uitbeelding van die dorp deur die oorgrote meerderheid van die media, plaaslik en internasionaal. As dít die tipe foto’s in Hammond se boek was, sou die boek as ’n onbeskaamde aanval op Orania beskou kon gewees het.

Gaan kyk mens na die kommentaar op Rapport se webtuiste, sien jy daar is talle inwoners wat ongelukkig is oor die boek. Dit sluit Jaco Kleynhans, uitvoerende hoof van die Orania Beweging, in.

Hy sê: “Michael Hammond het almal in Orania uitgevang met sy vriendelike houding. Daardeur het hy die persepsie geskep dat hy billik sal wees. Die eindresultaat is allesbehalwe ’n gebalanseerde kunsboek.”

Die feit dat Boshoff president is van dieselfde liggaam, maar tog só ’n teenstrydige gevoel jeens die boek het, vind ek vreemd. (Ek het geen verklaring hiervoor nie.)

Enkele weke later het ek die boek van hoek tot kant in ’n boekwinkel sit en deurlees.

Dit was vir my ’n herlewing van my eie gesprekke met hulle – beeld- en woordsgewys. Dít wat hulle aan Retief vertel het, het hulle ook aan my vertel. Tot voordeel van die boek word daar weinig kommentaar gelewer in die teks. Die meerderheid daarvan is direkte aanhalings of parafrasering van die antwoorde.

Tog voel ek, en ek is seker Hammond stem saam, daar kort eintlik nog ’n paar foto’s. De Boer, waar daar in die aande gekuier, gedans en armgedruk word, is nie daarin in nie. Daar is geen foto geneem vanaf die tafels by die Afsaal Kafee nie, een van die beste plekke van waar om die dorp en sy aktiwiteite waar te neem. Tog is daar heelwat meer kolskote as ontbrekings, en na my mening verskaf die boek ’n gebalanseerde blik op Orania.

Later, toe ek teruggaan na die artikel op Rapport se webtuiste, sien ek hierdie kommentaar van ene James Kemp:

Rapport het ’n gulde geleentheid om ’n gebalanseerde storie oor Orania te publiseer deur die vingers laat glip. Ek het gister, tydens Orania se jaarlikse Karnaval waar David Fourie onder meer opgetree het, deur die fotoboek waaruit dié foto's gekies is, geblaai. Daar bestaan by my geen twyfel dat die foto's selektief uitgekies is nie. Daar is ’n wye verskeidenheid foto's in die boek wat die verskillende kante van Orania vasvang.

Ek deel Kemp se sentiment. Hammond en Retief se poging beskou ek as prysenswaardig – vir my was dit ’n taamlik helder uitbeelding van die realiteit wat ek in Orania ervaar het.

Dit is nie moontlik om ’n dorp tot ’n handvol foto’s en ’n paar onderskrifte te reduseer nie – soos die geval by Rapport, en in ’n mindere mate die KKNK-uitstalling. Hammond kon dit self nie regkry om die dorp met ‘n paar van sy eie foto’s akkuraat uit te beeld nie – maar hy het dit in sy boek gedoen.

My gevolgtrekking is niks aardskuddend nie: hoe meer moeite ‘n joernalis doen om ’n onderwerp uit te beeld, en hoe meer materiaal hy/sy aanbied, hoe meer akkuraat is die resultaat. En as jy regtig wil weet hoe dit in Orania is – gáán soontoe.

Twee dae voor ons aankoms in Orania het ons ’n student ontmoet wie se ouers ’n huis op die dorp het. Sy reël dat ons die spaarsleutels by die bure kry en só is ons verblyf uitsorteer.

Ons het die uitstappie nie regtig beplan nie. Karl het al lankal gesê hy wil so ’n reis onderneem, maar besonderhede is nooit bespreek nie. Sy ma leen vir ons haar BMW X3 en ons vertrek vroegoggend. Van die N12 draai ons by Hopetown af. "Into the heart of Darkness," sê Karl in ’n demoniese stem.

My belangstelling in Orania strek redelik ver terug: ek het die eerste keer daarvan gehoor toe my oupa sê hy wil daar gaan aftree. En mediadekking van Orania oortref natuurlik dié van die deursnee Suid-Afrikaanse dorp. Daar het egter nooit ’n geloofwaardige of langdurige prentjie in my kop vasgesteek nie. Ek het geen idee wat om te verwag as ons by die "poort" aankom nie. Het daardie koerantberig gesê daar is hekke, of daar is nié hekke nie? Is dit vol ou, vriendelike ooms en tannies wat vir jou melktert en koeksisters aanbied as jy in die straat verbystap? Het dit ’n vlugtelingdorp geword vir Afrikaanssprekendes wat genoeg gehad het van die nuwe Suid-Afrika?

*

Orania is ’n bewaringsgebied. Huise loer agter groot struike en van tussen groen bome uit. Waar woonbuurte in die Kaap só vol bome is, is dit vir seker ’n rykmansbuurt. Hier sal jy egter opslaanhuise ook vind.

Orania is ’n tydelike dorp wat die Departement Waterwese in 1963 opgerig het om verblyf te verskaf aan die mense wat aan besproeiingskanale gewerk het. Die naam Orania was ’n wenvoorstel in ’n kompetisie. Dit verwys na die Oranjerivier, waaruit water in die kanale afgelei is en wat teenaan die dorp geloop het.

Die strate het name soos Diamantlaan en Saffierstraat.

 

Soos jy Orania inry, is dit moeilik om enige wesentlike verskille op te merk relatief tot die deursnee plattelandse dorpie in die Noord-Kaap.

Ons sien niemand in die strate nie. Voor die skool stop ons en stap na die huis waar ons ons eie huis se sleutel moet kry. ’n Jong man is besig om gras te sny. Hy het tatoeëermerke en is songebrand tot op ’n punt waar mens sukkel om sy vel van die swart ink te onderskei. In teenstelling daarmee is die ou tannie wat vir ons die deur oopmaak, spierwit en bleek. Skoothondjies blaf semihisteries langs haar bene.

Sy nooi ons nie binne vir melktert of koeksisters nie.

 

Na die middag se gesprek met Carel Boshoff en die omvattende toer van John Strydom kom ons moeg en honger by die huis aan.

Ek skil ’n piesang af en mik na die stoep. Ek kyk op net voor ek ’n hap neem en staar vas in ’n onbekende gesig wat in die deur staan. (Sy naam word weerhou omdat hy nie bewus was dat ek oor die gesprek sou skryf nie.) Hy kom loer net in, want hy het gesien die sifdeur staan oop. Sy quad bike staan agter die X3 geparkeer.

"Dis darem maar ’n fucked-up plek hierdie,” sê hy voor ons enigiets vra. Hy bly al ’n jaar in Orania.

Sy storie klink na iets wat jy al voorheen gehoor het en sukkel om te glo. Hy is gegradueerd; hy het ’n regsgraad. Leuens wat van hom versprei is, het sy ondergang beteken. Hy het gekom omdat hy desperaat is vir werk.

"Maar hier werk jy soos ’n wit kaffer." Hy steek ’n sigaret aan – Sahara – en vertel van die skynheiligheid van die dorpsraad.

“Hulle is elite.

“Almal weet van die lesbians wat hier bly. Daar is ook ’n man wat met ’n ander vrou – ’n getroude vrou – saambly. Mens mag nie saambly nie.

“En net hier om die draai bly ’n pedofiel.”

Hy sê die skinder is erg. Helfte van die dorp weet binne ’n dag van iets.

Daar is gerugte versprei dat hy met sigarette en drank smokkel in Orania. Hy sê hy het gereeld vir vriende drank gaan koop net omdat die drankwinkel vroeg toemaak, en die sigarette wat hy verkoop is nie onwettig nie. Dit is nie onwettig nie, "want ander winkels verkoop dieselfde sigarette".

Hy steek nog ’n Sahara aan. Sahara is nie ’n geregistreerde sigarethandelsmerk in Suid-Afrika nie.

En dan is daar al die mense wat hom geld skuld. Hy noem ’n string name en bedrae op, akkuraat tot op die sent. Die totaal is seker omtrent R1 000.

Daar is huisbrake, sê hy. In sy eie woonstel het iemand ingekom en goed gevat terwyl hy ’n

week lank weg was. Hy brei nie uit nie.

Dis nie moeilik om hierdie tipe gesprekke as kakpraat af te maak en dit bloot as vermaak te sien nie.

Hy vra of ons albei van Bellville kom.

Karl is vir ’n oomblik onkant gevang. "Hoe weet jy dit?"

Vroeër die dag is Karl effe ontsenu deur iemand wat op een van sy tweets reply het sonder dat hy hulle ge-tag het. Vir ’n ruk daarna lees hy deur sy tweet-geskiedenis om te kyk of daar iets is wat absoluut verdoemend is. Ek vra hom nie wat op sy Facebook­profiel onder “Religion” staan nie.

Hy beduie na die nommerplaat.

Ek sê ek is van Kuilsrivier.

"Nogal. Ek ken ’n onderwyseres wat by ’n hoërskool in Kuilsrivier skoolgehou het."

Daar is net een hoërskool in Kuilsrivier, en ek was daar. Nóú sou hy homself heeltemal blootstel.

"Wat is haar naam?"

"R.....”

Ek het by haar klas gehad vir twee jaar. Hy gaan voort deur haar beskryf. Sy akkuraatheid laat dit amper voel of sy langs ons staan. Die hele gesprek moet nou van voor af verwerk word.

Dit is verkeerd om aannames te maak. Veral in Orania.

Die seun se oë volg met geesdrif die beweging op die pool-tafel. Hy dra ’n driekwartbroek van denim en ’n T­hemp wat effens te groot is. Wit verfspatsels oortrek nie net sy klere nie, maar ook sy arms en sy bene. Sy hare is kort en kom blond voor – “kom voor”, want sy vel is donker gebrand deur die son. Sy gesig lyk ouer as wat die liggaamsvorm verklap hy is – ’n jong tiener. Hy beantwoord vrae kortaf sonder om op te kyk.

"Is jy nie ’n groot danser nie? Lyk my die mense hier weet nogal hoe."

"Nee."

"Bly jy in Orania?"

"Ja."

Effe uitasem keer ek terug en gaan sit in die metaal-kroegstoel. Ek neem nog ’n sluk brandewyn en Coke met die wete dat niemand my daaroor sal veroordeel nie. Daarsonder sou ek dit nooit op die dansbaan gewaag het nie, en nou geniet ek die sokkie-onderrig wat ek ontvang by ’n aanvallige leermeester.

Ek kyk op my horlosie. 23h59. Ek het ’n lang, ongemaklike aand verwag. Na ’n paar besoeke aan die kroeg en die gedraaiery op die dansbaan het ek vergeet hoe ek veronderstel is om die aand te ervaar.

My sak vibreer. Op ’n WhatsApp­groep: "Mandela is dood." Ek wys vir Karl. Hy pluk sy foon uit en gaan sit buite. Ek volg. Hy is stil. Rook nie eens nie. Die Oraniërs kom sit by ons.

"Nou gaan die joernaliste weer hiernatoe stroom."

Ek verstaan vir ’n oomblik nie wat sy bedoel nie.

"Toe Mandela so siek was, het daar ’n magdom joernaliste hierheen gekom om te hoor wat ons daarvan dink."

Later sê haar suster: "Dit is dan nou seker nog ’n vakansiedag vir Suid-Afrika."

Karl vererg hom en gaan staan eenkant. Hy bel iemand. Die ander kyk my vraend aan, maar ek antwoord met die ophaal van my skouers. ’n Rukkie later storm Karl terug, diktafoon in die hand. Ek het nie geweet hy het dit saamgebring nie.

"Hoe voel julle oor Mandela se dood?"

Dit klink meer na ’n stelling as ’n vraag wat by sy mond uitkom terwyl hy die diktafoon onder die naaste een se neus druk.

Sy gee ’n niksseggende antwoord, duidelik ontsteld deur die totale ommekeer in die Stellenbosser se gemoedstoestand. Die ander weerhou hulle daarvan om sy vraag te beantwoord.

Hy vaar die kroeg binne.

Is Karl regtig só dronk, wonder ek, maar bly sit. Niemand in die kroeg is heeltemal nugter nie, en daar moet nou maar gebeur wat ook al gebeur. Later het hy my vertel dat een van die ouens besig was om vir almal by die toonbank ’n ronde te koop. Karl vra hom toe of hy bewus is daarvan dat Mandela dood is.

“Maak dit twee rondes!” het hy toe blykbaar gelag.

Buite word die opmerking gemaak dat “mens seker vir altyd sal onthou waar jy was toe jy van Mandela se dood gehoor het”.

Sy kyk na my: "Nou sal jy onthou jy was in Orania."

"Ek sal onthou ek was in Orania, ongeag Mandela se dood."

Karl stap steeds met mening, maar nou nie meer na iemand toe nie. "Kom ons fokof,” sê hy in die verbygaan. Ek groet die ander en stap saam. Na ’n halfminuut se stap stroom ’n week se opgeboue obseniteite en lastering meteens uit.

Karl gaan sit op die stoep met ons tuiskoms. Ek gaan lê op my bed. ’n Vriend begin met my te praat oor Mandela, maar dit hou ons nie lank besig nie. Kort voor lank is ons besig met ’n ander onderwerp. Daar is ’n humoristiese boodskap? ek lag. Terselfdertyd steek Karl sy kop om die deur. Hy lyk gewalg.

"Nag."

 

Soggens loop ek na die Afsaal Kafee terwyl ek op een van die buitenste bankies in die oggendson gaan sit. Van die stoep kyk jy uit op die R369 en die kruising by die ingang van die dorp.

Ek wonder of die joernaliste wat die dorp as "sieldodend vervelig" beskryf het, dieselfde as ek gesien het, en of hulle al ooit voorheen in die Noord-Kaap was. Vir so ’n klein Noord­Kaapse dorp vind ek die strate merkwaardig bedrywig – boonop in die skoolvakansie.

Nog ’n ervaring van my wat nie strook met dit wat ek in die media gelees het nie, is die vriendelikheid van die mense.

Hier is baie mense wat wegkyk of afkyk as ek by hulle verby stap. Ek het aanvanklik gedink dit is dalk die voorkoms van Karl wat mense ongemaklik maak, maar ek het dit ook ervaar wanneer ek alleen in die strate geloop het. Dalk moet ek meer spesifiek wees: dit is hoofsaaklik die vroue wat ons nie wil groet nie. Wat die rede kan wees, is aan my onbekend.

Terwyl ek na die kafee loop, wonder ek wat nóg kan gebeur in ’n week wat reeds absurd is volgens die meeste mense se standaarde. Nelson Mandela is gisteraand oorlede. Die sosiale media skree dit sonder rus. Ek wag nog om te sien of die dagblaaie betyds stories daaroor kon plaas.

Karl slaap nog. Hy sal seker eers rondom 11h00 ontwaak. Ek het geen idee wat om vandag van hom te verwag nie. Hy was gisteraand ontsteld, maar ek weet nie of dit net alkohol was wat hom tot melodrama gedryf het nie. Hy wou so gou moontlik "van hierdie fokken plek af wegkom".

Ons het nie gisteraand ’n videodagboekinskrywing gemaak nie.

Ek koop die Volksblad en is tegelyk bly en hartseer oor die feit dat Mandela nie op die voorblad is nie. Ek noem aan die man agter die toonbank dat dit vreemd is dat Mandela nie in die koerant is nie.

“Hulle het seker te laat daarvan gehoor het en toe is die koerant klaar gemaak.”

"Maar," sê hy terloops, “gelukkig is dit nou nie eintlik vir ons ‘nuus’ nie."

Terug by die huis sit en lees ek die hele koerant deur. Later kom Karl te voorskyn. Hy vra waar ek die koerant gekry het en wat hulle oor Mandela sê.

"Wat?! Hulle het nie vir Mandela op die voorblad nie? Al die Kaapse koerante se voorblaaie is vol daarvan!"

Hy wil Hopetown toe ry om ’n Mail & Guardian te koop.

Dit was toe nie dronkenskap gisteraand nie.

In die huis waar ons bly, staan daar ’n groot radio in die kombuis. Ek kan nie onthou op watter stasie dit ingestel was toe ons hier aangekom het nie, maar ons het vir ’n week nooit iets anders as Radio Orania geluister nie. Terwyl ons herstel het van ons sonbelope uitstappie deur die middag te lê en slaap, het Carel Boshoff gebel om te vra of ons nie daardie aand op sy radioprogram Wat lees jy? wil verskyn nie. Voor ons met hom kontak gemaak het, het ons vir Nikke en Joanelle ontmoet? hulle sou vir ’n gedeelte van die program aanbieders wees in Carel se plek. Ons is terug na die huis voor ons sewe-uur by die stasie moes aanmeld.

*

Ons wag vir Wynand Boshoff op die stoep van die Afsaal Kafee. Ons het gehoor hy is ’n interessante ou om mee te gesels. Blykbaar die enigste man met lang hare in Orania, en iemand wat reguit praat. Hy kom om die draai op ’n Vuka. Hy het ’n klein dogtertjie by hom, sy jongste van vyf kinders.

Dit is moeilik om te sien Wynand is Carel se broer. Wynand is fris gebou. Sy skouerlengte blonde hare en innemende glimlag skep dadelik ’n gemoedelike atmosfeer. Buiten die skerp oë is daar geen ander ooreenkomste in hul voorkoms nie.

*

Carel Boshoff bly net buite die dorp. Ons sit op die grasperk voor hulle huis. Daar loop ’n beeskalf tussen die tafel waar ons sit en die huis verby. ’n Jong seun met blonde hare kom sit ook by ons. Dit duidelik ’n geen wat in die manlike Boshoff­bloedlyn oorgedra word. Sy belangstelling in ons gesprek oor die toekoms van die Afrikaner is egter van korte duur. Hy gaan haal sy windbuks en skiet ’n paar skote na die blou-ape wat in die dennebome rondspring. Ons het na Carel toe gegaan vir ’n onderhoud – wat ons gekry het, was ’n lesing wat my met tye so uit my diepte laat voel het dat ek op die ou end nie eens ’n ordentlike vraag aan hom kon stel nie.

*

Artikels oor Orania is algemeen. Ten spyte van verskeie joernaliste se probeerslae om die plek in woorde te skets kon ek steeds nooit ’n beeld daarvan in my kop ontwikkel nie. Is dit ’n klomp militante wat skote van hul stoepe vuur op onwelkome gaste? Is dit vol ou, vriendelike ooms en tannies wat vir jou melktert en koeksisters aanbied as jy in die straat verbystap? Het dit ’n vlugtelingdorp geword vir Afrikaanssprekendes wat genoeg gehad het van die nuwe Suid­Afrika? So toe gaan kyk ons. Vir ’n week bly ons in ’n geleende huis reg langs Orania Volkskool. Die skool het egter al op 26 November gesluit. Een van ons doelwitte is om met die jongmense van die dorp te gesels. Mense wat hier gebore en getoë is, maar ook mense wat eers onlangs hier aangekom het.

Orania was aanvanklik ’n "dorp" van die Departement van Waterwese wat ’n kanaal in die Oranjerivier gebou het. Die dorp het uit drie dele bestaan: ’n werksarea, ’n deel waar die wit mense gebly het, en ’n deel waar die anderskleuriges gebly het. Die werksarea, wat onder ander bestaan het uit ’n klomp groot skure, is vandag die dorp se nywerheidsgebied. Vervaardiging van boumateriaal, ’n aluminiumfabriek, ens.

Die sosiale grens tussen die twee woongebiede bestaan steeds – die arm maar opgevoede blankes bly aan die een kant van die bult. Aan die ander kant bly die blankes wat niks het nie. Wat desperaat is.

Die meeste inwoners van Orania is arm. Daar is uiteraard uitsonderings, maar die meerderheid lyk of hulle sukkel. (Hierdie waarneming word gemaak deur dit te vergelyk met my agtergrond in die Wes-Kaap, in Stellenbosch. ’n Boer van Barkly-Wes het aan my gesê dat vergeleke met die omliggende dorpe soos Petrusville en Philipstown, Orania vooruitstrewend is.)

Ons kan egter nie voorhou ons het naatloos by die omgewing ingeskakel en skryf vanuit daardie ervaring nie. Voor ons aankoms het ons reeds met Carel Boshoff gepraat. Hy is die eerste persoon met wie ons gesels het.

*

Net voor sonsondergang stap ons teen die koppie uit waar ’n klomp bronsbeelde oor die dorp en die Oranjerivier waak. Paul Kruger, DF Malan, Verwoerd.

Ons kry ook die kans om onsself te oriënteer.

*

Carel Boshoff lyk soos ’n akademikus. Maer; skerp, intelligente oë wat agter ’n bril sit maar wat mens vermoed nie veel mis nie. Spandeer nie ure aan sy voorkoms nie. In sy kantoor staan ’n indrukwekkende boekrak. Filosofie, argitektuur, ekonomie, volkekunde ...

Vertel van die twee skole op Orania: Volkskool en CVO­skool. Volkskool is gestig deur sy ouma en implementeer alternatiewe vorme van opvoeding. Daar word gefokus op individuele aandag aan leerders en leerders gebruik rekenaars om self kennis in te win om sodoende verantwoordelikheid vir hul eie opvoeding te aanvaar. Geen skoolklere nie. ‘n Nuwe kurrikulumstelsel wat gevolg word (AISOK of so iets). Volkskool bied ook langafstand­onderrig aan.

CVO­skool is later gestig omdat baie inwoners hul kinders aan ’n meer tradisionele opvoeding wil blootstel: klaskamers, onderwysers wat voor staan, skoolklere ens. Hulle maak gebruik van die IEB­kurrikulum. Die skool het koshuise en ouers van naburige dorpe en plase in die omtrek stuur ook hul kinders hierheen.

 

Ek dink hulle sukkel om ons te peil. Nikke stel aktiwiteite voor soos white-water rafting, koppies uitklim en in stropers gaan ry. Ek kan nie aan veel ander goed dink waarvan Karl verder sal wil wegbly nie.

Daar bestaan ’n persepsie dat die mense van Orania afgesonder is en aan niks buiten hul eie mense en plattelandse lewens blootgestel word nie. Nikke vertel ons egter van die magdom joernaliste wat Orania gereeld besoek: daar is omtrent nooit nié ’n joernalis of televisiespan hier nie. Dit verbaas ons ook nie eintlik nie? met ons aankoms het Jean Strydom voorgestel ons kry akkreditasie as joernaliste sodat ek met meer vrymoedigheid in die strate kan rondloop met kameras en dies meer. Ons vul ’n vorm in en binne ’n halfuur het ons ’n getekende brief van een van die stadsraadslede en ’n persoonlike identifiseringskaart. By die stadsraadkantore vertel Schalk Albertyn ons dat die laaste persoon vir wie hy akkreditasie gegee het, Jeannie D van Top Billing was. Dit was die vorige naweek.

Hulle hou ook die media fyn dop om te sien wat daar oor die dorp geskryf word. Tot op hede het hulle egter nog geen hofsaak teen ’n publikasie aanhangig gemaak nie. Die swakste joernalistiek ooit wat oor Orania gehandel het, was ’n paar jaar gelede deur ’n groep joernaliste van Vice, sê Albertyn.

Ek proes amper toe ek dit hoor. Op pad hiernatoe het Karl my vertel hoe hy graag na sy studies ’n internskap by Vice sal wil doen, en dat hy graag hierdie besoek aan Orania wil doen soos wat ’n Vice­joernalis dit sou doen.

Vroeër die dag het ons ’n hele ent in die warm son gestap na Aan de Oewer om te kyk hoe lyk die toeriste wat Orania besoek. Onderweg soontoe het Karl al sy lot betreur: ons sou die hele pad moes terugstap ook. As ’n grap stel ek voor ons moet duimgooi. Terwyl ek die stap nie noodwendig onaangenaam vind nie, is Karl redelik gatvol en toe die volgende bakkie aankom, steek hy sy duim in die lug en plak ’n glimlag op sy gesig. Die oom kyk hom in die oë en lag. Belangriker: hy lag terwyl hy verbyry en al wat Karl ontvang vir sy nederige versoek is ’n stofwolk. Stof wat gaan sit op sy lang hare, sy sonbril, sy stywe jeans en sy wit hemp waarop staan "soutie".

*

Enige besoeker aan Orania wat mediadekking van die dorp gevolg het, word gekonfronteer deur die verskille in die beeld wat hy in sy kop gevorm het en die dorp self.

Daar is ’n paar algemene persepsies waarvan die teendeel waar is. Mens kan byvoorbeeld vanweë die media dink dat inwoners van Orania almal dieselfde dink en dieselfde ideale nastreef. In my ervaring is dit nie die geval nie. Daar is die dorpsraad en die raad van die Orania Beweging wat teorieë en ideale probeer realiseer. Dit sê ek nadat ek met Carel Boshoff gepraat het, met die inwoners gepraat het en die direksievoorsitter se rubriek in die Orania Staatskoerant gelees het. Dan is daar diegene wat hiernatoe kom bloot omdat hulle nie swart mense wil sien nie en wil wegkom van die veiligheidsrisiko wat hulle met die teenwoordigheid van anderskleuriges assosieer. Daar is ook vlugtelingmense met verslawingsprobleme wat hier wil rehabiliteer of werkloses wat desperaat is vir werk.

*

Karl trek die BMW uit onder die afdak, onbewus (klaarblyklik) van die wasgoedpaal wat agter hom op die grasperk ingespring het. Die resultaat is twee netjiese groen strepe op die linkeragterkant van die swart X3. Alhoewel ek hom jammer kry – hy het net voor ons vertrek het, sy eie kar ook ernstig beskadig en het baie sleg gevoel oor die onkoste wat dit vir sy ouers beteken – kon ek nie anders as om ’n bietjie humor in die situasie te sien nie. Ons het dan al meer as 1 200 km gery, onder andere in die besigste strate in Kimberley, sonder enige insident. Om in die agterplaas van ’n huis, in die middel van ’n stil dorp, die kar te beskadig stel inderdaad die noodlot se wreedheid (en sin vir humor) ten toon.

 

Hierdie bydrae vorm deel van samewerking tussen LitNet en Universiteit Stellenbosch se Departement Joernalistiek gedurende 2014.  

 


 

Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet’s free weekly newsletter.

  • 1

Kommentaar

  • Coenraad Meyer
    Dankie vir die paragrawe. Ek soek oorals gebalanseerde menings oor Orania en ek kry so ver meestens het mense wat heeltemal vir die beweging is en die min daarteen is meestal baie vuil en kinderagtig in hul kritiek oor die plek/beweging.
     
    So ver sien ek 'n paar hoës wat die plek bestuur het 'n besigheidsmodel wat vir hulle lewenswyse en baie  ekstra inkomste skep deur eiendomme te verkoop en herverkoop. Hierdie is boonop eenvodig om aan die gang te hou deur die misbruik van verskrikte en gebreekte mense wat slagoffers is van die "Nuwe Suid-Afrika" wat werklik en eerlik van SA wil ontsnap. 
     
    Ek het gelees hoe ongelukkig mense is maar die bestuurpaneel doen net soos hulle will. Hulle weet wat en wie tekort op die dorp is en laat mense toe om te bly as hulle tegnologie of spesiale kunde van hierdie mense kan uittap. Dan waneer hulle gekry het wat hulle soek los hulle hierdie mense "in die verleë" van die onderling gemeenskap wat verder geen sê het in die toekoms en vooruitgaan van die beweging nie.
     
    Die fantastiese mense wat op die groot trek gegaan het, wou ook van reëls en regulasies en kultuur en tegnologie wegkom. In gevolg was daar 'n volk van nageslagte wat gelyk mededingers as arbeid teen swart mense moes wees. Hulle was uit 'n alleen landbou gebaseerde "volk" geforseer om op die myne werk te soek want "die land" het nie genoeg vir hulle gegee nie. Hulle was sonder bekwaamhede en nie geskik om soos ander wit mense uit Europa in hoër posisies te werk nie. Nou weer wil hierdie nasgeslagte weer alleen staan en uitsluitend wees. Dit lyk vir my dat hierdie mense dink dat hul op beginsels alleen kan lewe. Die Voortrekkers het ook tot hulle nadeel so gedink. Wou die vroue en die kinders werklik so lewe? Het hulle 'n kans gehad om  hul mening te gee? Wil kinders werklik in Orania grootword? Wil Christen-vroue wie onder hul mans se besluite leef werklik so lewe? Die storie van selfbeskikking is 'n gerieflike poltiese plooi om mense te eksploiteer.
     
    Wel ek sien daarna uit om meer oor hierdie beweging te leer. Ek erken ek was nog nooit daar nie maar ek het met twee mense gepraat wat daar bly en gebly het.Ek is trots oor my Afrikaanse agtergrond en wil hierdie beweging en dinkwyse beter probeer verstaan.Verskoon asseblief vir my skrif, ek het werklik, teen my nadeel, amper geen Afrikaans geskryf (getik) vir die laaste vyf en twintig jaar.
     
    Die Uwe
    Coenraad Meyer
  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top