Kabaal Klankbaan: "Vir my gaan musiek grootliks oor ervarings deel en samesyn"

  • 0

Die Pretoriaanse musikant Floris Groenewald, ook bekend as Kabaal Klankbaan, het al wyd beïndruk met sy musiek. Ná ’n betreklik lang stilte is hy terug met ’n nuwe album, Baptism. Hy beantwoord ’n paar vrae.

Goeiedag, Floris. Hoe's dinge deesdae?

Vreeslik opwindend, dankie!


Foto: Christelle Duvenhage

Geluk met die vrystelling van jou nuwe vollengte-album, Baptism. Dis ’n lekker stewige album, met 12 snitte op, en dit is ’n hele ruk sedert jou vorige EP, Player Two, in Oktober 2013 vrygestel is. Waarom die lang tydperk tussenin (jou webwerf dra die woorde: "The radio silence is over")? In watter mate was dié "stilte" nodig en wat het jy daaruit gewen?

Dankie! Ek het vir 2013 vir myself ’n doel gestel om soveel as moontlik shows te speel in die jaar. Maar 35 optredes, saam met ’n day job en ’n poging om nog ’n sosiale lewe aan die gang te probeer hou het my heeltemal uitgeput. Hoewel dit suksesvol was in terme van optredes, het ek baie min nuwe liedjies geskryf, en ek het bietjie tyd nodig gehad om kreatiewe en fisieke energie terug te wen. Terselfdertyd is ’n onafhanklike musikant mos glad nie gebonde aan enigiemand anders se skedules nie, en daarom het ek besluit om maar my tyd te vat en die album ordentlik te maak, eerder as om haastig iets af te rammel. Aan die ander kant raak die stilte ook soms oordonderend, en nou is dit weer hoog tyd dat ons ’n kabaal opskop.

In ’n mediaverklaring word genoem die album is grootliks opgeneem in Kabaal Klankbaan se "bedroom studio". Dis besonder cool, en dit klink of dit deursyfer op die album in terme van minimalisme, maar tog is die produksie puik en is daar ook talle liedere waar ’n swetterjoel instrumente ingespan word. Hoe het jy daardie balans probeer "reg" hou, tussen daardie slaapkamerstudio-klank en iets van hoë produksiegehalte? Hoe hoop jy sal luisteraars by dié balans – te midde van ’n musiekmark oorweldig met soms "over-produced" radiosnitte – aanklank vind?

Hoewel produksiekoste definitief ’n deel van dié besluit was, het ek ook nog altyd beplan om vir hierdie album spesifiek te mik vir ’n “tuisgemaakte” gevoel. Dit het nou nie heeltemal (soos ek oorspronklik beplan het) by ’n akoestiese-folk-affêre gebly nie, maar behou wel ’n gevoel van intimiteit en tasbaarheid. Soos die albumkuns ook (hopelik) aandui, voel Baptism vir my soos ’n handgeskrewe brief, eerder as ’n massageproduseerde, onpersoonlike poskaart.

Ek glo dat die liedjie (of album) self eintlik moet bepaal hoe die opname hanteer word. Waar sommige liedjies smeek vir tromme en elektriese kitare, is daar party liedjies waar die boodskap baie duideliker sal deurkom as radiostandaarde geïgnoreer word en die eenvoudige, minimalistiese kombinasie van ligte kitaarspel en ’n enkele sangstem gebruik word.

Die album se slaapkamerklank en “handgemaakte” estetika mag dalk die gehoor bietjie beperk, maar dit pla my nie – my teikenmark is in elk geval diegene wat meer waarde aan die lirieke en die “storie” heg as aan ’n popklank met ’n beat waarop daar gedans kan word.

In dieselfde verklaring word genoem heelwat van die liedere op Baptism is al so ver terug as 2011 geskryf. Trouens, van die songs, soos "This town is for lovers", is al ’n ruk op die lugweë. In watter mate moes die songs vir jou "marineer" voor hierdie opname? Wat is jou filosofie in die algemeen oor hierdie aspek van musiek skryf en opneem, en hoe werk die proses gewoonlik vir jou vandat die eerste woorde en akkoorde neergeskryf is tot dit uiteindelik as snit vrygestel word?

Dit was weer eens nie noodwendig ’n kreatiewe besluit om so lank te wag vir die opname en uitreiking nie, maar finansies het maar ’n groot invloed gehad. Die meeste van die liedjies is al (vroeg) in 2011 geskryf, maar ek dink dat ’n paar ander snitte wat meer onlangs geskryf is, die oueres baie mooi komplementeer, en die album as geheel is vir seker beter as gevolg daarvan.

Aan die ander kant kon liedjies soos “This town is for lovers” (wat ek aanvanklik maar solank opgeneem het omdat ek net nie meer kon wag nie) nou al talle optredes oorleef, en het hulle gegroei as gevolg daarvan. Om dieselfde liedjie oor en oor te speel laat mens natuurlik toe om dit beter te leer ken, te verfyn, en aan te pas, en om dieselfde liedjie nou vir ’n tweede keer op te neem en uit te reik beteken ook jy kan ’n vars aanslag probeer en nuwe elemente byvoeg.

Dan is daar ook heelwat liedjies op Baptism wat nou vir die eerste keer die lig sien, en dis self ’n baie interessante ervaring. Dis byvoorbeeld nogal vreemd om ’n liedjie, jare nadat jy hom geskryf het, voor ’n mikrofoon te sing, en ’n hele ander belewenis te hê, en nuwe betekenis aan die woorde te heg. Ek dink veral in jou vroeë twintigs, en wat liefde en verhoudings betref (waaroor ek maar meestal sing), doen mens baie lewenservaring op in vier jaar, en verander jou gevoelens en perspektief oor sekere sake nogal heelwat. Dis dan ’n vars, emosionele ervaring wanneer woorde wat jy vier jaar gelede vinnig neergepen het, ewe skielik meer beteken as die vorige keer wat hulle gesing is.

In ’n vorige onderhoud van so twee en ’n half jaar gelede het jy genoem jy is "absoluut versot" op The Eels. Ek moet bieg, ’n mens hoor so hier en daar die inspirasie nogal duidelik, veral op "Freedom Day" en "Player Two (unplugged)". Tog is daar ook heelwat ander inspirasies/invloede te hoor. Hoe vind jy die balans tussen kopknik-aan-die-invloede en jou eie stem bou en behou, en hoe dink jy behoort kunstenaars dit in die algemeen te benader?

Dis iets wat nogal aansluit by jou “marineer”-gedagte van vroeër. Sommige liedjies word baie sterk beïnvloed deur ander musiek, maar ek kom agter dat deur hulle aan te hou speel, te verfyn, en aan besonderhede te skaaf word hulle meer en meer my eie. En hoewel my eie stem hard deurkom, hou ek altyd daarvan om ’n oogknip aan die luisteraar te inkorporeer. Vir my gaan musiek grootliks oor ervarings deel en samesyn, en ek wil graag ietsie in die liedjie of opname los wat luisteraars dalk laat dink: “Hy ken ook daai musiek”, of “Ek wonder of daai ’n doelgerigte homage of verwysing was.” Maar ek sorg altyd dat my stem eerste kom, my boodskap duidelik is, voordat ’n mens begin verwys of kopknik.

Hoewel "Freedom Day" (byvoorbeeld) dalk Eels-agtig is en van ’n sterk invloed getuig, bly die liedjie en lirieke intiem, persoonlik, openbarend en eerlik, en dit is tog die belangrikste ding.

’n Paar collabs verskyn op die album – die opmerklikste is Shotgun Tori op "Not Alone" en Hey, River op "Thinking". Waarom het jy spesifiek hierdie musikante gevra om saam te werk op dié snitte, en hoe het dit die songs op die ou end beïnvloed? Wat is in die algemeen die waarde daarvan om met ander kunstenaars saam te werk wat nie noodwendig vreeslik ooreenstem met jou werk in terme van klank nie, en ook met die "session"-musikante wat deelgeneem het?

Ek is nog altyd mal oor die idee van collaborations – veral wanneer die verskillende musikante oor genre-grense strek om iets nuuts te doen. Ek wens eintlik ek kan met elke liedjie só ’n samewerking aanpak, maar ek bêre dit maar vir spesiale geleenthede waar dit die beste sal werk.

Shotgun Tori was een van my eerste musikantvriende, en ek is nog altyd gek oor haar musiek en haar stem. Vandat ek besluit het dat “Not Alone” uitgelig moet word bo die ander snitte as die enigste liedjie met ’n vrouestem op, het ek geweet haar betowerende, sielvolle stem sal perfek wees daarvoor. In die geval van "Thinking" het ek besef dat die liedjie (en album) nie volmaak is nie, en dat Hey, River die perfekte romantiese sjarme het om dit in iets besonders te verander. Hey, River het ook saam geskryf aan die liedjie, en dus werklik hulle stempel sowel as hul stemme neergelê.

Met sulke samewerkingspogings dink ek my musiek word breër en interessanter. ’n Mens kan dit ook bloot doen met die kommersiële doel om nuwe gehore te bereik, maar in my geval gebruik ek verskillende mense met verskillende vaardighede om aan die betrokke liedjie te gee wat dit verdien. Dieselfde geld natuurlik vir die session-musikante wat nie op elke snit speel nie, maar slegs gebruik word waar die liedjies die meeste daarby gaan baat vind.

Soos vroeër gemeld, is hierdie nogal ’n stewige album, met 12 snitte op. Dis interessant in die lig daarvan dat jou vorige vrystelling, Player Two, slegs drie snitte op gehad het. Waarom die besluit om die langer albumformaat te kies? Heelwat groepe of sangers mik deesdae om eerder sporadies snitte digitaal vry te stel, omdat dit makliker is en ook seker omdat dit in die aard van die digitale era val. Wat is jou gevoel hieroor? Is die een benadering meer inherent waardevol as die ander?

Player Two (die kortspeelplaat) was so kort omdat dit maar ’n eksperimentele uitreiking was. Ek het juis gekyk wat sou gebeur as ek ’n liedjie eintlik maar op sy eie uitreik (met ’n b-side en ’n bonussnit, as jy so daarna wil kyk). En hoewel die uitreiking baie waardevol is en die formaat vele redes het om voort te bestaan, hou ek nog altyd baie van die albumformaat. Veral fisiese CD’s. Ek hou daarvan dat jy in 40 minute ’n hele storie kan vertel – dat die album as geheel ’n groter betekenis dra as die individuele liedjies. Ek dink, noudat ek al twee maniere probeer het, verkies ek nog steeds in ’n mate die albumformaat – al is dit ’n kort album of kortspeler – waar liedjies doelgerig gegroepeer is, eerder as net ’n uitreiking van jou nuutste of mees populêre snit.

Kabaal Klankbaan is ’n besonder bedrewe act wat optredes betref – oor die jare het jy al meer as 100 keer op die verhoog geklim, en jou toer vir die albumvrystelling behels iets soos 13 vertonings (insluitende Oppikoppi). Waar, ná soveel shows, vind jy die energie en oortuiging om voor ’n skare mense (of dit nou vyf of vyfhonderd is) op te staan en dit te doen wat jy doen? Wat staan vir jou as hoogtepunt uit tot dusver met die shows, en is daar enige vertonings, plekke of venues wat jy eerder sal wil vergeet?

Die beste raad vir baie energie en oortuiging is om te hou van wat jy doen. Dit is ongelukkig nie altyd genoeg nie, en ek moes myself al soms sleep vertonings toe, maar gelukkig, nes stage fright, verdwyn daai gevoel as jy eers begin speel.

Ek het verskeie hoogtepunte met shows. Dit was byvoorbeeld ’n reuse-eer en heerlike ervaring om op die deck by Ponta Malongane, met die Indiese oseaan reg agter my, by STRAB voor ’n spul musiekliefhebbers op te tree vanjaar. Ook was die Baptism-albumbekendstelling onlangs, waar ek vir die eerste keer saam met ’n regte orkes opgetree het, ’n fantastiese nuwe ervaring, wat hoog op die lysie sal bly. Selfs die een keer toe ek in ’n onbekende dorpie gaan optree, en net die venue se eienaar, twee kroegmanne en een betalende kliënt vir my sit en luister, was ’n onverwagse en onkonvensionele hoogtepunt.

Gelukkig is daar min ervarings waarvan ek eerder sal wil vergeet, maar die plek waar al die kliënte buite gesit het, só dat ek hulle nie kon sien terwyl ek optree nie, en ek boonop (per ongeluk, ek belowe) ’n gat deur hul houtdek getrap het, sal ek nie graag herhaal nie.

Wat, buiten die vrystellingtoer vir die album, hou die nabye en verre toekoms vir Kabaal Klankbaan in?

Tydens daai bogenoemde radiostilte het ek maar van verhoë af weggebly, maar glad nie stilgesit nie Hierdie brein hou ook nie sommer op woeker nie. So hoewel daar geen konkrete planne is nie, het ek heelwat nuwe liedjies geskryf wat nog opgevoer en/of opgeneem moet word, en het ek rowwe planne vir verskeie albums, kortspelers, liedjies en optredes. Ek maak nie graag beloftes oor die toekoms nie (want voorspel en belowe is moeilikheid soek), maar daar is definitief heelwat Kabaal Klankbaan wat nog voorlê.

Wat is die sin van die lewe?

Om saam te sing – wat ook al dit vir jou mag beteken.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top