Oor Nkandla - en Watergate

  • 3

Gistermiddag het ek met toenemende agting gekyk na regstreekse uitsending van die Openbare Beskermer se perskonferensie oor Nkandla. Die dame het my by herhaling beïndruk. Sy het spreekwoordelik ’n streep in die sand getrek met haar uitspraak dat sy die rol van die Openbare Beskermer in ons demokrasie in ’n sterker posisie wil laat as waarin sy dit gekry het. Sy moet dié Hoofstuk 9-amp in September 2016 ontruim. Daar is dus nie veel tyd oor nie, wat my laat dink: hier kom ’n ding .

Jare gelede het ek as kandidaatprokureur aan die voete gesit van een van ons land se voorste prokureurs, wyle SW (Billy) van der Merwe van Johannesburg. Billy het een waarheid altyd beklemtoon: siviele sake word met blootlegging gewen of verloor. Kortliks: die blootleggingsproses behels die opdiep en lys (onder eed) van dokumentêre en ander getuienis wat op die aksie in geskil betrekking het en wat óf die een óf die ander kant se saak kan bewys.

Onlangs was daar ’n terugkyk-televisieprogram oor die rol van twee jong joernaliste (Bob Woodward en Carl Bernstein) in die Watergate-skandaal wat vroeg in die 1970’s tot die vernederende einde van VSA-president Nixon gelei het. Die akteurs van “All the President’s Men” (Redford en Hoffman) het ’n wonderlike TV-verskyning saam met die twee oorspronklike joernaliste gemaak.

Dit het my laat dink: daar is parallelle tussen Watergate en Nkandla (natuurlik is daar ook hemelsbreë verskille.) Die gemeenskaplike faktor, glo ek, is die inligting waaroor die onderskeie presidente – Nixon en Zuma – beskik het (en, in Zuma se geval, tans straks steeds oor beskik) en wat van openbare blootlegging weerhou is (of steeds word). Die kernvraag in die VSA van 1974 en in Suid-Afrika van 2015 is: het die onderskeie presidente vir hul onderdane gelieg?

In Nixon se geval het dit hoofsaaklik gegaan om inligting wat vervat is in bandopnames van gesprekke oor Watergate in die allerheiligste van die Amerikaanse politiek, die Withuis se Oval Office. Oplaas is Nixon deur niemand minder nie as die regters van die Federale Hooggeregshof (die ekwivalent van ons Konstitusionele Hof) verplig om die opnames prys te gee. En toe ontdek die ondersoekers ’n gaping van 15 minute op een van die sleutelopnames wat sy sekretaresse glo per abuis sou gewis het! Nixon se geloofwaardigheid was daarmee finaal in sy peetjie, en met die vure wat al nader aan hom begin brand het, het hy die amptenare wat naaste aan hom was – Haldeman, Ehrlichman en Dean – die trekpas gegee. Later het hy ook die Spesiale Ondersoeker wat hy self laat aanstel het (Archibald Cox) ontslaan.

En toe, skielik, het Nixon se einde aangebreek: hy het ontdek dat álmal in die VSA-Kongres – ook sy partygenote! – sy bedrog nie meer kon duld nie.

Herinner die ANC se venynige kritiek teen die Openbare Beskermer en teen die regbank, asook die vinnige verwisseling van senior staatsdiensamptenare - wie so rolle om president Zuma teen Nkandla en die wapenskandaal te beskerm, uitgedien raak - nie aan Watergate en sy verskillende rolspelers nie?

Aan die einde van die Watergateskandaal was die vraag wie oorspronklik vir die inbraak by die berugte hotel aanspreeklik was, lankal vergete. Oplaas het die Amerikaners net in een ding belang gestel: wat was Nixon se rol in die pogings (weliswaar van talle rolspelers) om die inbraakskandaal toe te smeer? Dit het dus oor die waarheid, al dan nie, van die president se openbare uitsprake gegaan.

Ek dink ook by Nkandla is daar ’n klemverskuiwing aan’t gebeur wég van die enorme bedrag geld wat daar vermors is (ons almal weet dit sal nooit verhaal word nie) na die vraag: kan (durf) ons president Zuma glo?

Verlede week het ministers Nhleko en Nxesi voor die Parlement se ad hoc-komitee oor Nkandla verbete wal gegooi teen enige insinuasie dat Zuma self die dryfveer agter die Nkandla-skandaal was. Hoe herinner dit nie aan Nixon se juigkommando tydens Watergate nie!

Maar let tog op die indringende vrae wat adv Glynnis Breytenbach tydens daardie einste verrigtinge gevra het oor die bestaan, al dan nie, van dokumente wat Zuma direk by die Nkandla-skandaal mag betrek. My raaiskoot is: een of ander tyd sál daardie dokumente – indien hul bestaan - die lig sien. Om hul ongedaan te maak is bykans onmoontlik: niemand kan lae en lae inligting en die uitruil daarvan in hierdie tegno-gedrewe tydvak waarin ons lewe doeltreffend uitwis nie.

Gedurende die Watergate-skandaal was daar ’n sleutelfiguur in Nixon se binnekring (sy bynaam was “Deep Throat”) wat onder die grootste geheimhouding die joernaliste van waardevolle inligting voorsien het. Sy raad was deurgaans: “Volg die geldspoor.” Dit was goud werd.

Mag ook die Nkandla-joernaliste daardie geldspoor verbete volg, want aan die einde van die spreekwoordelike reënboog wag daar straks ’n pot goud: die waarheid, tien teen een vergestalt in dokumente. Mag daar ook vir hulle ’n “Deep Throat” wees om hulle te onderskraag. En mag daar oplaas genoeg mense met integriteit in die ANC opstaan en vir Zuma sê – soos wat dit die lot was van die Britse premier, Neville Chamberlain, vroeg in die Tweede Wêreldoorlog – “In the name of God, go!”

  • 3

Kommentaar

  • Louis van Vuren

    Uitstekend Gustaf. `n Leuen is soos `n kombers wat te kort is - as jy jou voete toemaak is jou skouers oop, en omgekeerd. Jy kan nie alles die hele tyd toehou nie. Iemand se voete gaan êrens begin uitsteek.

  • George Bekker

    Harry S Truman was van 1945 tot 1953 president van die VSA en seker een van die skerpste bekke wat jy jou kan voorstel. Ek onthou wat hy van Nixon gesê het: Van al die skelm jakkalse wat ek ken, is hy die skelmste. Dis beslis nie 'n getuigskrif nie vir 'n man, lank voor hy president was. Gelukkig het hy uiteindelik sy verdiende loon gekry.

    Wat Jacob Zuma betref: in die openbare lewe kan 'n politikus met baie wegkom, maar wat Zuma vergeet is dat sulke dinge opbou. Jy behaal 'n sogenaamde oorwinning maar dit is alles dinge wat die publiek se dunk van jou verlaag en mettertyd is die respek vir die man en sy amp daarmee heen. Mens kan net hoop dat Zuma, soos Nixon, nie sy termyn voltooi nie.

  • Gustaf Pienaar

    Ek stem saam, George: my verwagting is dat die Zuma-administasie - soos die Nixon-adminstrasie - een of ander tyd 'n "kantelpunt" gaan bereik. Die openbare druk neem heeltyd toe; dit neem nie af nie. Stellig sal Zuma sy pos uiteindelik ontruim op min of meer dieselfde voorwaarde wat Nixon aan sy opvolger (Ford) gestel het: 'n omvattende en onvoorwaardelike kwytskelding van alle moontlike vervolging(s). Vir Ford was dit die spreekwoordelike gifbeker: die Amerikaners het hom dit nooit vergewe nie. Ek wonder wie Zuma se gifbeker sal aanvat ...

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top