Boekresensie: Hierdie huis deur Kleinboer

  • 11

Hierdie huis
Kleinboer
Umuzi
ISBN: 9781415207321

“Dekadensie kan teruggevoer word na die Latynse cadere: om te val. Verval, decay. Een van die eerste tekens dat ’n beskawing aan die verval is, is wanneer konstruksies nie meer in stand gehou word nie. Stukke pleister val van geboue af; standbeelde verloor hulle neuse, ore en penisse word nie reggemaak nie.”

So skryf Kleinboer op bl 25 van die derde boek van sy reeks outobiografiese vertellings. Die eerste twee, Kontrei en Werfsonde, het onderskeidelik in 2005 en 2013 verskyn – die eerste een by Praag, die tweede een ook by Umuzi.

Heelwat Afrikaanse skrywers het al geskryf oor interkulturele seksuele omgang (dit wat in die ou tyd, onder die apartheidswetgewing, beskryf is as “ontug”) (vgl oa Die ambassadeur van Brink), maar selde, indien ooit, as outobiografiese vertelling in die eerste persoon. In die postapartheid tyd waarin Kleinboer werk en skryf, is sogenaamde ontug in elk geval lank nie meer ’n misdaad of selfs sosiaal onaanvaarbaar nie, en sedert sy eerste boek het sy reeks gedetailleerde persoonlike ontboeseminge dus heelwat van hul rou skokwaarde verloor. Die sukses van Kontrei het gelê in die verrassingsfaktor: Is dit moontlik dat een wit man by soveel swart vroue kan slaap? Werfsonde was more of the same: die opnoem en beskryf van ’n skynbaar eindelose string eskapades in die hoerhuise en agterstrate van multikulturele Johannesburg.

Reeds in Werfsonde is daarop gesinspeel dat ’n derde boek moontlik op pad is. Ek onthou dat ek destyds in ’n resensie geskryf het ek hoop dat die derde boek ’n nuwe perspektief kan bring, indien nie nuwe tipe materiaal nie. Dit doen Kleinboer wel in Hierdie huis, maar nie op die manier wat ek verwag het nie.

Die hoofkarakter woon nog steeds in sy huisie in die middel van Yeoville, nog steeds die enigste wit inwoner in ’n see van swart Suid-Afrikaners en ander inkomelinge. Hy is nog steeds vasgevang in ’n stormagtige huwelik wat gekenmerk word deur seksuele ontrouheid (van sy kant af), oormatige drankgebruik (sy vrou, Lungi, se swakheid), vervreemding (hul seun, Jomo) en algehele chaos. Soos in die vorige boeke, skrop Kleinboer sy nes tussen wanordelike huislike situasies, afgewissel met seksuele avonture in nabygeleë én veraf plekke (hierdie keer is daar selfs ’n ekskursie tot in Sentraal-Afrika) en besoeke aan verskeie Johannesburgse watergate waar hy lang gesprekke voer, op die man af en per SMS, met ander verloopte, desperate karakters soos hy self. Indien moontlik, is die vergrype en rigtingloosheid van sy lewe in hierdie laaste voorstedelike huis omring deur ’n stedelike oerwoud – indien nie meer prolifiek as in die eerste boek nie, dan wel meer eksistensieel en … hoe kan mens dit beskryf? ... meer klinies, byna kil.

Daar is ’n onderliggende nausea (ja, in die sin van Jean-Paul Sartre) aan die vertellinge in Hierdie Huis wat nog nie so duidelik deurgekom het in Kleinboer se vorige boeke nie.

Hierdie huis is meer as slegs ’n hoerhuis-reisverhaal; dit is die persoonlike memoires van ’n semi-outistiese seksverslaafde wat obsessief dieselfde geykte gewoontes oor en oor herhaal, tussen die skep van kwasipoëtiese Lotto-rympies en die oorvertel van betekenislose TV-programme, nuusberigte en irrelevante feite. Soos met die ander boeke, gebruik Kleinboer literêre tegnieke wat herinner aan dié in Gerard Reve se De Avonden en James Joyce se Ulysses, maar dan ook met iets van die verskrikking van Joseph Conrad se Heart of darkness.

Sonder om die plot heeltemal weg te gee, kan ek onthul dat die storie eindig in ’n reeks tragiese gebeure wat inderdaad, getrou aan die cadere-metafoor van bl 25, eindig met ’n val, in hierdie geval ’n letterlike neerdonder (sondeval?) waarin een van die belangrikste karakters se lewens op ’n bisarre en groteske manier ten einde kom. Soos in Camus se The Fall, word die mees brutale gebeure egter met ’n byna makabere détachement beskryf.

Om hierdie boek uit ’n literêre oogpunt te lees is ’n belewenis. Lees jy dit uit ’n menslike perspektief, wil jy gryp na jou universiteitsielkundehandboeke, in besonder die hoofstukke oor neuroses en psigoses.

Waarom het Kleinboer hierdie boek gepubliseer? En waarom nou? Die gebeure wat hy beskryf, het reeds lank gelede gebeur. Dit is duidelik dat byna die hele teks samevoegings is van jare oue stukkies prosa en memorabilia uit ’n ou hardeskyf. Dié wat Kleinboer ken – ek ken hom nie meer goed nie, maar ’n onlangse toevallige ontmoeting op ’n lughawe het my vermoedens bevestig – weet dat sy wilde jare grotendeels verby is en dat sy hedendaagse lewe nie meer gekenmerk word deur die gebroke werklikheid wat hy in Hierdie huis aan ons opdis nie. Die hoop op ’n beter toekoms, gesimboliseer deur die randkarakter genaamd Beauty, het in die regte lewe inderdaad toe nie beskaam nie!

Ek vermoed dat Kleinboer, soos alle groot kreatiewe geeste, met Hierdie huis, anders as met sy vorige boeke, ’n veel meer universele boodskap het om oor te dra, ’n boodskap wat baie meer vervat as die verbrokkeling van een man se huwelik of die rampspoedige ervarings van een huisgesin. Dit is ’n idioom en tydsdokument vir vandag, ’n beeld van dit wat ons geword het, ’n skets van die tragedie waarop ons besig is om af te stuur as gevolg van ons eie onnadenkendheid en onverantwoordelikheid.

Hierdie boek is, in kort, ’n woordskildery van die nuwe Suid-Afrika soos dit vandag daar uitsien. Dit is ’n spieëlbeeld van ons as samelewing. Dit gee ons ’n prentjie waarin ons die tye waarin ons leef, kan herken. En dis allermins ’n mooi prentjie. Eerder as die kitsch reënboognasie-idiome wat die idealistiese middel-‘90’s gekenmerk het, herinner Hierdie huis eerder aan die donker kannibalistiese en grusame gestaltes van Francisco Goya se afgesonderde sterwensjare.

Hierdie huis is ’n verontrustende boek. Ons het rede om verontrus te voel. As ek hierdie boek in die historiese konteks van Afrikaanse literatuur in die geheel moet plaas, sou ek sê dat dit die een boek is, meer as baie ander, wat ons in die jaar 2017 waarsku dat ons, as volk, as nasie en as land, reeds veels te naby aan die afgrond van totale kulturele en sosiale verval is.

Be afraid. Be very afraid ...

  • 11

Kommentaar

  • Robert van Staden

    Hoekom voel ek altyd so bietjie ongemaklik as goeie vriende mekaar se boeke resenseer?

  • Curious, very curious, om hierdie een te lees. Seker een van die innoverendste skrywers van ons tyd.

  • Fair point, Robert. Ek moet darem byvoeg ek en Koos het van die middel 80’s tot die middel 90’s baie briewe aan mekaar geskryf, maar sedertdien kontak verloor.

    • Hou niks van resensie nie. Ervaar dit as effe TE persoonlik en dit oorskrei grense - die persoon word aangevat eerder dat boek analiseer word.

  • Niel van Deventer

    Dis 'n swak resensie van 'n briljante boek. Koos het duidelik tred verloor met Fanie, Johannesburg en moontlik Suid-Afrika en die werklikheid.

  • Piet Croucamp

    'n Baie interessante boek. Koos praat oor die 'raw brilliance' of decadence en verval. Hy verstaan hierdie psigose en 'verval' beter as baie ander skrywers, want hy was al - in 'n mindere of meerdere mate - self daar. Kritiek op KK se refleksies sal daar baie wees; grootliks vanuit sosio-kulturele gemakstoele ('n soort elitisme), en vanuit 'n perspektief met die analitiese reikwydte van Fanie se binnekring-deernis.

    Die meeste Suid-Afrikaners kyk na die embrio van psigo-sosiale en kulturele dekadensie met morbiditeit, maar ook afstand; "it can and will get a lot worse, this is only the beginning". Fanie se gedagtegang is eerstehands en rigtingwysend; Koos sien iets wat hy herken, en aan sy vel gevoel het. Baie goeie, "next level pshyco-sociology"-resensie van 'n hardcore ervaringswêreld.

    'n Moet lees, maar probeer Fanie word terwyl jy lees; as jy kan sal jy beter verstaan.

  • Nee wat ek kon soos die ander twee dit nie neersit nie! Fanie skryf lekker oop; verontrustend moet ons maar almal wees; wie het in elke geval die GUTS om in daai plek te kon aanbly? lekker gelees! Kleinboer met die groot gees!

  • Ek erken ootmoedig dat ek maar pas van KLEINBOER as skrywer bekend geraak het en baie belangstel om sy boeke te lees, deels agv sy skryfmateriaal en asook die feit dat ek van kleins af 'n geografiese verbintenis met hom het in die sin dat ons jarelange bure tydens ons kinderjare was.
    In die lig van my tans beperkte kennis oor sy boeke, sien ek baie daarna uit om sy werke te lees en ek glo dat ek agv my eie lewensondervinding sterk met die skrywer sal kan identifiseer.
    Ek sien uit na 'n tydperk van lekker lees!

  • ERIK met 'n K

    Erkenned dat ek slegs resensies gelees het: dis 'n 'sjokker'. Maar vandag is omtrent alles so: tsunamies, ysbere ingesluit! Onthou die Mammoets (weet julle nog?Aardrykskunde Std.3).

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top