19 Oktober 2018, que será, será

  • 1

Vanoggend kwart-voor-drie was ek en die huweliksmaat wakker; die een met ’n maagpyn en die ander met ’n dors. Nodeloos om te sê was dit ’n geknetter om weer aan die slaap te raak, maar uiteindelik en so skuins voor die Jan Frederik in die tuin begin gesels, het die diep slaap teruggekeer en was daar nagrus voorhande.

Sesuur. Ek ruik vars koffie en voel die warm lyfie langs my, wat nou reeds regop sit. Op die draadloos begin RSG se nuusberig en dié gryp beide my gehoorbuise vas: “’n Beoogde nuwe konsep-wapenwet het uitgelek …”

Die stuk nuwe nuus word selfs aan die einde van die berig herhaal en die gesprekke wat daarop volg, is krapperig verby.

Terwyl ek die bodem van my energievat skraap vir die laaste van my wakker-word-kragte, ruk ’n gevoel van angs en woede byna my harslag uit met “uMgungundlovu!” wat onverwags in my gedagtes opduik: “ons is op pad en word aan die hand, met ’n spies in die rug, na die hekke van hierdie generasie se uMgungundlovu toe gelei; die Wit Umfolozi is oorgesteek!”

Ek het nog nooit juis baie erg of sin aan die sogenaamde voorspellers van weleer gehad nie en het dus ook nog nie my tyd met die Siener en ander trawante se boeke of voorsprake verwyl nie, wat nog te sê van ernstig opneem.

Tot nou toe egter, want waar ek vanoggend in die beskutting van ’n steenmuurkamer lê en dink, terwyl die Suidewind die laaste van die na-winter se dooie blare uit die bome afruk en pluk, kan ek nóú reeds voorspel dat ons vanmiddag weer die blare-gemors sal moet skoonvee en die swembad se mandjie skoonmaak. Die voorspel-speletjie ruk toe sommer vinnig handuit toe RSG ’n ope uitnodiging aan elke luisteraar met ’n selfoon of iets slimmer rig om hul kommentaar oor die wapenwet met die res van “Suid-Afrika” te deel. Die aanloklikheid hierin word toe sommer ’n voorspel vir my eie voorspellings …

Die feit dat die Zoeloes Piet Retief se hele “uitreikgroep” doodgemaak het, is al amper ’n vergete geskiedkundige gebeurtenis, behalwe natuurlik vir die getroue verbondsgenote. Ons kan diep filosofies of polities oorsensitief of selfs emosioneel aangepor word met die herinnering aan hierdie gebeurtenis, maar dít is uiteraard nie my bedoeling of oogmerk nie; inteendeel, die werklike “nadoodse” waarde van hierdie strafregtelike optrede, is myns insiens die wyse waarop hulle vir Piet  eers die dood van sy seun en sy mense laat aanskou het, voordat hulle hom laaste doodgeslaan het!

Die geskiedkundiges vertel verder dat hul liggame op die KwaMatiwane-heuwel gelaat is om daar deur die aasvoëls en ander vleisvreters gevreet te word … net soos Dingaan met sy ander vyande gemaak het.

Is hierdie ’n opruiende geskiedenisles wat ek hier aanbied? Nee inderdaad nie, dit is egter wel die onderstel van my subjektiewe siening van sake in hierdie sukkelende republiek van ons en die voorspel vir my eie lewensuitkyk en toekomswaarde.          

Die dekades-oue kwessies en struwelinge oor werksgeleenthede en -bevordering, gelyke toelating tot tersiêre instellings, die behoud van taalregte en skooltoelating, die vars aanslag op grond- en wapenbesit en lyste en lyste ander sogenaamde “politieke vergrypings”, is frustrerende algemene kennis in sommige geselskappe en doelgerigte vergelding in ander; onderwerpe waaraan ek nie vandag wil torring nie.   

Ek is ’n Afrikaan met ’n ligte vel. Nie wit nie, nie bruin of enige donkerder skakering daarvan nie, net terloops: as kleur ’n klassifikasie is, dan bestaan daar geen egte wit- óf swartvel-mense nie.

Ek is ’n stemgeregtigde, belastingbetalende burger van Suid-Afrika. Ek het nie ’n Europese paspoort of naby-familie daar nie, ek het ook nie ’n buitelandse bankrekening nie en ek leef in vrede met al my naastes, ongeag van wie hulle is. Ek betaal “die wagte” wat motors by die winkel en poskantoor oppas en ek gee soms ’n geldjie vir die man by die verkeerslig1, ek gee om vir my vriende en ek bid selfs vir kennisse, maar ten spyte van al my verantwoordelike en bedagsame optrede as toegewyde burger, moet ek daarmee tevrede wees dat die politieke magswaai my werklike en spreekwoordelike besitreg kan terugtrek, kan belemmer en verhoed!

19 Oktober 2018.  Die sieners uit die verlede en die noodlot-sendelinge van vandag het die burgers, soos ek, gewaarsku dat hulle in gevaar is. Die hedendaagse “Dingaan” (lees politieke leier/s) het die volk se vertroue gewen en hulle vrese op die regte verhoë weerlê.

“Dingaan” het gevra: kom sit hier by my in my “kraal”, maar voor jy inkom, los jou “wapens” van kritiek en ontleding buite; kom net soos jy is, trek die wapenrusting van behoud en beskerming uit en aanvaar dat jy en jou nageslag ekonomies doodgemaak mag word. Kom sit en stem in dat ek die “sessie” van jou grond kan opskort en die waarde en waardigheid van jou taal en geskiedenis kan vertrap; kom sit en kyk gerus verby die aanslag op die weerlose landbouers, ek sal vir jou ’n nuwe tuiste gee, ’n land sonder melk en bye of regte heuning.

Is hierdie ’n opruiende geskiedenisles wat ek hier aanbied?

Nee inderdaad nie, dit skets egter wel die onrusbarende vrees wat elke dan en wan by my kom spook en dit voorspel dat ek meer gereeld my toekomswaarde in hierdie land moet beaam en verdedig, want om soos oorle’ Doris Day te sing “Que será, será ...”  sal beteken dat my en jou toekoms in die lug hang, en wat ook al gebeur, gaan gebeur …        

1 Let wel: nie “robot” nie, maar net verkeerslig. ’n “Robot” is ’n ding wat karre in Japan aan mekaar sit.

 

  • 1

Kommentaar

  • Bravo Hennie Fritz, 'n treffende brief. Ja ons laat gods water oor gods akker, teen hierdie tyd, dawer. En hoe meer dit manifesteer dat ons ter slagting gelei word, hoe erger was die vorige bedeling want daar MOET eenvoudig regverdiging wees vir diegene wat lustig meegewerk het aan die daarstel van hierdie bedeling.
    Ons (meeste van ons) is nou in so'n dwaal dat ons gelate aanvaar dat ons taal en kultuur gaan verdwyn want, sou ons weerstand bied, word ons as rassisties gebrandmerk en DIT is die grootste van die agt doodsondes.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top