Boekresensie: Multivers deur Hennie Smith

  • 0

multivers-500Multivers
Hennie Smith
Uitgewer: Naledi
ISBN: 9780928316643

2016 was ’n opwindende jaar vir Afrikaanse poësie. Talle nuwe digters het by ’n verskeidenheid uitgewers gedebuteer. Bibi Slippers (Fotostaatmasjien), Etienne Terblanche (By die nag se wit kant in) en Shirmoney Rhode (Nomme 20 Delphi Straat) is maar enkeles wat hul unieke stemme by die Afrikaanse digkuns gevoeg het.

Hennie Smith is een van die debutante wie se bundel Multivers by Naledi verskyn het. Saam met onder meer Lina Spies, Cas Vos en Christine Barkhuizen-Le Roux vorm Smith nou deel van dié uitgewer se toetrede tot die mark vir die publikasie van Afrikaanse poësie wat die afgelope dekade hoofsaaklik danksy Protea se volgehoue geloof in die publikasie van Afrikaanse poësie, deur laasgenoemde uitgewer oorheers is.

Die bundel word tans gelys as een van Naledi se topverkopers. Dit gebeur selde dat ’n digbundel ’n uitgewer se topverkoperlys haal tensy dit ’n bundel van ’n gevestigde digter soos Joan Hambidge, Breyten Breytenbach of Johann de Lange is. Die eer val debutantdigters selde te beurt. Die vraag wat gevolglik gevra moet word, is waarom poësieliefhebbers juis Smith se bundel aanloklik vind ten spyte van die feit dat hy ’n onbekende digter is.

Met die eerste oogopslag is die besonderse voorblad opvallend. Naledi het ongetwyfeld geen moeite ontsien om die bundel se voorkoms so aanloklik moontlik te maak nie. Mimi van der Merwe se tekeninge komplementeer die teks en sluit tematies aan by die gedigte. Die waterverftekening van ’n naakte vroulike figuur op die voorblad is gepas, aangesien dit (veral) op die tweede afdeling van die bundel van toepassing is.

Die digter is ’n fisikus van beroep en gevolglik resoneer die tema tesame met die filosofie en kosmologie sterk in Multivers. Volgens die woordverklarings in die bundel word die titel soos volg verklaar:

Die samehang van die univers word deur eenvoudige wiskundige “wette” beskryf, maar daar is in elke formule ’n konstante wat toevallig die presiese waarde het wat Homo sapiens se bestaan moontlik maak. Fisici poog om die toevalligheid te verklaar deur te postuleer dat daar ’n oneindige aantal universe is sodat al die moontlike waardes van die konstantes “getoets” word. Ons bevind ons in dié univers wat ons bestaan moontlik maak. Hierdie magdom universe word die multivers genoem. (101)

Multivers is dus ’n term uit die fisika en volgens die digter poog elke gedig om ’n (klein) univers van woorde cum gedagte te wees. Laasgenoemde verklaring klink vir die meeste lesers besonders ingewikkeld, maar word geleidelik deur die gedigte ontsluier.

Die bundel bevat drie afdelings, getiteld “ars poetica”, “ewige vroulikheid” en “woelende woorde”. Die programgedig heet “Multivers” en lui soos volg:

Uit ’n gedagte-knal
’n singulariteit van denke
kristalliseer woorde
galaksies van strofes
in ’n verdigte univers

dieselfde woordelemente
verskillend gejukstaponeer
mag stol in nuwe strofes
om ’n ander univers te gee

só laat die skeppingswoord
’n multivers ontspring
vir singuliere denke
’n verbeelde werklikheid.

Die gedig dien as gepaste inleiding tot die bundel, aangesien dit op geslaagde wyse die skepping van die univers waarin die mens hom (of haar) bevind, as metafoor vir die digter-as-skepper van woorde en poësie aanwend. Die “ars poetica” word verder verwoord in gedigte soos “woordpalet”, “woorde spin” en “woordskig”.

In ’n oerwolk van swewende woorde
blaas die Muse ’n sagte sug
bring ’n roering in die gewelf
woorde wat koaguleer

óm gedagte-swaartepunte.

Algaande uit die newels spin
’n patroon van reëls en strofes
wat aan die univers van taal
gestalte gee en sin.

Die tweede afdeling, “ewige vroulikheid”, bevat van die bundel se mees geslaagde verse. Die verse is minder akademies van aard en die metafore word op geslaagde wyse verwoord. Interessante verwysings na Helena van Troje asook Héloïse en Abélard kom voor. (Die gedig “Héloïse” kan ook op intertekstuele vlak met NP Van Wyk Louw en Sheila Cussons se gedigte oor die twee geliefdes vergelyk word.) Vroulikheid figureer sterk (soos die afdelingtitel aandui) met ’n subtiele erotiese toon wat in talle van die gedigte aanwesig is.

Gravitasiekolk

Die swaartekrag van vrouwees
wat uit jou wese straal
word ’n gravitasiekolk
waarom my denke
galakties tol

en stadig inspiraal
tot ek jou gebeurehorison
penetreer
deurklief
om in kosmiese koïtus
in jou op te gaan
en soos sterrestof
spermies
in jou omhelsing
in te plof.

Die afdeling beslaan die grootste aantal gedigte in die bundel. Alhoewel die meerderheid gedigte vroulikheid, liefde en verhoudings op geslaagde wyse verwoord, is daar egter die minder geslaagde gedigte wat clichéagtig daar uitsien. “Fees van harte” dien as enkele voorbeeld: “Ek sein vir jou met Valentyn/ ’n hartjie rooi simbool/ sluimer liefde lank geleë/ wat oor die jare spoel (…).”

Die slotafdeling bevat gedigte met ’n meer persoonlike toon waarin allerlei fasette van menswees ter sprake kom. Wat my veral opval omtrent die bundel in sy geheel is die wyse waarop Smith wetenskaplike elemente met die meer emosionele aspekte van die menslike bestaan inkorporeer. Op spreekwoordelike wyse dissekteer Smith die menslike psige binne die groter “multivers” van ons bestaan.

Multivers is ’n belowende en opwindende debuutbundel wat ’n waardevolle bydrae tot die nuwe stemme in die Afrikaanse digkuns lewer.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top