Sondag op 'n voëlplaas deur Johann Nell

  • 1

Boektitel: Sondag op 'n voëlplaas
Skrywer: Johann Nell
Uitgewer: NB-Uitgewers
ISBN: 9780624064831

“Die soektog na myself in my eie ongetemde wêreld.” Die anonieme verteller in die debuutroman Sondag op ‘n voëlplaas keer terug na sy geboorteplaas om homself “uit te sorteer” na ‘n insident tussen hom en twee skoolseuns in sy klas.

Hy het as enkelkind op ‘n volstruisplaas naby Oudtshoorn grootgeword. Hy was ‘n eenkantseuntjie wat graag lees en pouses liewers die juffrou gehelp het om leesboekies reg te pak as om saam met die ander seuns by die rivier speel – hy het ook gegril vir die “reuk van hulle swetende lywe”.

By die skool maak hy maatjies met die bure se dogtertjie, Andri. Sy wys hom ‘n misterie in die Kangogrotte wat hom diep beïnvloed. Hy koppel dit direk aan Andri en idealiseer haar tot in sy volwasse lewe as uitheems en wonderlik geheimsinnig.

Sy ervaring van die wêreld brei uit wanneer sy pa en die buurman, John Bruwer, sakevennote word om volstruisvere aan die Moulin Rouge in Parys te verskaf. Hy neem hom voor om eendag self na die vere op die dansende meisies se koppe te gaan kyk.

John Bruwer se seun en die verteller se pa sterf binne ‘n maand van mekaar. Die verteller se tannie Hettie en haar eenoogseun Dirk kom bly ook op die plaas, terwyl sy ma al hoe vreemder begin optree. Dirk is ook die rede dat hy sy hoërskooljare in die Paarl deurbring. Hier en in die jare wat volg, maak hy homself los van die plaas, tannie Hettie en Dirk, en ook John Bruwer, wat die plaas na sy ma se dood huur.

Hy studeer, ontmoet sy toekomstige vrou Marion, en volg sy droom om Europa te besoek. Dis egter vir hom ‘n geweldige teleurstelling, en hy ervaar die Moulin Rouge as die “vieslike kroeg” wat sy ma hom gewaarsku het dat dit is. Hy sukkel ook met die kennis dat sy pa ‘n bordeel besoek het toe hy vir sake in die Kaap was. Self sien hy nie kans daarvoor nie – dit maak hom trouens fisies naar (iets wat regdeur die boek gebeur as hy nie in beheer van ‘n situasie voel nie).

Na sy diensplig trou hy met Marion en begin skoolhou.

Sewe jaar later is hy op die oog af gelukkig getroud. Hy sukkel egter om in ‘n macho omgewing te funksioneer, en sy twee vriende en hulle gruwelike uitstappie walg hom. Die voorval met die skoolseuns krap hom erg om, en dit, saam met ‘n visioen wat hy in die see ervaar, dwing hom terug plaas toe, alleen. Die situasies wat hy daar aantref, is bepalend vir sy pad vorentoe.

Die vertellings van kinderdae op die plaas en die kinders se wilde uitstappies is oortuigend en vaardig geskryf. Daar is goeie beskrywings, soos die seun se voorstelling van ‘n toergroep by ‘n volstruisplaas en die besoek van die Franse vere-inspekteur. Ook sy besoeke aan die Bruwers se pragwoning en hoe dit sy horisonne verbreed, word goed geskets.

Die karakter se volwasse lewe, daarenteen, kom naïef en onoortuigend oor. Die kinders in sy (standerd 9-) klas raak byvoorbeeld aangedaan terwyl hy vir hulle uit ‘n boek voorlees. Hoewel hierdie deel in 1993 afspeel, is daar bitter min verwysings na die politieke situasie, en dan bloot in gesprekke rondom die braaivleisvuur. Onwaarskynlikhede en teenstrydighede dwarsboom die verdere verloop van die verhaal, en die leser kan skaars glo watter omwentelinge die hoofkarakter in die laaste klompie blaaie van die boek beleef. So lyk dit byvoorbeeld of hy sy vrou kwyt is, terwyl niks in die verhaal die leser hierop voorberei nie.

Ten spyte van hierdie kritiek lees die boek gemaklik en kry die skrywer dit reg om werklik treffende stukke teks daar te stel. Lesers kan uitsien na verdere pogings deur Nell.

 


 

Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet’s free weekly newsletter.

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top