’n Noodberaad teen ivoor se bloedspoor

  • 1

Die oneindige slagting van olifante het nou te ver gegaan. ’n Noodberaad van al 11 Afrika se olifantlande gaan op 2 Desember grootkoppe bymekaar sit. Deur Gerrit Rautenbach.

Oom olifant, jou reusedier
die mense lag vir hul plesier...

Van kleintyd ken ons almal dié lekker kleuterliedjie. Van kleintyd ken ons almal olifante. Die grootste wonderlikste landdier wat daar is. Eens was daar reusetroppe van hulle regoor Afrika. Mense praat van miljoene.

Vandag is daar so 400 000 oor. En elke uur val daar weer vier. Om grusaam uitmekaar gekap te word vir ivoor wat onwettig verhandel gaan word. Witgoud word bloedgeld. Dis hoekom daar nou ’n noodberaad in Botswana gaan plaasvind. Die ivoorstroping moet einde kry voor die olifante hul einde kry.

Die beraad sal bygewoon word deur staatshoofde, senior amptenare en nieregeringsorganisasies wat op hoogste vlak gaan poog om ondernemings van Afrikastate te kry om indringende stappe te neem teen ivoorstroping asook die betrokkenheid van verbruikerslande in Asië. Die doel is om ’n krisisplan te beraam, teikens daar te stel om stroping te voorkom en om korrupte netwerke en vervoerorganisasies lam te lê. Daar sal ook gepoog word om vas te stel wat die ekonomiese skade aan gemeenskappe is as gevolg van die destabilisering wat veroorsaak word deur die handeldryf tussen wapens en ivoor. Regstellende aksies daarteen sal ook ondersoek word.

’n Studie ter ondersteuning van die beraad gedoen deur die Conservation Action Trust (CAT) oor stropingwetgewing en strafprosesse in 11 Suider- en Sentraal-Afrika lande het bevind dat wetgewing teen stroping totaal verskil van land tot land wat dus ’n paradys skep vir die terroristegroepe en internasionale smokkelaars.

In party lande is die strawwe en strafprosesse goed ontwikkel en duidelik uiteengesit, maar in ander weer is daar soveel onduidelikheid, selfs ’n olifant kan daarin verdwyn. Kyk byvoorbeeld na China; dis die land waar jy die meeste gestroopte ivoor sal kry, maar vir stroping kry jy daar die doodstraf.  In Zimbabwe slaan hulle jou met $50-milljoen sou jy ’n olifant afmaak en in Suid-Afrika is dit  $500 000, in Tanzanië ’n heelwat kleinere $1 200 of 10 jaar en in Malawi is dit ’n grappige $25 en vyf jaar.

Omkopery en konkelkonneksies in sekere Afrikastate beteken enige strawwe kan omseil word en slapgatlande word hoofweë vir smokkel-ivoor. In baie lande is olifantstroping glad nie ’n ernstige oortreding nie. 

Elke land in die opname is ’n ondertekenaar van die Convention on International Trade in Endangered Species of Wild Flora and Fauna (CITES) waardeur hulle onderneem het om geskikte strawwe voor te hou as afskrikmiddel teen die handel van bedreigde wild, maar CAT se ondersoek het groot uiteenlopendheid in die strafmaatreëls aangaande stroping, handel en uitvoerwette blootgelê.

Die beraad in Botswana sal amptelik geopen word deur President Ian Kama, iemand wat al donkiejare toegewyd is aan omgewingsbewaring en Botswana se weermag amper uitsluitlik vir wildbeskerming gebruik. Hy word bygestaan deur die International Union for Conservation of Nature (IUCN).

In 1900 was daar sowat 10 miljoen olifante en vandag maar net sowat 400 000, maar die telling is meesal raaiskote en ’n Afrikawye lugtelling is kritiek. En hopelik iets wat by die beraad gereël gaan word.

Verder het baie van die olifantlande groot ivoorbanke en daar is al hoe meer druk op die wêreldhandel om dit op die mark te mag sit. Tog het wettige ivoorhandel in die verlede net slegte nuus vir die olifante beteken.

Vanaf 1969 tot 1989 het die wêreld se olifantbevolking gehalveer. Daarna het die VSA ’n verbod op ivoorinvoer geplaas en CITES het ivoorhandel verban. Agt jaar later en na druk deur Suid-Afrika, Zimbabwe, Namibië en Botswana is ’n eenmalige uitverkoop van hordes ivoor goedgekeur. In 2008 het dit vir die tweede keer gebeur.

’n Verslag, Making a Killing deur die International Fund for Animal Welfare (IFAW) asook Blood Ivory deur die Environmental Investigation Agency (EIA) het uitgewys watter tragedie hierdie verkope tot gevolg gehad het. Met die wettige blootstelling van ivoor het stroping soos ’n veldbrand handuit geruk. Ivoor was toe mos oral beskikbaar.

As daar nie nóú iets gedoen word nie, kan ons maar net die ou kleuterliedjie se woorde herskryf.

Oom olifant, jou reusedier
die mense huil in jou laaste uur...

 


 

Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet’s free weekly newsletter.

  • 1

Kommentaar

  • Kontant boete of tronkstraf? Dit is geen afskrikmiddel nie, want die ivoor word vir baie meer verkoop as wat die boete is!

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top