Teen die lig: spore van Hennie Aucamp se vroeë wêreld

  • 0

Teen die lig
Hennie Aucamp
Uitgewer: Protea Boekehuis (2012)
ISBN: 9781869197643

Koop Teen die lig by Kalahari.com

Hennie Aucamp is veral bekend vir sy kortverhale. Dit is sy hoofgenre. Hy het egter ook sketse, essays en lirieke vir kabaret geskryf. Aanvanklik is hy nie as digter gereken nie. Miskien was hy self daarvoor verantwoordelik. In sy 1977-bundel, Die lewe is 'n grenshotel, noem hy sy verse “ryme vir pop en kabaret”. In 1999 versamel Daniel Hugo 'n keur uit Aucamp se “Liedtekste” onder die titel Lyflied. In die “nawoord” daarvan kla hy dat dit bloemlesers te lank gevat het om kennnis van hom te neem.

Daar word eers kennis geneem van 'n gedig uit Die lewe is 'n grenshotel toe André Brink se Groot Verseboek 2000 verskyn het. Dit is die eerste gedig, “Die lewe is ’n grenshotel”, en die beginstrofes van die gedig plaas ons binne-in die grensoorlog van destyds – met die deernis en die “vleesdrif” van die Madame in die hotel waar die grenssoldate drink:

Madame sit in Die Grenswag
'n manskap teen haar bors
sy koester sy vermoeidheid
sy nadrup en sy dors

   Die lewe is 'n grenshotel
  'n Volkebont, 'n bont bestel
  bestel jou chips en drink jou gaar
  jou toekoms is gerekenaar

Madame bestel 'n High Ball
(dit hou die vleesdrif hoog)
sy kyk na jong kanonvoer
wat saamdrom by die oog ...

Sedertdien is hy gekanoniseer. Teen die lig dra die spore van sy vroeë wêreld, wat aan die verbygaan is en wat hy as ou digter onthou en herdenk. Die soort poësie hier is, wat strukturering betref, sonnette en kwatryne, en feitlik oral rymend.

Die gedigte is meestal direk, beskrywend en weerspieëlend, met 'n toonaard van droefheid, maar met 'n metaforiek wat indirek interpreteer. Mens dink aan die onderskeid wat EMW Tillyard gemaak het in Poetry Direct and Oblique.  Verse wat direk werk én indirek. Die indirekte van die skepping word meestal metafories, indirek. Die laaste strofe van die titelgedig (Nature morte) verwoord dit: “Die ware stillewe / is 'n essay: / altyd metafisies, altyd / deurtrokke van sterflikheid.”

Die werklikheid van die skildery in hierdie gedig, ’n stillewe,  “… staan verheerlik teen die lig”. Sonder die lig kan dit nie bestaan nie. In die foto op die buiteblad van die bundel is dit die lig agter die boomtakke wat die takke perspektief gee. Maar die titel van die foto op die kolofon, voorin, is Dooie sederbome in Skerpioenpoort (geneem deur Jan Mostert). Die bome is dood; en die foto van die dooie bome is slegs 'n weerspieëling, soos die woord óók weerspieël. Dit laat mens dink aan Plato se beswaar teen die kuns as weerspieëling van 'n weerspieëling. Maar dit is juis die “obliqueness” van die kuns/teks: die paradoksaliteit daarvan. Maak dit saak dat die bome dood is? Dis nóg 'n weerspieëling, soos die lig ook.

Dis moeilik om die verse in afdelings in te deel, om tema en onderwerp op te som. Elke gedig praat 'n eie taal, en saamgroeperings kan geforseerd raak. Nietemin: die bundel begin met herinneringe van die plaas, Rust-mijn-ziel, van ma en ouma, van kos (en braai!), en liefde vir die landskap, maar ook nostalgie en hartseer. Miskien aan die begin “huislike poësie”. Maar nie sentimenteel nie. Dan verder gaan dit oor musiek, bome, die diereriem, die wêreld van die Boesman ('n benaming van daardie tyd). Aan die einde herinneringe aan gestorwe digters, en dan die dood. Die herinneringe is wéér mimeties.

Verder in die bundel is daar weer bome, in die “afdeling” “O aarde, ryk aan bome”. Ook dooie bome, maar hulle hou aan leef, langer as die kuns:

Geen kunstenaar kan beeldhou
soos die oernatuur
selfs bome wat geval het,
kan voortleef ná hul uur.

Die digter is bewus van die beperktheid van die kuns, ook van die poësie natuurlik – en veral weer van die weerspieëling. Die bome in “Twee bome” (“Ons het elkeen 'n witgatboom, ek en Jan”) is ou dooie bome wat seker nog staan. En al wat die spreker en Jan nog daarvan het, is foto's:

Maar hul portrette het ons tog,
ek en Jan; voorlopig veilig, soos alle memento's –

tot mot en roes intree.

Wéér slegs die weerspieëlings. Die gedigte wat herinnering in vers verbeeld, sal ook nie aanhou leef nie; maar die bome  “... staan seker nog daar ...”

In 'n bundel waar meer as die helfte van die verse sonnette en kwatryne is, en waar omtrent al die gedigte rym, sal mens aandag móét gee aan struktuur. Dis hoe die digter hier werk. Dit kan seker veeleisend wees vir 'n digter – en harde werk; maar dit kan 'n leser uitput om by elke gedig sillabes te tel, metra te meet, ryme volgens die bekende patrone daarvan te a-b-b-a, ensovoorts. Gelukkig kom mens dit nie eintlik hier agter nie: die ryme, ritmes, stukture lees jy sonder moeite. Sonder om kennis te neem daarvan dat die Engelse sonnette hier die spesifieke “voorgeskrewe” rympatrone gebruik, soos ook die kwatryne die rympatrone daarvan.

Maar wat wel van die uiterste belang is, is om sensitief te wees vir wendings in die koeplet van die sonnet, en in die laaste reël van die kwatryn. Hieruit kom die interpretasie: die metafoor, die “oblique”. Die meeste ander gedigte werk ook so. (Van Wyk Louw: “ ... slotreëls is soms sleutels meer as slotte”.)

Enkele voorbeelde van wendings waar temas van die bundel sleutels is, sal kortliks genoem word.

Die vastigheid wat die digter in die verlede gehad het op die plaas en in die landskap, word bevestig in die slot van “Hoekbaken”:

“… Ek leun teen die hoekpaal, my hart klop sterk: / Hiér vind ek heiligheid, hier is my kerk.”

Iemand het in die sonnet “Plaassolder” gesê: “'n Plaashuis moet 'n solder hê, / ware stof soos meel oor alles lê.” Maar die spreker in dié gedig weet dat daar myte sal wees. Die verval is dan reeds daar. Die digter beskryf dan wat in hulle solder lê – en die gedig eindig met dié wendingsmetafoor:

 “… Solders spel verleefde tyd: / 'n argeologie van triestigheid.”

En die volgende kwatryne – die eerste in die reeks “Aan die musiek”, en die tweede, oor die Boesmans –  illustreer weer die werking van die wending , weer in die laaste reëls:

Kermis

Die lewe is 'n mallemeule
met wankel meganiek,
en wyl sy perdjie styg en daal,
knars klaaglik walsmusiek

Boesman-ID

Sy handdruk teen 'n rotswand
was nooit 'n grot versier;
bevestig bloot, en oor en oor:
Eenmaal was ek lyflik hier'.

Hierdie bundel is verdere bewys van Hennie Aucamp se vermoëns as digter: Die Groot Verseboek van 2008 het reeds meer van sy verse. Nou sal daar nog meer wees, alhoewel die slotgedig 'n einde suggereer:

Aandlied

Dood kom oor die bulte,
'n ou man in 'n kros,
en is hy in die leegte
moet ek my pen laat los
en eers ons padkos regkry
– die ou sal honger wees, gewis –
twee flessies duineheuning,
'n broodjie en 'n vis.

Ons sal hoop dat dit nie 'n einde is nie. Miskien net  “laat verse”?

  

Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet's free weekly newsletter.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top