Straatgeveg lei tot 'n verkeerde uitspraak

  • 0

In hierdie rubriek skryf advokaat Gustaf Pienaar oor hofsake wat hierdie betrokke week in die nuus was. Die jaartal maak nie saak nie. Hierdie almanak is ’n tydmasjien wat heen en weer deur die regsgeskiedenis wip.

 

Dit was sommer 'n lekker straatgeveg daardie aand in 1919 voor 'n kroeg in Rondebosch in die Kaap. 'n Sekere persoon wie se naam slegs as X aangegee word, het by die kroeg ingegaan en 'n drankie bestel. Die kroegman het gesien dat X reeds ver heen was en het geweier om hom te bedien. Toe vervies X hom en hy begin liederlik te vloek en laster. Die kroegman het hom probeer uitjaag, maar X het, voorspelbaar, aggressief begin word.

Agter in die kroeg, so ietwat verberg agter 'n blou rookwolk en met 'n drankie in die hand, het 'n kêrel met die naam Mooney die drama tussen die kroegbaas en X gade geslaan. Mooney was 'n polisieman wat op daardie stadium van diens af was en dus nie sy uniform gedra het nie. Hy het by homself gedink: "Nee kragtie kêrel, jy soek mos nou moeilikheid hier in onse kuierplek", en toe gryp hy vir X met die een hand aan die sitvlak van sy broek en met die ander hand agter sy baadjiekraag en smyt hom uit op die straat.

Nou het X 'n nuwe man gehad om mee te baklei, en ten spyte van sy beskonke toestand het hy die wêreld vir Mooney moeilik gemaak. Twee ander manne het verby gestap en Mooney het gevra dat hulle hom moet kom help. Hulle het 'n flou poging aangewend om X te kalmeer, maar teen dié tyd was hy so opgewerk dat hy hulle soos vrot velle van hom afgeskud het.

En toe kom daar 'n skielike verandering in die drama. Êrens uit 'n donker stegie het 'n man op konstabel Mooney afgestorm en hom gedreig dat as hy 'n vinger op X sou lê, hy Mooney se kop sou afsny. En met dié het hy 'n skeermeslemmetjie uitgepluk. Kort voor lank was daar 'n skare van omtrent 'n honderd mense wat na die straatgeveg kom kyk het. Van hulle het probeer om vir Mooney by te staan, terwyl ander die dronkaard X en sy vriend met die skeermeslem se kant gekies het. Uiteindelik moes Mooney die aftog blaas en skuiling gaan soek in die hotel nadat die deur dig gesluit is.

'n Kêrel met die naam van Wallendrof en 'n paar ander is toe aangekla onder 'n ou wet van 1882 dat hulle vir konstabel Mooney verhinder het in die uitvoering van sy pligte. Hulle is skuldig bevind en gevonnis tot tussen drie en ses maande gevangenisstraf met dwangarbeid.

Teen hierdie vonnis het hulle geappelleer: eers na die hoër hof in Kaapstad en toe na die appèlhof in Bloemfontein. Hulle verweer was dat hulle nie gewéét het dat Mooney 'n polisieman is nie, en dat hulle dus nie skuldig bevind kon word aan die wet van 1882 wat 'n polisieman in die uitvoering van sy pligte teen inmenging en belemmering beskerm het nie.

Appèlregter Solomon het op 28 April 1920 die hof se uitspraak gelewer.1 In wese het die regter bevind dat dit nie eintlik regtig saakgemaak het of die beskuldigdes geweet het dat Mooney 'n polisiekonstabel was of nie. Waarmee die beskuldigdes besig was, het die regter beslis, was in elk geval 'n misdaad, deurdat hulle vir Mooney aangerand het. Wanneer 'n mens eenmaal besig is met 'n onwettige daad, dan moet jy maar die risiko loop dat jou onwettige daad uiteindelik 'n ernstiger misdryf mag wees as wat jy in gedagte gehad het. Met ander woorde, het die appèlregter beslis, aangesien die beskuldigdes vir Mooney aangerand het, was hulle ook skuldig aan die misdryf dat hulle 'n polisieman verhinder het in die uitvoering van sy pligte, ongeag of hulle geweet het dat hul slagoffer 'n polisieman was.

Hierdie uitspraak van regter Solomon het latere jare geweldige kritiek uitgelok. Daar is gesê dat die hof in wese 'n uitgediende Middeleeuse beginsel2 toegepas het. In die Middeleeue was daar 'n gedagte dat as iemand hom skuldig maak aan 'n onwettige bedrywigheid, hy ook krimineel aanspreeklik is vir al die gevolge wat uit sy onwettige daad mag voortvloei.

Miskien sal die volgende voorbeeld hierdie Middeleeuse gedagterigting illustreer: As A sonder toestemming op iemand se grond gaan jag en sy koeël tref vir B êrens in die agtergrond (sonder dat A gewéét het dat B daar is), is A skuldig aan moord, want hy was besig met 'n onwettige daad deurdat hy sonder toestemming op iemand anders se grond gejag het. A is dus verantwoordelik vir al die gevolge wat uit sy onwettige jagtog voortspruit. Met hierdie gedagterigting is dit glad nie nodig om eers te probeer bepaal of A enige skuld gehad het in die veroorsaking van B se dood nie; sy aanvanklike misdryf "besoedel" as't ware al sy dade wat daaruit voortspruit.

Gelukkig het ons appèlhof in 1965 'n stokkie voor hierdie gedagterigting gesteek. Hierdie Middeleeuse leerstuk, wat bekend is as die Versari-leerstuk, is in die saak van Staat teen Bernardus3 deur ons appèlhof verwerp en die appèlhof het die beginsel bevestig dat 'n mens nie strafregtelik aanspreeklik gehou kan word vir 'n daad as daar nie skuld aan jou kant bewys word nie.

 

1 Rex v Wallendrof 1920 AD 383.

2 Vgl Snyman, Criminal law (1991) 240.

3 1965(3) 287 (AD)

 

Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet’s free weekly newsletter.

 

                                                      

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top