Spitsberaad oor onderwys: ’n verslag

  • 0

Ouditorium, Athlone Skool vir Blindes

Bellville-Suid

Saterdag 28 Julie 2012

“Die uitdaging is om as ’n kollektief saam te werk om bestaande voortreflike inisiatiewe uit te bou. Daar is nie ’n zero-basis nie.”

Voorsitter: Dr Danny Titus (ATKV)

Inleiding tot die krisis in die onderwys

Danie van Wyk

Die huidige krisis waarin die onderwys in Suid-Afrika verkeer, is die groot rede waarom ons vandag hier byeen is. Hierdie beraad geskied teen die agtergrond van die voortslepende agteruitgang van onderwys in Suid-Afrika. Die beraad is egter nie bedoel as ’n kla-sessie nie, maar is veel eerder ’n eerlike poging om ’n platform te bied vir besinning oor kreatiewe oplossings vir knelpunte in die onderwys.

Dis algemene kennis dat verskeie gebeure oor ’n lang tyd aanleiding gegee het tot hierdie kritieke toestand, maar ek glo nie ons besef wat die werklike omvang van die krisis is nie. Was die Suid-Afrikaanse openbare onderwys vandag ’n pasiënt, sou ons dit in die intensiewesorgeenheid van ’n hospitaal vind, gekoppel aan ’n asemhalingsapparaat wat dit kunsmatig aan die lewe hou. Dít is so erg soos die toestand van onderwys in Suid-Afrika in 2012 is, ten spyte daarvan dat die grootste deel van die nasionale begroting aan onderwys toegesê word. Terloops, Suid-Afrika bestee meer aan onderwys as enige ander Afrika-land, maar vergelyk swak met armer lande soos Mosambiek, Botswana, Kenia en selfs Zimbabwe.

Die probleme en uitdagings wat effektiewe onderwys kniehalter, is veelvuldig. Ek gaan slegs enkeles uitlig. 

Eerstens is daar die probleem van swak administrasie by distrikskantore, wat nie oor die administratiewe kapasiteit beskik om gehalteonderwys te ondersteun nie.

Dan is daar die skreiende onderwysertekort. Die skokkende realiteit is dat Suid-Afrika meer as 30 000 onderwysers benodig om die huidige tekort aan te vul. Die grootskaalse uittog van gekwalifiseerde en ervare onderwysers is rampspoedig, omdat hulle nie oornag vervang kan word nie.

Daar is veral ’n tekort aan manlike onderwysers, onderwysers in die grondslagfase waar onderrig in die moedertaal so belangrik is en onderwysers in sekere vakke. Ek het van ’n amptenaar in die Onderwysdistrik Eden, Suid-Kaap en Karoo verneem dat Wiskunde as vak by die Sekondêre Skool Ladismith afgeskaf is omdat daar nie ’n onderwyser gevind kon word om Wiskunde te onderrig nie. Let wel: dit is in die Wes-Kaap, wat voorgehou word as die provinsie waar onderwysstandaarde van ’n beter gehalte is.

’n Verdere knelpunt is die swak infrastruktuur by township- en plattelandse skole landwyd wat betref sanitasie, ’n gebrek aan norme en standaarde vir skole-infrastruktuur, ’n nypende tekort aan skoolbanke en stoele, die onvermoë om seksuele geweld en swak dissipline onder leerders en selfs onderwysers hok te slaan, asook die gebrekkige lewering van hand- en werkboeke aan duisende leerders regoor die land. Daarby is daar ’n tekort aan hulpbronne en tegnologie wat nodig is vir gehalteonderwys.

Dis voor die hand liggend dat die gebrekkige lewering van handboeke en dienste, wat al endemiese proporsies aanneem, ’n negatiewe impak het op armes en minderbevoorregtes in ons land. Boonop verdiep hierdie ongelyke voorsiening die rasse- en sosiale ongelykhede waarmee die land steeds worstel. In die lig hiervan is die voorgenome sluiting van 27 skole in die Wes-Kaap, wat tot nadeel sal strek van arm, hoofsaaklik bruin en plattelandse gemeenskappe, tegelyk onverstaanbaar en onaanvaarbaar. Ek haal in hierdie verband aan uit die baie interessante skrywe oor hierdie aangeleentheid deur Archie Vergotine in Die Burger van vandeesweek: “Die argumente wat aangevoer word, is ten beste halwe waarhede wat kritieke faktore buite rekening laat wat ’n rol speel by die onderwys van kinders in verarmde gemeenskappe.”

Die regering, en in die besonder die Minister van Basiese Onderwys, is deeglik bewus van die huidige krisis in die onderwys wat menige toegewyde onderwyser wat graag gehalteonderwys wil aanbied, magteloos laat. Dit skyn egter of die regering in ontkenning leef, want die indruk word op allerlei wyses geskep dat alles onder beheer is. Die groot gewag wat jaarliks gemaak word van die “verbetering” van die matriekuitslae is tekenend van politici se poging om almal om die bos te probeer lei.

Dit wil dus voorkom asof die politieke wil ontbreek om met daadwerklike en revolusionêre aanbevelings vorendag te kom om die krisis in die onderwys af te weer en oplossings te vind. Daarom dat die Minister van Basiese Onderwys op 15 Junie vanjaar tydens ’n perskonferensie ontken het dat daar ’n krisis in die onderwys bestaan, met spesifieke verwysing na die handboekfiasko in die Limpopo-provinsie.

Die redes vir die voortslepende krisis in die onderwys moet na my mening vierkantig voor die deur van die regering gelê word. Die meerderheid van die probleme kan immers toegeskryf word aan die regering se onvermoë om op ’n gepaste of doelmatige wyse met sistemiese gebreke om te gaan.

Toegegee, die oorgrote meerderheid van die probleme in die onderwys spruit voort uit ’n periode lank voor die huidige Minister van Basiese Onderwys se ampstermyn. Postapartheid-Suid-Afrika het immers ’n onderwysstelsel geërf wat deurspek was van wanbalanse. Tog, 18 jaar nadat die reg op onderwys vir almal grondwetlik verskans is, is daar nog net soveel ongelykhede.

Vandag blyk gehalteonderwys slegs diegene wat dit kan bekostig, beskore te wees. Maar dít was nie die bedoeling van die Vryheidsmanifes nie; eerder dat gehalteonderwys toeganklik moet wees vir almal, sonder uitsondering. Die langtermyneffek van die regering se onvermoë om die strukturele wanbalanse in onderwysvoorsiening te takel, gaan na alle waarskynlikheid daartoe lei dat ’n totale geslag jongmense gedoem sal wees tot ’n lewe van armoede en onderontwikkeling.

Dit moet aanvaar word dat daar nie eenvoudige oplossings vir hierdie probleme is nie. Maar die burgerlike samelewing kan en mag nie meer net toeskouers wees wat toekyk hoe mense se basiese reg op onderwys geskend word nie. Hierdie reg vorm immers ’n integrale komponent van die Handves van Menseregte en is daargestel om die negatiewe nalatenskap van apartheid teen te werk.

’n Mens kan wel vra waarom dit nodig is vir ’n organisasie soos Section 27 en ander burgerlike organisasies om teen die Departement van Onderwys te litigeer om te verseker dat probleme in die onderwys aangespreek word. Maar dit ís nodig om die Minister te dwing om haar grondwetlike plig na te kom om die enorme probleme in die onderwys aan te spreek ten einde ’n totale ineenstorting van die onderwysstelsel te verhoed.

Op die vraag wat die Departement moet doen om die dreigende fiasko af te weer, is die antwoord voor die hand liggend. Daar moet onverwyld praktiese stappe in plek gestel word om die knelpunte in die onderwys op te los, waaronder:

  • die aanstel van kundige amptenary wat oor die wil en die vermoë beskik om hul taak op ’n professionele wyse te verrig; 
  • die heropening van onderwyskolleges om die onderwysertekort aan te vul. Studies het bewys dat die getal nuwe onderwysers wat opgelei word, nie genoeg is om dié wat aftree of sterf, te vervang nie;
  • die effektiewe implementering van die nuwe Kurrikulumasseringsbeleidsverklaring, oftewel CAPS, in graad 1 tot 3 en graad 10, wat onder meer behels dat kinders vanaf graad 1 ‘n addisionele taal sal aanleer; en
  • ’n daadwerklike plan om ’n herhaling van die handboekfiasko te verhoed, alhoewel die agterstand in die betrokke grade in Limpopo weens die handboekdebakel moeilik uitgewis gaan word. 

CAPS lê groot klem op die gebruik van handboeke. Die handboekfiasko mag daarom nie herhaal word nie. Daar is egter kommer dat dit volgende jaar weer kan opduik omdat die katalogusse vir handboeke laat is.

’n Stap in die regte rigting is die Nasionale Beplanningskommissie van Minister Trevor Manuel se konkrete aanbevelings vir die verbetering van die gehalte van onderwys teen 2030. Wat nou kortkom, is ’n plan wat uitstippel hoe beleid en voorstelle in die praktyk gestalte gaan vind. Is die logiese volgende stap nie om ’n kommissie bestaande uit onderwyskundiges aan te wys om daadwerklike oplossings vir die krisis in die onderwys te vind nie?

Dan natuurlik moet die Departement ag begin slaan op die menings van prominente opvoedkundiges oor die toestand van onderwys in Suid-Afrika. Dr Mamphela Ramphele, wat sterk gekant is teen eksperimentering met onderwysstelsels, byvoorbeeld uitkomsgebaseerde onderwys, wat die land se jeug gefaal het, maak die volgende stelling:

Prof Jonathan Jansen, rektor van die Vrystaat Universiteit, het verlede jaar tydens ‘n byeenkoms van FEDSAS gesê dat die tyd gaan aanbreek dat die Departement van Onderwys se kantore in elke provinsie beset sal word soos met die Waalstraatbesetting in New York.

Dis waarskuwings soos dié wat ter harte geneem moet word.

Ten slotte: wat ons onmiddellik nodig het om die onderwyskrisis die hoof te bied, is groter betrokkenheid uit die burgerlike samelewing. Ek herhaal daarom wat ek vroeër gesê het. Ons kan nie meer net toeskouers wees wat sit en toekyk hoe die onderwys van ons kinders en kleinkinders deur onbevoegde en onbekwame individue tot in die grond bestuur word sonder enige reaksie van ons kant af nie.

Die onderwys is ’n konserwatiewe sektor. Daar is basiese beginsels wat eenvoudig nie geïgnoreer kan word nie. Die implementering van weldeurdagte opvoedkundige beginsels is die enigste manier waarop ons Suid-Afrikaanse onderwys weer op ’n suksespad kan plaas sodat ons met die bestes in die wêreld sal kan meeding. Ons kinders verdien gehalteonderwys. Laat ons elkeen ons plig as burgers van die land besef en in ons onderskeie kontekste meehelp aan die daarstelling van werkbare en volhoubare oplossings wat uitnemende onderwys sal verseker.

My voorstel is dat ons in ons soeke na oplossings eers behoorlik sal bestek opneem van reeds bestaande suksesvolle intervensies, en dat sodanige voortreflike strategieë – die Engelse praat van pockets of excellence – versterk en op ‘n wyer skaal gerepliseer sal word sodat ons nie die onderwyswiel van vooraf probeer ontdek nie.

In Fraserburg, my geboortedorp in die Karoo-hooglande, is daar ’n skool met die treffende leuse “Daar is werk”. 

Daar is inderdaad werk!

Danie van Wyk is die Uitvoerende Hoof van die Stigting vir Bemagtiging deur Afrikaans.

Vrae en kommentaar:

Onderwyser van Goedverwacht-omgewing:

’n Groot deel van die probleme in die onderwys is toe te skryf aan die feit dat godsdiens geringgeskat en nie meer op skool onderrig word nie. Die ander probleem is dat inisiatiewe in isolasie van mekaar aangepak word – dat dit met ander woorde nie binne kollektiewe verband gehanteer word nie.

Mnr David Piedt (Oudtshoorn):

Sprekers van ander tale moes ook genooi geword het sodat hulle ook kon deelneem aan die gesprek. Die kwessie van die sluiting van skole word verpolitiseer en moet eerder onderwyskundig benader word. Is sluiting nie in sommige gevalle geregverdig nie? Goeie beheer en bestuur moet as riglyn dien.

Dennis Malgas (Sarepta Sekondêre Skool)

Daar is woorde wat aan die sprekers van variëteite van Afrikaans bekend is, maar nie aan die sprekers van Standaardafrikaans nie.

Wat kan gedoen word om jongmense se onwilligheid om deur ervaring te leer, te verander? Jong studente wat nie oor kundigheid en ervaring beskik nie, wil leiers word sonder dat hulle veel ervaring verwerf het.

Sylvia Thomas (Radio Kaapse Punt):

Opvoeding kan nie in isolasie gedoen word nie. Die breë gemeenskap moet betrek word sodat skole in die hart van die gemeenskap verbeter kan word. Afrikaanssprekendes moet uitreik na gemeenskappe wat nie Afrikaans praat nie. Radio Punt se fokus is om brûe te bou, en ons vra steun vir hierdie taak.

Archie Vergotine (oudskoolhoof, tans eienaar van ‘n sakeonderneming):

Ek het navorsing gedoen oor onderwys in die Koue Bokkeveld-streek en is besig om die geskiedenis van onderwys in daardie streek op te skryf.
Toe plaasskole gesentraliseer is, is niks in die plek daarvan gestel nie. Nie alle kinders is in die gesentraliseerde skole opgeneem nie. Die waarde van plattelandse skooltjies is hierdeur misken.

Kinders in hierdie klein skooltjies het reeds vroeg geletterdheids- en syfervaardighede verwerf en die voordeel van godsdiensonderrig gehad.

Plaasskole is nie om ekonomiese of finansiële redes gesluit nie. Die sluiting van hierdie skole hou nie opvoedkundige voordele in nie.

Onderwys en politiek is onlosmaaklik verweef. Die sluiting van skole om partypolitieke redes is nie aanvaarbaar nie.

Die probleem het ingetree toe skoolgeboue in die besit van ander departemente gekom het. Skole word tans deur die Departement van Openbare Werke besit. Daar is ’n skool in die hart van Ravensmead wat nie meer gebruik word nie. Dit is tans ’n vervalle gebou. Baie skoolgeboue in die Koue Bokkeveld word vir ander doeleindes gebruik, byvoorbeeld as akkommodasie vir kontrakwerkers.

Cherilyn Hoogbaard (Oudtshoorn):

Die regering moenie al die skuld kry vir dinge wat in die onderwys verkeerd gaan nie. Hoofde is ook skuldig, want hulle wil nie onderwysers aanstel wat hoër gekwalifiseerd is as hulle nie.

Fotokopiëring word nie toegelaat nie, met die gevolg dat kinders nie by die huis tekste het om aan te werk nie.

Gemeenskappe moet self verantwoordelikheid neem vir die onderwys sodat dit suksesvol kan wees. Daar moet dus gepraat word oor gebreke in die gemeenskap, en iets moet daaraan gedoen word. Ouers aanvaar nie meer mede-eienaarskap van skole in hul gemeenskap nie.

Kan die regering nie gevra word om beheerliggame se reg om onderwysers aan te stel, te beëindig nie?

Dr Danny Titus:

Die feit dat onderwys in die vorige bedeling beter was, het te make met wat mense daarvan gemaak het.

Moedertaalonderwys as ontsnappingsroete as ontsnappingsroete uit armoede en maatskaplike probleme in Afrikaanse gemeenskappe

Paul Colditz

Daar word dikwels gesê dat gemeenskappe bemagtig moet word, wat die indruk skep dat mense nie mag het nie. Gemeenskappe het mag; hulle mag moet net ontsluit word. Gemeenskappe, dit wil sê ouers en onderwysers, moet verantwoordelikheid aanvaar vir onderwys. Hulle moet die inspraak wat aan hulle gegee word, benut.

Die volgende aanhalings kom uit die Witskrif vir Onderwys:

“Ouers of voogde dra die primêre verantwoordelikheid vir die onderwys aan hulle kinders, en het die reg om deur die staatsowerhede geraadpleeg te word oor die vorm wat onderwys moet aanneem en om deel te neem aan die beheer daarvan. Ouers het ’n onvervreembare reg op keuse van die vorm van onderwys wat vir hulle kinders die beste is, veral in die vroeë jare van skoolonderwys, ongeag of dit deur die staat voorsien word, onderhewig aan redelike waarborge wat volgens wet vereis kan word. Die ouers se reg om te kies, omvat die keuse van die taal en die kulturele of godsdienstige grondslag van die kind se onderwys, met inagneming van die regte van ander en die groeiende kind se reg om te kies.”

Skool en gemeenskap:

“Die herstel van skole en kolleges moet hand aan hand gaan met die herstel van daardie instellings se eienaarskap van hulle gemeenskappe deur die vestiging en bemagtiging van legitieme, verteenwoordigende beheerliggame.”

“Die beginsel van demokratiese beheer moet toenemend op elke vlak van die stelsel weerspieël word deur die betrokkenheid by raadpleging en toepaslike vorme van besluitneming van verkose verteenwoordigers van die vernaamste belanghebbendes, belangegroepe en rolspelers. Dit vereis van onderwysowerhede op alle vlakke ’n verbintenis om alle betrokke inligting met belangegroepe te deel en om hulle werklik as vennote te behandel.”

Skool en staat:

“Dit is die enigste gewaarborgde wyse om nuwe sosiale energie in die instellings en strukture van die onderwys- en opleidingstelsel in te blaas, om groot sektore van die samelewing se kroniese vervreemding van die onderwysproses uit die weg te ruim, en om die mag van owerheidsadministrasie om in te gryp waar hy nie moet nie, in te kort.”

“Staatsbetrokkenheid by skoolbestuur moet die minimum wees wat vir regsaanspreeklikheid vereis word, en moet in elk geval op deelnemende bestuur gebaseer word.”

Die skool as instelling:

Skole is openbare skole – nie staatskole nie. Die fundamentele verskille tussen hierdie twee konsepte sentreer rondom eienaarskap, regspersoonlikheid, relatiewe outonomiteit, grondwetlike regte en inspraak deur ouers, wat die hoogste is in die wêreld.

’n Oorsig oor die stelsel:

Totale getal openbare skole: 24 365 (94,25%)
Totale getal onafhanklike skole: 1 486 (5,75%)
Totale getal leerders in openbare stelsel: 11 804 066 (96%)
Totale getal leerders in onafhanklike stelsel: 479 809 (4%)
Tussen 80% en 90% van die skole in die stelsel is disfunksioneel.
Die stelsel van openbare skole moet werk, want privaat skole is net vir vermoëndes.
Slegs 2 500 skole bied gehalteonderrig aan. Arm swart gemeenskappe word die slegste getref deur die krisis. In die Oos-Kaap is daar 9 000 vakante poste.
Die hoë matriekslaagsyfer is misleidend. Die feit is dat minder leerders die matriekeksamen aflê.

Verhale van hoop:

Tog is daar ook verhale van hoop. In Kakamas het arm wit mense ’n gemeenskapsprojek aangepak wat meegebring het dat hulle vandag van die rykste mense in die omgewing is.

In Dirkiesdorp, ’n Zoeloesprekende gebied, het die Lutherse kerk met ’n bakkery en ’n groente- en vleisonderneming begin, wat die gemeenskap op die pad na welvarendheid geplaas het. Die skool Sinethemba is selfversorgend en daar is tans planne om die skool te privatiseer.

Paul Colditz is die President van die Federasie van Suid-Afrikaanse Kultuurliggame (FEDSAS).

Vrae en kommentaar 

Erica Kleinhans (maatskaplike werker, Kraaifontein):

Die ouers se rol is belangrik. Skole moet dus ’n geïntegreerde benadering ondersteun, want as die kind by die skool swak funksioneer, doen hy of sy dieselfde tuis. Onderwysers is egter nie geneë tot vennootskappe nie. Friends of Railton is ’n groep van Swellendam wat terugploeg in die skool waar hulle skoolgegaan het. Die groep bedryf ’n lees-en-skryf-projek in samewerking met Madge du Preez, ‘n Afrikaanse skrywer. Die gemeenskap moet egter inkoop, en vrywilligers is nodig.

Mentorskap vir leerders is noodsaaklik. Buitevennote met passie vir onderwysverbetering moet ingetrek word en befondsing moet bekom word.

Dr Danny Titus:

Die probleme in die onderwys moet intersektoraal benader word. Ook kerke behoort betrokke te raak.

Uitdagings in die onderwys: wat is oop die radarskerm?

Chris Klopper

Inleidend

Politiek en onderwys is verweef. Onderwysprobleme sal inklusief getakel moet word. Amptenare meng in en wil skoolbeheerliggame en godsdiensonderrig afgeskaf hê. Skole word geviktimiseer om Afrikaans-enkelmediumskole na dubbelmediumskole te verander. Daar is ‘n beduidende afname in Afrikaans-enkelmediumskole.

Die demografie in ’n bepaalde streek behoort nie uit die oog verloor te word nie en is belangrik in onderwysvoorsiening.

Die Suid-Afrikaanse Onderwysersunie wil met die owerhede in gesprek tree om taalverswelging te voorkom sonder om taalimperialisties oor te kom.
Afrikaans verkeer onder druk in die onderwys. Na aanleiding van hofsake en ander aksies wat die bevoegdhede van skoolbeheerliggame wil ondermyn, is dit duidelik dat strategiese gesprekke en die formulering van strategieë uiters belangrik is.

Daar is ’n behoorlike studie gemaak van die volgende en tot die slotsom gekom dat die probleem nie in die volgende lê nie:

SA Skolewet

Wet op Nasionale Onderwysbeleid

Wet op Indiensneming van Opvoeders

Vryheidsmanifes

ANC se beleid wat by die Beleidskongres ingedien is

‘n Integrale deel van gesprekvoering moet fokus op:

  • die formulering van ’n plan van aksie (PVA) wat ’n proaktiewe neutralisering van politieke ideologiese optredes ten doel het. Die doel is hoëvlakgesprek met die ANC;
  • ’n inklusiewe PVA – álmal moet hande vat; en
  • ’n omvattende plan met eienaarskap vir almal sal moontlik sukses kan verseker.

Die probleme van die Afrikaanse gemeenskap word op ’n ander vlak ervaar, spesifiek wat betref die LUR vir Onderwys en departementele amptenare. Daar is ’n doelbewuste proses van ondermyning van die bevoegdhede van skoolbeheerliggame soos vervat in die SA Skolewet.

By verskeie vergaderings, ook deur die SBA en die ATKV gelei, moet besluit word op ’n strategiese plan van aksie wat aan die volgende aspekte aandag moet gee:

  • Politieke intervensie
  • Strategiese plan vir die optimale benutting van skole
  • Mobilisering van die totale Afrikaanssprekende gemeenskap

Mediaveldtog

Voorbereiding vir konstitusionele hof indien appèlle misluk.

Daar is ’n duidelike aanslag op die mag van beheerliggame. Die regte van skoolbeheerliggame wat negeer word, het betrekking op:

  • Toelating (Art 5(5))
  • Kapasiteit (Art 5(5))
  • Taalbeleid (Art 6(2))
  • Geloofserkenning (Art 7)

‘n Voorbeeld van verskille in sienings oor kapasiteit is dié van ’n laerskool wat reeds 1 500 leerders het, maar volgens die Gautengse Departement van Onderwys ‘n kapasiteit van 2 400 leerders het.

In Gauteng word 35 enkelmedium Afrikaanse skole geteiken.

Daar is gevalle waar ’n distriksdirekteur formeel aan ’n skoolhoof opdrag gee om die skool se taalbeleid te verander. As die hoof aandui dat dit ’n beheerliggaam-aangeleentheid is, word hy/sy met dissiplinêre optrede gedreig.

Die Afrikaanse gemeenskap vorm ‘n integrale deel van Suid-Afrika en wil as ‘n vennoot geag word. Dit het hom al herhaaldelik verbind tot Suid-Afrika en sal dit weer doen indien dit vereis word. Afrikaanse skole het ’n rekord van uitnemende prestasie en hulle bydrae tot die kwaliteit van die stelsel is bewese. Afrikaanse onderwyspersoneel gee onderrig in Engelse en dubbelmediumskole en spog met ’n slaagsyfer van meer as 83%. Afrikaanse organisasies het hulle verbind tot die bemagtiging van alle onderwyspersoneel en skoolbeheerliggame.

Die kwaliteit van openbare skole speel ’n belangrike rol ten opsigte van die volgende:

  • Psige van die gemeenskap
  • Persepsie van SA
  • Privatisering van onderwys
  • Kwaliteit van die arbeidsmark en die welvaart van Suid-Afrika.

Slotopmerkings:

Die Afrikaanse gemeenskap moet as ’n eenheid saamwerk ter wille van hul kinders, Suid-Afrika en Afrikaans. Die gemeenskap moet proaktief optree en ‘n boodskapper van hoop bly.

Chris Klopper is President van die Suid-Afrikaanse Onderwysersunie.

Vrae en kommentaar

Cherilyn Hoogbaard:

Daar is ’n tekort aan leerhulpmiddels in Afrikaans. Alles is in Engels, daarom skakel ouers oor na Engels. Dis die burgerlike samelewing se verantwoordelikheid om hulpmiddels daar te stel.

Chris Klopper:

Engels is die taal van aspirasie. Ouers verkies daarom om hul kinders in Engels groot te maak.

Slegs 2% van alle leerders doen Wiskunde (in teenstelling met Wiskundige Geletterdheid). Onderwysers se kwalifikasies is nie goed genoeg om hulle in staat te stel om Wiskunde op matriekvlak te onderrig nie.

Daar is ’n sosiaal-politieke tydbom aan die ontwikkel. Sonder kwalifikasies en voldoende skoling is die jeug tot werkloosheid gedoem, wat sal veroorsaak dat hulle ’n probleem raak vir die samelewing.

Daar is reeds 18 miljoen werkloses wat aangewese is op sosiale toelae, terwyl slegs 5% van Suid-Afrikaners tot die belastinginkomste van die land bydra. Afrikaanse gemeenskappe wil ’n bydrae lewer. Afrikaanse skole en organisasies het ’n rekord van transformasie.

Daar moet simbiotiese verhoudings gevestig word en gemeenskappe moet as ’n kollektief saamwerk. Gemeenskappe moet proaktief wees en boodskappers van hoop bly.

Paul Colditz:

In Afrikaanse skole word Geskiedenis nie meer as vak aangebied nie. Dieselfde geld nie vir Engelse skole nie.

Die vraag oor watter vorm van Afrikaans as moedertaal geld, kan beantwoord word deur te sê dat alle Afrikaanssprekende kinders die basiese reëls van die taal moet ken. Dit is wat hulle bind. As hulle in hul moedertaal konseptualiseer, leer hulle veel beter.

Dr Braam Hanekom (Sinodale kantoor NG Kerk : Wes- en Suid-Kaapland):

Die kerk het sedert 1994 aan skole onttrek. Die kerk het in Eersterivier ’n Wiskunde-winterskool aangebied.

Skole moet die kerke in hul dorp nader vir hulp.

Daar is ’n enorme transformasieproses aan die gang. Transformasie, new beginnings en social engineering is altyd messy.

Mense moet die dinamika van die bestuur van transformasie verstaan – dat dit dissipline, werksetiek en morele stamina verg: drie elemente wat ononderhandelbaar is en die onderbou van die huidige problematiek blyk te wees.

’n Vennootskap tussen skool en gemeenskap is noodsaaklik.

Dr Danny Titus:

Beraadgangers moet hul insette op skrif deurgee.

Mev Shireen van den Heever (Goedverwacht):

Ons skool het slegs vir drie dae opleiding in CAPS gehad en daarna handboeke ontvang.

Leerders se uitslae vir die sistemiese assessering in graad 6 is swakker as hul uitslae in graad 3. Die leerders vaar swak, want die vraestelle is in Engels. Die verskil in prestasie dui ook op ’n verskil in die gehalte van opleiding tussen die grondslag- en intermediêre fase.

Kinders kan nie ’n tweede taal aanleer as hul eerste taal nie goed vasgelê is nie.

Chiraz Raymond (Besigheidsforum, Worcester):

Die probleem in die onderwys is op ’n bepaalde vlak geskep, maar moet op ’n ander vlak – op grondvlak – opgelos word.

Denkpatrone (mindset) is anders noudat godsdiens nie meer rigtinggewend is nie. Die denkbasis moet verander word. Kry eers die basis reg, dan sal die bloeisel (byvoorbeeld die kurrikulum) reg wees.

Die gepaste IT-omgewing is in die twee hoërskole in Worcester in plek gestel. Tog is die probleme nie opgelos nie. Die probleme gaan oor meer as net infrastruktuur.

Vir ’n denkskuifverandering is motivering nodig. Daar moet begin word om kinders se denke oor opvoeding te verander.

Martin Wessels (Sarepta Sekondêre Skool):

Volgens ’n taalaktivis van Quebec, ’n provinsie in Kanada, is daar drie pilare vir oorlewing, naamlik godsdiens, taal en die instansies wat daaruit vloei.

Merle Diederich (landbouer):

Die leerders wat uiteindelik in graad 12 beland, raak al minder en minder. Bring skole nader aan die werklikheid. Die kurrikulum faal 66% van die kinders. Almal gaan nie bo uitkom nie.

Esau Roman (skoolhoof, Delft):

Gaan voort met onderwys. Moenie die oog gerig hou op die nasionale en distriksowerhede nie. Die skool en die personeel moet eienaarskap neem van die onderwystaak.

Vakbonde moenie by aanstellings betrokke wees nie.

Cherilyn Hoogbaard:

Die gemeenskap moet ophou luister na die Departement en moet eerder sê: Tot hiertoe en nie verder nie. Hulle moet eis dat die vormende vakke teruggebring word.

Joseph Markgraaf (Fedsas):

Ouers moet betrokke raak by skole. Beheerliggame se magte moet ontsluit word. Ongeletterde ouers moet bemagtig word. Ouers moet medebesluitnemers wees.

Lydia Jansen (semi-afgetrede onderwyseres):

Ouers se rol in die kind se opvoeding is baie belangrik. Rus die jonger wordende ouers toe met inligting sodat hulle waardes kan terugbring.

Maria Jonas (Oudtshoorn):

Die rol van die ouer in die onderwys is belangrik, daarom moet hulle denke oor medeverantwoordelikheid reggestel word.

Dissipline ruk handuit. ’n Leerkultuur ontbreek.

Ceraj Raymond:

Die oorsaak van dissiplinêre probleme lê by die moeder, wat reeds voorgeboortelik ’n invloed uitoefen op die kind. 

Ekonomiese stabiliteit moet deur ekonomiese betrokkenheid herstel word.

Archie Vergotine:

In plaas- en townshipskole is daar ’n eiesoortige krisis. Mense wat hulle in die loopgrawe bevind, moet ook betrokke raak.

Brandon Griffin (Oudtshoorn):

Ek het al baie praatsessies bygewoon. My versoek is dat CD’s van die besprekings gemaak word vir verspreiding onder belanghebbendes.

Die goeie uit die verlede moet behou word. Ons moet ons nie blind staar teen die apartheidsverlede nie.

Die trial and error- (probeer-en-tref-) benadering in die onderwys moet vervang word met een van trial and improvement.

Kinders uit townships woon eks-model C-skole by om gehalteonderwys te kry.

Skoolhoofde moet optimale potensiaal uit leerders haal. Dit het egter finansiële implikasies.

Krisis in die onderwys en hoe dit universiteite raak

Dr Theuns Eloff

Die hoë uitvalsyfers aan universiteite is ’n simptoom van die swak gehalte van die onderwysstelsel. Slegs 13 uit die 23 universiteite is goeie, werkende instellings.

Universiteite is genoodsaak om studente te toets om die vlak van hul akademiese geletterdheid vas te stel en na-uurs aanvullende onderrig te gee. Navorsing lei hierdeur skade.

Dit is ’n mite dat die moedertaal verruil moet word vir Engels omdat laasgenoemde sukses en vooruitgang sal verseker. Die realiteit is dat Engels die plattelandse studente benadeel.

By Noordwes-Universiteit is ‘n tolkdiens ingestel om toegang vir swart studente te verbreed. Hierdeur is politiek uit die taal gehaal.

Die demografie is uiters belangrik. Universiteite moet voorsiening maak vir die taalbehoeftes van hul voedergemeenskappe.

Slotopmerkings:

  • Lig gemeenskappe in oor die mite dat Engels ’n beter keuse is as die moedertaal.
  • Maak Afrikaanse onderwys die beste wat jy kan.
  • Daar is geld beskikbaar vir Afrikaanse hulpmiddels.
  • Onderwyskundiges moet saamstaan.
  • Bedryf skole asof daar nie ’n OBOS is nie.
  • Laat die burgerlike samelewing werk.

Dr Theuns Eloff is Rektor van die Noordwes-Universiteit.

Sien meegaande dokument rakende sy aanbieding.

Vrae en kommentaar

Dirkie Victor (ATKV):

Mense moet fokus op die verskil wat hulle in gemeenskappe kan maak. Model C-skole moet ook betrek word, want hulle ervaar ook krisisse in hul skole. Skole moet by mekaar leer.

Dr Danny Titus:

Hoe kan die proses vorentoe verbeter word?

Danie van Wyk:

Die Amerikaners voeg by die drie R’e (Reading, Writing, Arithmetic) nog twee by: Respect en Responsibility.

Erica Kleinhans:

Ek dink daar moet in die toekoms op meer as net kurrikulêre kwessies gefokus word. Belangstellendes kan die Railton-groep kontak vir inligting sodat hulle oplossing na meer skole uitgebrei kan word.

Mnr Malgas (Goedverwacht):

Die beraad moenie net nóg ’n praatfabriek wees nie.

Engels het ’n prestige-taal geword.

Hulpbronne moet reg gekanaliseer word.

Jan Odendaal (Green-inisiatief):

Ervaring moet aan jongmense oorgedra word. Betrek die jeug by projekte. Vind kreatiewe maniere om inligting met die jeug te deel. Toekomstige platforms moet die jeug insluit.

Benut die radio om inligting oor berade aan die jeug te kommunikeer.

Vincent Fester (skoolhoof, Hoërskool Bellville-Suid):

Dit was ‘n vrugbare gespreksessie. Die gedagtes wat geopper is, moet aan ander mense gekommunikeer word sodat hulle oplossings kan help bedink.

’n Skoolhoof lei die verandering by sy/haar skool. Werksetiek is belangrik om gehalteonderrig te verseker.

Samevatting en bedankings

Seymour Bothman, ATKV

Daar moet by oplossings uitgekom word.

Voorstelle moet praktiese inhoud kry in skole en gemeenskappe.

Beraadgangers moet die boodskap uitneem dat gesamentlike aksie nodig is om die krisis in die onderwys op te los.

Die basis (waardes en denke) is belangrik.

Moedertaalonderrig is belangrik. Die probleem is dat nie alle moedertale in Suid-Afrika behoorlik ontwikkel is nie.

Daar moet op die sukses van alle leerders gefokus word. Indien nie, gaan daar negatiewe ekonomiese implikasies wees vir almal.

Afrikaanssprekendes moet die hand uitsteek na die sprekers van ander tale.

Elke skool behoort ’n visie, missie en waardestelsel te hê, en ouers moet betrokke raak by die bevordering van gehalteonderwys.

Onderwysers moet hulle lesse beplan en voorberei, en kinders moet hul onderwysers respekteer.

Belangrik: Enter to learn, exit to serve.

Mense behoort terug te ploeg in die skole waarvandaan hulle kom.

Daar is helde/leiers in elke lewensarea.

Mentorskap is belangrik.

Vaardighede, waardes en kennis moet aan die jeug oorgedra word.

Die beraad eindig op ’n positiewe “ons kan dit doen”-noot.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top