101 Nagte

  • 0

Hoe lank is 101 nagte? Baie lank. Veral as dit 1979 is, jy in grys Parys sit, hy in sonnige Pretoria en dis dekades voordat selfone ’n werklikheid sou word.

Ons was al drie jaar gekys toe hy voor die koshuis in die toegestoomde Renault vir my sê: “Ek gaan met jou trou, maar nie met konfetti en sulke k*k nie. Dink iets anders uit.” Ek dink nie baie hard nie. Want voor ek die dag trou, wil ek eers in Frankryk gaan werk. Ek wil reis! Die wêreld as ’n mademoiselle beleef, voordat ek die dag madame word.

Aan die einde van my vierde jaar begin ek werk soek. Ek mik vir Parys (doer oorkant); ek kry Nigel! Ons vry langafstand tussen Nigel en Pretoria, waar die lang man sy vyfde jaar klaarmaak. Hy werk sy alie af, want einde van die jaar wag daar ’n oorsese toer op die groep Boubestuur-studente. Die plan is dat ons die troue-ding sal doen as hulle terug is. En om maar die Frankryk-drome vir eers te vergeet.

Dan: die teleks uit Parys. Ja, daar is werk by die Hôpital de Paris. Ek kan kom, op eie onkoste en sonder vergoeding. Maar werk sal ek kan werk, en dit saam met professor Hecaen, spesialis in hoofbesering. En wat van jou beurs, Sussa? Waar gaan jy verlof kry? Ek eindig in die Direkteur van Onderwys se kantoor, omtrent op my knieë. Loop daar uit met 101 dae onbetaalde verlof: van September tot Desember. Ekstase! Tata Nigel! Hallo Parys!

Toe eers die kwessie van blyplek. My pa, nou nie Croesus nie, is bereid om die vliegkaartjie te help betaal. Maar waar sou ek bly? Dan die hemelse tussentrede: ’n oudstudent van my pa bel uit Parys. Hy het deur die netwerk gehoor dat ek beplan om Parys toe te kom. Hy bied vir my verblyf aan, gratis, in ruil dat ek sy kinders met hul huiswerk help. My matriek-Frans in ruil vir ’n kamer! O ja, en het ek genoem dat hierdie einste oudstudent dominee Maans Steyn was? Pas aangestel as Europese predikant. Ons kyk vir mekaar: is dit nou die noodlot, of wat? As ons albei in Parys gaan wees, met dominee Maans byderhand, vir wat trou ons nie daar nie?

Ons bel die dominee, dure hooflynoproep, om uit te vind of hy ons op 15 Desember in Parys kan trou. Natuurlik, lag hy, graag! Net een klein haakplek: hy het nie regtelik magte nie. Ons sal eers in ’n hof moet trou, hier in ons eie liewe land. Dan kan hy ons kerk. Sien ons kans daarvoor? Is die pous katoliek, dominee?

Op die Vrydag voor my vertrek, trou ons in die landdroshof. Onder die toegeswelde oog van ’n droefgeestige landdros, met net my ma en sussie as getuies, doen ons die ding. Sielloos. Sonder ring of blomme, want dit gaan doer anderkant gebeur. En so is ek op die vliegtuig en hy terug koshuis toe: die eerste. My pa se grappie: Ander studente bly saam sonder ’n trouring. Maar julle twee ...

Net twee keer in die 3 maande praat ek en die getroude student met mekaar. Maar ons skryf: brief op brief. En ons reël dat dit bars. Hy kry sy instruksies: ons trou om 10:00 in die Skotse Kerk van Parys, rue Bayard, net af van die Champs Elysées; jy sorg vir champagne, ek vir die glase en troukoek. Ja, onder in my tas het my ma ’n vrugtekoek, in ses lae foelie toegemaak, ingepak. Wat meer het jy vir ’n onthaal nodig?

En op 14 Desember land bruidegom en sy pelle by De Gaulle lughawe. Voos. Die vlug vanaf New York was een lang nagmerrie. Eers het sy instapkaart op JFK weggeraak. Totale chaos. Op ’n manier maak die klomp studente die lugwaardinne só deurmekaar, dat hy ongesiens die vliegtuig insluip. Maar toe hulle eers in die lug is en die ergste turbulensie in die loods se heugenis tref, toe voel hy soos Jona. Niemand slaap of eet op die vlug nie: die bruilofsgaste is groen en moeg. En die 14e het pas begin: daar lê ’n hele stadstoer en ’n Lido-show voor. En môre: troue!

Die flou bruidegom gee my ’n nagsoen net na middernag buite die Lido. Ek en twee vriendinne moet die kerk gaan regkry. Die Skotse gemeenskap van Parys het die aand eers ’n Highland Fling in die kerk aan die gang. Ons moet wag dat hulle klaarmaak wat so net na 2h00 die oggend van die 15e is. Vee uit, skuif stoele reg, sit elkeen van die 24 duur rose in twee silwer vase. Dis die somtotaal van die troue se blomme: hartbreekmooi in hul eenvoud.

Teen 10:00 is ek lankal reg. Ons wag benoud in die portaal van die kerk; ek en my Paryse neef. Hy het galant aangebied om my in te bring. Binne wag die handvol Parysenaars. Ek het my laaste geld vir ’n ruikertjie rose en freesias uitgehaal: mooi gestrik deur ’n liewe bloemis. Sy’t my halfprys gevra, amper in trane dat ek sonder my ouers in ’n vreemde land gaan trou. En hier wag ek in my tuisgemaakte rok.

Net voor halfelf stop ’n ry taxi’s skreeuend buite. Hulle is eindelik hier! As die spul studente die kerkie instorm, begin die orrelis die Trumpet Voluntary speel. Ek stap die twintig treë kansel toe. My bruidegom het ’n pak aan, al die pad saamgepiekel. As hy omkyk en skaam glimlag, nog effens uitasem, vergewe ek hom die laatkom summier. Maar dan moet ek uitbars van die lag. Op sy een wang is die ruitpatroon van ’n outydse beddeken afgedruk. Ek moes geweet het: Ta het hopeloos vir sy eie troue verslaap!

Dit was toe ’n troue sonder konfetti ... maar hy moes toe die k*k van troukoek sny en toesprake maak en heildronke drink deurstaan. Twintig honger studente speel nie met koek en sjampanje nie! Sou ek dit vandag, 35 jaar later, anders wou hê? En die reis mis? Jamais!

 

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top