Afrikaans: Dis soos twee jong haantjies ... en eenkant toring die forse werfhaan

  • 5

Jan Rap het die jaar afgeskop met Afrikaans, en ek is oortuig daarvan dat dit voortspruit uit die Konstitusionele Hof se uitspraak einde verlede jaar daaroor. Die uitspraak is ’n gatslag vir ons trots en behoudende Afrikaanssprekers omdat dit verreikende toekomstige implikasies het.

Die prentjie van twee haantjies doem voor my op wanneer ek Angus en Jan Rap se onderonsies van die stoep af beleef. Dis ’n  krapperige moerigheid wat uitgeveg moet word en wat net end sal kry wanneer een bes gee. En die fors werfhaan (die hof) staan en toekyk - ongeëerd en afsydig.

Angus (Engels as huistaal en oupa wat ‘n ‘kilt’ dra) deel skoppe oor die vermeende ‘kombuissoortige mengelmoes-ontwikkeling’ van Afrikaans  uit terwyl Jan oor die naderende sterfte-uur daarvan sy nekvere blom.

Dit gaan nie vir Jan oor hoe die taal gebore is en ontwikkel het nie, maar, en ek sluit my by hom aan, vir hom is dit oor die stadige doodgaan daarvan.

Die moord waaroor Angus en ander geen haan sal laat kraai nie. 

Maar dis ons taal – ons praat, skryf, luister en leef dit.

‘  Afrikaanse regsgeleerde, verkose tot die Bank omdat hy voldoen aan kriteria, verwys na die Taalman van Onrus wat, op ’n vraag net na ’94, “Wat is die toekoms van Afrikaans?” geantwoord het “Allesverloren”.

Allesverloren? vra ek, vanwaar? – maar dan lees ek: “Dit het nie gelyk of die NP-leierskorps die taalkwessie baie ernstig beskou het nie. Ook die eis vir kultuurgebonde skole en universiteite was nie hoog op hul prioriteitslys nie” (Die Laaste Afrikanerleiers – Hermann Giliomee -  Tafelberg - tweede druk 2013 -  bl 423). En die skok van ’n ander nugterdenkende Afrikaner weerspieël ook my ongeloof soos beskryf op die volgende bladsy:  “Wat het jy aangevang? Jy het kinders laat onderhandel.” (bl 424) En die besef: “Wat ons nou het is konvensionele meerderheidsregering. Ons het alle mag verloor.”(bl 424) 

Waarom, wonder ek, het die Afrikanerleiers die taalkwessie nie ernstig opgeneem nie, wat het hulle gedink?

Eien die Afrikaner wat alom gesien word as die onderdrukker, hom nou die Taal toe? Word Afrikaans in sy geheel uitsluitlik aan die Afrikaner gekoppel.

Daardie meerderheidsregering het die finale Grondwet geskryf wat sy Edele se riglyn is en daarbuite sal (en mag) hy nie. Hy skryf (Rapport Weekliks – 7/01/2018) dat Afrikaans nie aanspraak kan maak op grondwetlike beskerming solank as wat dit eksklusief en rasgebonde bly nie. Hy haal ’n akademikus aan: “On those travels I had witnessed deep poverty in isolated rural homesteads. The people that I had met in the far-flung villages were as desperately poor as I have seen elsewhere, and they were mostly Afrikaans-speaking. How could they, these people – the poorest of the poor –  be ‘the oppressor’?”

Versaak die Afrikaner hierdie sprekers?

Ook haal hy uit die Gauteng Legislature aan: “The Afrikaans language is one of the cultural treasures of South African national life, widely spoken and deeply implanted, the vehicle of outstanding literature, the bearer of a rich scientific and legal vocabulary and possibly the most creole or ‘rainbow’ of all South African tongues. Its protection and development is therefore the concern of the whole South African nation.”

Maar en ons lees verder uit die Gauteng Legislature: “In approaching the question of the future of the Afrikaans language, then, the issue should not be regarded as simply one of satisfying the self-centered wishes, legitimate or otherwise, of a particular group.”

Is dit wat die Afrikaner doen? Want sy Edele skryf onder andere: “’n Mens sou verwag dat die aanpak van ’n saak oor taalregte sou geskied met deeglike oorweginge, maar tevergeefs soek ‘n mens enige erkenning van die kompleksiteit van taalregte van andere. Geen praktiese voorstelle om ander rasse tegemoet te kom en taalgebruik te vergemaklik is blykbaar gemaak in die universiteit se ondersoek daarna nie. Daar is klaarblyklik geen insig in hierdie realiteite nie, en ook nie ‘n besef van watter persepsie dit teenoor andere skep nie. Hierdie gebreke bevestig die karikatuur van Afrikaners as hardvogtig en mense wat min omgee vir andere. Bevorder hulle die saak van Afrikaans of benadeel hulle dit?”

En nou is daar weer die geval van Gautengse Afrikaansmedium skool. Wat doen Afrikaners na gister se Pretoria hooggeregshof uitspraak oor die skool? In plaas daarvan om nederig en bemoedig te wees, is hulle windgat en spog en klim ieder en elk op die wa en spreek die verkeerde spreuke.

Die Konstitusionele Hof, die einste, so lyk dit, gaan die laaste sê hê.

Dat Afrikaans nie meer “the vehicle of outstanding literature, the bearer of a rich scientific and legal vocabulary” is nie, en nie weer sal wees nie, moet vierkantig voor die Afrikaner se deur gelê word. Dis die Afrikaner se toedoen dat die Taal is waar dit vandag is en ander Afrikaanssprekers ook treur.

Mag die Taal lank lewe!

Raed-na-Gael

 

  • 5

Kommentaar

    • Droewige tydings lei gewoonlik tot hartseer en trane. Nou vermoed ek en lei dit af uit jou vorige beskrywings van jou lekker lewe, dat dit dalk vetterige kos is wat gelei het tot jou goormaag en dus slegte spysvertering en nie die tyding oor verdwyning van Afrikaans nie. Sou dit die geval wees kan rooi laventel dalk help.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top