Vryfees 2014: Bullets oor Bishop Lavis

  • 0

Jy weet mens hoor nou en dan op RSG se nuusbulletins van die "voortslepende bendegeweld op die Kaapse Vlakte". Of as jy in die Kaap woon, lees jy seker in meer besonderhede daarvan in Die Burger. Maar ek sal jou sê min van ons weet regtig watter impak dit op die gewone ou en vrou se lewe het as die koeëls regtig soos kamikaze-bye onvoorspelbaar ronddwarrel in jou woonbuurt. Hoor die ander dag van ’n oumatjie wat op die stoep van haar huis in die hart van die Vlaktes saam met haar kinders sit en kuier. Nege skote in die buurt later het hulle eerder maar vir oumatjie die huis ingestoot …

Bullets over Bishop Lavis gaan ’n ver pad om hierdie situasie treffend en grafies uit te beeld. Ronnie (Abduragman Adams) en Anel (Diaan Lawrenson) woon rustig in ’n gegoede woonbuurt in Kaapstad. Enter Jerome (Charlton George), Ronnie se neef, en Malaysia (Euodia Sampson), Ronnie se gewese vrou (afgevry deur die einste Anel) om die behaaglike agtermiddag se vrede te kom verpletter. Jerome het ’n appeltjie te skil …

Die stuk begin op ’n geweldige hoëspanningsnoot, ’n amperse ’n blik in die toekoms, en dit neem die meeste van die speeltyd om weer by daardie punt te kom. Maar omdat jy gesien het wat jy gesien het, kan jy nooit tydens die stuk ontspan nie – jy bly bedag vir die snellers wat jy weet gaan kom.

Die verhoog word uiters effektief in twee tyd-ruimtelike speelareas verdeel, en die gehoor kry hierdeur insae in die verweefde verhoudinge van die karakters. Saam met Anel sien ons die twee neefs se noue band as jongmanne – amper meer broers as neefs. Ons sien Malaysia se pyn en ontnugtering, haar en Ronnie se huwelik, en Anel se tussenkoms. Die ruimte agter die skerms word goed benut terwyl die akteurs van tydperk en kleredrag verwissel. Die stelontwerp en beligting dra ook by tot die sukses van die stuk.

Hierdie produksie is presies wat ’n mens soek op ’n kunstefees – ’n vernuftige draaiboek, knap spel, ’n weldeurdagte speelruimte en ’n ordentlike onderwerp wat jou nog dae lank laat nadink. Gaan kyk dit as dit ooit in jou omgewing vertoon.

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top