US Woordfees | Festivals

 
WOW word tien
Die Woorde Open Wêrelde-jaarprojek van die US Woordfees, wat reeds sedert Oktober 2003 aangebied word, is een van die Universiteit Stellenbosch se grootste skooluitreikprogramme, met ’n wye verskeidenheid projek-aksies. Elzette Steenkamp het Fiona van Kerwel oor die WOW-projek uitgevra.

 

Noodsaak vir die WOW-projek

Die WOW-projek is ‘n taalgerigte projek van gemeenskapsinteraksie aan die US en is veral gerig op woordvaardighede, lees, geletterdheid en die kunste, met Afrikaans as fokustaal. Dit is ’n kardinale projek, aangesien navorsing uitwys dat taalkennis prestasie in alle vakrigtings bepaal, insluitend wiskunde en wetenskap. Deur die nadruk op lees – en moedertaalonderrig in Afrikaans – wil die WOW-projek ’n bydrae lewer om die krisis te help beredder wat tans in Suid-Afrika bestaan.

Visie
Die WOW-Projek, as deel van die Woordfees en die Fakulteit Lettere en Wysbegeerte aan die Universiteit Stellen­bosch, streef daarna om minderbevoorregte leerders te bereik en hul visie te verruim deur middel van die woord; hul bewus te maak van die wonder van boeke en die literatuur; om ook ’n liefde en trots vir hulle moedertaal te kweek; om kreatiwiteit en kennis en waardering vir die kunste te stimuleer en verdere studie aan te moedig.

Soos ons verstaan, is die WOW-projek gekoppel aan die Woordfees, maar dis dwarsdeur die jaar aan die gang. Vertel ons meer oor die projekte wat julle in 2013 gaan loods.

Ter verduideliking: kyk tabel.

 


Nr

Projek-aksie

Kort beskrywing

Tyd

1.

Skrywersbesoeke, graad 12 - soos met skole ooreengekom

Skrywersbesoeke aan graad 12: skrywers, digters of letterkundiges vergesel WOW na skole, tot in Noord-Kaap, en gesels met leerders oor hul voorgeskrewe werke vir Afrikaans Huistaal of Afrikaans Eerste Addisionele taal.

Jan – Maart 2013

2

WOW-Spelfees, graad 1 – 10 - open op 04 Februarie

Spellyste word op webwerf gelaai en skole voltooi inskrywingsvorms vir deelname. Kompetisies word dan ogv geografiese ligging aangebied. Hierdie kompetisie word ook nasionaal aangebied.

4 Februarie 2013

3

Langarmdans, Vrydag 1 Maart, AF Louw-skoolsaal, Stellenbosch

Ten bate van ons gemeenskap bied WOW elke jaar tydens die US Woordfees ’n langarmdans aan.

1 Maart 2013

4

WOW-Skrywersfees – skrywersgesprekke vir skole met leeskringe

WOW-leeskringe neem deel aan skrywersgesprekke tydens die US Woordfees en kry geleentheid om skrywers van jeugboeke te ontmoet.

 4-7 Maart 2013

5

WOW-Skryfskool vir belangstellende hoërskoolleerders – R100/pp

Hoërskoolleerders neem deel aan ‘n skryfskool wat deur bekende jeugboekskrywer aangebied word.

8 Maart 2013

6

Graad 12 WOW-Dag – betrokke skole wat die WOW-Dag besoek

Skole met hul gr 12-leerders en onderwysers besoek WOW-fees wat tydens die US Woordfees aangebied word; dit behels ’n voldagprogram en feestelikhede tydens die fees.

9 Maart 2013

 7

WOW-Onderwysersdag -betrokke skole wat die WOW-Dag besoek

Skole met hul gr 12-leerders en onderwysers besoek WOW-fees wat tydens die US Woordfees aangebied word; dit behels ’n voldagprogram en feestelikhede tydens die fees, veral by De Vette Mossel-restaurant.

9 Maart 2013

8

Skoolkoerantwerkswinkel – oop vir alle belangstellende hoërskole

’n Joernalistieke werkswinkel word aangebied vir skole en Son-koerant help skole met die opleiding van hul redaksies.

9 Maart 2013

9

Skoolkoerantprojek – oop vir alle deelnemende hoërskole

Hierdie werkswinkels duur voort en sluit af met ’n gala-geleentheid waartydens beurse aan voornemende studente oorhandig word, sowel as die aankondiging van wenkoerante, joernaliste en fotograwe.

Maart–Nov 2013

10

Billike Boeke – boekverkopings by belangstellende skole

Boekverkopings by skole in samewerking met LAPA

Feb–Nov 2013

11

Karnaval – fees op Van Der Stel Sportterrein met mallemeule en ander vermaak

In samewerking met Son. ’n Hoogtepunt op die hemelse feesprogram, met kunstenaars soos Emo Adams, Dr Victor and the Rasta Rebels, The Rockets, Salome, Tururu en Son se Battle of the Bands-wenners! Stellenbosch 360 se talentkompetisie-wenners tree op vanaf Vrydag 8 Maart om 17:00. Gesonde en veilige gesinsvermaak met stalletjies en pretritte. Vir grootmense bied die biertent heerlike lafenis teen die hitte. Versit hemel en aarde om dit by te woon – jy sal bly wees oor dié groot waarde vir jou geld!

8 Maart, 16:00-23:00; 9 Maart 12:00-23:00 – Van der Stel Sportterrein. R30 volwassenes, R20 leerders en studente.

9 Maart 2013

12

Debatfees – met betrokke skole, Lapa-uitgewers en ATKV

In 2013 slyp debatteerders hul vaardighede vir die 4de keer met dié lekker informele saamspankompetisie. Jan van Riebeeck en Schoonspruit Sekondêr verdedig hul 2012-titels. Vanjaar is daar 3 afdelings: Nuwe Besems (spanne met min ervaring); Ou Hande (meer ervaring) en Hardekoejawels (ervare spanne). Tien van die Ou Hande neem ook deel aan die ATKV se debatkompetisie en GSW slyp hul vaardighede met ’n werkswinkel.
l

2 Maart 2013

13

Debatwerkswinkels in samewerking met GSW

 Maart 2013

14

Verf-en-Vers- werkswinkels – oop vir alle belangstellende laerskole

Kreatiwiteit en ’n liefde vir lees word aangewakker by leerders in die grondslag- en intermediêre fases deur werkswinkels in kreatiewe skryf, visuele geletterdheid, teken en verf. Onderwysers kry raad om taalonderrig vernuwend en kreatief aan te pak en word ingelig oor die jaarlikse Verf-en-Vers-kompetisie. Kontant- en boekpryse van Leserskring is op die spel!

9 Maart 2013

15

Kuier se kinderhoekie – PJ Olivier Kunssentrum

Kuier-tydskrif bied weer ’n wonderlike sessie van pret en plesier terwyl leerders hulle vaardighede in kunsvlyt opskerp. Spesiaal vir gr 5- en 6-leerders van genooide skole.

9 Maart 2013

16

Kinderfees Oop vir belangstellende laerskole

Soos tydens die US Woordfees aangebied: WOW nooi leerders vanuit minderbevoorregte gebiede en hulle woon dan die Kinderfees gratis by.

9 Maart 2013

17

Boekebuddies besoek aan belangstellende laerskole

WOW-leeskringe neem deel aan die ATKV se Woordveertjies en tydens ’n Boekebuddie-vertoning word grepe uit sekere boek opgevoer.

April 2013

18

Graad 8-Letterkunde Projek – vir alle belangstellende hoërskole

Tesame met Breytenbach Sentrum bied WOW sessies aan by skole om letterkunde vir die groep lesers lekker te maak.

April 2013

19

Spelfees-werkswinkels – oop vir alle belangstellende laerskole

Soos bo. Opleiding en demonstrasies oor hoe die Spelfees werk, word aangebied.

Feb, Mei, Augustus en Oktober 2013

20

Leeskringe – oop vir belangstellende laerskole en hoërskole

Leerders by 20 verskillende hoër-, laer- en kleuterskole vorm WOW- leeskringe en hou gereelde byeenkomste waar die boek bespreek word ooreenkomstig die ATKV-stembriefie.

Maart tot Julie 2013

21

WOW-Dramafees saam met ATKV

WOW bied ’n dramakompetisie aan vir WOW-skole, en wenners dring deur na die ATKV Tienertoneel.

Mei 2013

22

Kultuurfees – oop vir alle belangstellende hoërskole

Werkswinkels word by verskillende skole aangebied ten einde die kultuur by die skool ’n bietjie uit te brei.

Julie 2013

23

Leesfeeste – oop vir alle belangstellende laerskole

Skrywers besoek laerskole en voer ’n gesprek met die hele skool. Leerders kan vrae stel en boeke word uitgedeel as pryse.

Oktober 2013

24

Spelkompetisie – oop vir alle belangstellende laerskole

Die hoogtepunt van die WOW-Spelfees.

Eindig Oktober 2013

25

Verf-en-Vers-kompetisie – oop vir alle belangstellende laerskole

Soos by 14.

30 November 2013

26

Beursprojek – beskikbaar vir alle voornemende studente wat aan die nodige vereistes voldoen

Voornemende studente word ondersteun met hul aansoeke sowel as finansiële steun.

Aansoeke sluit Junie en September

 

Die WOW-fees is vanjaar tien jaar oud. Wat het julle oor die afgelope tien jaar bereik en wat staan vir jou uit as hoogtepunte oor die afgelope dekade?

WOW het begin as ’n klein projek met drie projek-aksies in 2003 en spog vanjaar met drie kernfokusse wat 25 projek-aksies insluit. Ons groei is dus definitief een van ons hoogtepunte, maar ook die WOW-Spelfees wat nasionaal aangebied word en meer as 110 000 mense bereik het. Elke WOW-student wat hier by die US studeer, of reeds studeer het, is vir ons ’n hoogtepunt – om deel te kon wees van die groei en ontwikkeling van hierdie kinders, is absoluut fantasties. Ons wonderlike vennootskap met die ATKV en die projekte wat ons gesamentlik aanpak, doen fantastiese dinge vir die bevordering van Afrikaans, maar ook vir jongmense se ontwikkeling van noodsaaklike vaardighede. Ook ons samewerking met Son en die beurse wat hul beskikbaar stel vir verdere studie, asook die ondersteuning van die Stellenbosse Wynfees, is absoluut fantasties, en baie beslis hoogtepunte! En vanjaar, met die betrokkenheid van die Dagbreek Trust, Millennium Trust en Checkers, kan ons ons Spelfees selfs nog groter uitbrei. Ook die feit dat ons vanjaar ’n dekade van WOW kan vier, is ’n absolute hoogtepunt.

Groot klem word gelê op skryfskole en koerantprojekte. Hoekom is geletterdheid en ‘n liefde vir skryf en lees – veral in Afrikaans – so belangrik?

Lees en skryf is die kernfunksies van geletterdheid. Hierdie vaardighede is vir leerders en hul akademiese prestasies baie belangrik, veral omdat ons baie met leerders uit minderbevoorregte gebiede werk, en ons probeer hulle deur kreatiewe aksies wys hoe woorde wêrelde kan open. En ook soos Zulfah Otto-Sallies sê, deur net iets te lees of skryf kan ’n persoon sy eie wêreld skep! Afrikaans is vele leerders se moedertaal en ons wil ook aan leerders toon dat Afrikaans ook wêrelde kan open, en dat moedertaalonderrig baie belangrik is vir akademiese prestasie. Dis ’n taal wat as medium dien om wêrelde te open en niemand hoef agteruit te staan nie. Afrikaans is werklik ’n taal om op trots te wees. Die skoolkoerantprojek met Son is ’n ware ligstraal met wonderlike werkswinkels en beurse vir leerders.

Daar is ook ‘n WOW-Dag vir onderwysers en onderwysstudente. Watter programme het julle wat spesifiek gemik is op die bemagtiging van onderwysers en onderwysstudente?

Ons Spelfees, Dramafees en Debatfees fokus veral op die opleiding en bemagtiging van onderwysers. Werkswinkels word aangebied, en onderwysers tree op as amptenare by die verskeie kompetisies. Daar is reeds WOW-onderwysers by skole – juf Achillis van Strand Sekondêr was byvoorbeeld deel van die WOW-projek as student, en is nou ’n Afrikaans-onderwyser te Strand Sekondêr. Sy is steeds deel van die WOW-projekte waaraan haar skool deelneem.

Na watse items kan ons vanjaar uitsien by die Woordfees self – en is daar enigiets om die tien-jaar-mylpaal te vier?

Tydens die Woordfees het die WOW-Projek wonderlike produksies, soos ons Verf-en-Vers, Kuier, WOW-Dag vir leerders en onderwysers, asook die Karnaval!

Die tien jaar sal ons beslis vier – ek onthou nog hoe ’n dierbare vriend my gewaarsku het aan die begin in 2004 dat projekte so vinnig kan gaan, en vandag, tien jaar later, is hy die grootste ondersteuner van die WOW-Projek. Ons dinamiese projektegroei is vir ons fantasties, maar kwaliteit is baie belangriker as kwantiteit. Ons pak slegs aan wat ons kapasiteit en fondse ons toelaat.

Maar dit is fantasties hoe ons weldoeners, donateurs, vennote en vriende in ons glo en ons die nodige ondersteuning gee om hierdeur wonderlike projekte aan te pak.

En ja, ons het in November ’n groot gala-geleentheid, waartydens ons ons skoolkoerant bekroon en beurse oorhandig word, en hier sal ons beslis WOW se beuel blaas vir ons wonderlike dekade!

Gaan jy aan enigiets anders by die Woordfees deelneem? Na watter items sien jy uit op die program?

Ja, ek is deel van ’n gesprek by Diskoers met Lynette Francis en RSG oor leeskultuur en die rol van tegnologie hierin. Sien baie uit daarna, maar ek is maar bietjie senuagtig, hoor.

Die Woordfees het vanjaar so baie produksies, en ek wil graag ’n paar dramas bywoon, maar dis glad nie so maklik nie – die WOW hou ons heeltemal te besig.

In die Woordfeesprogram staan daar dat julle meer as 162 000 mense in sewe provinsies se lewens verryk het. Hoe bereik julle mense buite Stellenbosch, en hoe verryk jul projekte hul lewens?

Ons het inderdaad baie hard gewerk tot ver buite die grense van ons geliefde Wes-Kaap. Ons Spelfees het alle provinsiale grense oorgesteek en vanjaar het ons in die Noord-Kaap begin met skrywersbesoeke aan die graad 12-leerders. Ons reis maar na al die omliggende dele buite Stellenbosch en ons maak ook gebruik van WOW-koördineerders in verskillende streke of provinsies.

Ons probeer mense se lewens verryk met dit wat hulle onthou van die WOW-projek; ons probeer deur weldeurdagte projekte nie net mense se vaardighede verbeter nie, maar ook ons menswees; ons wil hulle ’n WOW-ervaring gee sodat hulle altyd deel van ons projek wil wees, maar ook sodat hulle kan besef watter magtige medium taal is en hoe hul woorde vir hulle wêrelde kan open.

 

 

 

Comments 0 Reaksies | 0 Comments
   om te reageer | to comment
    Slegs indien jy inteken sal:
  • jou kommentaar aan jou LitNet-profiel gekoppel word
  • kan jy aandui dat jy 'n boodskap wil ontvang indien ander kommentaar by hierdie artikel verskyn.
    When you sign in:
  • your commentary will be linked to your LitNet profile
  • you have the option of receiving notifications of new commentary on this article.

Reageer | Post a comment
Kommentaar is onderhewig aan moderering | Comments to be moderated
Naam | Name  
E-posadres | Email address