SALA 2017: Die stories binne-in ons Suid-Afrikaanse lywe

  • 0

SALA 2017, Suid-Afrikaanse letterkundige toekennings wat op 7 November in die banketsaal van die Kgorong-gebou op Unisa se Muckleneuk-kampus plaasgevind het, is nie ’n klein storie nie. Dit is groots. Dit is die storie van die ystervark. Die dier met baie penne (alle Suid-Afrikaanse skrywers) wat die storie van ons land, ons gemeenskap, die wêreldomvattende waarhede en kulturele estetika vertel. ’n Storie wat plek maak vir sosiale samehorigheid, wat bou aan die nasie hier aan die onderpunt van Afrika en insig toon in die verganklikheid van tyd. So, verbeel ek my, klink die aanvaardingstoespraak van Dia!kwain. ’n Storie wat SALA se doelwitte verpersoonlik.

Dia!kwain

Hoe oneindig geseënd is ons nie om hierdie mylpaal te belewe nie. Waar Andries Oliphant A!kunta,!Kabbo, ≠Kasin, Dia!kwain en|Han≠kass’o as wenners van een van die gesogte SALA-pryse aankondig. Só word die uitgestorwe tale !Xam en !Kun (wat neergepen is tussen 1870 en 1880) en vyf van die legendariese medewerkers aan die Wilhelm Bleek en Lucy Lloyd-versameling bestaande uit vertellings, verse, liedere, sketse en ander materiaal in !Xam- en !Kun vereer. Dié unieke kulturele versameling is deur die Verenigde Nasies se Opvoedkundige, Wetenskaplike en Kulturele Organisasie (Unesco) erken en opgeneem in die nagedagtenis van die Wêreldregister.

Hoe geseënd is ons nie, midde in politieke en ekonomiese onstuimighede, om op die internasionale Afrika-skrywersgedenkdag die samehorigheid van skrywers in ons 11 landstale te beleef nie. Skrywers wat die stories van al die mense van ons land, veral dié wat as gevolg van kolonisasie nagekom is in die geskiedenis van ons land, terug te bedink en terug te skryf.

SALA is nou in sy 12de bestaansjaar en word bestuur deur the wRite associates, in samewerking met die Nasionale Departement van Kuns en Kultuur. Aanvanklik is net ’n paar pryse toegeken, maar geleidelik is daar meer pryse toegevoeg, sodat die genres vergroot is om veral skrywers in inheemse tale aan te moedig om te skryf. SALA het reeds 160 skrywers in 11 kategorieë en in alle amptelike tale van Suid-Afrika bekroon. Skrywers self, medewerkers van SALA en uitgewers kan skrywers inskryf vir die kompetisie volgens Sindiswa Seakhoa, direkteur by the wRite associates. Sy verseker my dat SALA terugvoering oor elke jaar se toekennings verwelkom. Kry meer inligting oor SALA 2018 op die webwerf-epos, info@writeassociates.co.za.

Die geleentheid is roerend en outentiek. Morakabe Raks Seakhoa, stigter van the wRite associates (wat SALA in 2005 in die lewe ingeroep het) se verwelkoming is gul. Zodwa Motsa noem dat SALA se werkhout in werklikheid Suid-Afrika is. Vusumuzi Mkhize, direkteur-generaal van die Departement van Kuns en Kultuur, moedig alle Suid-Afrikaners aan om te skryf, sodat “ons stories nie beperk word tot ’n mondelinge geskiedenis nie”.

Zodwa Motsa

Moses Shimo Seletisha

Moses Shimo Seletisha ontvang die prys as debuutskrywer en onder luide toejuiging bring hy eerbetoon aan sy naam en stamgroep in Sepedi: “Ke Monareng ka Kgomo goduma Lerole Mobalebale Morokgomphodi seratwafela ke basadi …” ’n Hoogtepunt vir my was toe Judah Duiker oor sy seun, Kabelo Sello Duiker, skrywer van Thirteen cents (2000), The quiet violence of dreams (2001) en The hidden star (2005), gesels. Hoe geseënd is ons nie om so ’n skrywer te kon ken nie!  Die K Sello Duiker Letterkundigeherdenkingstoekenning gaan aan Nthikeng Mohlele vir sy boek Pleasure. Ek is diep onder die indruk van die skrywers wat in die saal sit en wie se werk bekroon word. Simphiwe Ali Nolutshungu, Helen Moffett, Dikgang Moseneke, Phakama Mbonambi en Don Makatile (gul tafelgenoot wat dwarsdeur die verrigtinge vir my interessante staaltjies van die skrywers en uitgelese gaste vertel). Don bedank SALA met: “Bly is ek om erken te word as ’n vriend van boeke.” Good Enough Masego stap vorentoe om die Nadine Gordimer-kortverhaalprys te oorhandig. My kop is ’n warboel. Die benoeming vir die prys is reeds ’n groot eer. Ek onthou deeglik hoe ons Nadine Gordimer se July’s people in die derdejaarklas ontleed het onder leiding van Hein Viljoen. Dit was ’n grensverskuiwende boek; ’n boek wat teen apartheid en die veiligheid van wit bevoorregting ingeskryf het; wat die “gevaar van ’n enkelvoudige storie” uitwys (kyk gerus na Chimamanda Ngozi Adichie se TED talk ter verduideliking).

Kamee ontvang die prys! My onbeholpe dankie aan MaBettie wat ons grootgemaak en leer sout eet het, aan Sasavona Rivombo wat nou ons lewe deel, en aan al die ander mense in ons gebroke land wat velle en stories deel sodat ek my bevoorregte posisie as wit Afrikaner kan wegskryf.

Roela Hattingh en haar metgesel

Eers nou dink ek dat dit meer gepas sou gewees het om na ’n reël of wat van Nadine Gordimer se Nobelprystoespraak te verwys. In haar toespraak verbind sy twee stellings as ’n moontlike kredo vir ons-wat-skryf: een van Camus, wat genoem het dat hy meer hou van individue wat kant kies as van letterkunde wat so maak; die ander van Márquez, wat gesê het dat die beste manier om ’n revolusie te dien, is om so goed te skryf as wat jy kan.

Terug na SALA 2017. Die Literêre Toekenning vir Vertalers gaan aan al die genomineerdes: Bridget Theron-Bushell vir The Thirstland Trek 1874–1881; Jeff Opland, Wandile Kuse en Pamela Maseko vir William Wellington Gqoba: Isizwe Esinembali Xhosa histories and poetry (1873–1888); en weer Jeff Opland en Pamela Maseko vir DLP Yali-Manisi: Iimbali Zamanyange, historical poems. Die toekennings vir Lewenslange Literêre Prestasie gaan aan drie legendariese skrywers: die visionêre skrywer/sjamaan/geneser Vusamazulu Credo Mutwa; Aletta Matshedisð Motimele vir haar werk in Sepedi; en Etienne van Heerden, formidabele akademikus en skrywer – en natuurlik stigter-redakteur van LitNet. Maar die groot geeste van die aand, die mense wat woorde en stories in hulle lywe rondgedra het, wat ons almal selfs nou tot stilte dwing, is vir seker A!kunta,!Kabbo, ≠Kasin, Dia!kwain en|Han≠kass’o.

Foto's: verskaf

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top