Wees gereed voordat jy die Paas-pad pak

  • 0

Die Paasvakansie is om die draai en Suid-Afrikaners sal binnekort die paaie aanpak - gretig om by hulle bestemmings uit te kom.

Indien jy beplan om op reis te wees gedurende die Paasnaweek moet jy ekstra voorsorg tref, veral gegewe die hoër verkeersladings wat gedurende hierdie tyd verwag word. Die hoeveelheid motorongelukke gedurende enige vakansieseisoen neem altyd skerp toe.

“Dit beteken nie alleen dat jy meer versigtig moet bestuur nie, maar ook dat jy moet seker maak dat jou voertuig in in ‘n puik toestand is, omdat so baie ongelukke juis as gevolg van onpadwaardige voertuie gebeur”, sê Elmarie Twilley, woordvoerder van Virseker. “Jy wil ook beslis nie langs die pad gestrand wees as gevolg van ‘n voertuig wat onklaar geraak het nie, veral omdat dit jou ook kwesbaar laat teen misdaad.”

So, wat is die beste manier om jou eie veiligheid, dié van jou geliefdes en ander padgebruikers te verseker? “Gaan jou motor deeglik na minstens twee weke voordat jy op reis vertrek, sodat alle nodige herstelwerk betyds voltooi kan word”, stel Twilley voor.

Jou oorsiglys moet die volgende insluit:

Ligte:

  • Maak seker dat alle gloeilampe op jou voertuig in ‘n werkende toestand is om te verseker dat jy kan sien, gesien kan word en jou intensies duidelik kan aandui.
  • Verseker dat hoofligte reg verstel is sodat hulle genoeg sigbaarheid op die pad bied, sonder om te hoog te skyn en so sigbaarheidsprobleme vir aankomende motoriste te veroorsaak.

Ruite en ruitveërs:

  • Gaan alle ruite na om seker te maak dat hulle in ‘n goeie toestand is en dat enige krake of happe herstel word. ‘n Beskadigde windskerm belemmer nie alleen sigbaarheid nie, maar beperk ook die windskerm se vermoë om jou in slegte weersomstandighede en tydens ‘n ongeluk te beskerm.
  • Maak seker dat ruitveërs en hul meganismes reg werk en elke slag skoon vee.

Wiele en bande:

  • Maak seker dat alle wiele stewig vas is.
  • Gaan die loopvlak van bande na. Die SA wetlike minimum is 1mm loopvlak, maar enige iets minder as 3mm beperk die band se vermoë om effektief te funksioneer.
  • Maak ook seker dat bande eweredig afloop. Oneweredige afloop van bande mag dui op ‘n verslyte stuur- of veringskomponent, ‘n oor- of onderopgeblase band of swak wielbalansering / -belyning.
  • Sien toe dat jou voertuig toegerus is met ‘n spaarwiel wat in ‘n goeie toestand is, en dat jy die regte domkrag en ander gereedskap het om ‘n beskadigde wiel en band te vervang.

Remme:

  • Gaan jou voertuig se remvloeistof na en vul op indien nodig.
  • Maak seker dat alle remskywe, -dromme en –skoene in ‘n goeie toestand is, goed presteer en eweredig afloop. Voer ‘n noodstop-toets uit om dubbel seker te maak. Enige oneweredige slytasie, ongewone geluide of vibrasies vanuit die remstelsel moet ondersoek en herstel word.

Vering:

  • Sien toe dat jou voertuig se skokbrekers en ander veringstelsels die bande ferm teen die grond hou.
  • Indien jou voertuig se rit kwaliteit harder as gewoonlik is, die voertuig baie rol wanneer jy ‘n draai binnegaan of ‘n groter afstand nodig het om te stop, moet verslyte of beskadigde veringskomponente soos skokbrekers of stutte moontlik vervang word.

Battery:

  • Toets jou voertuig se battery om seker te maak dat dit die korrekte lading lewer en, in die geval van diensbare batterye, dat die battery water tot op die regte vlak opgevul is.

Dryfbande en -kettings

  • Maak seker dat alle dryfbande en –kettings wat aan die nok, alternator, waaier en ander komponente verbind is in ‘n goeie toestand is. Bande en kettings wat breek kan enige iets van ‘n groot ongerief tot ernstige enjinskade veroorsaak.

Verkoelingstelsel:

  • Dis belangrik om seker te maak dat jou voertuig se verkoelingstelsel – veral die verkoeler en waterpomp – reg funksioneer. Maak ook seker dat die verkoelerdop behoorlik seël en dat die verkoelingsvloeistof skoon en opgevul is.

Filters en vloeistowwe:

  • Om maksimum doeltreffendheid van jou voertuig te verseker, sien toe dat alle belangrike filters – olie-, lug- en brandstoffilters – skoon is en goed funksioneer.
  • Wanneer jy die oliefilter vervang, maak seker dat jy alle ou olie uit jou voertuig dreineer en vervang met nuwe olie wat ooreenstem met die vervaardiger se spesifikasies.
  • Maak seker dat alle vloeistowwe tot op die voorgeskrewe vlak opgevul is.
  • Gaan alle olie-, lug- en brandstofstelsels na vir lekplekke en en herstel waar nodig voordat jy op reis vertrek.

Uitlaatstelsel:

  • Gaan die uitlaatstelsel deeglik na vir enige lekplekke. ‘n Beskadigde uitlaatstelsel sal nie alleen probleme met die verrigting en brandstofverbruik van jou voertuig veroorsaak nie, maar ook ‘n ernstige gesondheidsrisiko inhou.

Panele, monterings en bybehore:

  • Maak seker dat alle panele, monterings en bybehore – insluitend sleepstange en waens ens. wat daaraan vas is, in plek en behoorlik vas is. Dieselfde geld vir enige vrag wat die voertuig dalk mag dra.
  • Sien toe dat jou voertuig nie oorlaai is nie.

Veiligheids- / waarskuwingstoerusting:

  • Maak seker dat jy minstens ‘n weerkaatsende driehoek of flitslig byderhand het om aankomende motoriste te waarsku wanneer jou motor onklaar geraak het. Baie bestuurders maak slegs op hulle voertuie se noodligte staat en hou nie in gedagte dat dié dalk nie sigbaar sal wees onder sekere omstandighede, of, in die geval van ‘n elektriese fout / battery moeilikheid, dalk geensins mag werk nie.

Versekering:

  • Sien toe dat jy voldoende motorversekering in plek het, en dat jy alle ondersteunings- / noodnommers byderhand het, ingeval iets onvoorsiens gebeur.

Jou motor is nie die enigste ding wat pad-gereed moet wees nie. Dis baie belangrik om genoeg slaap in te kry voordat jy op ‘n lang reis vertrek. “Moegheid is ‘n groot oorsaak van padongelukke, so as jy nie lekker voel nie, vaak is of nie kans sien vir bestuur nie, is dit die moeite werd om jou reis uit te stel om veiligheidsredes”, sê Twilley.

Wanneer jy in die motor is, verstel die sitplek en stuurwiel tot ‘n gemaklike posisie. As jy ‘n kussing moet gebruik om jou rug te steun en rugpyn te vermy, doen dit. Dra skoene wat gepas is vir bestuur.

Terwyl jy op die pad is, hou jou energievlakke hoog deur aan gesonde vrugte en ander voedsame kosse te peusel en jouself gehidreerd te hou met water. Bly ontspanne deur na musiek te luister wat jy geniet.

“’n Kwaliteit sonbril is baie belangrik om skerp lig te keer en sal ook oog-moegheid voorkom”, sê Twilley. “Om ‘n breuk te neem elke twee ure of so is ook belangrik om op jou hoede te bly. Om jou stresvlakke te verminder voor ‘n lang reis kan ongelukke vermy. Deel hiervan is om jou reis en roete deeglik te beplan. Dit sal jou gerusstel en meer ontspanne op die pad maak”, sluit sy af.

 

 


 

Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet’s free weekly newsletter.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top