2012: High fives en snotklappe

  • 0

En so het 2012 so te sê sy agterwêreld gesien. Daar was hoogtepunte. En daar was laagtepunte. As ’n mens die high fives moet opweeg teen die snotklappe, is die twee waarskynlik in gelyke hoeveelhede uitgedeel. 

So, wie in die musiekwêreld het ons in 2012 aan die dood afgestaan? Heel onlangs het die jazz-legende Dave "Take Five" Brubeck die tydelike met die ewige verwissel. 

Ons het ook vanjaar ’n R&B-koebaai gehad vir Whitney (“I Will Alway Love You”) Houston, ’n disco-dankie gesê aan Donna (“Hot Stuff”) Summer en ’n finale blues-salvo afgevuur vir Etta (“I'd Rather Go Blind”) James.

Ander groot geeste wat tussen Januarie en nou ingespit is, sluit in Adam (MCA) Yauch van die Beastie Boys, Robin Gibb van die Bee Gees, Levon Helm van The Band, Greg Ham van Men at Work, Davy Jones van The Monkees en Donald Dunn van Booker T & the MGs en die Blues Brothers.

En buite die kollig van die verhoog het die swart gordyn gesak op die loopbane en lewens van rolspelers soos Billy Strange, medeskrywer van treffers soos Elvis Presley se "A Little Less Conversation" en Chubby Checker se "Limbo Rock", en Don Cornelius, skepper en aanbieder van die TV-program Soul Train, waar sterre soos Stevie Wonder, Luther Vandross, Aretha Franklin, James Brown, Michael Jackson en einste me Houston hul eerste blootstelling gekry het.

Maar genoeg van die doom en gloom. Kom ons kyk na die positiewes.

Baie senior (musiek-) burgers staan steeds sterk. Bob Dylan se Tempest, sy 35ste studio-album in ’n asembenewende loopbaan wat reeds in 1962 begin het, is in September vanjaar uitgereik. En, persoonlik gesproke: Dis werklik fantasties! Gevestigde musiektydskrifte soos Rolling Stone (vyf sterre), Spin (agt uit tien) en NME (sewe uit tien) stem saam.

Die Rolling Stones se nuuste, GRRR, ’n kompilasie-CD wat hulde bring aan die vyf dekades waarin dié groep reeds musiek maak, kry positiewe resensies en die groep toer tans die wêreld vol. GRRR hoort in enige Stones-liefhebber se Kerskous.

En dan is daar die 78-jarige Leonard Cohen se Old Ideas,sy twaalfde studio-album wat vanjaar uitgereik is. Uncut het dit vier uit vyf gegee, Spin se waardasie was agt uit tien en Rolling Stone se mense het gereken dis vier en ’n half uit vyf.  Selfs die hipsters van Pitchfork Media, tuiste van beterweterige resensente wat die hoofstroom haat en middelmatigheid en alternatiewes verafsku, het met ’n verbasend hoë 7,4 uit tien vorendag gekom.

So, wat van die nuwe generasie – wie moet in 2013 dopgehou word? Kom ek verskaf ’n kitsgids van vyf:

Alabama Shakes 

’n Viertallige rootsrock-groep van Alabama wat ’n skeut R&B uit die Motown-era en ’n skudseltjie funk inspan vir tunes wat in enige bui genotvol is om te luister, veral met die voorsanger, Brittany Howard, se lieflike stem. Shakes se debuut-CD, Boys & Girls, is in April vanjaar uitgereik en het drie nominasies vir aanstaande jaar se Grammy-toekennings ontvang. Die treffer “Hold On” behoort die prentjie te skets:

Howler

Die indie-rockers (ook surfrock/garage rock) van Minneapolis, Minnesota, bestaan  uit Jordan Gatesmith (leierkitaar en stem), Brent Mayes (slagwerk), Ian Nygaard (tweede kitaar) en Max Petrek (baskitaar). Die viertal is 2012 se reïnkarnasie van The Strokes. Hul debuut-CD, America Give Up, het postiewe resensies gekry, met veral NME (agt uit tien) wat die lofsange gelooi het. Gee gerus die snit “Back of Your Neck” ’n luister – dis mos musiek wat die dansvoete laat jeuk!

A$AP Rocky

Die nuutste raprebel uit New York se berugte Harlem-buurt is Rakim Mayers, beter bekend as A$AP Rocky. Ofskoon Rocky se debuut-album eers op 5 Januarie aanstaande jaar beskikbaar sal wees, kan jy maar solank die digitale snitte gaan aflaai wat hy as ’n mixtape onder die titel LiveLoveA$AP beskikbaar gestel het. Makliker noudat iTunes ook ’n plaaslike tak het! Resensente is gaande oor die kletsrymer se stadige tot midtempo-flow, en daar word groot dinge vir hom voorspel. Dis nou as hip hop jou hartsnare kielie. Die snit “Purple Swag” is reeds meer as 16 miljoen keer op You Tube afgelaai:

Milk Music

Hulle word beskou as die mees opwindende DIY-groep in Amerika in jare. En ek moet erken die viertal skop serious gat! Nie gedink ek sal weer ’n groep hoor wat my herinner aan Dinosaur Jr, Hüsker Dü, Meat Puppets en Black Flag nie! Dié is ’n kitaar-band wat ek beslis kan aanbeveel, veral as jy van “slacker” of “stoner” anthems hou, die soort wat in die 1990’s bogenoemde verwysings met oorgawe gemaak het. Ofskoon die groep – getrou aan die DIY-tradisie – al verskeie aanbiedinge van die hand gewys het om ’n platekontrak te onderteken, is ’n vollengte-langspeelplaat beskikbaar (per bestellling) en met ’n bietjie soek ook ’n handvol digitale snitte. Kom ons blaas eers gou die waks uit die ore met “Violence Now”:

Daughn Gibson

Sy eintlike naam is Josh Martin en hy was ’n rocker wat vir ekstra geld begin het om langpadvragmotors te bestuur. En dis op dié lang, eensame ritte waar hy country- en gospel-radiostasies begin luister het. Hy het van die tragiese stories wat so dikwels met dié genre se lirieke gepaardgaan, gehou … en toe sommer self begin eksperimenteer daarmee. Goeie besluit, blyk dit toe te wees. Sy debuut-album, All Hell, is vanjaar uitgereik en het die groot honde in die musiekjoernalistiek se aandag getrek. Spin (agt uit tien),  tinymixtapes (vier uit vyf), The Guardian (vier uit vyf) en veral Pitchfork Media (8.1 uit tien) het gerave daaroor. Luister maar na “In the Beginning” in die album – dis country met donker onderstrominge en ’n subtiele elektronika-hartklop:

Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet's free weekly newsletter.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top