"As alles klaar is" deur Magda van der Merwe

  • 0

En as alles eendag dan klaar is
As die storms in ons bedaar het
As wat ons geglo het, dan waar is
En die leeu en die lam bymekaar is
Berei dan die feesmaal soos beloof is
In groen weivelde waar rus vir my hoof is

Gee my dan bruilof-wyn en Hexrivier-druiwe
En bakke vol bleekgroen Bybel-olywe
Granate en dadels en soet adamsvye
Hooglied se nardus en kalmoes en kruie
Bak vir my vetkoek met stroop soos my ma s’n
Kerf biltong en karootjops soos my pa s’n

As my naam al lankal graveer is
Ons die jabbokdriwwe al deur is
Die meetsnoere net reg geval het
Ons geweeg en die hele getal het
Lei my dan na daai waters waar rus is
Waar al die vure uiteindelik geblus is

Dan moet u asseblief vir my gee uit u oorvloed
Ryp voorvye en heuning en soetgoed
Langkloof se appels en Upington-rosyne
Laat my glas oorloop van Bolandse wyne
Gee vir my vetkoek met stroop soos my ma s’n
Kerf biltong en karootjops soos my pa s’n

As my regterhand lankal gevat is
Ons getel en deur Betesda se bad is
Die skietlood alreeds aangelê is
Die heel laaste woord lankal gesê is
As die goue strate reeds daar is
Die beloofde kind al gebaar is

Gee my dan bruilof-wyn en Hexrivier-druiwe
En bakke vol bybel-olywe
Granate en dadels en soet adamsvye
Hooglied se nardus en kalmoes en kruie
Bak vir my vetkoek met stroop soos my ma s’n
Kerf biltong en karootjops soos my pa s’n
 

lyricMap homeMap


Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief
. | Sign up for LitNet's free weekly newsletter.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top