Paul C Venter ’n meester van karakters

  • 0

Titel: Die rebellie van Sloet Steenkamp
Outeur: Paul C Venter
Uitgewer: LAPA Uitgewers (Edms)
ISBN: 9780799345209

 

 

 

“Die goewerneur-generaal in Windhoek het beveel, vertel Kreisler en tolk Katrina, dat Britse en Suid-Afrikaanse burgers in Duitswes aan onmiddellike uitsetting onderwerp moet word.”

Dis deels die agtergrond van die gebeure in Die rebellie van Sloet Steenkamp, Paul C Venter se vierde werk uit die Arende-stal. Lesers sal Arende onthou as die boeiende TV-reeks van die tagtigs, waarin Ian Roberts en Gavin van den Berg en ’n onvergeetlike TV-A-span (regie: Dirk de Villiers) deel van die geskiedenis van Boer en Brit meesleurend uitgebeeld het.

Anders as die eerste drie Arende is hierdie ’n boek, nie ’n TV-reeks nie. Die boek beland as ’n netjies gebinde kleinood van die uitgewer LAPA in die leser se hand. Met die oopblaai herinner die groot druk, en die koerantkleur-blaaie – soos ’n sagteband-Penguin-boek – aan die opwindende leesstof van ’n mens se jeug – die Sven Hassels oor die Tweede Wêreldoorlog; die Louis L’Amours met die Amerikaanse cowboys teen die Indiane en teen die korruptes onder hulself.

’n Paar probleme wat die oplettende leser nie sal pla nie, kom voor. Maar Paul C Venter – meester van ander tekste ook, soos Konings en Torings – stuur die gegewe vanaf so halfpad in die boek vernuftig hier verby.

Vernuftig plant hy brokkies inligting om die leser in te lig, maar ook aan die raai te hou. Soos in sy TV-reekse is sy karakteriserings juis en omvattend. Hierdie karakteriserings skreeu ten hemele om wéér ’n TV-reeks.

Opeenvolgende tonele en beelde is slim verweef. Humor kleur, as welkome afwisseling, gebeure in; tref op die onverwagte plekke. Die resonans van die TV-reekse klink helder op in die herontmoeting met die Engelse kaptein Kerwin, Jimmy Kitchener, Sloet, die genotlike PJ Buys, Annette en andere. My eie karakter in Arende, die Hollandse dominee, se woorde: “Jy mag leef! Daar is genade” klink selfs op.

Op ’n mens-tot-mens-basis met die skep van karakters is Venter se meesterskap onbesproke. In die boek is ’n parallel met die TV-reeks Torings se baie indrukwekkende pa-seun-verhouding tussen my Torings-karakter, Herman, en sy seun, Fransie. Maar aanvanklik is die manier hoe Sloet vir Sakkie in die boek na sy pa Izak aanpor, dalk net te herhalend; die gegewe word bietjie "spoonfeeding". Dis iets wat in ’n TV-reeks deur ’n skouerstoot, of ’n gesigsuitdrukking, of ’n oogknip redelik duidelik uitgedruk kon word. Maar in die boek, wanneer die aksie begin, val als in plek.

Wees op die uitkyk vir die toevallige parallel met Ben Dekker, die reuse-grotbewoner van Port St Johns, se opspraakwekkende reddingsdaad van ’n naakte, blonde vrou uit die see daar.

Probleme sluit in: die leser het aanvanklik bietjie van ’n opdrag om sy weg te baan tussen vele karakters deur. Die ou Duitswes-politiek laat mens ook miskien ’n bietjie verward, want die karakters is nie aan kante met die tradisionele lyne langs nie. “Cliffhangers” – ’n term in TV vir wanneer ’n toneel eindig en die kyker in spanning laat – doem aanvanklik gereeld – soms te gereeld – op. Verbeel ek my, of is karakters soms bietjie in die pad, of verruil soms vinnig van ontvangkant na uitdeler, en terug? Hier en daar is ’n oomblik wanneer ’n mens dink die toeval kon bietjie kleiner gewees het. Vinnige oorgange tussen tonele, Frits Deelman-styl (die "with-it" Suid-Afrikaanse held in kinderboeke van die vorige eeu), kan seksie wees, maar is hier eers bietjie verwarrend.

Enkele taalkwessies is vir my hinderlik, maar nie oorweldigend nie. Wanneer byvoorbeeld slegs ’n komma ’n sinsgreep skei van ’n ander sin wat ’n teenstelling bevat, bots die beelde in my brein en verg die onduidelikheid ’n oorlees. Dis dalk taalkundig verdedigbaar, maar vir my hinderlik. Bygesê - die meeste lesers sal seker nie eens gehinder wees deur hierdie verskynsel, wat ook net vroeg in die boek voorkom, nie.

Die boek is ’n moet-lees vir lesers van alle ouderdomme. En ek is seker Dirk de Villiers sal jeuk om sommer oor twee maande al met verfilming te begin. Hy verdien dit. Paul C Venter ook.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top