Tien jaar later

  • 0

Ek onthou Dinsdag 12 November 2002 baie goed. Dit was my 23ste verjaarsdag. ’n Stadig-die-somer-die-son dag in die Boland. Laatmiddag het ’n SMS tussen die verjaarsdagwense deur op my Nokia gebliep: “Johannes Kerkorrel was ’n ware profeet. RIP.”

Ek het toe nagraads joernalistiek studeer op Stellenbosch, en vryskutwerk vir LitNet gedoen as SêNet-webmeester.

’n Paar maande tevore was Johannes Kerkorrel en Dirk Uys in ’n hewige briefwisseling op SêNet betrokke wat taamlik media-dekking gekry het. Die gifpenne was uit oor onder meer outeurskap en tantieme vir songs uit die Voëlvry-dae. Dinge het soms lelik en gemeen geraak.

Tydens dié bekgeveg het ek dikwels met Kerkorrel op die foon en per e-pos gesels. Met Dirk ook. Hoewel ek hoofsaaklik die briewe gesub en gelaai het, dink ek hulle het albei dalk ’n bietjie van ’n klankbord gesoek.

Dit was ’n moeilike posisie, om as ’n jong student myself soms in die middel van twee van my helde se vurige argumente en beledigings te vind. En dit was frustrerend om indirek ’n debat aan te moedig wat gou-gou net weer in persoonlike vetes ontaard het.

Maar ek wil nie veel meer oor die destydse bekgeveg en publieke moddergooiery uitwei nie. Vandag, ’n dekade later, voel dit selfs nog meer futiel as destyds. Wat my eerder bybly, is die stortvloed e-pos-huldeblyke wat hulle ure na Kerkorrel se dood in die SêNet-inboks aangemeld het. Dit was jare voor slimfone en sosiale media. Lánk voor al die hordes “comments”, “likes”, “twiets” en “status updates”. 

Soos Amanda Strydom later sou sing in haar aangrypende lied “Ek het gedroom”, waarin sy en Kerkorrel ná sy dood saam kuier en gesels:

Ek skink die wyn, sny die brood, ek sit die blomme in 'n pot

terwyl jy giggel oor die knipsels uit die Beeld en die Rapport

Daar's meer, sê ek, lees Marie Claire en die Huisgenoot

En LitNet het ontplof met huldeblyke na jou dood

Van Amsterdam tot Sydney is daar oor jou gerou

En RSG speel sedertdien elke dag 'n lied van jou.

SêNet – dieselfde forum wat gasheer gespeel het vir die bekgeveg – het eensklaps ’n onverwagse virtuele toevlug geword, ’n plek waar mense hul skok en hartseer kon verwoord, kon deel. Ook Dirk Uys het meegevoel aan Kerkorrel se familie betoon.

Waar ek gewoonlik op daardie stadium tussen 10 en 15 briewe per dag op SêNet gelaai het, het ’n paar honderd huldeblyke ingestroom. Op ’n manier was SêNet – én LitNet – nie meer dieselfde ná Kerkorrel se dood nie. Klik hier vir ’n bladsy met van die destydse huldeblyke en briewe.

Die afgelope week het ek byna heeltyd by die werk en in die kar na Kerkorrel se musiek geluister – en ek het opnuut bewus geword van sy kreatiwiteit, verstommende veelsydigheid en musieknalatenskap. Sy platemaatskappy kan gerus meer moeite doen om al sy vorige albums te bemark – hoe lyk dit met ’n Kerkorrel Box Set?

Ek luister veral baie na sy album Ge-trans-for-meer (1996). Behalwe dat dit een van sy groot treffers – sy herinterpretasie van “Al lê die berge nog so blou” – insluit, is daar verskeie ander, minder bekende songs wat in hierdie dae met my praat: “Oe, die Kaap”, “Paradys”, “Boogskutter” en die beeldskone ode aan onsterflikheid, “Ewig Jonk”:

Mag jou liefde ’n bevryding wees, as dit kom

mag die liefde’n verlossing wees, as dit gebeur

mag jy gelukkig wees, mag dit vir altyd wees

mag jou bevryding vrede bring

mag jy gelukkig wees, vir ewig leef

mag jy altyd soete drome droom

as jy gaan slaap.

Die album Tien jaar later (1998) bied ook ’n luisterryke oorsig van sy grootste treffers. Van die protesmusiek tydens Voëlvry (soos “Sit dit af” en “BMW”) tot die luilekker “Somer”, die somber dog profetiese “Daar is geen”, die epiese “Halala Afrika” (wat hy voor 120 000 mense gesing het by Thabo Mbeki se inhuldiging by die Uniegbou in 1999) en die kosmopolitaanse “Awuwa” (saam met Stef Bos en Tandie Klaassen).

Saam met die musiek het verskeie kosbare herinneringe aangemeld: die eerste keer wat ek op ’n TDK-kasset op Jeffreysbaai na Kerkorrel en die Gereformeerde Blues Band se album Eet Kreef geluister het, ’n eerste konsert in my matriekjaar in Port Elizabeth, die Voëlvry 10-jaar-reünie-optrede by Kaktus op die Vlaktes, ’n onderhoud by ’n gastehuis in die Baai ná hy Die ander kant bekendgestel het. Kyk hier na ’n onderhoud met Kerkorrel op YouTube deur Tiny Laubscher:

Ek het vir Kerkorrel en sy musiek geken, maar helaas nie vir Ralph Rabie nie. Dit is iets waaroor ek vandag hartseer is – dat ek nie betyds op ’n ope uitnodiging vir ’n kuier by sy kleinhoewe buite Eersterivier reageer het nie.

Verlede week het ek die voorreg gehad om by ’n vriendin te sit en luister na die demo-opnames wat Kerkorrel tuis opgeneem het, wat veronderstel was om die album Die hart is ’n eensame jagter te word. Hoewel enkele van die demo’s ingesluit was op die Grootste Treffers-album Pêrels voor die swyne (2003), het die album nooit die lig gesien nie.

Hy sou met Die hart is ’n eensame jagter homself weer eens vernuwe het. “Totsiens, totsiens my prille jeug” het my in trane gehad:

Want daar is meer as een soort liefde

Daar is meer as een soort droom

Daar is die soort wat jou gevange hou

En die soort wat jou bevry

So totsiens, totsiens my prille jeug

Dit was so mooi dit was so wild gewees

Ek sal die nagte gebruik om gedigte te skryf

En altyd onthou

Hoe mooi die lewe kan wees

Hoe mooi die liefde kan wees.

Johannes Kerkorrel se musiek is onsterflik. Hopelik kan ’n nuwe geslag ook nou sy musiek ontdek en waardeer. “Hillbrow” en “Halala Afrika” is loshande twee van die beste songs in Afrikaans. En is daar ’n meer roerende liefdesverklaring in enige taal as sy “Hoe ek voel”?

Slaap sag, Kerkorrel. Ek kan net Amanda se woorde beaam:

En ek weet dat jy moes terugkeer na die ander kant

waar jy altyd jonk en vry sal wees en die lewe jou nie brand.

  • Erns Grundling is ’n joernalis by Weg!
  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top