Adel in Gent

  • 0

Op 16 Oktober het twee soorte adel onafhanklik van mekaar in Gent gaan kuier.

’n Mens kry drie soorte adel: die adel van bloed, die adel van geld en die adel van intellek. Met betrekking tot laasgenoemde groep het die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns (SAAWK) en die Koninklike Akademie vir Nederlandse Taal- en Letterkunde (KANTL) pas in Gent ’n samewerkingsooreenkoms onderteken. Dit is die tweede samewerkingsooreenkoms vanjaar tussen die SAAWK en ’n Akademie in België. Die eerste ooreenkoms is op 30 Mei onderteken tussen die SAAWK en die Koninklike Vlaamse Akademie van België vir Wetenskap en Kuns (KVAB) in Brussel. Terwyl die twee voorsitters, Wannie Carstens en Stefaan van den Bremt, die ooreenkoms geteken het, was die splinternuwe koning van België ook in Gent op besoek.

Daar is niks soos ’n breë trap uitgelê met dik, rooi tapyt en die vergesig van ’n halfoop, hoë dubbeldeur waardeur ’n massiewe kroonkandelaar sigbaar word om mens te oortuig van die teenwoordigheid van ’n soort adel in die Akademiegebou nie. Die prag wil-wil oorweldigend word, maar die swaar houtleuning van die trap moet die trilling in die hand absorbeer. Binne enkele treë wag die lede van KANTL met hulle silwer lapelspeldjies. Net onder die helfte van die dertig lede is in die vergaderkamer teenwoordig.

Die vergadering word geopen met die formele aankondiging dat Marcel Janssens op 11 Julie 2013 oorlede is. Hy is op 81-jarige leeftyd in Haasrode begrawe. Terwyl alle KANTL-lede in ’n stille eerbetoon om die vergadertafel staan, word sy akademiese geskiedenis voorgelees. Janssens was verbonde aan die Katolieke Universiteit in Leuven en was een van die mees invloedryke literêre kritici van Vlaandere ná die Tweede Wêreldoorlog. Hy was ’n Multatuli-kenner. Suid-Afrika het hy talle kere besoek. Hy was veral bekommerd oor die posisie van Afrikaans en die swart tale teenoor Engels in die nuwe demokratiese bedeling met die draai van die millennium. Janssens het ’n eredoktorsgraad van die Noordwes-Universiteit ontvang. 

Anders as in Brussel kry die lede van KANTL die kans om nuwe publikasies aan die res van die vergadering bekend te stel. Die literêre aard van hierdie Akademie word hiermee op ’n konkrete manier bevestig. Van die bekendstellings is Van den Bremt se digbundel Blauw Slik, die nuutste roman van Walter van den Broeck, Het alfabet van de stilte, en nog ’n onderdeel van Geschiedenis van de Nederlandse Literatuur wat voltooi is. Die hoofredaksie hiervan is Arie Jan Gelderblom van die Universiteit van Utrecht en Anne Marie Musschoot van die Universiteit van Gent.   

Tydens sy spreekbeurt het Carstens beklemtoon hoe belangrik hierdie ooreenkoms vir Afrikaans is. Ondanks die feit dat KANTL ’n klein aantal lede het in vergelyking met die SAAWK, hoop Carstens dat hierdie simboliese gebaar na agt jaar se gesprekke en onderhandelinge in die toekoms wel sal uitkristalliseer in die uitruil van kennis. Hy het weer soos die afgelope Meimaand in Brussel verwys na die twee tale se moeisame gepolitiseerde geskiedenisse: Vlaams teen Frans; Afrikaans teen Engels. As ’n ekstra belastende kersie op die koek moes Afrikaans ook die skuld vir apartheid help dra. Carstens het ook verwys na die nuutste statistiek uit die 2011-sensus in Suid-Afrika. Onder die 6,8 miljoen moedertaalsprekers van Afrikaans is meer as 55 persent nie wit nie. Dit is dus getalsgewys duidelik waar die toekoms van Afrikaans lê. Take waarmee Carstens hoop om ondersteuning by KANTL te kry, is ’n samewerking aan ’n digitale bibliografie van die Afrikaanse taalkunde. Vir laasgenoemde taak bestaan reeds 16 000 bronne. Verder moet taal- en letterkundiges in Nederland en Vlaandere met Suid-Afrikaanse kollegas begin saamwerk, omdat daar so baie by mekaar te leer is. ’n Navorsingsafdeling van KANTL is die Centrum voor Teksteditie en Bronnenstudie (CTB). Edward Vanhoutte van die CTB is reeds vroeër uitgenooi om die NWU in Potchefstroom te besoek. Met hierdie uitnodiging neem Carstens as veertigste voorsitter van die SAAWK die voortou in die uitruil van kennis.

Terwyl ander belangrike sake die voortgang van die vergadering in die Akademiegebou gevul het, het koning Filip en sy Matilde in die Sint Baafs-katedraal ’n begeleide toer gekry oor die skildery, Het Lam Gods (1432) van die Van Eyck-broers. Met hierdie eerste besoek as nuwe koninklike egpaar wou hulle simbolies bevestig hoe belangrik Oos-Vlaandere en die stad Gent vir die koningshuis is. Vanaf die Sint Baafs-katedraal het hulle te voet na ’n nabygeleë hotel toe gestap om kontak met die publiek te maak. Handdrukke. Ruikers uitdeel. ’n Vlugtige woord of twee. In die hotel het ’n middagete saam met twintig jong en nog onbekende kunstenaars van Oos-Vlaandere gewag.

Sal koning Filip se gebaar van welwillendheid lei tot goeie kuns by hierdie jongmense? En sal Carstens se ondertekende samewerkingsooreenkomste met KANTL en KVAB lei tot ’n groter vloei van kennis wedersyds? Hierdie tipe simboliese gebare neem tyd om te konkretiseer. Die antwoord in albei gevalle is voorlopig eintlik baie eenvoudig: Werp jou brood op die water …

Stefaans van den Bremt kondig die publikasie Geschiedenis van de Nederlandse Literatuur aan vroeër vanjaar in Gent.

Koffie vooraf

Wannie Carstens en Miriam van Hee, digteres van Gent en lid van KANTL

Om die vergadertafel van KANTL Van links na regs: Werner Waterschoot, Marcel de Smedt, Jozef van Loon, Willy Vandeweghe (sekretaris KANTL), Wannie Carstens (voorsitter SAAWK), Stefaan van den Brem (voorsitter KANTL)

Wannie Catstens onderteken die samewerkingsooreenkoms tussen die SAAWK en KANTL.

Lees ook oor 'n belangrike samewerkingsooreenkoms wat vroeër vanjaar tussen die Koninklike Vlaamse Akademie van België vir Wetenskap en Kuns (KVAB) en die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns (SAAWK) onderteken is.


Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet’s free weekly newsletter.

 


  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top