Feeste | Festivals

 
Suidoosterfees 2013

Die Suidoosterfees waai die Kaap die tiende keer binne vanjaar – vanaf 29 Januarie tot 3 Februarie. (Kyk hier na hulle webwerf.)

Naomi Meyer het vir Niël le Roux, die uitvoerende hoof, oor 2013 se fees uitgevra.

Hallo Niël, en dankie vir die geleentheid tot gesprek. Vertel asseblief vir diegene van ons lesers wat die afgelope tien jaar in ’n Rip van Winkel-slaap was: Wat is die Suidoosterfees?

Dit is ’n eg Kaapse kunstefees wat fokus op Afrikaans en waar ons poog om met die meerderheid Kaapse kunstenaars en Kaapse inhoud al die inwoners van die Kaap bymekaar te bring in ’n genotvolle en bepeinsende ervaring van teater, kuns, musiek en dans – selfs ’n swierige dansbal as die opening van ons land se eerste kunstefees van die jaar. Dit is ook ’n professionele platform waar ons van talentvolle jeugdiges en plaaskore tot aan ’n 8 keer genomineerde Sama wenner, Zahara, ’n geleentheid bied om hul talente in die Kaap ten toon te stel vir almal om te geniet en te waardeer.

Wat is vir jou die lekkerste aspekte van die fees – en wat is die mees uitdagende?

Die lekkerste en terselfdertyd uitdagendste is om volgens ’n direksie-missie ’n soomlose fees in diversiteit saam te stel sodat dit die Kaapse bevolkingsamestelling korrek reflekteer. Dit was nie net ’n uiters waardevolle eer en tydperk in my lewe nie, maar ook ’n heerlike ervaring om vanaf die aanvang van die fees met Jakes Gerwel saam te gewerk het as die feesvoorsitter wat juis die soomloosheid beklemtoon het as die uitstaande kenmerk van die Suidoosterfees.

Waarna sien jy vanjaar op die feesprogram uit?

Na alles, maar veral na Bidsprinkaan deur Andre P Brink, omdat dit juis my en prof Gerwel se gesamentlike poging was wat ontstaan het weens ’n ruilooreenkoms toe ek hom Orhan Pamuk se The Museum of Innocence laat lees het as my allerbeste boek ooit en hy my weer Bidsprinkaan as sy allerbeste Brink. Dit gaan egter net ’n baie seer bywoning wees, sonder prof Gerwel daar, maar ons dra die fees aan hom op en terselfdertyd gaan ons spesiale verjaardagkonsert, kykNET Bravo!, met tien Suidoosterfees-staatmakers van die afgelope tien jaar, ook aan hom gewy word. Die Suidoosterfees het bekend geword vir die aanpak van opera, van die grootse Wagner tot ’n ligte, vergete Pergolesi, en vanjaar gaan ons, soos die res van die wêreld, Verdi se 200ste bestaan vier, maar met ’n unieke hoek deur dit ook ’n viering te maak van die Eoan Groep, wat juis bekend was vir hul Verdi-uitvoerings. Die Kaapse Filharmoniese Orkes gaan hierdie besonderse konsert begelei onder ons eie Kaapse dirigent, Brandon Phillips, wat ook ’n spesiaal-saamgestelde Eoan Feeskoor olv Niël Rademan insluit. ’n Boek oor die Eoan Groep, wat vanjaar 80 jaar oud is, word terselfdertyd met hierdie opera-nostalgie bekend gestel. ’n Ander belangrike aanbieding is Adam Small se Orange Earth. Nie net vier die Suidoosterfees hiermee sy Hertzogprys-toekenning nie, maar sal die Suidoosterfees dan oor die afgelope tien jaar al sy dramas met groot sukses aangepak het, wat ’n besonderse mylpaal vir ons as ’n fees is, omdat Small se werke juis die Kaap en Kaapwees vergestalt. Ten laaste is ek geweldig opgewonde oor ons 20 Whirling Dervishes wat spesiaal van Turkye fees toe kom, asook ons Breyten Breytenbach-kunsuitstalling, wat Breytenbach self gaan open.

Watter praktiese dinge het mense nodig om te weet – waar kan hulle kaartjies koop, waar is die fees – en kan hulle ook lekker kom eet hierso (jammer, ek het reeds daardie lekker feesprogram onder oë gehad, so ek hoop jy kan ons meer vertel van die Kookroete, byvoorbeeld) ... 

Kaartjies is by Computicket beskikbaar, wat natuurlik Shoprite- en Checkers-takke insluit. Weens ons tienjaarviering is ons vanjaar nie net by Artscape nie, maar ook by Die Fugard Teater, die Kaapse Stadsaal en die Protea Hotel Victoria Junction vir intieme musiekteater met high tea en vingeretes. Kapenaars hou van kos en daarom het ons gereeld ’n kos show. Behalwe vir die Leserskring-kookaanbieding het ons vanjaar ’n nuutjie met die BoKaap Meander, wat drie roetes insluit, oa dan ook ’n kookroete waar feesgangers aan huis van Zainie Misbach ’n kosdemonstrasie en kosproe sal beleef. Hierdie roetes se kaartjie is ook by Computicket beskikbaar en LitNetters sal moet spring as hulle dit wil bywoon, omdat slegs 15 persone per keer op ’n roete kan gaan ter wille van die intieme belewenis van die BoKaap-kultuur. Kaapse disse sal egter volop wees op die kuier en RSG Piazza van Artscape met ’n kosparade wat die tydskrif Kuier aanbied van kosstalletjies tot kosdemonstrasies en kosproeëry. Altesaam bied die fees 81 aanbiedings aan, wat heelwat gratis vertonings insluit. Besoek gerus ons webtuiste by www.suidoosterfees.co.za vir besonderhede.

Wat is die Suidoosterfees se oogmerk? Wil die mense net feesvier, of wil hulle ook bietjie dink en peins? Daar is woede wat onder die oppervlak sluimer hier in die Kaap, is daar nie? Ek dink aan die plaaswerkersopstande, ek dink aan die Kaapse Klopse wat met Tweede Nuwejaar op die nuus vertel het hulle is ongelukkig met lone ... Hoe speel die Suidoosterfees hier ’n rol?

Gemeenskap- en jeugteater met professionele hulp vorm ’n integrale deel van die Suidoosterfees. Hierdie gemeenskappe, soos oa Beaufort Wes, Saron en Gugulethu, se wel en weë word dan in drama, musiek en dans ontbloot, sodat feesgangers nie net die genot van die aanbieding beleef nie, maar ook met veel stof tot nadenke gelaat word. Terselfdertyd heg hierdie aanbiedings aan nog ’n missie van die Suidoosterfees, naamlik om nooit die verlede te vergeet nie, soos bv Kroes oor die raskwalifikasies en verbode gemengde huwelike en Poppie Nongena oor die dra van ’n pas. Soos hier bo genoem, is dit veral die Eoan Groep wat ons vanjaar met trots uit die verlede laat lewe, maar ook Fugard se splinternuwe drama oor die karretjiemense van die Karoo, die bestaan van ’n weermagkorps van Kaapse bruin persone tydens die sogenaamde grensoorlog in Small se Orange Earth, ons slaweverlede wat diep gestel is in die BoKaap, Mitchells Plain as die destydse plek van verskuiwing vanuit Distrik Ses in ’n Plekkie in die Son, Bidsprinkaan oor die Khoisan-sendeling en die missionarisse van daai tyd, Mooi Maria met die uitbeelding van die afstand tussen die Afrikaanse plattelandse gemeenskap en die apart-bestaande "lokasie", die lewe van Breyten Breytenbach in aanhouding soos dit in van sy kunswerke uitgebeeld word, en laastens ons baie suksesvolle koreprojek, wat spesiaal ingestel was om aan plaas- en gemeenskapskore die geleentheid te bied om hulle sangtalent binne ’n feesverband kompetisie ten toon te stel. Op Vrydag 1 Februarie kan gerus ingeskakel word op RSG by 100-104 FM, wanneer diep gesprekke oor ’n relevante onderwerp gevoer word en luisteraars ook daaroor kan inbel.

 
Comments 0 Reaksies | 0 Comments
   om te reageer | to comment
    Slegs indien jy inteken sal:
  • jou kommentaar aan jou LitNet-profiel gekoppel word
  • kan jy aandui dat jy 'n boodskap wil ontvang indien ander kommentaar by hierdie artikel verskyn.
    When you sign in:
  • your commentary will be linked to your LitNet profile
  • you have the option of receiving notifications of new commentary on this article.

Reageer | Post a comment
Kommentaar is onderhewig aan moderering | Comments to be moderated
Naam | Name  
E-posadres | Email address