Suidoosterfees 2014: Radiodrama-slypskool in samewerking met RSG

  • 23

Naomi Meyer het op 31 Januarie 2014 'n radiodramaslypskool by die Kunstekaap tydens die Suidoosterfees bygewoon. Hier is 'n paar indrukke, weergegee as die teks van 'n radiodrama.

RADIOTEATER
SUIDOOSTERFEES 2014: RADIODRAMA-SLYPSKOOL IN SAMEWERKING MET RSG
deur Naomi Meyer

ROLVERDELING:
1. KOBUS BURGER (intelligente uitvoerende regisseur: drama by RSG)
2. JOHAN RADEMAN (ervare omroeper, sportkommentator en radiodramaregisseur)
3. RICARDO McCARTHY (gesoute klankmenger)
4. DEAN BALIE (bedrewe akteur)
5. SUE PAYLOR (bedrewe aktrise)
6. GEHOOR (stampvol saal)
7. NAOMI MEYER (geïnteresseerde gehoorlid)

TONEEL OPEN.
1. NAOMI (FLUISTER): Het hulle al begin?
2. DEURWAG (GEDEMP): Nee, maar amper. Gaan in, daar's nog 'n sitplek oop.

DEUR GAAN OOP.
3. KOBUS (NADER): Welkom by RSG se radiodramaslypskool hier by die Suidoosterfees in die Kunstekaap. Ek wil julle aanmoedig om in te skryf vir die radiodramakompetisie wat op 21 Julie 2014 sluit. Kyk op RSG se webblad na die kompetisiereëls. Radiodrama is 'n gewilde en goedkoop medium. Radio kan jou droom waar maak. Jy kan jou drama enige plek laat afspeel, selfs op die maan.

STOEL SKUIF TERWYL LAASTE LEDE VAN DIE GEHOOR PLEKKE INNEEM. LUGREËLING DOOF VIR 'N OOMBLIK IN. WANNEER KOBUS WEER BEGIN PRAAT, IS DIE LUISTERAAR BEWUS VAN DIE GELUID VAN DIE LUGREËLING, HOEWEL DIT SAG IS.
4. KOBUS: Hierdie teaterkamer is nie 'n radio-ateljee nie. As ons vandag 'n radiodrama hier opvoer, gaan ons ons bes doen om die ideale toestande na te boots, al is daar ook klanke van buite. Luister byvoorbeeld hoe hard is die klank van die lugreëling. Of die persoon langs jou se maag wat gor ...

VROU HOES. GEHOOR LAG.
5. KOBUS: Radiodrama prikkel mens se verbeelding. Om te illustreer, maak julle oë toe. Verbeel jou jy is in die platteland en dis aand. Jy hoor krieke. 'n Motor ry verby. Dan is daar 'n harde klop aan die deur. Jy hoor iemand in die huis iets omstamp en dan së: "Vrek." Jy hoor 'n bedliggie word aangeskakel. Weer 'n dringende klop aan die deur. 'n Stem sê: "Ek kom, ek kom!" 'n Gesukkel met sleutels. Deur kraak stadig oop. Dan 'n gil: "Nee!"

STOEL SKUIF.
6. KOBUS: Maak julle oë oop. Wat het jy gesien?
7. GEHOORLID 1: Inbreker!
8. GEHOORLID 2: Die vrou se eks.
9. GEHOORLID 3: 'n Spook!
10. KOBUS: Daar is nie regte of verkeerde antwoorde nie. Jy kies jou eie storie. Dalk het die persoon die deur oopgemaak en daar was 'n grasperk vol dooie visse. Elkeen het iets anders gesien. Luister nou na hierdie klassieke voorbeeld van 'n radiodrama, met byklanke wat  'n belangrike onderdeel van die radiodrama vorm. In Die rebellie van Lafras Verwey deur Chris Barnard word die ewig sanikende teregwysing van
Verwey se baas in die staatsdienskantoor die gemaal van 'n brommer.

10. HOORBEELD MET 'N FILTER - LUISTERAAR LUISTER NOU NA 'N VOORBEELD. 
1. SMIT: Jy staan daar en “Ja Meneer, Ja Meneer” - maar ek wonder of jy luister wat ek sê.
2. VERWEY: Ek luister, Meneer.

BYK:
DIE BROMMER HET STEEDS HARDER GEWORD EN BY SMIT SE VOLGENDE SIN SAL DIT SO HARD WEES DAT DIT SMIT SE STEM SAL VERSWELG.
3. SMIT: Wel, nou wonder ek wat gaan jy aan die saak doen. Gaan jy
jy jouself vir eens en vir altyd regruk, of gaan jy jou goed vat en
loop?
4. VERWEY: Ek weet nie, Meneer.

NOU VERDWYN SMIT SE STEM, EN VIR DIE RES VAN DIE GESPREK HOOR ONS NET DIE BROMMER. DIE BROMMER MAAL EENTONIG.
Ja Meneer.
DIE BROMMER MAAL ‘N GERUIME TYD.
Ja Meneer.
DIE BROMMER MAAL VLUGTIG.
Ek sal probeer, Meneer.
DIE BROMMER MAAL DRIE OF VIER SINNE.
Ja Meneer.
DIE BROMMER MAAL ‘N KORT SIN.
Goed Meneer. Dankie Meneer. Tot siens Meneer.

11. JOHAN RADEMAN (KOM NADER NA MIKROFOON): Baie dankie, Kobus. Ek is Johan Rademan en ek gaan vanmiddag regisseur wees van 'n radiodrama wat ons hier voor julle gaan opvoer en meng. Julle het nou al vir Ricardo McCarthy daar by die tafel voor die rekenaar sien sit ...
12. RICARDO McCARTHY (VER VAN MIKROFOON): Hallo!
13. JOHAN RADEMAN: En welkom ook aan ons twee uitstekende akteurs. Dean Balie, wat op die oomblik te sien is in die bekroonde Blood Brothers-teaterstuk ...
14 DEAN BALIE (VER VAN MIKROFOON): Hallo!
15. JOHAN RADEMAN (BY MIKROFOON): En ook Sue Paylor, wat die vroulike hoofrol van die radiodrama gaan vertolk.
16. SUE PAYLOR: Hallo!
17. JOHAN RADEMAN: Onthou dat alles met klank uitgebeeld kan word. Maar moenie in die versoeking kom om te veel byklanke te gebruik nie. Skryf 'n goeie storie. En dink oor elke klank in die omgewing. Is dit belangrik watter soort motor ry? Jy as skrywer gaan ook weet of dit 'n geel of 'n rooi motor is en of dit belangrik is in jou storie. Voordat die gehoor self kans kry om die mikrofoon te gryp, luister eers na die akteurs wat 'n radiodrama vir ons gaan voorlees.

Ons akteurs gaan vanmiddag hulle tekste voor julle voorlees. Hulle gaan ook demonstreer hoe mens op gras loop. (GELUID VAN KUNSGRAS WAT IN DIE LUG GESWAAI WORD. GEHOOR LAG.)

AKTEURS LEES DIE TEKSTE VOOR – EN HIER IS DIE GEMENGDE EINDPRODUK, AMATEURSOPNAME (TEKS ONDERAAN VIDEO)

JOHAN RADEMAN: Op RSG kan u nou luister na Wraak deur Leon van Nierop.
ELMAR: Die vensters is oop. Sy is daar. Ek weet sy's daar. Die vraag is: Waar is hy? Agter die huis. Sy sal my nie dáár verwag nie. Agter die struike wegkruip.

SELFOON
ELMAR: Hallo.
ANNIE: Elmar.
ELMAR: Is hy by jou?
ANNIE: Wie?
ELMAR: Jy weet wie.
ANNIE: My liewe man, jy's paranoïes. Ek het geen idee hoekom ...
ELMAR: Jy sal betaal hiervoor. Jy dink ek weet nie. Dat ek nie omgee nie. Wel, Annie, ek het nuus vir jou.

BYKLANK. KLIK VAN GEWEER WAT OORGEHAAL WORD.
ELMAR: Ek hoop die deur is oop. DEUR KRAAK OOP. Nou is dit net ek en jy, Annie. Ek weet waar jy is. Op met die trappe. Tot in die slaapkamer. En dan ... Boaan die trappe. Nou die lang donker gang tot in ons slaapkamer. Dis waar sy wag, saam met Frank, my beste vriend. Dis doodstil. Nie 'n geluid uit die kamer nie. O, daar wag 'n verrassing vir julle. Kamer toe hier by die punt van die gang. Saggies loop. GELUID VAN STAANHORLOSIE WAT TIK. As daardie horlosie net wil ophou – dit maak my mal. Tik-tak die hele tyd, tik-tak tot my kop bars. Tik-tak. Tik-tak tot ek gek word. Magtig.
ANNIE: Elmar! Ek dog jy's in die dorp!
ELMAR: Waar is hy?
ANNIE: Wie?
ELMAR: Moenie vir jou dom hou nie. Jy weet wie.
ANNIE: Die tuinier? Hy sny die gras ...
ELMAR: Ek praat van jou minnaar, Annie.
ANNIE: Maar jy's belaglik.
ELMAR: Dis jou laaste kans.
ANNIE: Waarvoor?
ELMAR: Om die waarheid te praat.
ANNIE: Nee, Elmar, ons het al tot vervelens toe gepraat.
ELMAR: Moenie lieg nie, hy is in ons slaapkamer.
ANNIE: Daar is niemand nie. Moet jou nie soos 'n kind ...
ELMAR: Kind gedra nie? Elke keer dieselfde storie. Elke keer verkleinerend. Ek is moeg van jou geboelie, Annie. Tot hiertoe en nie verder nie.
ANNIE (GESKOK): Wat maak jy met daai rewolwer?
ELMAR: Raai.
ANNIE (HISTERIES): Elmar, moenie gek wees nie. Jy weet nie wat jy ...
ELMAR: Tot siens, Annie. Dis wat ek met verraaiers doen.
ANNIE (GIL): Elmar!

GEWEERSKOOT. VROU WAT ROGGEL.
ELMAR: Een verraaier minder. Nou die volgende ene.

MOTOR WAT AANSKAKEL EN WEGTREK.
ELMAR: Nou is dit net ek en my gewete. Uiteindelik. Reg en geregtigheid.

KENWYSIE KRUISDOOF MET HARDE APPLOUS VAN GEHOOR. DEUR GAAN OOP, GELUIDE VAN STEMME SOOS GEHOORLEDE DIE TEATER VERLAAT.
GEHOORLID 1: Dit was time well spent.
GEHOORLID 2: Ek het gedog net my ma luister altyd die radiodramas. Maar hierdie was soos in ...
GEHOORLID 3: Ja, dit was so cool.
NAOMI MEYER: Dis beslis somer buite die teater. Daar's nie sonbesies in 'n stad nie. Nou wonder ek net: Hoe sou mens hitte in klankbeelde kon uitbeeld ...?

Skryf in vir RSG en Sanlam se radiodramaskryfkompetisie. Hier is nog inligting.

  • 23

Kommentaar

  • Annette Du Toit

    Baie dankie vir al die hulp en leiding sal dit beslis gebruik.
    Hou duimvas ek kry my drama betyds klaar 🙂

  • Dr E Stan Miller

    Het nog glad nie soveel/wyer dieper na ons Afr radiodramas geloer nie maar sal dit graag doen!
    Nog 'n simpel vragie - wie, ag wie, kan my net so 'n ekstra sekondetjie of twee aanstuur - net so 'n paartjies per dag? - My tydbestuur werk glad nie meer behoorlik of 24/7 nie ...

    Sterkte en voorspoed aan ALMAL vir ONSE AFRIKAANS BO HOU!

  • @Jaco Die handleiding stipuleer dat dit 40-53 bladsye moet wees, inaggenome dat een bladsy = ±een minuut. Korter spreekbeurte kan die tempo versnel, terwyl langer spreekbeurte moontlik die tempo kan vertraag.

  • Lindie Kleinhans

    Goeie naand. My naam is Lindie Kleinhans. Ek het by my pa gehoor dat julle weer 'n radio drama kompetisie aanbied. Ek bly tans in Japan en ek is 'n sendeling wat betrokke is by Japan Missie en ek is mal oor skryf. Kan julle asb vir my die inskrywingsvorm stuur?

  • Hilda (Alta) Smit

    Goeiedag,

    Ek sukkel regtig om die inskrywingsvorm vir die RSG/Sanlam Radiodrama-skryfkompetisie op te spoor. Kan iemand my help asseblief en vir my e-pos?

    Baie dankie.

  • Wanneer jy tussen tonele wissel, doof een toneel uit (m.a.w. tot stilte) en dan doof die volgende toneel in (m.a.w. die klanke word hoorbaar). Tydens n "gewone" doof is dit 2 gebeurtenisse, maar tydens n kruisdoof gebeur die twee gelyktydig. Luister spesifiek daarvoor op die talle potgooie beskikbaar as potgooie.

  • Aubrey, die inskryfvorm is deel van die handleiding. Maak egter seker jy laai die nuutste (2020) weergawe af vanaf die RSG-webblad.

  • Ek het nou die 2014 handleiding gekry en afgelaai. Kan iemand my help deur die 2020 handleiding aan te stuur. Weet nie waar om dit te kry die.

  • Delene Morgendaal

    Ek het 'n radiodrama geskryf en wil graag aan die radiodrama-kompetisie deelneem, maar weet nie waar om die inskrywingsvorm te kry nie. Help asseblief!

  • Wat dui jy aan as 'n brief voorgelees word? (OP FILTER)? Of indien 'voice over' gebruik word, wat is die korrekte vertaling in Afrikaans? Google se dis 'stem oor'. Dit klink vreemd.

  • @Fielies, "OP FILTER" beteken dit klink dan bv. soos 'n telefoon/mikrofoon. Wanneer 'n brief voorgelees word, kan jy net aandui BRIEFVOORLESING (in bold, underline).

  • Omdat ons net 8 karakters mag hê, het ek twee karakters gou “saamgesmelt” in een. Beide karakters speel net ’n klein rolletjie. My vraag is of ek die twee karakters as verskillende karakters kan behou en die akteur net moontlik sy stem kan verander? Hulle is die in dieselfde toneel nie.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top