Verkeersbeamptes en ander pretbederwers

  • 0

“Ons sal nooit weer ons voete op Suid-Afrikaanse bodem sit nie.”

Die man was ernstig, kwaad en hy het my reguit in die oë gekyk. Dit was in ‘n restaurant in Colchester, sowat 30 km buite Port Elizabeth op die Cradock-pad.

Die middeljarige man en sy vrou se storie het my kos amper in die keel laat vassit. “Ons is baie teleurgesteld in Suid-Afrika. Ons het altyd geglo die slegte stories oor die land is nie waar nie,” het die vrou gesê.

Ek het by ‘n tafel neffens hulle gesit en middagete geniet. Om een of ander rede het hulle gevoel ek’s die persoon met wie hulle hul nare ondervinding kon deel. Hulle was Franse wynboere wat die land die eerste keer vir ‘n vakansie besoek het. Hulle sou ook ‘n paar Stellenbosse wynplase vir sakemoontlikhede aandoen.

‘n Verkeersbeampte het egter hul pret bederf en in die proses Suid-Afrika ernstige skade en skande berokken. Duskant Cradock op pad Port Elizabeth toe het die verkeersbeampte op ‘n Suid-Afrikaanse motorlisensie aangedring. Die man wat hul gehuurde motor bestuur het, het egter sy internasionale lisensie getoon. Hy’t hulle met die tronk gedreig indien hulle nie betaal nie. Hulle het toe vreesbevange R2 000 betaal.

“Ons is klaar met Suid-Afrika. Die moontlikheid om in die wynbedryf hier te belê bestaan nie meer nie,” het die man gesê.

Ek was onkant betrap en kon nie anders as om verskoning aan te bied nie. Ironies genoeg het emeritus aartsbiskop Desmond Tutu sy ontevredenheid oor Nkandla op die voorblad van ‘n koerant langs my op die tafel duidelik laat hoor. Daar het ‘n kwaadheid en moedeloosheid in sy stem deurgeslaan.

In koerantbriewe, tydens radiobesprekings en in protesoptogte hoor ons hoe kwaad Suid-Afrikaners is. Ons mense is kwaad oor Nkandla, Marikana, Guptagate, werkloosheid, korrupsie, misdaad, die petrolprys en regstellende aksie.

Net toe ons dink ons het genoeg van al ons probleme gehoor, het Nigerië ons as die grootste ekonomie in Afrika verbygesteek. En boonop het die Internasionale Monetêre Fonds (IMF) sy vooruitsig vir groei in Suid-Afrika afgeskaal tot 2,3%.

Ons het dus groot probleme, op beide ekonomiese en politieke gebied. Nelson Mandela leef nie meer nie. So, wat staan ons te doen?

Die antwoord lê vir my opgesluit in dit wat oudminister Leon Wessels onlangs in Oudtshoorn gesê het: “Die idealisme en opwinding van 1994 het plek gemaak vir realisme en harde werk.”

Ten spyte van al ons uitdagings moet ons hande vat, saam staan en medeverantwoordelikheid vir ons probleme aanvaar. Ons moet hard werk, want ons leef in ‘n mededingende wêreld.

Ten spyte van ons politieke verskille, wat nou met die verkiesingseisoen duideliker word, moet ons nie net vinger wys nie, maar bereid wees om te sê ons is jammer, al het ons self nie gesondig nie.

Dit is nogal sinloos van oudminister Ronnie Kasrils om te hoop vir die terugkeer van die Madiba-jive. Met respek, Madiba rus nou en het sy deel gedoen. Alles is nou in ons hande.

Onthou, ons moet altyd strewe om nooit kleinlike politiek van ons gesamentlike uitdagings te maak nie.

 


 

Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet’s free weekly newsletter.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top