
Met die aanvang van vanjaar se veldtog van 16 dae van aktivisme vir geen geweld teen vroue en kinders – wat van 25 November tot 10 Desember duur – doen Jaco Londt, Wes-Kaapse minister van maatskaplike ontwikkeling, ’n beroep op gemeenskappe om hul stemme hoorbaar te maak.
Londt maan ons om op te tree teen geweld en mishandeling, ook om namens die stemloses te praat. “Wanneer ons praat, sê ons dat die mishandeling van vroue, kinders en lede van die LGBTQIA+ gemeenskap geen plek in ons samelewing het nie. Dit gee meer krag aan kwesbare individue om hulp te soek,” sê Londt.
Londt gaan voort om te sê dat “dit ongelooflik hartseer [is] dat só ’n veldtog in ons land en gemeenskappe enigsins nodig is”.

Vir Londt is dit belangrik dat gemeenskappe saam moet staan om geslagsgeweld uit te roei en sê dat dit nie iets is wat net een persoon kan verander nie, maar “as ’n kollektiewe groep hulle stemme versterk en die kwessie aanspreek, kan ons op ’n plek kom waar dit nie nodig is om kosbare fondse op ’n veldtog en organisasies te spandeer vir ’n sosiale probleem wat nie eens daar behoort te wees nie”.
Om die begin van die inisiatief te herdenk, het Londt ook in Eersterivier aangesluit by ’n GBV-bewusmakingstaptog wat lede van die SAPD, burgerlike samelewingsgroepe en gemeenskapslede ingesluit het.
Die minister sê voorts dat vroue en kinders veilig moet wees, nie net saans en buite nie, maar ook in hulle eie huise. “Ongelukkig is ons tans nie daar nie. Ons het ’n gemeenskap met ’n swart merk teen ons naam, wat maak dat hierdie veldtogte en organisasies nodig is.” Hy plaas weer eens klem op die belangrikheid daarvan dat ons nie moet stil wees oor die saak en wegkyk nie. “Neem die stap, reik uit en maak jouself beskikbaar vir iemand wat deur enige vorm van teistering of geweld gaan.” Dikwels is die persoon nie gereed vir daardie gesprek nie, maar jy mag dalk net daardie saadjie plant vir die persoon om later die hulp te soek.
Lede van die gemeenskap kan enige kommer bekend maak aan die Departement van Maatskaplike Ontwikkeling se kontaknommers of webtuiste. “Sou jy iets vermoed,” sê Londt, “wat as jy nie verkeerd is nie? Jy kyk vandag weg en môre kan dit jou vrou, suster, ma of dogter wees.”

Vir Londt is die gemeenskapsorganisasies en ondersteuners die ware helde. “Hierdie organisasies en die mense in die organisasies doen wonderlike werk. Hulle help ook die slagoffers om ekonomies selfversorgend te raak sodat hulle nie van die oortreder afhanklik hoef te wees nie.”
Terwyl hy een van die departement se 26 befondsde skuilings vir GBV-oorlewendes besoek het, het Londt verhale van hoop en hernieude waardigheid gehoor. Hy sê egter dat dit vir hom moeilik is om die skuilings te besoek. “Die oortreder is dikwels iemand wat soos ek lyk en dit is onaanvaarbaar dat die slagoffers in hierdie situasie moet wees.”
Londt het skokkende feite en getalle gedeel oor die kwessie toe hy sê dat die Departement van Maatskaplike Ontwikkeling sowat 1 040 organisasies befonds, waarvan sowat 200 van hierdie nie-winsgewende organisasies in die veld van GBV slagoffers is. Hy noem ook dat die meeste van hierdie organisasies onder finansiële druk gebukkend gaan. Tans befonds die departement 26 skuilings waar slagoffers van GBV of huishoudelike geweld ’n heenkome kan vind.
“Ons is ook onder konstante druk om befondsing te sny.”
Tussen die departement en die organisasies ter ondersteuning van GBV-bekamping, het hulle 24 564 slagoffers gesien wat sielkundige maatskaplike dienste genader het. Dit is eintlik net die oppervlak. “Daar is soveel slagoffers wat opgee en voel dat om die saak aan te meld nie vir hulle sal help nie.”
Londt prys die gemeenskapslede wat ook vrywillig na vore tree, opstaan, van hulself laat hoor en ondersteuning bied aan slagoffers, wat dan die druk van die organisasies verminder en verduidelik dat hierdie gemeenskapslede dikwels self ook deur ’n traumatiese ervaring gegaan het en dan sekondêre trauma ervaar.

“Ons het vier bekendstellings gehad van GBV-ambassadeurs, een in Swartland, een in Delft, een in Grabouw en een in Heinz Park. Ons stel in Desember een in Ceres ook bekend. Hierdie ambassadeurs is ingeweef in hulle gemeenskappe.” Hy sê ook dat daar meer hiervan beplan word.
Londt spreek ook die probleem aan dat tussen 90% en 95% van die aangemelde sake deur slagoffers teruggetrek word en sê dit is dan waar hierdie ambassadeurs die slagoffers se hand vat, seker maak hulle is nie alleen nie, van hofbywonings tot die verkry van die beskermingsbevel. “Ek is baie geïnteresseerd om te sien hoeveel impak hierdie ondersteuning gaan hê,” sê Londt. “Die teorie is dat die slagoffer nou iemand uit die gemeenskap het, ’n bekende, om hierdie stap saam mee te maak. Ons hoop om daardeur nou minder sake te sien wat teruggetrek word sodat dit uiteindelik die hof maak en dat meer sake dan tot skuldbevindinge lei.”
Vir Londt is dit ewe belangrik dat die oortreder moet weet daar is nagevolge van hierdie oortredings en verantwoordelikheid neem. Dikwels voel slagoffers skaam oor die situasie waarin hulle hulself bevind, en “dit laat my trane opwel, want hulle is nie die een wat moet skaam wees nie,” sê Londt. “Dit is nié die slagoffer se skuld nie.”
Slagoffers se selfvertroue moet opnuut opgebou word.
Londt sê dat hierdie kwessie geen klas- of rasgrense ken nie, geen demografiese voorkeur het nie en gebeur in welaf buurte, asook in plattelandse dorpe. Vir Londt was dit ook interessant dat die meeste gevalle in die warmer maande plaasvind. Veral gedurende die tydperk van November tot Januarie wanneer meer sake aangemeld word en skuilings vol getalle sien. Hy wil ook seker maak dat slagoffers weet dat hulle nie alleen is nie en hoef nie onder geweldomstandighede te leef nie. “Daar is hulp, sisteme en dienste.” Die veiligheidsnet strek van die departement tot die SAPD en verskeie organisasies.
Maatskaplike werker, Ammie Truter, wat vir Siyabonga Care werk, een van die staat se vennote, sê ’n deel van die terapeutiese werk wat hulle met kliënte doen, behels om hulle aan te moedig om die stilte wat hulle opgelê is, te verbreek. Dit is ’n manier om hul mag te herwin.
Truter sê: “Ek was ook ’n slagoffer van mishandeling. Ek weet hoe dit voel om magteloos te voel en te voel dat hulp nooit sal kom nie. Maar ek moedig vroue aan om hul gevoelens te probeer verbaliseer, sodat kundiges jou kan help om van ’n slagoffer na ’n oorlewende te gaan. Dit sal baie werk verg, maar jy sal daar uitkom.”
Met 30 000 geregistreerde nie-winsgewende organisasies, is dit ook belangrik om te weet dat ongeveer 17 000 van hierdie organisasies nie aan die departement se vereistes voldoen nie. In die Wes-Kaap is net sowat 13 000 van hierdie organisasies geregistreer en voldoen aan nodige vereistes. “Die Nasionale Departement is tans besig met ’n deregistrasieproses van die organisasies wat nie aan die vereistes voldoen nie. Ons moet seker maak die fondse word reg aangewend. Daar is ’n NPO Help Desk beskikbaar en sodoende kan die departement slagoffers en borge die versekering gee dat die organisasie deur ’n keuringsproses gegaan het.”
Ter afsluiting sê Londt dat hierdie fokus ’n 365 dae veldtog behoort te wees en nie net ’n onderwerp van bespreking tydens die 16 dae van aktivisme nie. “Dit breek my hart om hierdie kwessie so gereeld te sien.” Hy spreek verder sy hoop uit dat dié onaanvaarbare kwessie van GBV ’n ommekeer sal toon en op ’n punt sal kom waar dit nie meer ’n onderwerp van bespreking hoef te wees nie, dat “ons onsself [sal] bevind in ’n posisie waar hierdie organisasies nie meer nodig is nie en die befondsing en ondersteuning kan gaan na ander velde van passie en opheffing”.
As jy hulp nodig het of weet van iemand wat hulp nodig het, of selfs jou hulp wil aanbied, gee Londt ’n paar nuttige nommers:
- https://www.westerncape.gov.za/social-development/service/victim-empowerment-programme
- Die Wes-Kaapse Departement van Maatskaplike Ontwikkeling se tolvrye nommer is 0800 220 250. (Maandag–Vrydag, 7:30–16:00)
- Stop geslagsgeweld-hulplyn: 0800 150 150
- SAPD: 08600 10111
- Jy kan ook na jou naaste polisiestasie of plaaslike Departement van Maatskaplike Ontwikkeling-kantoor gaan.

