Wellington Produksiehuis se The Wizard op Oz

  • 0

Johann Enslin skep. Nie soos pap-eters nie. Hy skep iets uit niks uit. En hy het al telkemale skoonheid kon skep waar daar net onderdele en potensiaal was. En benewens wat hy al geskep het, pak hy toe die bykans onmoontlike aan, so vier produksies gelede.

Johann Enslin is ‘n verruklike musikant. Hy speel in die Wellington-Noord-kerk, nie net as orrelis nie, ook in sy eie produksies. Een so ‘n optrede was toe hy saam met oa die ster van Phantom, Jonathan Roxmouth, en die ander genieë met wie hy graag saamspan, nl Winand Grundling en Wilken Calitz, die orrel laat dreun het soos min vantevore. Hy ken orrel, en daai orrel veral.

Blyspele word opgevoer deur reusagtig entrepreneuriese skole, en deur ryk impresarios, wat daardeur nog ryker word. Soms is dit dapper werk deur teaters. Niemand het dit tans maklik nie. En jy ry stad toe of Kampsbaai toe om dit te sien.

Enslin het besluit sy pêrels gooi hy in Wellington, Kaap. En na Joseph and his Amazing Technicolour Dreamcoat, The Sound of Music en Grease het hy 10–13 Oktober 2013 The Wizard of Oz by Bergkroon aangebied. En jy en jou kind verdien hierdie “treat” wat hy tot op jou voorstoep bring. Diegene wat dit gemis het, kan nou eers weer een optrede by die Suidoosterfees bywoon in 2014.

En as die ondersteuning in Wellington nie goed was nie, sal mens net moet kyk of hy weer hierdie diens, en risiko, aanpak. En dis nie net Wellingtonners wat die produksie moes bygewoon het nie.

Die produksie is nie foutloos nie. Enkele basiese produksiefoute kan uitgeskakel word. Maar soos in die verlede is die musiekaanbieding beeldskoon. In Lucas Heinen het Enslin ‘n kwaliteit-musiekregisseur. Waar hulle in die verlede elke keer groot, moeilik hanteerbare stelle gebruik het, steun hierdie produksie op slimmer, ligter, maar effektiewe stelle, ontwerp deur Ronmari van Tonder. Danse is gechoreografeer deur Faye Dubinski, en is verfrissend.

Die beligting is ook ondernemend.

Die Wellington Produksiehuis maak gebruik van ‘n mengsel van amateurs en professionele kunstenaars. Oa was Danie Niehaus in Joseph, Cito in Grease, maar vir jou sterre hoef jy niks verder te soek as die sterre van vanjaar se produksie, Marlie Kock, André Terblanche, Ilse-Lee van Niekerk, en nog ‘n paar name nie.

Die koor is onderbenut, en onderbelig, die orkes se speelarea sal in ‘n teater soos Kunstekaap baie beter benut word - ja, soos met enkele basiese foute, is als hier nie perfek nie – grotendeels visuele probleme. Maar elke gehoorlid sal Marlie Kock waardeer, wat sekerlik enige blyspel, soos Phantom of the Opera, op enige vlak sal verryk. Dis die geval met – byna sonder uitsondering – die karakters van The Wizard of Oz. Maar André Terblanche as Tinman is eenvoudig briljant. Die meesterlike skeppinkie is ‘n hoogtepunt vir die sanger-akteur en die regisseur, en ‘n vreugde wat op sy eie die sien van die blyspel die moeite werd maak.

Vind die Wellington Produksiehuis; moenie verwag hulle moet jou vind nie. Deur hulle toedoen is die afgelope paar jaar die bekendste blyspele in die wêreld aangebied, net hier – om die draai, op ons voorstoep. Moenie dit misloop nie. Voor jy jou volgende drie miljoen of dertig miljoen skenk aan die plaaslike Gemeenskapsforum, of belê, knyp ietsie vir hulle af. Hulle dra baie meer by as wat hulle terugkry.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top