Openingsrede by die bekendstelling van 'n vertaling van Dante se Inferno in Afrikaans

  • 0

Titel: Dante se mistieke reis. Eerste tog: Inferno. Ingelei, vertaal, toegelig, vertolk
Skrywer: Prof JS (Kobus) Krüger
Uitgewer: Sentrum vir Mistiek
ISBN: 9780621416022

Openingsrede by die bekendstelling van ‘n vertaling van Dante se Inferno in Afrikaans asook ‘n reeks illustrasies van die mistieke reis deur Inferno: Hennie Smith het op 19 0ktober 2013 ‘n bekendstelling van Kobus se Dante-vertaling, gepaard met ‘n uitstalling van Mimi van der Merwe se illustrasies vir die boek, geopen. Lees sy volledige toespraak hier onder.

 



Saterdag 19 Oktober 2013
Art Lovers 1932, Waterkloof, Pretoria

Vriende

‘n Sameloop van omstandighede het daartoe gelei dat ek vandag ‘n inleidende woord hier gaan spreek.

Because the object of attention is a translation of Dante’s Inferno into Afrikaans, I tend to assume that most of you are fairly fluent in Afrikaans and I shall use that language. If this is a problem to anyone, please indicate the fact and I shall meet with you afterwards for a summary of my thoughts.

Wanneer mens na ‘n kunsuitstalling in ‘n galery gaan, is dit vir die visuele ervaring. Maar vandag het ons ‘n kwadratiese belewenis: ons is ook hier vir die bekendstelling van ‘n spesiale boek.

Ek begin met die visuele kuns.

Ek het die voordeel dat ek nie ‘n formele kunsopvoeding gehad het nie. Ek kan dus by elke uitstalling instap met maagdelike oë, maar wawyd oop.

En telkens is my vraag: Wat is kuns? Ek hoop dan dat die kunstenaar deur sy of haar werk vir my sal help om die begrip te definieer. En verder, as opvolgende vraag: Wat is goeie kuns?

Eerstens moet die werk darem mens se aandag trek; jou laat vassteek en reaksie ontlok. Daar moet ‘n wow-gevoel ontstaan.

Daar is groot klem op vernuwing: nuwe media, nuwe idees, nuwe uitdrukkingswyses. Maar nuutheid alleen is nie voldoende nie: daar moet ook visuele, intellektuele inhoud wees. Ek merk ‘n deurlopende spanning tussen vernuwing en inhoud.

Wanneer mens voor ‘n Monet staan, of ‘n Van Gogh, of ‘n beeld van Rodin, dan weet jy: dit is kuns.

Ek was by toe ‘n volwasse man van die Hoëveld, met nie baie kunsblootstelling nie, vir die eerste keer in sy lewe in die Louvre, Parys, voor die La Joconde, Mona Lisa, te staan kom, en sy oë het geswem in trane.

Dit is asof die kunstenaar, soos deur ‘n waas, ‘n dieper werklikheid raaksien, wat dan ook die waarnemer aangryp en roer.
Daar word gesê dat die toets van die tyd die kunswerke evalueer. Maar wat is die eienskap wat dit laat werk?

Ek wil ‘n idee op julle toets: miskien moet ons Plato se Ideëleer ernstig opneem. (In Engels: Theory of Forms.) Plato het geworstel daarmee dat hierdie sintuiglike wêreld waarin ons leef, ‘n wêreld is van stryd en beweging en verandering; onstandvastigheid. (Gebroke wêreld; soos in sommige kringe na verwys.) Daarteenoor is ware kennis, en skoonheid en waarheid, absoluut en blywend. Om dit te kan akkommodeer moet daar ‘n ideale domein of dimensie wees waar die ware werklikheid bestaan. Ons sintuiglike wêreld is ‘n afskaduwing van die ideale. Dáár bestaan die ideale perd, of boom, byvoorbeeld; hier het ons namaaksels, soos in die filosofielesings verduidelik word. Maar dit gaan oor meer as objekte: veral oor idees, en poësie, en kunswerke.

Ek wil aan die hand doen dat die waardige kunstenaar, onder inspirasie van die Muse, in die daarstel van sy of haar kunswerk, na die ideale weergawe streef.

En as hy of sy die ideale weergawe tref, is daar ‘n resonansie met alle sensitiewe waarnemers oor die wêreld en oor die eeue; dit eggo as’t ware deur die kosmos.

Wanneer mens voor ‘n Rodin-beeld in sy huis-museum in Parys staan, ervaar jy die vreemde gevoel dat hy die sensuele, emosiebelaaide figuur uit die marmer ontsluit; asof dit reeds daarin verskuil was.

Ek wil nou verwys na Dante Alighieri. Is dit nie verbasend nie dat ‘ n persoon in Florence, rondom die jare 1300, in die Middeleeue, goed voor die Renaissance, ‘n letterkundige werk kon skep waarmee hy een weergawe van Italiaans vestig as die taal van die land en taal van letterkunde. Hierdie Commedia, later genoem La Divina Commedia, (Goddelike Blyspel) in drie dele – Inferno (Onderwêreld), Purgatorio (Berg van Loutering), en Paradiso (Hemel) – is een enkele gedig van een honderd kanto’s (sange) met altesaam 14 233 versreëls. Dit begin: 

By die halfpad-merk van ons lewensreis
het ek my in ‘n donker woud bevind,
want ek het van die reguit pad afgedwaal. 

Dante het op negejarige leeftyd verlief geraak op Beatrice, ‘n meisie by wie hy nie regtig uitgekom het nie, maar wat hom gelei het. Sy word nou ‘n invloedryke karakter in sy gedig. Sy stuur Virgilius, die Romeinse digter van 1 400 jaar vroeër, om Dante uit die woud te begelei na die poort van die Onderwêreld, en daardeur. Toe Dante besef wie na hom kom, sê hy: 

Is u dan Virgilius, die bron van so ‘n groot rivier van taal? 

En Virgilius lei Dante dan deur Inferno, waar hulle vele mense ervaar in verskillende omstandighede en so kommentaar lewer op die lewe en die siening van godsdiens in instellings. Uiteindelik wanneer Dante in Paradiso ‘n visioen van God ervaar, sê hy: 

Van dié oomblik af was my sien
groter as wat taal kan toon! 

Sy belewenis gaan dus verby die grense van taal.

Alle boeke oor Europese kultuur verwys na Dante se skepping. Dit het operas geïnspireer (Puccini); instrumentele musiek (Franz Liszt); skilderkuns (William Blake); beeldhou (Rodin het ‘n massiewe beeld geskep om die Inferno uit te beeld, met onder andere die beroemde Denker); ‘n vertaling in 1945 deur Lozinsky word deur sommiges geag as die grootste poësie in Russies; daar is selfs neerslag in die virtuele vlak van rekenaarspeletjies. In die Romantiese periode is gepraat van die “oorspronklike genieë”: Homerus, Shakespeare en Dante.

Daar is eeue later ‘n eggo van die Beatrice-gedagte in Goethe se Faust wat eindig met die woorde: “Das Ewig Weibliche, zieht uns hinan!”

Ek wil nou my beskrywing oor die kunstenaar se uitreik na Plato se ideële wêreld ook van toepassing maak op die letterkunde. Ek meen Dante is geïnspireer deur die Muses en het met sy gedig oor die mistieke reis deur die lewe ‘n resonansie getref. Die impak daarvan het soos ‘n kultuur-tsoenami oor eeue en kontinente gerol, en danksy Kobus Krüger as leidingsbuis het dit nou hier in Afrikaans kom stol.

Muses ten spyt kom dit nie maklik nie. Dit het Kobus ses jaar se toegewyde werk gekos om die vertaling en die toeligting wat die boek behels, daar te stel. En as voorbereiding het hy ‘n leeftyd van studie en akademiese uitsette gehad in teologie, religie en mistiek, wat ‘n doktorsgraad in Amsterdam insluit.

(Mistiek is ‘n veralgemening van religie en verwys na die mens se soeke na die diepste waarheid en werklikheid van bestaan, dikwels “God” genoem.)

Kobus, om vir jou geluk te sê met jou prestasie, en dankie, is te maklik en goedkoop. Kom ek laat Dante oor jou praat, waar hy op die rand van Limbus staan en kyk na al die mense wat daar in afwagting huiwer:  

Daar was mense met oë stil en ernstig
uit wie se voorkoms groot gesag gestraal het
en wat min, en met sagte stem, gepraat het. 

Mimi: jy het die uitdaging aanvaar om ‘n visuele dimensie tot hierdie weergawe van Dante se Inferno toe te voeg.

Kunstenaars kies gewoonlik vir ‘n volgende fase in hul werk ‘n tema, en maak dan variasies daarop. Onlangs was daar byvoorbeeld ‘n uitstalling wat ek sou beskryf as oor die tekstuur van rotse. Soms is dit ekologie, of geweld. Hierdie stel werke van jou is nie om ‘n eenvoudige tema nie; jou werke hou verband, maar is ingesnoer deur die mistieke koord van Dante se gedig. Elke werk is individueel, maar adem die hele impak van Dante se poësie. Ek is verdwaal in die woud saam met Dante; ek staan verskrik voor die poort van die Onderwêreld; ek is klaar verlei deur die verleidelike vrou! En jy vermag dit met slegs swart strepe op wit papier!

Illustrasie deur: Mimi van der Merwe

Met hierdie prestasie sluit jy aan by die geledere van ‘n William Blake.

Dit kos jou óók ‘n loopbaan van voorbereiding. Jy het in die 1960’s twee jaar by die École des Beaux Arts in Parys studeer; jy het jou eie ateljee en kunsskool: Tait Modern; jy het talle solo-uitstallings gehad. Ek is trots om verskeie van jou werke in my versameling te hê, onder andere wat ek meen jou sterkste is en wat ek noem ‘n Suid-Afrikaanse Mona Lisa, met die sagste en subtielste enigmatiese glimlag! En wat vrou-wees uitstraal.

Maar hierdie reeks illustrasies van Dante se Inferno is jou magnum opus.

Shakespeare laat koning Henry V sy soldate toespreek voor die geveg om Agincourt teen ‘n oormag Franse. Hy sê: Eendag wanneer ons hierdie dag gedenk, sal julle jul hemde oopmaak en jul littekens wys en vir julle kleinkinders sê: ek was daar by Agincourt!

Mimi, ek sien oor so sestig jaar in ‘n gesprek in ‘n akademiese en intellektuele byeenkoms dat iemand vra: Ken jy Mimi van der Merwe? En die ander antwoord: Ja, sy het mos Dante geïllustreer!

Vriende, ervaar die vibrasies van Plato se vorme.

Dankie.

Hennie Smith

 


Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet’s free weekly newsletter.


  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top